“Julle is immers hiertoe geroep, want Christus het ook ter wille van julle gely; Hy het vir julle ‘n voorbeeld nagelaat, sodat julle in sy voetspore kan volg.”
Pet. 2: 21
Hoe volg ons in Jesus Christus se voetspore. Dit is nie altyd maklik nie, want daar is vele struikelblokke op mens se pad. Die wêreld lyk soms so aanloklik dat ons struikel. Wanneer ‘n mens tot bekering kom dink jy dat jy oombliklik alles gaan reg doen, maar dit is nie die geval nie. Een van my broers het erg gehakkel, en het op ‘n relatiewe laat stadium besluit om vir behandeling te gaan. Toe hy by die terapeut opdaag, het dié vir hom voor ‘n groterige groot gehoor laat praat. Met wankelmoedige gevolge vir my broer. Hy was kwaad vir die terapeut omdat hy dit aan hom gedoen het. Dié het egter vir hom gevra: “Hoeveel foute dink jy het jy gemaak?” Sy antwoord was: “Ek kon niks reg kry nie, en het oor al die woorde gestruikel.” Maar die terapeut het hom daarop gewys dat hy uit die 1000 woorde wat hy gepraat het, slegs omtrent met 70 gesukkel het. Die terapeut het hom bemoedig deur hom daarop te wys dat mens moet fokus op dit wat jy reg doen! Ek dink met bekering gaan dit dieselfde. Ons dink ons maak aanhoudend foute, omdat ons fokus op alles wat ons verkeerd doen, wat nie noodwendig heeltemal verkeerd is nie, maar daar is ook baie dinge wat ons reg doen. Ons moet net aanhou reg doen, en verbeter daarop.
Hoe meer mens die regte dinge doen, hoe makliker kom dit. Om na die foute en verkeerde dinge te let, maak jou bewus van waarop jy moet konsentreer om verandering te weeg te bring (“Wie een van hierdie kleintjies wat in My glo, laat struikel, dit is vir hom beter dat ‘n maalklip van ‘n donkie om sy nek gehang word en hy wegsink in die dieptes van die see. Wee die wêreld as gevolg van die struikelblokke. Struikelblokke sal onvermydelik kom, nogtans, wee die mens deur wie die struikelblokke kom.” (Matt. 18: 6-7)). Dit is soos om te leer fiets ry. Dit verg aanvanklik geweldige konsentrasie, maar as jy, selfs jare nadat jy geleer het om dit te doen, weer op ‘n fiets klim skop daardie ‘muscle memory’ in en kry jy dit redelik gou weer heeltemal reg. Die groot geheim is om nie op te hou om dit reg te kry nie, want ‘practice makes perfect’.
Die Woord van God wys ons daarop dat uiterlike dinge nie belangrik is nie (“Maar Hy sê vir Samuel: “Moenie na sy voorkoms of sy buitengewone lengte kyk nie, want Ek het hom nie gekies nie. Die Here kyk nie na dieselfde dinge as die mense nie. Die mens kyk na die uiterlike, maar die Here na die innerlike.” (1 Sam. 16: 7)). Ons kan ook nie op ons eie krag staat maak nie (“Dit gaan goed met mense vir wie u ‘n tuiste is: hulle hou nie op om U te prys nie. Dit gaan goed met mense wat hulle krag in U vind en graag na u tempel toe gaan. Vir hulle gaan daar fonteine oop wanneer hulle deur ‘n dorre laagte trek en die vroeë reëns sy seëninge bring.” (Ps. 84: 5-7)). Miskien moet ons meer en meer tot die besef kom van God se krag wat hy deur die Heilige Gees ook vir ons gegee het met die uitstorting van die Heilige Gees (“Jesus sê vir hulle: “Is die rede waarom julle dwaal, nie juis dat julle nie die Skrif ken nie en ook nie die krag van God nie?” (Mark. 12: 24); (“Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.” (Hand. 1: 8)). Ons moet besef wat ons aan God, die Vader doen, elke keer as ons ‘n verkeerde besluit neem (“”Dink jy dit handel die saak af as jy sê: ‘Ek sal my reg van God ontvang’ en dan aanhou om te sê: ‘Wat baat dit my, wat kan ek wen as ek nie sondig nie?’ Daarop sal ek jou en ook jou vriende by jou antwoord. Kyk op, kyk na die hemel, kyk na die wolke hoog bokant jou: as jy sondig, wat doen dit aan God, as jy baie keer oortree, hoe raak dit Hom,…”” (Job 35: 2-); (“Maar let nou op die eerbare mens, kyk na die opregte: die regskape man, vir hom is daar ‘n toekoms.” (Ps. 37: 37))
Ons kan in Jesus Christus se voetspore volg as ons besef dat die Vader, Jesus Christus en die Heilige Gees dit hier op aarde moontlik maak (“Die Here sal jou beskerm teen alle gevaar, jou lewe sal Hy beskerm. Hy sal jou beskerm waar jy ookal gaan, nou en vir altyd.” (Ps. 121: 7)). Ons kan altyd onthou dat dit vir ons verniet gegee is. Hoe kan ons nie op Hom vertrou as ons sien hoe hy die hele Heelal in stand hou met alles wat daar in hierdie onmiddelike omgewing van ons versorg en aan die gang gehou word nie (“Kyk na die wilde voëls: hulle saai nie en hulle oes nie en hulle maak nie in skure bymekaar nie; julle hemelse Vader sorg vir hulle. ” (Matt 6: 26)).
Daar is nooit vir ons ‘n belofte gemaak dat dit noodwendig maklik gaan wees nie (“Toe die dissipels dit hoor, het dit hulle geweldig ontstel, en hulle het gesê: “ Wie kan dan gered word?” Jesus het reguit na hulle gekyk en gesê:”Vir mense is dit onmoontlik, maar vir God is alles moontlik.”” (Matt. 19: 25-26)), veral na die gelykenis van hoe dit makliker vir ‘n kameel sal wees om deur die oog van ‘n naald te gaan. Daar is reeds in Jesaja gemaan dat ons sal hoor en hoor, en kyk en kyk, en tog niks sien nie (“Toe het die Here gesê: “Gaan sê vir hierdie volk: Julle sal hoor en hoor en tog sal julle niks verstaan nie, en kyk en kyk en tog niks sien nie.”” (Jes. 6: 9)). Laat ons dus ons gehoor en ons sig instel op wat God van ons vra, en nie net luister nie, maar ook hoorders, sieners en doeners word. Laat ons meer en meer werk daaraan maak om die voorbeeld van Jesus Christus na te volg. Laat ons besef dat dit nie ‘n oombliklike verandering in doen en late te weeg bring, wanneer ons tot bekering kom nie, maar dat dit ‘n lang pad van steselmatige verandering vir ‘n mens is. ‘n Pad wat elkeen van ons, in ons uniekheid deur God geskep, saam met God kan aanpak en wat soveel vrede in mens se gemoed bring (“Ek wil luister na wat God die Here sê, want sy woord bring vrede vir sy vol, vir dié wat Hom getrou dien. Hulle moet net nie weer afdwaal nie.” (Ps. 85: 9); (“Volg dan die voorbeeld van God as geliefde kinders en leef in liefde, net soos Christus ons liefgehad het.” (Eff. 5: 1-2); (“Laat niemand julle verlei met niksseggende redenasies nie, want daardeur kom die toorn van God oor die seuns van die ongehoorsaamheid. Moet dus nie deel van hulle wees nie. Want vroeër was julle wel duisternis, maar nou, in die Here, is julle lig. Leef as kinders van die lig!” (Eff. 5: 6-8)).


