Stof tot nadenke: Is geloof ‘n besitting?

Want uit genade is julle verlos, deur geloof. En juis dit kom nie uit julle self nie, dit is ‘n gawe van God.
Eff. 2: 8

Die vraag vandag is, of ons geloof kan besit? Kan ons dit besit soos wat ons ‘n selfoon besit? Iets waarvoor ons gewerk het, iets wat ons kan verlê, verloor, of van ons gesteel word. Kan ons dit laat val, sodat dit onherstelbaar is? Volgens Eff. 2: 8, is dit duidelik dat dit nie uit ons self kom nie, want dit is ‘n gawe van God. Hoe is dit dan dat mens dikwels hoor van mense wat nou skielik nie meer glo nie? Mense wat dink dat hulle hulle lewens gemors het in die werk van die Here?

Paulus verseker ons dat toe ons die woord van die Waarheid gehoor het ons tot geloof gekom het (“In Hom is julle, toe julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle verlossing, gehoor het, verseël met die die Heilige Gees, wat beloof is. Die Gees is die waarborg van ons erfenis, om ons los te koop as God se eiendom, tot lof van sy heerlikheid.” (Eff. 1: 13-14)). Paulus verseker ons ook dat ons van God vervreem was en selfs vyandiggesind teenoor Hom was, maar dat geloof in God die Vader, die verlossing van die Seun, Jesus Christus, en die bystand van die Heilige Gees, dit vir ons moontlik maak om sterk te kan staan in die geloof (“Ook julle was voorheen van Hom vervreem, ja, vyandiggesind teenoor Hom, op grond van julle slegte dade; maar nou het Hy julle deur sy menslike liggaam met Homself versoen, sodat Hy julle, deur sy dood, heilig en sonder foute en onberispelik voor Hom kan stel – mits julle in die geloof bly, stewig gevestig en standvastig, sonder om weg te beweeg van die hoop wat die evangelie bring.” (Kol. 1: 21-23)).

Dit is duidelik dat geloof in die verlossing van Jesus Christus die middelpunt van ons bestaan moet wees (“My lering en my verkondiging het nie berus op oorredende woorde van wysheid nie, maar op bewyse van die Gees en van krag, sodat julle geloof nie op die wysheid van mense berus nie, maar op die krag van God.” (1 Kor. 2: 4-5); (“Sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan, en dat Hy dié beloon wat Hom soek.” (Heb. 11: 6); (“Die doel van die opdrag is liefde uit ‘n rein hart, ‘n skoon gewete en ‘n ongeveinsde geloof.” (1 Tim. 1: 5); (“…rede vir die broers, en liefde en geloof van God die Vader, en van die Here, Jesus Christus. Sy genade bly met almal wat vir ons Here Jesus Christus onverganklik liefhet.” (Eff. 6: 23-24); (“Want in Jesus Christus is besnedenheid of onbesnedenheid van geen belang nie, maar wel geloof wat deur die liefde werksaam is.” (Gal. 5: 6)). Kan ons dit uit onsself regkry? Nee soos Eff. 2: 8 duidelik stel is dit ‘n gawe van God.

Daar is egter verwysings van geloof wat nie oorgaan na dade nie, en waar veral die uitleef van die liefde vir God en jou naaste, van kardinale belang is (“En al profeteer ek, en begryp ek alle geheime, en besit ek alle kennis, en al het ek al die geloof om berge te versit, maar ek het nie die liefde nie, is ek niks!” (1 Kor. 13: 2)). Hoe kry ons dit dan tog reg, om hierdie geloof so uit te leef dat dit tot eer en verheerliking van God sal wees? Ons weet volgens Paulus se brief aan die Romeine dat dit slegs genade van God die Vader is, dat ons tot geloof kom, en dat ons verskillende mates van geloof ontvang (“Deur die genade wat aan my gegee is, sê ek vir elkeen van julle dat jy nie meer van jouself moet dink as wat jy behoort nie, maar dat jy jou gedagtes daarop moet instel om verstandig te wees, volgens die maat van geloof wat God aan elkeen toebedeel het.” (Rom. 12: 3)). Ons kan ons dus nie vergelyk met ander nie, want elkeen van ons is uniek in ons verhouding met God.

In Lukas noem Jesus aan Petrus dat hy vir Hom gebid het, sodat sy geloof nie sou wankel nie, sodat wanneer hy eendag tot inkeer kom, hy sy broers sou kon versterk (“Maar ek het vir jou gebid, sodat jou geloof nie sal wankel nie. En wanneer jy eendag tot inkeer gekom het, moet jy jou broers versterk.” (Luk. 22: 32)). Dit terwyl Petrus reeds gedink het sy geloof wankel nie! Petrus wat die rots en fondament van die evangelie sou wees. Daar word ook genoem dat sommiges nie tot geloof kom nie, selfs al het hulle die voorreg gehad om baie van die wondertekens van Jesus Christus te aanskou (“Hulle kon nie tot geloof kom nie, want Jesaja het ook gesê: “Hy het hulle oë verblind en hulle harte verhard sodat hulle nie met hulle oë kon sien en met hulle harte kon verstaan en kon terugdraai en Ek hulle genees nie.”” (Joh. 12: 39-40)). Jesus noem ook in Markus dat ons geloof in God gesetel moet wees (“Jesus antwoord hulle toe: “Julle moet geloof in God hê”” (Mark. 11: 22)).

Die Pelgrimslied van Ps. 121, wys op die beskerming van God as ons in Hom glo en op Hom vertrou (“Die Here is jou Beskermer; die Here is jou skaduwee aan jou regterhand. Bedags sal die son jou nie skaad nie, en snags ook nie die maan nie. Die Here sal jou beskerm teen elke onheil; Hy sal jou lewe beskerm. Die Here sal jou uitgaan en jou terugkeer beskerm van nou af en vir altyd.” (Ps. 121: 5-8)). Die krag vir ons geloof is ‘n gawe wanneer ons tot geloof in Hom kom, deur die verlossingsdaad van Jesus Christus (“Hy is weliswaar deur swakheid gekruisig, maar Hy leef deur die krag van God. So is ook ons swak in Hom, maar teenoor julle sal ons saam met Hom leef, uit die krag van God.” (2 Kor. 13: 4)) en die bystand van die Heilige Gees (“Mag die God van hoop julle deur julle geloof met alle blydskap en vrede vervul, sodat julle hoop oorvloedig kan word deur die krag van die Heilige Gees.” (Rom. 15: 13)). Geloof is dus nie ‘n besitting wat ons naby aan ons lyf kan of moet hou, soos ‘n selfoon nie. Dit is ‘n genadegawe wat ons moet uitleef deur die liefde en voorbeeld wat ons van Jesus Christus onvang het, sodat ons nie bekommerd hoef te wees dat Christus met die wederkoms dalk geen geloof op aarde sal vind nie (“Ek sê vir julle, Hy sal baie gou aan julle reg laat geskied. Die vraag is net: Sal die Seun van die Mens, wanneer Hy kom, geloof op aarde vind?” (Luk 18: 8)).

Dit is geloof wat tot die behoud van die lewe lei (“My regverdige sal deur geloof leef. As hy hom egter sou onttrek, het Ek geen behae in hom nie. Maar ons is nie deel van enige ontrekking wat tot ondergang lei nie, maar van die geloof wat lei tot behoud van die lewe.” (Heb. 10: 38-39); (“Die doel was dat dit duidelik sou blyk dat die egtheid van julle geloof – ‘n egtheid wat baie kosbaarder is as goud, wat verganklik is, maar nogtans met vuur getoets word – uitloop op lof en heerlikheid en eer wanneer Jesus Christus geopenbaar word.” (1 Pet. 1: 7)).