Stof tot nadenke: Goed en sleg…

Maar Josef het hulle geantwoord” “Moenie bang wees nie. Ek is nie God nie. Julle wou my kwaad aandoen, maar God wou daarmee goed doen: Hy het gesorg dat ‘n groot volk nou in die lewe gebly het. Moenie bang wees nie. Ek sal sorg dat julle en julle kinders kos het.””
Gen. 50: 19-21

Deur die lewe ervaar elkeen van ons goeie en slegte dinge. Dinge wat soms ‘n blywende indruk, en dikwels ‘n traumatiese effek nalaat. Besef ons hoekom hierdie dinge met ons gebeur? Hoe verwerk ons die wanneer die goeie en die slegte dinge in ons lewens gebeur? Wat maak ons met die vreugdes? Wat maak ons wanneer mense se aksies ons vertroue tot op die been stroop? Voel ons dan soos Jeremia wat voel of daar geen uitkoms is nie? (“Ek is die man wat ellende belewe het. Die Here het my met sy toorn geslaan. Hy het my die donker in gejaag, my laat loop op ‘n pad sonder lig. Vir my stoot Hy gedurig weg, dag na dag. Hy het my hele liggaam laat wegteer, my bene gebreek.” (Kla. 3: 1-4)). Of bely ons soos dieselfde Jeremia dat ons volkome vertrou op God? (“…deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut. U trou is groot. Ek sê vir myself: Die Here is my lewe, daarom hoop ek op Hom. Die Here is goed vir wie op Hom bly hoop, vir die mens wat na sy wil vra;” (Kla. 3: 22-26))

In Matteus word ons herinner dat wat ookal met ons gebeur, of dit nou goed of sleg is, dit is as gevolg van wat in ‘n ander se hart aangaan. (“Die goeie mens bring die goeie te voorskyn uit die oorvloed goeie dinge in sy hart; die slegte mens bring die slegte te voorskyn uit die oorvloed slegte dinge in sy hart.” (Matt. 12: 35)). Ons aanvaar dus dat dit die gevolg van mense se oortuigings is, wat die goeie laat gebeur, en ons aanvaar dat dit is omdat sodanige mense onder leiding van die Heilige Gees die goeie in mens se lewe inbring. Op dieselfde wyse aanvaar ons dat mense wat slegte dinge in mense se lewe inbring, onder leiding van die kwaadstoker is.

Tog wonder mens of dit nie alles deel van God se raadsplan met jou lewe is nie. Wanneer mens nie in toeval glo nie, beteken dit noodwendig dat wat gebeur, gebeur met ‘n plan, waarvan jy dalk nie weet nie. Josef se lewe is ‘n goeie voorbeeld hiervan. Josef se broers wou hom doodmaak, uit jaloesie. Een broer het skuldig gevoel en verhoed dat hy vermoor is, deur voor te stel dat hy as slaaf verkoop word. Watter traumatiese ervaring moes dit nie vir hom gewees het nie? Tog vergewe hy sy broers later in sy lewe, en toon hy die insig dat dit deel van God se plan was, sodat sy familie veilig deur die droogtetyd kan kom (Gen. 50: 19-21).

Ook in en deur die lewe van Daniël wys God ons hoe Hy in beheer van dinge is wat gebeur. Hy gee koning Nebukadneser ‘n, vir hom onverklaarbare, droom. ‘n Droom wat hom so onstel dat hy selfs dreig om almal wat dit nie vir hom kan uitlê nie, sal laat doodmaak. Daniël wat aan God glo, en volgens sy voorskrifte handel, vra sy vriende om saam met hom vir God te vra vir hulp, daar waar die enigste hulp vandaan sal kom. (“God het aan hierdie vier jongmanne wat verstand gegee en insig in alles wat geskryf is, en ook wysheid. Daniël kon enige gesig of droom uitlê.” (Dan. 1: 17); (“Daniël het gesê: ”Mag die Naam van God altyd geprys word, Hy aan wie die wysheid en die mag behoort, Hy wat tye en omstandighede verander, wat konings aanstel, wat aan die wyse manne die wysheid gee en die verstand aan dié wat insig het, wat ondeurgrondelike en verborge dinge openbaar en wat weet wat in die duisternis is; by Hom is die lig. Ek loof en prys U, God van my voorvaders, omdat U aan my wysheid en mag gegee het. U het aan my bekend gemaak wat om aan die koning te sê.” (Dan. 2: 20-23)). In die proses red Daniël nie net homself nie, maar ook die ander persone wat nie die droom kom uitlê nie. En dit alles lei tot die besef van die grootheid en almag van God.

Dit laat ons met die wete dat of daar nou goeie of slegte dinge deur ons lewe gebeur, dat God altyd in beheer is (“Hy het in die verlede alle nasies toegelaat om hulle eie koers te gaan, maar tog bekend gemaak dat dit Hy is wat die goeie dinge gee: Hy het vir julle reën van die hemel af gegee en gereelde oeste; Hy het julle volop kos gegee en julle gelukkig gemaak.” (Hand. 14: 16-17)). Hy wat selfs nasies toelaat om hul eie koers te gaan. Ons kan met die sekerheid leef dat God se plan met elkeen van ons, wat in Hom glo, in sy hand is (“As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee – die Vader in die hemel nog baie meer!” (Luk. 11: 13)), en dat Hy vir ons net die goeie wil gee. Maar, deur ons sondige natuur, is dit soms nodig om ons, net soos met die werk van die pottebakker, met seerkry, sny en vervorming, uiteindelik in die volmaakte produk te omvorm. Dis dan wanneer ons reg is om onder leiding en in ootmoed altyd die wil van God te vra soos Dawid (“Omdat ek vyande het, Here, leer my tog wat reg is en help my om u wil te doen.” (Ps. 5: 9)). Dis dan wanneer ons die goeie kan geniet wat God vir ons gee (“Jy moet al die goeie dinge geniet wat die Here jou God aan jou en jou huisgenote gee, jy en die Leviete en die vreemdelinge wat by jou woon.” (Deut. 26: 11)).

Dit is op God alleen wat ons ons oë gevestig moet hou, deur die goed en die sleg, want by Hom is daar nie plek vir die kwaad nie (“U is nie ‘n God wat onreg verdra nie, die kwaad het by U geen plek nie.” (Ps. 5: 5)). Op Hom alleen kan ons vertrou (“God is nie ‘n mens nie, dat Hy sou lieg nie, ‘n mens dat Hy van gedagte sou verander nie. Sou Hy iets sê en dit nie doen nie, iets belowe en dit nie nie uitvoer nie?” (Num. 23: 19)), want Hy is almagtig, ewig, getrou, en verander nie van gedagte nie. Sy raadsplan is reeds uitgevoer sodat ons deel van Sy koninkryk kan wees, deur Sy liefde, die kruisdood van Jesus Christus, en die nabyheid en leiding van die Heilige Gees.