Stof tot nadenke: Water van die lewe

“My volk het twee sondes begaan: Hulle het My, die bron van lewende water, verlaat, en hulle het vir hulle waterbakke uit klip gekap, waterbakke wat gebars is en nie water hou nie.”
Jer. 2: 13

Dikwels in die Ou Testament speel water ‘n belangrike rol (bv. In Eks. 2: 10 “Toe hy oud genoeg was, het sy hom na die dogter van die farao toe gebring, wat hom as haar eie seun aangeneem het. Sy het hom Moses genoem, “want”, het sy gesê, “ek het hom mos uit die water gehaal.””; In Eks. 14: 22-29 waar die Israeliete droogvoets deur die see getrek het en die agtervolgende Egiptenare verdrink het nadat die see se walle weer deur God se beheer terug gevloei het; In Rig. 7: 6 word Gideon se vegters gekies na aanleiding van die manier wat hulle water gedrink het; en so kan ons talle voorbeelde noem). Selfs in hierdie lewe weet ons dat ons nie kan oorleef sonder water nie. Ons liggame bestaan uit meer as 75% water, en dit is dus vir ons onmoontlik om sonder water te lewe.

Lees meer “Stof tot nadenke: Water van die lewe”

Stof tot nadenke: Verganklikheid van die aardse

“Julle rykdom het vergaan, en julle klere is motgevreet. ‘Julle goud en silwer is verroes, en die roes sal teen julle getuig, en julle liggame soos vuur verteer…”
Jak. 5: 2-3

In menige plekke in die Bybel en in die geskiedenis van die aarde, word ons herinner aan die verganklikheid van die hier en nou, die verganklikheid van hierdie wêreld (bv. Jak. 1: 11 “ want die son met sy hitte kom op en verdor die veld, en die blom val af en sy skoonheid gaan tot niet”). Met die media se uitsending van die oorloë en gerugte van oorloë besef ons daagliks hoe vernietigende impak die mens self op hierdie aarde het. Waar stede en al die mense daarin in ‘n oogwink platgevee word met die aarde, soos ook in Sodom gebeur het (“Sodom, wat in ‘n oogwink vernietig is, sonder menslike toedoen.” Kla. 4:6) en tans in die Gasa strook, wat ‘, herhaling is van wat in Sef. 2:4 sou gebeur. (“Want Gasa gaan verlate lê en Askelon gaan ‘n woesteny word…”). Dit is soms uit ons menslike oogpunt onverstaanbare gebeure, maar God waarsku dikwels in die ou Testament teen ongehoorsaamheid aan Hom (bv. Deut. 8: 20 “…soos die nasies wat die Here voor julle vernietig, so sal julle omkom, omdat julle na die stem van die Here julle God nie geluister het nie.”).

Lees meer “Stof tot nadenke: Verganklikheid van die aardse”

Stof tot nadenke: ‘Oorwin die kwaad’

“Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad met die goeie”
Rom. 12: 21

Die woord kwaad word dikwels in die bybel gebruik, maar in ‘n verskeidenheid van kontekste. Die vers in Romeine 12 verwys nie na die emosie wat ons amal so dikwels aan skuldig is nie, maar aan die boosheid wat ons so maklik kan verswelg. Dit is so maklik om te val; deur die dinge wat ons dink, doen en sê. Ons moet gedurig daarop bedag wees dat die ‘kwaad’ alles in sy vermoë sal doen om ons te oorwin. Joh. 3: 20-21 stel dit duidelik dat almal wat kwaad doen, haat die lig omdat dit sy duister dade aan die kaak kan stel. Wanneer ons in die waarheid handel, kan almal sien dat ons gehoorsaam is aan God, by wie die kwaad geen plek het nie (Ps. 5: 5).

Lees meer “Stof tot nadenke: ‘Oorwin die kwaad’”

Stof tot nadenke: Bekommernis

“Die man by wie daar tussen die onkruid gesaai is, is hy wat die woord hoor, maar die bekommernis van die lewe en die verleidelikheid van rykdom verstik die woord, en dit bly sonder vrug.”
Matt. 13: 22

Dit is so maklik om verstrengel te raak in die alledaagse gebeure, gerugte van oorloë, woede, haat, nyd en leuens rondom ons, dat ons die gevaar loop om sonder vrug te bly. Christus stel dit so mooi in Luk. 12: 25-26 “Trouens wie van julle kan deur hom te bekommer sy lewe met een uur verleng? As julle nie eens so ‘n klein dingetjie kan regkry nie, waarom bekommer julle julle oor die ander dinge?” Dit is so deel van ons lewe omdat ons alles om ons wil beheer en beplan. Terwyl God ons telkens herinner daaraan dat Hy in beheer is. Ons kan kyk na die diere en vöels van die veld (matt. 6: 25-27). God het in Sy raadsplan ‘n siklus van seisoene en beskikbare voedsel in die vorm van nuwe saad en nuwe lewe geskep.

Lees meer “Stof tot nadenke: Bekommernis”

Stof tot nadenke: Selfondersoek na afgode

“Ek is die here julle God. Julle mag nie afgode dien nie en julle mag nie vir julle afgodsbeelde maak nie. Ek is die Here julle God” Lev. 19: 3-4

Ons persepsie van afgode is in die vorm van dooie beelde wat nie aanbid mag word nie, dit wat dikwels in die Ou Testament genoem word (Deut. 30:16; Jes 42: 17). Ons word gereeld gemaan om nie agter afgodsbeelde aan te loop nie. Wêreldwyd sien mens nog dikwels afgodsbeelde waar mense voor neerbuig, asof dié hulle kan hoor bid en hulle sou kon help. In Ps. 115 beskryf Dawid reeds baie raak hoe mens na die beeldende afgode moet kyk. Hulle het sienlose oë, gehoorlose ore, woordelose monde, stil hulpelose hande en voete wat nêrens heen kan gaan nie. Hy maan ook dat mense net soos hierdie dooie beelde sou word, indien hulle diesulkes sou aanbid (Ps. 135: 18) en dat God ons indien ons die afgode sou aanhang, Hy ons dienooreenkomstig sal behandel (Eseg. 14: 3-5; Eseg. 23: 49).

Lees meer “Stof tot nadenke: Selfondersoek na afgode”

Stof tot nadenke: Geestelike Groei

“Lê juis daarom alle ywer aan die dag om by julle geloof deug te voeg, by deug insig, by insig, selfbeheersing, by selfbeheersing, volharding, by volharding, godvresendheid, broederliefde, en by broederliefde, liefde vir alle mense.”
2 Pet. 1: 5-7

Ons hoor dikwels dat ons nie uit eie krag die ewigheid kan beërwe nie, want dit is ‘n genaddegawe van God. Dit is absoluut korrek, maar ons kan nou ook nie op ons louere sit en hoop dat ons die ewigheid sal erf nie. In Petrus 2 roep Petrus ons duidelik op om ons te beywer om geestelik te groei. Daar is dus tog ‘n sekere inset wat van ons kant af moet kom. Ons moet nadat ons besluit het om die genadegawe van God te aanvaar, ons beywer om al die deugde wat so mooi gestel word, in ons lewe ‘n werklikheid te maak.

Lees meer “Stof tot nadenke: Geestelike Groei”

Stof tot nadenke: ‘n Nuwe mens

“Nikodemus sê vir Hom: “Hoe kan ‘n mens weer gebore word as hy reeds oud is? Hy kan tog nie ‘n tweede keer in die moederskoot ingaan en gebore word nie?” Jesus antwoord: “Amen, amen. Ek sê vir jou: as iemand nie uit water én Gees gebore word nie, kan hy die koningkryk van God nie binnegaan nie”
Joh. 3: 4-5

Die vraag waarmee baie mense worstel, en tog so eenvoudig deur Christus beantwoord word. Ons moet deur water gebore word, die normale geboorte in die menslike konteks. Dit is egter die tweede geboorte wat so dikwels vir ons ‘n duister saak is. Uit ons menslike perspektief wil ons dinge beheer. Ons wil die vermoë hê om dinge te doen, wat vir ons beheer gee oor die uitkomste. Ons wil nuwe mense wees in Christus, want ons leef met die natuurlike drang, soos God ons geskape het, om nader aan God te kom.

Lees meer “Stof tot nadenke: ‘n Nuwe mens”

Stof tot nadenke: “Versoeking en Volharding”

“Beskou dit as ‘n groot vreugde, my broers, wanneer allerhande versoekings julle oorval, omdat julle weet dat, as julle geloof getoets word, dit volharding meebring.”
Jak. 1: 2-3

Ons moet bly wees as ons versoek word? Dat ons geloof getoets word? Dit is ‘n baie interessante stelling wat Jakobus hier maak. Is die feit dat ons versoek word ‘n aanduiding dat ons in geloof begin wen? Dat die vyand dit besef en alles in sy vermoë sal doen om ons van die regte pad af te lei. Dit is dan juis in hierdie omstandighede wat ons moet volhard in ons geloof. Is dit vir ons moontlik in ons eie swak nietige menslikheid?

Lees meer “Stof tot nadenke: “Versoeking en Volharding””

Stof tot nadenke: Wat gee vrede?

“Dit is wat julle moet doen: Praat onder mekaar die waarheid; beoefen in julle stadspoorte slegs regspraak wat waar is en tot vrede lei….Verder moet julle waarheid en vrede liefhê.”
Sag. 8: 16 & 19

Vrede. Dis iets wat ons almal soek. Die definisie vir vrede is ‘vryheid van steuring; afwesigheid van konflik; stil en rustig’. Maar die konsep van waar ons vrede soek het so baie fasette. Vrede tussen familie, vrede tussen vriende, vrede tussen gemeenskappe, vrede tussen lande. Vrede tussen mense kan slegs bereik word indien daar nagevolg word wat in Sag. 8 genoem word. Alleenlik wanneer mense onder mekaar die waarheid praat en regspraak aanvoor wat waar is, kan daar vertroue tussen mense ontwikkel wat tot vrede kan lei. Is dit egter die vrede waarvan hier gepraat word?

Lees meer “Stof tot nadenke: Wat gee vrede?”

Stof tot nadenke: Afskeid by die graf

“Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag”
1 Tes. 5: 8

Soos die seisoene in die natuur is daar ook seisoene in ons lewe. Die vreugde van lente by ‘n nuwe geboorte lei die lewe van elkeen van ons as mense in, in hierdie aardse lewe. Dis ‘n siklus wat elke dag herhalend begin en eindig. Die lewe loop soms vir ons onverstaanbare draaie, wat nie altyd van ons menslike perspektief af lekker of aanvaarbaar lyk nie. Tog vra God van ons om te alle tye en in alle omstandighede dankbaar te wees. God het ‘n unieke plan met elkeen van ons se lewe. Elkeen van ons het verskillende voorkeure, smake en idees oor wat aanvaarbaar in hierdie lewe is. Dit is egter belangrik vir elkeen van ons om te vra of dit wat ons doen voor God aanvaarbaar is.

Lees meer “Stof tot nadenke: Afskeid by die graf”

Stof tot nadenke: Seisoene in die Bybel

“God het gesê: “Die land moet groen plante laat uitspruit -gewasse wat saad gee, bome wat op die land vrugte dra, vrugte volgens elkeen se aard, vrugte waarin hulle saad is.” Dit het toe so gebeur….God het die wilde diere van die aarde gemaak volgens elkeen se aard…God het na alles gekyk wat Hy gemaak het, en kyk, dit was baie goed.”
Gen. 1: 11; 25; 30

Dit is weer lente hier in Suid-Afrika, net soos God dit geskep het. Volgens die aard van elke plant en dier is dit die tyd vir nuwe lewe en nuwe groei. Afhangend van die tye om te saai, is daar ook gewasse wat nou gesaai moet word, en daar is gewasse wat nou ge-oes word. Want God het dit goed gedink om alles volgens hulle eie geaardheid te maak.

Lees meer “Stof tot nadenke: Seisoene in die Bybel”

Stof tot nadenke: Vissers van mense

“Hy (Jesus) sê vir hulle; “Volg My, en Ek sal julle vissers van mense maak! Hulle het onmiddelik hulle nette gelos en Hom gevolg.”
Matt. 4:19-20

Die opdrag van Jesus Christus aan sy eerste dissipels laat mens verbaas. Wie van ons sal alles waarmee ons besig is net so laat staan en agter Christus aanstap. En tog is dit die opdrag. Los alles agter waarmee jy jou dag vul, en volg my. Mens dink so dikwels dat dit beteken dat elkeen van ons nou ‘n prediker moet word, of ‘n sendeling of aktief die woord moet verkondig. Dit het egter ‘n hele paar jaar vir hierdie dissipels geneem, en dikwels sonder begrip, waarheen Christus met hulle oppad was. Dit was eers by die uitstorting van die Heilige Gees (Hand. 2) waar hulle duidelik en met oortuiging Christus se lewe begin verkondig en navolg het.

Lees meer “Stof tot nadenke: Vissers van mense”

Stof tot nadenke: Elke dag in afhanklikheid

“Die God van Sadrag , Mesag en Abednego moet geprys word, wat sy engel gestuur en sy diensknegte gered het – hulle wat op Hom vertrou het, die bevel van die koning verontagsaam het, omdat hulle geen ander god behalwe hulle God sou dien en vereer nie.”
Dan. 3:28

Kan ons, soos Daniël en sy vriende van ouds, so in totale afhanklikheid en met volle vertrou in waarheen God ons lei, elke dag leef? Ons is so besig om ons eie lewens te reël en beplan. So besig om net die beste vir onsself te soek op hierdie verganklike aarde. Ons mis so maklik die doel waarmee God ons elkeen op ons eie unieke lewenspad geplaas het.

Dan luister mens na die getuienis van ‘n hedendaagse ‘Daniël’ in die vorm van Michelle Potgieter, Sy en haar man Ockert wat so duidelik in totale afhanklikheid en met volle oorgawe na die stem van God geluister het. Daar waar Hy hulle heen gelei het om vir Hom te werk op ‘n baie braak land. Dit wat reeds vir daardie ver land beplan was.

Lees meer “Stof tot nadenke: Elke dag in afhanklikheid”

Stof tot nadenke: Geloofsekerheid

“Maar ons verlang dat elkeen van julle dieselfde ywer toon om te kom tot die volkome sekerheid van die hoop tot die einde toe; sodat julle nie traag word nie, maar navolgers van hulle wat seur geloof en lankmoedigheid erfgename van die belofte is.”
Heb 6:11-12

So dikwels worstel ons met die vraag of ons volkome sekereheid kan hê van ons geloof in God, die Vader, die Seun en die Heilige Gees. Is dit vir ons moontlik on volkome te vertrou, net soos ‘n drenkeling op sy lewensredder moet vertrou. Kan ons onsself so in totale vertroue en oorgawe aan God gee, en kan ons dan ‘n lewe van oorwinning oor die sonde lewe, te midde van hierdie aandag-afleibare wêreld waarin ons leef.

So dikwels is die antwoord dat ons sondige natuur met ons parte speel. Dat ons sondige natuur maak dat ons keer op keer val en die verkeerde dinge doen en sê. Is dit wat die oorhand oor ons kry, of hou ons ‘n agterdeur oop om tog net ‘n goeie verskoning te hê oor waarom ons keer op keer weer val.

Kan ons ‘n lewe van sondeloosheid lewe? Is dit in enigeen van ons om, vandat ons ons hart in volkome afhanklikheid aan God gegee het, ‘sonder sonde’ te wees? Paulus maan ons om ons geloof gedurig te ondersoek (2 Kor 13:5). Ons krag om die sonde te oorwin, kom van die Heilige Gees af, wat ons daagliks maan om op die regte pad te bly, om regte besluite te neem, en om tot eer en verheerliking van God te leef.

Dit is soos wanneer mens leer fiets ry. Aanvanklik val en struikel mens gereeld, maar sodra jy die tegniek onder die knie gekry het, kan jy ry sonder om te veel daaroor te dink. Dit gebeur deur ‘spier-herinnering’. Net so kan ons lewens verander deur meer en meer na die beeld van Christus te wees. DIt is nooit uit ons eie krag nie, maar deur die krag van die Heilige Gees wat in ons woon. Dit is moontlik om volkome geloofsekerheid te hê, want Paulus noem in Rom 10:9 dat “As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word;”. Vir God, wat ons harte ken, kan ons vra dat Hy ons sal vorm om elke dag nader aan die beeld van Christus te wees, sodat die wêreld kan sien dat ons Sy kinders is.

Stof tot nadenke: Trefkrag van die Boodskap

“Ons het gawes wat van mekaar verskil, volgens die genade wat aan ons gegee is: As dit ‘n gawe van profesie is, beoefen dit dan in ooreenstemming met die geloof;”
Rom. 12: 6

Mens sit soms in die kerk en luister na die boodskap en soms is daar geen boodskap vir jou spesifiek nie. Het ek dit verkeerd verstaan? Is daar dan nou fout met my? Hoekom is ek nie vandag begeester nie? Is die vrae wat dadelik by jou opkom. Jy kan nie onthou dat jou gedagtes afgedwaal het nie. Is ek dan nou een van die mense waarna Jesus in Matt. 13:14 , ‘wat hoor, maar nie verstaan nie; en sien maar nie insig het nie’? Wanneer mens dan 1 Kor 12: 7 “Aan elkeen egter word die openbaring van die Gees gegee, met die oog op wat bevorderlik is.” lees, besef mens dat daar moontlik ook ‘n ander kant aan hierdie situasie kan wees. Of is dit net ‘n poging om my eie onkunde te regverdig? Ook in 1 Kor. 14:6 hoor ons dat indien die spreek in tale nie bevorderlik is vir die gemeente nie, het dit geen nut nie. Waar trek mens die streep oor wat bevorderlik en wat nie bevorderlikis nie?

In 2 Pet. 1:20-21 noem Petrus dat geen profesie op die uitleg van ‘n mens berus nie, aangesien die prediker se woorde deur die Heilige Gees ingestel moet wees. Dan alleen sal die woorde, deur mense uitgespreek, van God afkomstig wees. Timoteus maan in 1 Tim. 4:7 dat die prediker noulettend moet wees op homself, asook op die leer van Jesus Christus, sodat jy jouself kan red, asook die wat na jou luister. Dis ‘n besonder groot verantwoordelikheid. Pred. 1:17 noem dat hy hom daaraan toegewy het om wysheid en kennis, domheid en dwaasheid te verstaan. Hy het die sinlose lewensbestaan in baie detail genoem, maar in Pred. 3: 14 kom hy tot die besef “dat alles wat God doen vir altyd sal bestaan. Daaraan kan niks toegevoeg word nie, en daarvan kan niks weggeneem word nie. God het dit gedoen sodat hulle (ons) ontsag vir Hom sal hê.”

Die gelykenisse van die saaier (Matt. 13: 1-23), asook die gelykenis van die onkruid tussen die koring (Matt. 13:24-30) maak ons bewus daarvan dat die woorde van die prediker nie altyd vir almal ewe effektief bereik nie, en dat die vrug wat gedra word nie altyd in dieselfde mate gemeet kan word nie. God laat ook toe dat die onkruid tussen die koring kan groei, ten spyte van moontlike drastiese negatiewe gevolg op die ou end, omdat Hy nie die goeie koring verkeerdelik uitgehaal wil sien, wanneer die onkruid uitgetrek word nie. In alles sien ons God se liefde vir ons nietige mense raak.

Maar hoe onderskei ons as gelowiges of die boodskap bevorderlik of nie bevorderlik is nie? Hoe onderskei ons tussen vals en ware profete. Volgens my beskeie mening is daar net een manier om dit te doen. Dit is om die boodskap te meet aan die Evangelie van Jesus Christus. Het die boodskap die Evangelie verkondig? Was die boodskap bevordelik vir die geestelike opbou van die gemeente? Het die trefkrag van die boodskap eer gebring aan God die Vader, die genade van Jesus Christus se offer, en die nabyheid van die Heilige Gees beklemtoon? Ons moet egter ook onthou, God ken elkeen se hart en aan Hom alleen kom die oordeel toe, ook die ordeel teen valse profete (Jer. 23).

Stof tot nadenke: Wat is die belangrikste?

“Hoofsaak is dat julle lewenswandel in ooreenstemming met die evangelie van Christus moet wees…in volkome eensgesindheid standvastig saamstry vir die geloof in die evangelie.”
Fil. 1: 27

Ons worstel so dikwels met ons eie swakhede, sodat ons in ooreenstemming met die evangelie van Christus kan leef. Een van die moeilikste dinge in hierdie lewe is om eensgsindheid in die gemeente en gemeenskap te hê. Daardie eie ek wat altyd wil seëvier. Ons kom almal, selfs uit dieselfde kultuur, uit soveel verskillende agtergronde, en met sovel verskillende ervarings, dat ons selde die ander se verwysingsraamwerk verstaan. Volgens Fil. 1:27 blyk eensgesindheid een van die belangrikste eienskappe van die gemeente te wees, sodat hulle standvastig kan saamstry vir die geloof in die evangelie.

Na die koms van Christus wat die vervulling van die beloftes van God se koninkryk ‘n werklikheid gemaak het (Mark 1: 15) word ons opgeroep om ons te bekeer en te glo in die evangelie. Die evangelie waarvan Jesus Christus, die seun van God, die begin was (Mark. 1:1). Ons kan egter nie ons eie lewe red nie, maar onder leiding van die Heilige Gees is dit vir ons moontlik om ons eie ek te verloor ter wille van die evangelie (Mark. 8:35), en die enigste manier wat ‘ons’ ons lewe kan red.

Ons moet besef, net soos Petrus in sy toespraak by Cornelius (Hand 10:34-35) noem“…dat God niemand volgens sy uiterlike beoordeel nie, maar dat die mens wat ontsag vir Hom het en doen wat reg is, uit watter nasie hy ook mag wees, vir Hom aanvaarbaar is. ”Jesus Christus is die Here van alle mense” (Hand. 10: 36). Daar is soveel rigtingwysers in die Woord van God , oor hoe ons moet lewe en wees, om meer en meer soos Christus te wees. “Julle liefde moet ongeveins wees. Verafsku die kwaad; hou vas aan die goeie. Julle moet mekaar liefhê met innige broederliefde. Gaan mekaar voor in eerbetoning. Moenie traag wees in julle toewyding nie; bly geesdriftig; hou vol om die Here te dien, …” (sien Rom 12: 9-21).

Ons hoef dus nie uit eie krag te probeer eensgesind wees nie, want God wat ons bemoedig deur die genade van die verlossing in Jesus Christus en die Heilige Gees as trooster gestuur het, sal ons bystaan sodat ons “onder mekaar eensgesind sal wees, ooreenkomstig die wil van Christus Jesus, sodat julle eenparig, ja, uit een mond, aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, die lof sal bring. Daarom aanvaar mekaar, soos Christus julle ook aanvaar het, tot eer van God.” (Rom 15: 5-7). Ons moet mekaar egter aanvaar. Elkeen met sy eie swakhede, maar meeste moet ons soek na die sterkpunte, of spesiale gawes wat ‘n ander het, en wat God wil gebruik om Sy koninkryk uit te bou.

Ons kan dus net pleit soos Paulus in 1 Kor. 1:10, “Ek pleit by julle, broers, in die Naam van ons Here Jesus Christus, dat julle almal eenstemmig sal wees, en dat daar nie verdeeldheid onder julle sal wees nie, maar dat julle volkome eensgesind mag wees, met dieselfde denkwyse en dieselfde oortuiging.”, sodat ons as gemeente in eensgesindheid werktuie in die hand van God, en tot uitbouing van Sy koninkryk, kan wees.

Stof tot nadenke: Gebed

“Ek dring daarop aan dat daar in die eerste plek met smeking, voorbidding en danksegging gebid moet word vir alle mense, vir dié wat regeer en vir almal wat gesag uitoefen, sodat ons ‘n rustige en stil lewe kan lei in volkome toewyding aan God en in alle eerbaarheid”
1 Tim. 2: 1-2

Gebed is deel van ons dag se bestaan wanneer ons meelewende Chistene is. Dis egter nie altyd so maklik om te besluit wat en waarvoor ons moet bid nie. As kind, onder leiding van gelowige ouers, leer mens aanvanklik om enkel sin gebede te doen. Ons leer om vir die mense naby en om ons te bid. Soos ons ouer word raak die gebede soms dikwels meer ek-gesentreer. Daar word immers gesê “Bid en vir julle sal gegee word” (Mark. 11: 24). Vir sommiges is dit makliker om te bid as vir ander. Maar moet ons gebede ek-gesentreer wees?

In die bybel is daar menige voorbeelde van gebed. Ons kan gaan kyk na koning Salomo se gebed by die opening van die Tempel (1 Kon. 8); die noodgebed van Dawid (Ps. 17); die lofgebed tot eer van God, van Dawid (Ps 86); die dankseggings en verootmoedigings gebed van Moses (Ps. 90); Daniël se gebed van sonde belydenis (Dan. 9: 8-9), Jona se noodroep gebed nadat hy ongehoorsaam was (Jon 2:7) en Habakuk se verootmoedigings gebed omdat die volk gesondig het (Hab. 3: 17-19). So kan ons voort gaan om voorbeelde aan te haal.

Hoe moet elkeen van ons egter bid? In Matt. 6: 7 word ons gemaan om nie met ‘n stortvloed van woorde te bid nie. Uit al die voorbeelde reeds genoem, is dit duidelik dat daar menige maniere van gebed is, afhangend van die dankbaarheid, nood of sondigheid. Elkeen van ons het ‘n unieke verhouding met God. Vir Job was God sy vriend wat vir hom voorspraak kon doen (Job 16: 19-22). Na Christus se kruisiging en hemelvaart, met die uitstorting van die Heilige Gees, het elkeen van ons wat glo, nou ‘n vriend en voorspraak by God. Die Heilige Gees wat ons lei in gebed.

Waar moet ons bid? Ons moet gedurig waak daarteen dat ons nie skuldig staan voor Christus se aantuiging van Matt. 21:13, nadat hy die kopers en verkopers van die tempelterrein verjaag het,: “My huis sal ‘n huis van gebed genoem word. Maar julle het daarvan ‘n rowerspelonk gemaak!” Laat ons die huis van die Here ‘n aanbiddings hawe maak. Soos Christus Hom self afgesonder het in voorbidding (Luk. 6:12) en in nood (Luk. 22:44-46) , kan ons ook enige plek in afsondering bid. Hetsy of dit in ‘n kerkgebou, jou binnekamer, of in die wye en wonderlike natuurskepping van God is.

Hoekom moet ons bid? Watter beter antwoord as “…sodat ons ‘n rustige en stil lewe kan lei in volkome toewyding aan God en in alle eerbaarheid” soos gestel in 1 Tim 2: 2. Sodat ons nie so verstrengel raak in hierdie wêreld se afleidings en moelikhede nie, maar dat ons deur lofgesong en in dankbaarheid, en in alles God se raad vra, net soos al die opregte gelowiges voor ons.

Waarvoor moet ons bid? Daar is geen einde aan waaroor en waarvoor ons kan bid nie. Dis soos om alles met jou beste vriend/in te deel. Sondebelydenis, vergifnis te vra, alles te deel wat in jou lewe gebeur…die hartseer, die blydskap, die dankbaarheid, die verwondering oor God se grootheid en almag. Daar is egter ook duidelike aanduidings van dinge wat ons nie moet nalaat in ons gebede nie. Die dinge wat ons soms liewer nie wil doen nie, soos om vir ons vyande en vervolgers te bid (Matt 5:44), of in smeking, voorbidding en danksegging te bid vir alle mense, vir dié wat regeer en vir almal wat gesag uitoefen (1 Tim. 2:1). Ons kan veral ook bid dat ons die vrug van die Gees sal verkry (Gal 5:22), sodat ons lewe volkome sal wees in Christus se genade en tot verheerliking van die Vader. Maar Christus het vir ons, vir wie woorde nie so maklik kom nie, die volmaakte gebed gegee in die woorde van die Onse Vader (Matt. 6: 9-13), en in Kol. 4:2-3 word ons gemaan om te volhard in waaksame en dankbare gebed sodat God se genade en die misterie van Christus en die Heilige Gees verder ontsluit sal word.

Lydenstyd: “Visio Divina” Dag 46

VISIO DIVINA #46

Deel 1

Gepas word hierdie ikoon die “Klaaglied” genoem. Theodosia Poulopos, ‘n tapiserieborduurder, het in 1599 op die bloedrooi lap die toneel met goue gare borduur. Dit beeld die begrafnisritueel uit van die vroue wat Jesus se liggaam vir die graf voorberei en salf. Volgens Lukas en Matteus was dit Josef van Arimatea wat voor die aanbreek van die Sabbat Sy liggaam van die kruis kon afhaal. Joh 19:31-34 vertel dat dit die gebruik was om die liggaam se bene te breek as die gekruisigde nog nie dood was nie, maar Jesus was toe reeds dood.

Hierdie is almal se klaaglied. Vir Maria was gesê dat ‘n swaard deur haar siel gesteek sal word (Luk 2:35) en met haar seun se kop op haar skoot weet sy dit. Petrus, die een wat gesê het, “ek ken Hom nie”, is die een wat by sy bene staan, gereed om die doek om Jesus te draai.

Deel 2

TEKSVERS:

“En nie alleen dit nie, maar ons self ook wat die eerstelinge van die Gees het, ons sug ook in onsself in afwagting …” (Rom 8:23, 1953-vertaling).

Hoe ouer ek word, hoe meer worstel ek met pyn. Nie fisieke pyn nie. Dit ken ons almal baie goed! Maar dit is die emosionele pyn van die mensdom; die brutaliteit waarmee ons leef; die onnodige ellende waarin die mensdom gedompel word (of dit selfgemaak is deur oorloë, of deur natuurrampe of wat ook al) wat my so onrustig maak. Ek verlang na ‘n ander lewe! Ek sug! Ek sug!

Stil Saterdag is die dag van sug! Jy kan nie anders as jy om jou kyk nie. Die pyn is sigbaar, reg om jou; ook binne jou eie lewe. Dit is wat Visio Divina doen – nie net om die mooi raak te sien nie; maar ook die toestand van die wêreld waarvan ons deel is. Visio Divina dwing jou om eerlik te word, want eers as jy eerlik is oor jou eie aandeel in die gebroke wêreld moet jy, soos ‘n Maria en ‘n Petrus, daardie klaaglied uit jou lyf uit sug. Dit is as gevolg van dáárdie gebrokenheid dat die Man daar gehang het. Dit is hoe hooploos voel! Jy moet dit raaksien.

Maar Sondag breek aan. Aan hooploosheid kom ‘n einde. Waarom? Die son kom op. Die duisternis kon nie die Lig verdryf nie. Daarvan is ons getuies!

GEBED:

Heilige Lig wat die duisternis uitdryf; dryf dit ook uit my om U lig te kan reflekteer.


Audrey Assad – “Abide with me” –

Op Dag 46 van ons Lydenstydreeks #VisioDivina luister ons na Audrey Assad se weergawe van die bekende “Abide with me” –

Bannier-van-NG-Weltevreden1
Ontwikkel en saamgestel vir die NG Kerk Weltevreden

Kopiereg: Dr. R.M. Bezuidenhoudt
Hierdie reeks ‘Visio Divina‘ word deur Kopiereg beskerm.
Geen gedeelte van hierdie reeks mag gedupliseer of herversprei word sonder die eksplisiete goedkeuring van die outeur: Dr. R M Bezuidenhout nie.

Indien hierdie reeks u geïnspireer het kan u haar bediening finansieel ondersteun deur die volgende skakel te volg:
https://ronellbezuidenhout.co.za/steun

Lydenstyd: “Visio Divina” Dag 45

VISIO DIVINA #45

Deel 1

Kenners bevestig, daar is geen ander toneel wat meer deur kunstenaars uitgebeeld is as die kruisiging van Jesus nie. Om een te kies vir #VisioDivina is soos om ‘n enkele ster aan die hemelruim te kies en dan te motiveer waarom dit jou keuse is. My soektog het tot stilstand gekom by die 1922-penskets (en waterverf) van David Jones. Ek kon nie ophou kyk nie.

Ek weet dat daar baie indrukwekkender kunswerke oor hierdie toneel is. Maar sonder ‘n woord bring hierdie visuele beeld met sy enkele lyne, so eenvoudig en gestroop, ‘n roering in jou hart. “Heilige kyk” word “heilige hoor”.

Neem jou tyd en kyk net biddend na hierdie skets. Die uitgestrekte arms word ‘n weegskaal waarin die wêreld rus. Riviertjies bloed sypel afwaarts. Waarom teken die kunstenaar die oë so groot? Om wat te sien?

Deel 2

TEKSVERS:

“Ek, ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos? Aan God die dank! Hy doen dit deur Jesus Christus ons Here” (Rom 7:24-25).

Die Latyn weerskante van die Jesus-figuur van David Jones kom uit Jes 53:2, “Hy het nie skoonheid of prag gehad dat ons na hom sou kyk nie, nie die voorkoms dat ons van hom sou hou nie.” Alles aan Jesus was onindrukwekkend: gebore in ‘n stal, ‘n ongeletterde seun van ‘n timmerman. Lukas 23 bevestig dit: Pilatus wil redeneer – Jesus reageer nie. Herodus wil ‘n wonderwerk sien – Jesus staan net. Die soldate kasty hom – Jesus ruk nie los nie. Dit is presies wat Jesaja voorspel: “Soos ‘n lam wat na die slagplek toe gelei word en soos ‘n skaap wat stil is as hy geskeer word, het hy nie gekla nie” (Jes 53:7). Die volk wou die Leeu van Juda hê! Daarom skreeu almal, “Kruisig Hom!”

Wees net eerlik – ons hou maar almal van indrukwekkende mense. Sukses beïndruk ons. Sterk leiers laat ons veilig voel. Wat sou óns skreeu as ons tussen die skare was? Hoe durf hierdie man beweer Hy is die Seun van God is. Die regte Messias sou nooit ‘n doringkroon dra nie! Die regte Messias moet die volk red! En hier hang hy aan ‘n kruis…

En terwyl ek aanhou kyk na die Latynse woorde van die kunswerk kom Paulus se woorde skielik by my op: “Ek ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos…”

Dan verander die sogenaamde “man van geen aansien” aan daardie kruis in die “Skoonheid van God”: die bloed word wyn; die liggaam word brood.

GEBED:

Jesus Christus, ek kyk na U aan die kruis, en ek roep saam met Paulus uit, “Ek ellendige mens, wie sal my red?” Daar is net Een – U!


“Kyrie Eleison” deur “Chant of the Mystics”

Op Dag 45 van ons Lydenstydreeks #VisioDivina luister ons na ‘n buitengewone weergawe van die “Kyrie Eleison” deur “Chant of the Mystics”. Dit is musiek wat uiters gepas is om stil te sit en te onthou dat Jesus bid: “Vader, vergewe hulle.”

Bannier-van-NG-Weltevreden1
Ontwikkel en saamgestel vir die NG Kerk Weltevreden

Kopiereg: Dr. R.M. Bezuidenhoudt
Hierdie reeks ‘Visio Divina‘ word deur Kopiereg beskerm.
Geen gedeelte van hierdie reeks mag gedupliseer of herversprei word sonder die eksplisiete goedkeuring van die outeur: Dr. R M Bezuidenhout nie.

Indien hierdie reeks u geïnspireer het kan u haar bediening finansieel ondersteun deur die volgende skakel te volg:
https://ronellbezuidenhout.co.za/steun