Stof tot nadenke: Menslike perspektiewe…

Toe Jesus opkyk en sien dat daar ‘n groot skare na Hom op pad is, sê Hy vir Fillipus “Waar sal ons brood te koop kry om hierdie mense te laat eet? Hy het dit egter gesê om hom te toets – self het Hy immers reeds geweet wat Hy wou doen. Fillipus het Hom geantwoord: “Tweehonderd denarius se brood is nie genoeg om vir elkeen ‘n stukkie te laat kry nie. Een van sy dissipels, Andreas, die broer van Simon Petrus, sê vir Hom: “Hier is ‘n seun wat vyf garsbrode en twee visse het, maar wat is dit vir so baie mense. ”
Joh. 6: 5-8

Vanuit ons menslike perspektiewe is dit so dikwels om geen uitkoms te sien nie. Wie van ons sou kon sien wat Christus beplan het? Wie van ons se geloof sou sterk genoeg wees om te dink dat soveel mense gevoed kan word met die bietjie wat daar beskikbaar is, en dat mens nie ‘n groot klomp geld nodig het nie? Wie van ons sou gedink het om die bietjie wat ons het aan te bied in die versameling, en voed van die skare mense? Dit het na ‘n totale onmoontlikheid gelyk vanuit die menslike perspektief. Jesus Christus het geweet dat dit deel van God se plan was om Sy almag te toon, en Hy het uit die vyf garsbrode en die twee visse genoeg kos vis die skare voorsien, sodat daar nog oor gebly het (“Toe die mense die teken sien wat Jesus gedoen het, het hulle gesê: “Hy is waarlik die Profeet wat na die wêreld sou kom. Toe Jesus besef dat hulle op die punt staan om Hom met geweld te kom gryp met die doel om Hom koning te maak, het Hy weer teen die berg opgegaan, net Hy alleen.” (Joh. 6: 14-15)). Ons reageer so dikwels vanuit ons menslike perspektiewe op die totaal verkeerde manier. Ons verstaan nie altyd die doel van enige gebeure nie. Jesus moes letterlik vlug van hierdie menslike perspektiewe en van dit wat mense geken het in aardse koninkryke.

Dwarsdeur die Bybyl is daar soveel insidente, waarvan ek maar na enkeles gaan verwys, wat die almag van God telkemale beklemtoon. Dat niks vir God onmoontlik is nie. Dat Hy in totale beheer is en reeds vooruit alles beplan het, sodat Sy almag vir ons mense duidelik kan word. Ons kan maar begin by die skepping van God, wat gesê het dat daar moet lig wees en daar was lig (“… en God het gesê: “Laat daar lig wees!” En daar was lig. God het gesien dat die lig goed was. God het toe die lig en die donker van mekaar geskei. God het die lig dag genoem en die donker het Hy nag genoem. En dit was aand en dit was oggend – dag een.” (Gen. 1: 3-5)). Tot vandag nog, het ons die voordeel van hierdie beplanning van God. Ons geniet nog steeds die ewigdurende wisseling tussen dag en nag. Dit reël ons tyd, dit reël ons uitvoering van ons pligte, en dit reël ons elke dag se lewe. God het geweet dat ons hierdie sikliese ritme sou nodig hê, sodat ons ook tot ruste kan kom elke dag.

Wanneer ons die verhaal van Israel se trek uit Egipte ondersoek, vind ons weereens die versorging van God vir Sy volk waarvoor Hy so lief was. Wie van ons sou kon trek met die belofte van kos elke dag? God het vir veertig jaar lank gesorg vir Sy volk. Gesorg dat hulle elke liewe dag genoeg gehad het om te eet, in omstandighede wat vanuit ons menslike perspektief na ‘n onmoontlikheid lyk (“Die Israeliete het die manna veertig jaar lank geëet, totdat hulle by bewoonde land gekom het. Die manna het hulle geëet totdat hulle by die grens van die land Kanaän aangekom het.” (Eks 16: 35): (“Die manna het opgehou die dag ná hulle van die vrug van die land geëet het. Daar was nie meer manna vir die Israeliete nie. Hulle het in daardie jaar van die opbrengs van die land Kanaän geëet.” (Jos 5: 12)).

Wanneer ons kyk na die verhaal van Elia en die Baalprofete in 1 Kon. 18, waar Elia onder uiters vyandige toestande die Baalprofete uitgedaag het om te bewys dat hul God, geen krag het nie. Dat slegs ons Spepper God die mag het om werklik gebede te verhoor (“Toe slaan die vuur van die Here neer en verteer die brandoffer, die hout, die klippe en die los grond. Dit het selfs die water wat in die sloot was, opgelek. Toe die hele volk dit sien, val hulle neer met hulle gesigte teen die grond en sê: “Die Here, Hy is God! Die Here Hy is God!”” (1 Kon. 18: 38-39)). Die gebeure, van menslike perspektief gesien, sou vir ons na ‘n onmoontlikheid gelyk het, maar by God is niks onmoontlik nie (“’Ag Here, my Heer, kyk, dit is U wat die hemel en die aarde gemaak het deur U groot krag en uitgestrekte arm! Niks is vir U onmoontlik nie. U bewys troue liefde aan duisende…” (Jer. 32: 17-18)).

Wanneer ons die verhaal van Gideon lees, sien ons die twyfel in sy gemoed, waar hy telkemale versekering by God soek om te weet dat wat hy beveel word om te doen wel God se wil is (“Toe sê Gideon vir God: “As U werklik deur my toedoen Israel wil verlos, soos U gesê het – kyk, ek sit ‘n pasgeskeerde vag op die dorsvloer, as daar net op die vag dou is, maar al die grond is droog, sl ek weet dat U Israel deur my toedoen gaan verlos, soos U gesê het.” Dit was toe so: Toe hy vroeg die volgende oggend die vag uitwring, het hy ‘n kom vol water uit die vg gepers. Toe sê Gideon: “Laat u toorn tog nie teen my ontbrand nie. Ek wil neet nog een keer praat. Ek wil asseblief net nog een keer met die vag ‘n toets doen. Laat dit tog net op die vag droog wees, terwyl daar oral op die grond dou is.” God het dit daardie nag so gedoen. Dit was net op die vag droog, terwyl dar oral op die grond dou was.” (Rig. 6: 36-40)).

Wanneer mens die verhaal van Sadrag, Mesag en Abednego lees, staan mens verstom oor die totale vertrou op God. Om ter dood veroordeel te word, deur verbranding, moes ‘n ysingswekkende ervaring gewees het. Hulle het egter so in en op God vertrou, dat hulle bereid was om vir hulle geloof letterlik deur die vuur te loop (“Sadrag, Mesag en Abednego het geantwoord en vir koning Nebukadnesar gesê: “Ons het nie nodig om oor hierdie saak aan u ‘n antwoord te gee nie. As ons God wat ons dien ons kan red uit die vlammende vuuroond en uit u hand, o koning, sal Hy ons red. Indien nie, laat dit aan u bekend wees, o koning, dat ons u gode nie sal dien nie, en aan die goue beeld wat u opgerig het, nie eer sal betoon nie.” (Dan. 3: 16-18)).

So kom ons elkeen voor die keuse te staan om ons eie menslike perspektiewe te ondersoek en besluite te neem. Mag elkeen van ons in elke besluit ons keuse vir God die Vader, Jesus Christus ons Verlosser, en die leiding van die Heilige Gees maak. Want dit word keer op keer bewys, dat God almagtig is, ‘n liefdevolle en vergewensgesinde God is.