“’n Goeie mens bring die goeie te voorskyn uit die goeie skatkamer van sy hart, en ‘n slegte mens bring die slegte voort uit die slegtheid wat in hom is; want waar die hart van vol is, loop die mond van oor.”
Luk. 3: 45
In vandag se tyd weet ons dat die hart die middelpunt van ons vleeslike mense bestaan vorm, en waarsonder ons nie kan leef nie. Ons wonder soms waar ons gedagtes en ervaringe gestoor word in hierdie menslike bestaan. Waar kom die vinnige emosionele reaksies vandaan in veg of vlug situasies. Dit is egter duidelik uit Lukas 3 en Mattheus (“Hoe kan julle iets goeds sê as julle sleg is? Want waar die hart van vol is, loop die mond van oor. Die goeie mens bring uit die goeie skatkamer goeie dinge na vore, en die slegte mens bring uit die slegte skatkamer slegte dinge na vore. Ek sê vir julle, van elke onbesonne woord wat mense kwytraak, sal hulle op die dag van oordeel rekenskap moet gee.” (Matt 12: 34-36)) dat ons goeie en slegte ‘harte’ het, met ander woorde ons skatkamers van ons harte is gevul met of goeie of slegte dinge.
In die Ou Testament word ons gemaan om God met ons hele hart en siel lief te hê met al ons krag (“Jy moet die Here jou God met hart en siel liefhê en met al jou krag.” (Deut. 6: 5); (“Kom net die opdragte en die wet nougeset na wat Moses, die dienskneg van die Here, julle beveel het, naamlik om die Here julle God lief te hê, al sy paaie volg, sy gebooie na te kom, aan Hom vas te hou, en Hom te dien met julle hele hart en julle hele wese.” (Jos. 22:5)). Ons word ook gemaan om hierdie woorde op ons hart te dra (“En hierdie woorde wat ek vandag vir jou voorskryf, moet jy op die hart dra.” (Deut. 6: 6)), en ons moet in ons harte oortuig wees dat God ons opvoed soos ‘n man sy seun opvoed (“Wees dan in jou hart oortuig daarvan dat die Here jou God jou opvoed soos ‘n man sy seun opvoed.” (Deut. 8: 5)).
Ons moet dus ons harte vul met ontsag vir God, want dit is God wat ons hart verander om goed te wees (“Samuel het vir die volk gesê: “Moenie bang wees nie! Julle het wel al hierdie kwaad gedoen, maar moet net nie van die Here af wegdraai nie. Dien die Here meet julle hele hart.” (1 Sam. 12: 20)). Die hart, wat nooit vir die Here verborge is nie, is wat vir God belangrik is (“Maar die Here het vir Samuel gesê: “Moenie na sy voorkoms en sy rysige gestalte kyk nie, want Ek het hom afgekeur. Dit gaan immers nie oor wat die mens sien nie, want: “Die mens kyk na wat hy sien, maar die Here kyk na die hart.” (1 Sam. 16: 6-7)). Dit is daarom die gesindheid, of dit goed of sleg is wat vir God belangrik is. Hoe dikwels mis ons nie hierdie konsep nie. In Dawid se opdrag aan Salomo by sy sterfbed, kry ons die waarheid om God te volg (“Doen dit, sodat die Here sy woord wat Hy oor my gespreek het, gestand kan doen, naamlik, ‘As jou seuns let op hulle gedrag deur getrou, met hulle hele hart en hulle hele wese, voor My te leef, dan’ het Hy gesê, ‘sal daar nooit vir jou iemand ontbreek op die troon van Israel nie’.” (1 Kon. 2: 4)). As ons dus met alles in die goeie skatkamers van ons harte leef sal ons ook kan getuig soos Salomo (“Here, God van Israel, daar is geen god soos U in die hemel daar bo of op die aarde hier onder nie; U wat die verbond en troue liefde in stand hou vir u diensknegte wat met hulle hele hart voor U leef;” (1 Kon. 8: 23)).
Mag ons deur ons hele lewe met die verootmoediging leef voor God en ons fokus op die goeie en die positiewe, dan sal ons ook soos die Psalmdigter tot God kan nader (“Laat die woorde van my mond en die bepeinsing van my hart vir U aanvaarbaar wees, Here, my Rots en my Verlosser. ” (Ps. 19: 15); (“Gelukkig is hulle wat hou by sy bepalings, wat Hom met hulle hele hart soek; wat ook nie onreg pleeg nie, maar net sy paaie volg. ” (Ps. 119: 2)). Laat ons ons nie skuldig maak aan die dinge wat voor God afstootlik is nie (“Daar is ses dinge waarin die Here ‘n weersin het, sewe is vir Hom afstootlik: hovaardige oë, ‘n bedrieglike tong, hande wat onskuldige bloed vergiet, ‘n hart wat bose planne smee, voete wat gou is om na die kwaad te hardloop, ‘n vals getuie wat leuens uitryg, en iemand wat tweedrag saai tussen broers.”(Spr. 6: 16-17)). Laat ons besin voor ons praat (“Die hart van ‘n regverdige oorweeg hoe om te antwoord, maar die mond van goddeloses stort booshede uit.” (Spr. 15: 28)).
Elkeen van ons bepaal ons eie pad, maar God toetes ons hart. Dit wat ons nie van hom kan verbloem nie (“Elke pad van ‘n mens is reg in sy eie oë, maar die Here toets harte.” (Spr. 21: 2)). Die mense wat afvallig is van God, reken God kan dinge nie raaksien nie (“Die goddelose sê in sy hart: “ God vergeeet. Hy hou sy oë toe; Hy sien dit nooit raak nie.”” (Ps. 10: 11)), maar ons wat God se kinders is, weet dat ons toevlug by God is (“God is my skild, Hy wat die opregtes van hart verlos.” (Ps. 7: 11)). Ons besef egter ook dat dit nie uit ons eie krag is nie, want God het deur Jesus Christus vir ons verlossing gebring, en ons kan leef in die krag wat van die Heilige Gees af deur ons kan werk (“Hy het ons verlos, nie op grond van iets wat ons vir ons vryspraak gedoen het nie, maar op grond van sy eie ontferming. Dit het Hy gedoen deur die wedergeboorte wat die sonde afwas, en deur die Heilige Gees wat nuwe lewe gee.” (Tit. 3: 5); (“Julle geliefdes, moet egter voortgaan om julle lewe te bou op julle allerheiligste geloof. Bid altyd deur die krag van die Heilige Gees. Bly in die liefde van God. Vestig steeds julle verwagting op die barmhartigheid van ons Here Jesus Christus wat die ewige lewe aan julle sal gee.” (Jud. 1: 20-21)). Dis hoe ons die skatkamers van ons harte met die goeie kan vul.


