“Gelukkig is die man wat versoeking deurstaan, want as hy die toets slaag, sal hy die oorwinnaarskrans van die lewe ontvang,wat God beloof het aan hulle wat hom lief het. Laat niemand wat versoek word, sê: “Ek word deur God versoek nie” nie, want God kan nie deur kwaad versoek word nie, en self versoek Hy niemand nie. Elkeen word versoek wanneer sy eie begeerte meegevoer en verlei word.”
Jak. 1: 12-14
Versoeking, daardie onding waarvoor ons so dikwels swig, en dan altyd iemand anders wil beskuldig. Jakobus stel dit baie duidelik dat dit ons eie menslike begeertes is wat die oorhand kry. Self so vroeg as in die tuin van Eden, daar waar die mens alles gehad het wat sy hart kon begeer, het die mens geswig voor die versoeking om van die vrugte te eet wat God hom belet het. Die bekende verhaal van Adam en Eva, wat dadelik uit skaamte vir hulle naaktheid vir God weggekruip het. Eva beskuldig die slang en Adam beskuldig vir Eva (“Die mens het geantwoord: “ Die vrou wat U gegee het om aan my sy te wees, sy is die een wat vir my van die boom gegee het, en ek het geëet. Die Here God vra toe vir die vrou: “Wat het jy gedoen?” Die vrou het geantwoord: “Die slang het my bedrieg, en ek het geëet.” (Gen. 3: 12-13)). Tot vandag toe word daar nog die vinger na die vrou gewys. Dit is so maklik om altyd die vinger na ‘n ander te wys, om jou eie onskuld te probeer bevestig, maar elke mens het die verantwoordelikheid om so ‘n versoeking teen te staan of daarvoor te val.
Wanneer ons deur die Bybel na insidente van ontmoetings met God soek, vind ons interessante insidente tussen die mens en God. In die Tuin van Eden kon Adam en Eva vrylik met God praat (“Die Here God het die mens geneem en hom in die tuin van Eden geplaas om dit te bewerk en op te pas. Die Here God het die mens beveel: “Van al die bome van die tuin mag jy na hartelus eet, maar van die boom van kennis van goed en kwaad , daarvan mag jy nie eet nie, want die dag dat jy daarvan eet, sal jy beslis sterf.” (Gen. 2: 15-17)). Daardie eet van die vrug het die mens en elkeen van ons se lewe verander. Tot so ‘n mate dat God later spyt was dat hy die mens geskep het (“Toe die Here sien dat die boosheid van die mens op die aarde groot is, en dat alles wat hy in sy hart bedink, altyd sleg is, was die Here jammer dat Hy die mens op aarde gemaak het. Dit het Hom in sy hart gegrief. Toe sê die Here: “Ek sal die mens wat Ek geskep het, van die aardbodem af uitwis – mense sowel as diere, ook kruipende diere en die voëls van die hemel, want Ek is jammer dat Ek hulle gemaak het.”” (Gen. 6: 5-7)). Dit is ook dan wat aanleiding gegee het tot die groot vloed, waar slegs Noag en sy gesin, wat nog onderdanig aan God was, gered is.
Die insident van Jakob se worsteling met God. Hy was oppad terug na sy geboorteland, waar sy broer Esau, wat hy met slinkshede in sy jongdae van sy geboortereg ontneem het, met manskappe tegemoet gekom het. Die nag toe Jakob alleen agtergebly het, het hy mank uit die worsteling gekom en God het hom herdoop na Israel (“Jakob het alleen agtergebly, en ‘n man het met hom geworstel tot dagbreek toe. Toe hy sienb dat hy Jakob nie kan oorweldig nie, het hy hom op sy heupgewrig getref. Jakob se heup is in die worsteling ontwrig. Hy het gesê: “Laat my gaan want die dag breek.” Maar Jakob het gesê: “Ek sal u nie laat gaan nie, tensy u my seën”. Toe vra hy: “Wat is jou naam?” En hy antwoord: “Jakob.” Toe sê hy: “Jy sal nie meer Jakob genoem word nie, maar Israel. Want jy het met God en mense stryd gevoer, en het oorwin.” Jakob vra toe en sê: “Maak asseblief u Naam bekend!” Maar hy het geantwoord: “Waarom vra jy dan my Naam?” Hy het hom toe daar geseën. Jakob het die plek Pniël genoem, “want,” het hy gesê, “ek het God van aangesig tot aangesig gesien, en tog is my lewe gered.” ” (Gen. 32: 24-30)).
Moses se ontmoeting met God in die brandende doringbos terwyl hy vee opgepas het asook die ontmoeting op die berg Sinaï (“Nadat die Here klaar met Moses gepraat het, het Hy vir hom op die berg Sinaï die twee kliptafels met die getuienis gegee – kliptafels waarop daar deur die vinger van God geskryf is.” (Eks. 31: 18)). So kan ons voortgaan met ontmoetings van die profete, en navolgelinge van God, en hoe die Volk van God telekemale afgedwaal het, omdat hulle eie begeertes die oorhand gekry het. Ons het nie juis ‘n verskoning, wanneer ons besluite neem wat God uitsluit uit ons lewens en ons eie begeertes laat seëvier nie. Die blote feit dat Adam en Eva van die boom van Kennis van goed en kwaad geëet het, beteken ons weet inherent wat reg en verkeerd is, en tog so dikwels kies ons die kwaad. Mens kan maar net kyk na misdaad syfers wêreldwyd, en hier in Suid Afrika. Dit is of die mense gek is daarna om ‘kwaad’ te doen. Mense wat net hulle eie plesiertjies najaag, en geen tweede gedagte gee aan wat God vir ons gedoen het, deur Sy Seun, Jesus Christus vir ons te offer as Verlosser nie.
Petrus noem selfs dat ons nie verbaas moet wees wanneer ‘n vurige beproewing oor ons kom nie, ons moet bly wees daar oor (“Geliefdes, moenie verbaas wees wanneer ‘n vurige beproewing oor julle kom nie, asof iets vreemds met julle gebeur nie; wees eerder bly, namate julle deel het aan die lyding van Christus, sodat julle ook by die bekendmaking van sy heerlikheid uitbundig sal kan jubel. As julle ter wille van Christus se Naam beledig word – gelukkig is julle, omdat die Gees van heerlikheid, dit is die Gees van God, op julle rus. Niemand van julle moet immers as moordenaar of dief of kwaaddoener of bemoeisieke ly nie; as iemand egter ly omdat hy ‘n Christen is, moet hy hom nie skaam nie, maar God verheerlik op grond van hierdie Naam. Dit is immers tyd dat die oordeel begin, en wel by die huishouding van God. As dit by ons begin, wat sal dan die uiteinde wees van hulle wat aan die evangelie ongehoorsaam is.” (1 Pet. 4: 12-17)). Ons kan dus seker weet dat hoe nader ons aan God leef, hoe feller mag die aanslae en versoekings wees.
Paulus verseker ons dat daar net menslike versoekings oor ons pad sal kom, maar dat ons kan weet dat God getrou is (“Geen versoeking het oor julle gekom, behalwe ‘n menslike een nie, God is egter getrou. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle vermoë versoek word nie, maar sal saam meet die versoeking ook uitkoms gee, sodat julle dit kan verduur.” (1 Kor. 10: 13)). Christus het ons ook gemaan om te waak en te bid teen versoekings en die Onse Vader gebed gegee, waarin ons om verlossing van versoekings kan vra (“Waak en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak.” (Matt. 26: 41); (“En bring ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen. ” (Matt. 6: 13)). Jesus Christus wat geweet het dat die versoekings ook oor Sy pad sou kom, het reeds deur dit te oorwin, vir ons dit moontlik gemaak om dit ook te oorwin, deur die krag van die Heilige Gees wat by ons woon.


