Stof tot nadenke: Laat almal tuis voel.

Hy het geen onderskeid getref tussen ons en hulle nie, want Hy het hulle harte deur geloof gereinig.
Hand. 15: 9

Hoe laat ons mense tuis voel in die gemeenskap van gelowiges? Ons is tog deur die geloof een familie in Jesus Christus. (“Want deur die geloof is julle almal kinders van God in Christus Jesus, want julle wat in Christus gedoop is, het Christus soos ‘n kleed aangetrek.” (Gal. 3: 26-27)). Doen ons moeite om ander gelowiges, wat dalk nuut of vreemd is in die gemeente, te laat tuis voel? Of is dit maar effens moeilik omdat ons dalk self nie heeltemal tuis voel nie? Of is ons al so ingeburger, dat ons voel dis elkeen vir homself, daardie persoon kan maar sy eie plekkie oop stoei in hierdie geloofs-familie?

Ons sien soms mense wat die moed van die oortuiging het om tog die dag te kom tee drink, en wat eenkant staan, omdat hulle heel moontlik teruggetrokke of te skaam is, om sommer by ‘n klompie mense, wat mekaar duidelik goed ken, in te skakel. Dit is nie elkeen van ons wat dit kan doen nie. Verloor ons hulle dan dalk permanent aan die geleentheid, wat juis is sodat ons mekaar beter kan leer ken? Elkeen van ons het lewensverhale wat ons uitgebring het waar ons vandag is, in hierdie een geloofsgemeenskap. Daar is soveel kosbaarhede wat ons dikwels mis, omdat ons nie die moeite doen om mense te leer ken nie, en daarmee bedoel ek nie net op ‘n “Hallo, hoe gaan dit?” sosiaal verpligte vraag nie, maar om regtig die mens agter die vreemdeling se wese te leer ken. Of om mense op hulle baadjie te takseer, omdat jy na iemand anders se verkeerde oordeel oor ‘n persoon, geluister het.

Paulus maan ons deur die briewe aan die Effesiërs dat ons mekaar met nederigheid, sagmoedigheid en liefde moet verdra (“Daarom spoor ek julle aan, ek, wat ter wille van die Here ‘n gevangene is, om so te leef dat julle die roeping waarmee julle geroep is: deur mekaar met volkome nederigheid en saggeaardheid, en met geduld in liefde te verdra, en julle daarop toe te lê om die eenheid wat die Gees bewerk, te bewaar deur die band van vrede -.” (Eff. 4: 1-3)). Dit wys daarop dat ons soms moiete kan hê om iemand voor die voet net te aanvaar, en ons kan ook kwaad word oor verkeerde dinge wat gedoen, word, maar ons moet nie dat dit die eensgesindheid in hierdie geloofs familie benadeel nie. (“Daarom, vermy die leuen, en praat elkeen die waarheid met sy nasate, want ons is lede van een liggaam. Word kwaad, maar moenie sondig nie. Laat die son nie ondergaan oor julle woede nie.” (Eff. 4: 25-26); (“Laat vaar alle bitterheid en woede, en gramskap en geskreeu en gelaster, saam met elke vorm van kwaad. Wees goedgesind teenoor mekaar, met innige meelewing, terwyl julle mekaar vergewe, soos God in Christus julle ook vergewe het. ” (Eff. 4: 31-32); (“Nie ‘n enkele afbrekende woord moet uit julle mond kom nie, maar eerder ‘n woord wat goed is vir noodsaaklike opbou, sodat dit voordeel mag bring vir diegene wat dit hoor.” (Eff. 4: 29)).

Ons moet elke dag besef dat ons deel van hierdie wonderlike geloofs-familie van Jesus Christus is, nie omdat ons dit verdien nie, maar uit genade (“Want daarin word geopenbaar dat die geregtigheid van God geheel en al op geloof berus, soos daar geskryf staan: “Die regverdige op grond van geloof sal leef.” (Rom. 1: 17); (“Maar nou, in Christus Jesus, het julle, wat destyds ver weg was naby gekom deur die bloed van Christus. Hy is immers ons vrede – Hy wat albei één gemaak het, en die middelmuur van skeiding, die vyandskap, deur sy liggaam afgebreek het.” (Eff. 2: 13-14); (“En Hy het vrede as goeie boodskap aan julle kom verkondig, aan julle wat ver was, en ook vrede aan diegene wat naby was. Want deur Hom het ons albei toegang tot die Vader deur een Gees. So is julle dan nie meer vreemdelinge en bywoners nie, maar julle is medeburgers van die heiliges, en lede van die huisgesin van God.” (Eff. 2: 17-19))

Ons is almal emosionele en sensitiewe mense; sommige wys dit, en ander kan dit baie goed wegsteek. Ons moet elke dag onthou dat ons ander moet behandel soos ons self graag behandel wil word, want dit wat jy uitdeel, kry jy gewoonlik terug, soms in ‘n groter mate, as wat jy uitgedeel het.