Lydenstyd 2023 – “Visio Divina” Dr. Ronell Bezuidenhout

Lydenstyd 2023
Visio Divina

Heilige Kyk en Heilige Raaksien
Dr. Ronell Bezuidenhout

Bannier-van-NG-Weltevreden
Lydenstyd 2023:”Visio Divina” Ontwikkel en saamgestel vir die NGK Weltevreden

Inleiding
Baie mense gebruik die eeu-oue bybelleesmetode, nl. Lectio Divina. Anders as met bybelstudie (waar die klem op studie val) word daar met Lectio Divina (of Heilige Lees) veel meer met die hart as met die verstand gelees. Oor en oor lees jy – biddend – ‘n teksvers totdat daar ’n enkele woord/sinnetjie vir jou uitstaan. Dit is soos ’n skielike a-ha oomblik. Met daardie één woordjie het die Gees jou siel aangeraak! Jy sien wat God sien.

Lectio Divina het ook ’n pasmaat, VISIO DIVINA (Heilige Sien). Om sélf ‘n Bybel te besit en sélf daaruit te kan lees, is ‘n buitengewone voorreg wat nie alle mense het nie. Vir eeue lank was daar geen moontlikheid vir “gewone” lidmate om die Bybel te leer ken behalwe deur Visio Divina nie! Eerstens kon min mense lees; en tweedens was daar nie gedrukte tekse beskikbaar nie. Hoe gemaak om die Woord van God (Jesus Christus) te leer ken? Die Heilige Gees het aan kunstenaars (ikonograwe) die gawe gegee om deur hul kunswerke (ikone) die Woord as “heilige kuns” te “skryf” (skilder). Nou praat nie die ink op papier nie, maar verf teen ’n muur. Die prent praat die Woord na.

Ons is dus geseën met twee hulpmiddels: lees en sien. En die doel daarvan? Dat God ons kan verander om die beeld van God (of ikoon) vir die wêreld te wees. Soos Paulus skryf, “Ons word al meer verander om aan die beeld (ikoon) van Christus gelyk te word. Die heerlikheidwat van ons uitstraal, neem steeds toe. 

Dit doen die Here wat die Gees is” (2 Kor 3:18). Ons word dus die ikoon van Christus vir die wêreld, soos wat Christus vir ons die ikoon van God is (aldus Kol 1:18). Ek en jy is dus wandellende kunswerke wat asemhaal danksy God se Gees.

Mag ons verstand en ons oë in hierdie Lydenstyd deur die Heilige Gees oopgemaak word, sodat ons as ware ikone van God leef.

Vision-Divina 7 maart

Lydenstyd 2023: “Visio Divina” 7 Maart 2023

Die kunswerk van Johannes Vermeer oor Lasarus se twee susters: Marta en Maria, is in 1655 geskilder. As iemand dalk glad nie die verhaal ken waar Jesus by hulle aan huis gaan kuier nie (in Lukas 10:39-42), wat sou uit hierdie kunswerk afgelei kon word?

Jesus is duidelik baie tuis in hulle geselskap. Kleur in kuns kommunikeer altyd iets: Jesus dra die goddelike koninklike kleur – purper – as ‘n onderkleed; en ‘n blou bokleed – die

Visio Divina 11 Maart

Lydenstyd 2023: “Visio Divina” 11 Maart 2023

In 1170 nC is ‘n klein (27 x 18 cm) geïllustreerde manuskrip vir die St Albans Abbey (Abdy) saamgestel – die sg. Albans Psalter. By elke illustrasie van ‘n bybelverhaal word die teks met ‘n versierde eerste letter (so groot soos ‘n klein muntstuk) begin. Waarna ons vandag kyk is die eerste letter (‘n “d”) waarmee die verhaal van Saggeus begin. Kyk lank hierna – wat sien jy alles?

Visio Divina 13 Maart

Lydenstyd 2023: “Visio Divina” 13 Maart 2023

Wat hierdie kunswerk van die Koreaanse kunsternaar, Yongsung Kim, vir my so uniek maak is dat jy nie presies weet vanuit watter rigting jy daarna moet kyk nie. Een oomblik kyk jy van bo en sien die figuur aan die onderkant staan met ‘n uitgestrekte hand. Is dit nie wat Saggeus (Visio Divina #18) dalk ook gesien het nie – ‘n hand, opgesteek in sy rigting: “Saggeus, klim af.” Die volgende oomblik kyk

Visio Divina 15 Maart

Lydenstyd 2023: “Visio Divina” 15 Maart 2023

In 1433 het ene “Daniel van Urank” ‘n Armeense miniatuur Evangelie(tjie) geïllustreer in ‘n bykans naïwe manier! Sewe figure (die getal van volkomenheid) is by ‘n tafel: ses dissipels (vandaar die stralekrans) en Jesus (sy kleedskleure en die kruis in sy stralekrans dui dit aan). Al die oë is na Jesus gedraai; en Jesus se oë is boontoe gerig. Dit is duidelik ‘n nagmaaltafel, maar Jesus staan bo-op die tafel. Waarom?

Lydenstyd 2023: “Visio Divina” 31 Maart 2023

Lydenstyd 2023: “Visio Divina” 31 Maart 2023

Nelly Bube – ‘n kunstenaar van Kazakhstan – beeld met hierdie werk die gelykenis van “Die weduwee en die regter” (Luk 18:1-9) uit. Hier is ‘n vrou op haar knieë voor ‘n toe deur. Pleitend. Of is die deur dalk oop en wys die ryk man (met sy geldsak oor sy skouer en luukse bo-kleed) vir haar – letterlik – die deur? Tyd vir haar om op te staan en uit te gaan? Genoeg is genoeg!

Lydensweek : “Visio Divina”  1 April 2023

Lydensweek : “Visio Divina” 1 April 2023

Die laaste “Ek is”-stelling van Jesus in die Johannes-evangelie (“Ek is die wingerdstok”, Joh 15:1) kan ook as ‘n gelykenis (vergelyking) beskou word (alhoewel Johannes dit nooit so noem nie). Sedert die 12de eeu is daar al ikone oor hierdie woorde van Jesus. ‘n Baie meer moderne weergawe (wat op glas geverf word) kom uit Roemenië (in Oos-Europa). Dit word ook die “Mistieke Wynpars” genoem en het spesifiek betrekking op die nagmaal.

Lydenstyd 2023: “Visio Divina” 4 April 2023

Lydenstyd 2023: “Visio Divina” 4 April 2023

Nadat Maria Jesus se voete gesalf het (#VD41) vind die volgende groot insident in die Johannesevangelie weer rondom ‘n tafel plaas. Aldus Joh 3:4 het Jesus opgestaan en sy bokleed uitgetrek. Presies soos hierdie Russiese ikoon uit die 1500’s illustreer, staan Jesus sonder die gebruiklike hemelblou bokleed met ‘n ryklik-geborduurde handdoek om sy middel gebind. Terwyl Hy Petrus se voete was beduie Petrus ook in die rigting van sy kop – “Here, nie net my voete nie, maar ook my hande en my gesig,” pleit hy (13:9).

Lydenstyd 2023: “Visio Divina” – 5 April 2023

Lydenstyd 2023: “Visio Divina” – 5 April 2023

Hierdie 6de eeuse mosaïëkuitbeelding is die derde voorbeeld uit die basilika in Ravenna, Italië in ons reeks. Elf dissipels sit-lê saam met Jesus rondom ‘n tafel. Die afwesige dissipel is natuurlik Judas. Die elf mans is geklee soos tipiese Romeinse mans van daardie tyd. Jesus lyk heeltemal anders – nie net met die ligglas om sy kop nie, maar ook oor sy kleed. Hy dra ‘n persblou kleed – blou is die kleur van die hemel, en pers is die koninklike kleur. (Hier word Jesus dus reeds in sy Godheid uitgebeeld).

Lydenstyd 2023: “Visio Divina” 8 April 2023

Lydenstyd 2023: “Visio Divina” 8 April 2023

Gepas word hierdie ikoon die “Klaaglied” genoem. Theodosia Poulopos, ‘n tapiserieborduurder, het in 1599 op die bloedrooi lap die toneel met goue gare borduur. Dit beeld die begrafnisritueel uit van die vroue wat Jesus se liggaam vir die graf voorberei en salf. Volgens Lukas en Matteus was dit Josef van Arimatea wat voor die aanbreek van die Sabbat Sy liggaam van die kruis kon afhaal.

Bannier-van-NG-Weltevreden1
Ontwikkel en saamgestel vir die NG Kerk Weltevreden

Kopiereg: Dr. R.M. Bezuidenhout
Hierdie reeks ‘Visio Divina‘ word deur Kopiereg beskerm.
Geen gedeelte van hierdie reeks mag gedupliseer of herversprei word sonder die eksplisiete goedkeuring van die outeur: Dr. R M Bezuidenhout nie.

Indien hierdie reeks u geïnspireer het kan u haar bediening finansieel ondersteun deur die volgende skakel te volg:
https://ronellbezuidenhout.co.za/steun