Eiendomsbediening

NG KERK GROOT-BRAKRIVIER
EIENDOMSBEDIENING

Algemeen


Die eiendomsbediening se primêre taak is om ons kerk se vaste bates in stand te
hou.

Opsomming van ons kerk se vaste bates:


Ons kerk beskik oor die volgende bates:


Kerkterrein op erf 733 in Langstraat, Grootbrakrivier met die volgende strukture
daarop:

Kerkkompleks met voorportaal, ouditorium, gallery, konsistorie en
twee stoorkamers;

Kerksaalkompleks met kerksaal, gallery, verhoog, sysaal, kombuis, drie kategeselokale,
twee badkamers en twee stoorkamers;


Kantoorkompleks met adminkantoor, agt kategeselokale en een badkamer;


Pastorie wat omgeskakel is in ‘n bejaardesorg-fasiliteit (frail care unit) met vyf slaapkamers, drie badkamers, sitkamer, eetkamer, studeerkamer, kombuis met aparte opwaskamer, braaiarea, linnekamer, dubbegarage, aparte eenslaapkamer woonstel met badkamer en aparte voertuigafdak.

Pastorie te Esherstraat 1, Hersham met vier slaapkamers, sitkamer, studeerkamer, drie badkamers, leefkamer met braaigeriewe en oop stoep, opwaskamer en dubbelgarage.

Omvang van instandhoudingswerk

Soos met enige vaste bate die geval is, kan die fisiese verval daarvan met verloop van tyd, slegs vertraag word indien volgehoue aandag geskenk word aan gereelde en voorkomende onderhoud van alle onderlinge elemente van die eiendom. Die noodsaaklikheid vir sodanige aandag, verhoog natuurlik ook na gelang van die ouderdom van die onderlinge elemente. Wat dit betref, speel dit beslis ‘n rol in die twee oudste bates nl. die kerksaalkompleks en die kerkkompleks self. Volgens die hoekstene van beide is eersgenoemde ongeveer 97 jaar oud en laasgenoemde ongeveer 68 jaar. Die realiteit is dan ook dat die meeste van die ouderhoudswerk wat oor die afgelope vier jaar gedoen is, juis betrekking gehad het op bogenoemde oudste bates.


Vanuit verslae van die eiendomsbediening aan die kerkraad, blyk dit dat hierdie bediening meer as 100 individuele onderhoudstake oor die afgelope vier jaar hanteer het. Die grootste deel hiervan was tipiese “handy man” take soos die herstel van allerlei toebehore of die vervanging daarvan. Ander take was meer omvangryk en het groter kostes tot gevolg gehad. Voorbeelde hiervan is die totale vervanging van die kerksaal se houtvloer en die vloerbedekking van die kerk se galleryvloer asook die totale onderhoud van die Langstraat pastorie wat tesame met die omskakeling daarvan in ‘n bejaardesorg-fasiliteit, gedoen is.

Instandhoudingswerk in die vooruitsig

Die volgende werk is onder andere, reeds deur die eiendomsbediening geïdentifiseer vir die nodige toekomstige aandag:

Nagaan van alle houtkomponente vir houtkewer beskadiging (“dry rot”) en behandeling daarvan waar nodig;

Afskuur van roes op alle staalvensters en behoorlike herverf daarvan;

Afskuur van houtraamvensters en houtdeure en behandeling daarvan waar nodig; Verwydering van alggroei op dakteëls en herverf daarvan;

Verwydering van alggroei op geplaveide oppervlaktes;

Vervanging van netbedekking voor opening by boonste vlak van die kerktoring;

Nagaan en herstel van pleisterkrake en ander skades aan binne-en buitemure en voorsiening van waterdigtingsmaatreëls waar nodig;

Herverf van binne- en buitemure waar nodig; Afskuur en herverf van fassieborde waar nodig;

Verf van “vibrocrete” grensmuur langs ingangspad en parkeerterrein om aan te pas by die grensmure van die bejaardesorg-fasiliteit;

Effektiewe behandeling van mierprobleem op die hele terrein;

Effektiewe verwydering van onkruid op alle grasperke op die terrein.

Werkswyse van die eiendomsbediening

Tot en met die einde van Februarie 2022, sal die huidige status quo steeds geld waar die eiendomsbediening die taak sal hê om self die nodige onderhoudswerk te doen indien moontlik, óf om die nodige kundiges aan te stel indien dit nie self gedoen kan word nie.

Soos goedgekeur deur die bestuurspan op 2 November 2021, sal Mnr. Miggel Maritz egter op 1 Maart 2022 as onderhoudsbeampte van ons kerk aangestel word en sal hy vanaf daardie datum, voltyds gedurende die kerk se kantoorure, verantwoordelik wees vir die nodige onderhoudswerk. As die werk nie deur homself gedoen kan word nie, sal die eiendomsbediening soos in die verlede, tenders daarvoor aanvra enn geskikte kontrakteur daarvoor aanstel.

Alhoewel Mnr. Maritz, n groot las sal afhaal van die eiendomsbediening, sal die bediening steeds oorhoofse verantwoordelikheid vir alle onderhoudswerk dra en moet die bediening na my mening, uit ten minste uit drie persone bestaan waaruit ‘n voorsitter gekies kan word.


—————-Ooo—————