Stof tot nadenke: Daardie ander wang…

Julle het gehoor dat daar gesê is: “’n Oog vir ‘n oog en ‘n tand vir ‘n tand. Maar Ek sê vir julle : Julle moet julle nie teen ‘n kwaadwillige mens verset nie. As iemand jou op die regterwang slaan, draai ook die ander wang na hom toe.
Matt. 5: 38

Ons eerste raksie wanneer iemand kwaadwillig iets teen ons doen of sê, is om wraak te neem. Wanneer iemand jou gedurig teister, hof toe sleep, of kwaadwillige praatjies teen jou praat, voel dit soms of mens nie anders kan as om teerug te slaan, te veg of terug kwaadwillige praatjies te versprei nie. Tog is dit duidelik in die Bybel dat dit die een ding is wat jy nie moet doen nie. Daar is hierdie wonderlike voorbeelde wat mens kan navolg, en wat jou staande hou in die mees ongunstigste omstandighede.

Hier dien eerstens Jesaja vir ons as voorbeeld, waar Hy noem wat God hom geleer het (“Die Here my God het my geleer om die regte woorde te gebruik sodat ek dié wat moeg is kan moed inpraat. Elke môre laat Hy my opnuut weer luister, Hy laat my luister soos ‘n leerling moet luister. Die Here my God het my geleer om te luister: ek was nie teen Hom opstandig nie, ek was nie ontrou aan Hom nie. Ek het my rug gehou vir dié wat my slaan, my wang vir dié wat my baard uittrek. Ek het my gesig nie weggedraai toe ek bespot en bespoeg is nie. Die Here my God help my, ek sal nie terleurgestel staan nie, ek sal my nie ontstel nie, ek weet ek sal nie in die verleentheid kom nie.” (Jes. 50: 4-7)).

Ook Jeremia wys ons waarop mens moet steun. Wat dit is wat dit vir ‘n mens moontlik maak om pyn, lyding, verwerping en nyd te hanteer (“Die Here is goed vir wie op Hom bly hoop, vir die mens wat na sy wil vra; dit is goed om geduldig te wag op die hulp van die Here; dit is goed vir ‘n mens om sy las in sy jeug te dra. Laat hy in eensaamheid geduldig bly as God hom die las opgelê het, laat hy hom diep verootmoedig – miskien is daar hoop – laat hy sy wang draai na wie hom slaan, laat hy maar oorvloedig smaad ondervind. Die Here verstoot ‘n mens nie vir altyd nie; as Hy beproewing oor ‘n mens gebring het, ontferm Hy Hom weer, want sy liefde is groot; dit is teen sy sin dat Hy mense in ellende en beproweing bring.” (Kla . 3: 25-33)).

Dan is daar natuurlik Jesus Christus self wat ons maan om ons nie te verset of wraak te neem nie. Dit is die verkeerde pad om te vat (“Julle het gehoor dat daar gesê is: “’n Oog vir ‘n oog en ‘n tand vir ‘n tand. Maar Ek sê vir julle : Julle moet julle nie teen ‘n kwaadwillige mens verset nie. As iemand jou op die regterwang slaan, draai ook die anderwang na hom toe. As iemand jou hof toe wil vat om jou onderklere te eis, gee hom ook jou boklere. As iemand jou dwing om sy goed een kilometer ver te dra, dra dit vir hom twee kilometer. Gee aan hom wat iets van jou vra, en moet hom wat van jou wil leen, nie afwys nie.” (Matt. 5: 38-42): (“Maar vir julle wat na My luister, sê Ek: Julle moet julle vyande liefhê; doen goed aan die mense deur wie julle gehaat word; seën die mense deur wie julle vervloek word; bid vir die mense deur wie julle sleg behandel word. As iemand jou op die een wang slaan, bied hom ook die ander een aan. En vir iemand wat jou boklere vat, moet jy ook jou onderklere nie weier nie. Aan elkeen wat iets vra, moet jy gee; en as iemand jou goed vat, moet jy dit nie terug eis nie. Behandel ander mense soos julle self behandel wil word. “As julle net dié liefhet wat vit julle liefhet, watter aanspraak op dank het julle dan nog? Ook die sondaars het net dié lief wat vir hulle liefhet.” (Luk. 6: 27-32)). Dit is wonderlike woorde en ‘n voorbeeld wat ons moet nastreef indien die vermoë aan ons gegee word; maara nie altyd maklik in die daaglikse omgang met mense nie.

Verder het Christus ons ook kom wys hoe om dit te doen. Draai jou rug op die wat jou skade wil berokken of selfs jou dood wil veroorsaak (“Toe Jesus dit (Fariseërs wat hom wou kruisig) hoor, het Hy daarvandaan weggegaan. Baie mense het saam met Hom gegaan, en Hy het hulle almal gesond gemaak, maar hulle belet om in die openbaar oor Hom te praat. So is vervul wat die Here deur die profeet Jesaja gesê het: “Hier is my Dienaar wat Ek aangestel het, my Geliefde oor wie Ek my verheug; Ek sal my Gees op Hom laat kom, en Hy sal die wil van God aan die nasies bekend maak. Hy sal nie twis nie en nie skreeu nie, en niemand sal sy stem op die strate hoor nie. ‘n Riet wat geknak is, sal Hy nie afbreek nie en ‘n lamppit wat rook, nie uitdoof nie; Hy sal die wil van God laat seëvier. En op Hom sal die nasies hulle hoop vestig”” (Matt. 12: 15-21; Jes. 42: 1-4)).

Dit is nie ‘n maklike taak om hierdie voorbeeld vvan Jesus Christus na te volg nie, maar deur die leiding en hulp van die Heilige Gees, is dit deur God die Vader binne ons vermoë geplaas. Ons moet in diep afhanklikheid van Hom leef en besef waar ons hulp vandaan kom (“Hulp kom net van die Here af. U laat dit goed gaan met u volk.” (Ps. 3: 9); (“Met U hulp loop ek ‘n oormag storm, met my God by my is geen stadsmuur vir my te hoog nie.” (Ps. 18: 30); (“Die redding wat U gebring het, was vir my ‘n beskerming, u regterhand het my ondersteun, deur U hulp het ek sterk geword.” (Ps. 18: 36)). Dan sal ons ook soos die Psalmdigter kan juig “Vertrou op die Here! Wees sterk en hou goeie moed! Ja vertrou op die Here!” (Ps. 27: 14), of dankbaar wees vir Sy nabyheid (“Geloof sy die Here! Dag na dag dra Hy ons! God is ons hulp!” (Ps. 68: 20)).