Gemeente Brief Maart 2024

Gemeentebrief

Goeiemôre gemeente


Hier in die begin van die jaar is ons dankbaar dat ons in die afgelope jaar kon getuig dat ons al die werke van ons gemeente met blymoedigheid kon doen.

Dat ons dienswerk en uitbreiding van die koninkryk nooit ‘n voltooidheid bereik nie, maar eerder die voortsetting van pelgrims saam op reis is, is ‘n voorreg. Ons dank u elkeen vir u aandeel en bemoediging om hierdie reis voort te sit.

Lees meer “Gemeente Brief Maart 2024”

Gemeentebrief Desember 2023

Gemeentebrief

Goeiemôre gemeente,

Hierdie tyd  van die jaar word ons herinner aan die koms van Jesus Christus. Dis ook die begin van ons kerklike jaar. Liedere soos “O, die goeie tyding” en “Welkom o stille nag van vrede” weerklink uit kerkgeboue en winkelsentrums. Midde in hierdie tyd raak ons ook bewus van pyn en lyding wêreldwyd. Oraloor word woorde gebruik soos apokalipties wat verwys na die eindtye. Laat ons gedurigdeur herinner word dat  die eindtyd ingelui is met Christus se eerste koms. En Hy maak ons ook deel van Sy tyd en werke totdat Hy weer kom.

Ons gebed is dat die feestyd vir u en u familie iets van die tyding sal weerspieël. Die Adventstyd se hoogtepunt is Kersdag waar ons met sang en Woordverkondiging iets van Christus se koms vier. Die eredienste vind plaas om 07:00, 08:00, 09:00 en 10:00 in die kerkgebou en ook 10:00 by Groenkloof. 

Ons vertrou om u  en u familie by van die dienste te sien. Ons beste wense vir die jaar 2024 word u toegebid. 

Ons oujaardienste vind plaas op 31 Desember 2023 om 09:00 en 18:00. Dieselfde boodskap sal by beide die dienste gebring word. 

Ds Danie Goosen neem verlof vanaf 27 Desember 2023 tot 14 Januarie 2024. Ons wens vir hom en Nadia ‘n goeie  rustyd en bid ook vir die laaste deel van die swangerskap met die nuweling wat in Februarie verwag word. Dr. Frans Hancke sal in die tyd waarneem  in ds Danie se plek en kan gekontak word by 0824905737 in noodgevalle. Ons kantoor sluit vandag om 13h00 en sal open op 8 Januarie 2024. 

Op gemeentevlak, sien ons uit dat ds Charné Viljoen in Februarie 2024 by ons haar roeping voortsit. Sy en haar man Ruan, en dogtertjie Emma, kom van Bloemfontein. Ons bid vir ‘n voorspoedige oorgang in die verandering in hulle lewens en vertrou dat hulle gemaklik by ons sal inskakel. U kan op die volgende skakel kliek om ‘n kort video van hulle te sien: https://youtu.be/W6KE1ML5Dc0

Ons dank u elkeen vir u getroue dienswerk en ondersteuning. In moeilike tye herinner ons u aan die goeie tyding: ” In ‘n verwarde wêreld bring dit weer vaste hoop…”

Saam in Koninkryksdiens!

Willem du Preez. 

Voorsitter van die kerkraad

Gemeentebrief November 2023

Gemeentebrief

1 November 2023

Goeiemôre gemeente

Ons wil u graag in hierdie tyd bedank vir al u harde werk tydens ons dankfees. Ons is ook dankbaar vir elke bydrae. Ons lof en dank aan die Here Jesus ons Here.

Ons wil u ook meedeel dat ek en ds. Danie by die Algemene Sinode se sitting was in Boksburg. Deur die sinode het ons elke sessie begin deur lofsang en aanbidding. Daarna het ons gewandel in die Woord en rondom tafelgesprekke met mekaar gedeel. Die sinode het belangrike en moeilike sake hanteer. Ons is trots om deel te wees van ‘n organisasie wat sekerlik een van die belangrikste rolspelers in ons land is met betrekking tot sake soos armoede, getuienis, jeug en vele meer. Ook sake wat die menswaardigheid van mense raak, is bespreek. Dit is egter teleurstellend dat die media klem lê op enkele negatiewe sake in hul beriggewing. U is welkom om te enige tyd met ons te gesels oor enige relevante saak in die breë kerk.

Ons wil u vra om ook voorbidding te doen vir ons beroepingsproses. Ons voer onderhoude in die komende week en beplan om ‘n beroep uit te bring die 14de November 2023. Bid asseblief saam met ons vir hierdie belangrike saak.

Groete in Christus.

Willem du Preez
Nms die Kerkraad


Gemeentebrief – September 2023

Gemeentebrief

22 September 2023

Goeiemôre gemeente

Ons is tans in Koninkrykstyd in die kerklike jaar. Dit bevestig dat God deur die werk van Jesus Christus Sy ryk gevestig het, en ons as koningskinders deur die werking van die Heilige Gees hierin deel. Dit is ‘n genadegeskenk (gawe) van God. Mag ons elkeen met danksegging leef!

Ons het daarom goedgedink om ons fees einde Oktober ‘n dankfees te maak. Ons begin die Vrydagaand met ‘n humoristiese konsert wat beloof om die lagspiere te prikkel. Die Saterdag skop die verrigtinge af om 09:00 waar talle produkte te koop sal wees. Ons poog om meer produkte op elke tafel te hê, maar kom vroeg om teleurstelling te voorkom en lekker gesellig saam te verkeer. Ons sluit die naweek af die Sondag met nagmaal in die kerk om 09:00 en 10:00 by Groenkloof. By die erediens is daar geleentheid om u dankbaarheidskoevertjie te bring soos wat u goeddink. Die koevertjie is bloot iets tasbaar wat u tydens die erediens kan ingooi, of andersins kan dit by die kerkkantoor ingegee word. Dit verhoed u nie om ‘n EFT te doen indien u dit verkies nie.

Ons is dankbaar vir die volgende:
– vir Onse Hemelse Vader vir wie Hy is en wat Hy doen.
– vir mense, mense soos u en talle ander wat ten spyte van hul broosheid streef om die goeie te doen.
– vir ons gemeente en elke gawe wat die gemeente rig en bou.
– vir ons gesonde finansies dat die werk van die Here kan voortgaan en blymoedige gewers soos u wat dit moontlik maak.
– talle onderhoudswerk wat afgehandel kon word.
– ons kerkraad, bestuurspan en personeelkorps wat hard saamwerk. In hierdie verband het ons die vakante leraarspos geadverteer en die sluitingsdatum vir die aansoeke is 30 Oktober 2023. Nominasies van leraars of finalejaarstudente kan ook deur lidmate by die kerkkantoor ingedien word. Ons het wel gedink dat die persoon nie ouer as 40 jaar moet wees nie.

Soos u weet sou ons die lys nog kon aanvul, maar ons wil u ook vra om ons te kontak waar ons dalk ‘n paar koninkryksake miskyk.

Laat weet die kerkkantoor indien u ‘n besoek verlang of voorbidding nodig het. Ons
sal so spoedig moontlik reageer.

Ons wil elkeen van u aanmoedig om in onseker tye voort te gaan met die goeie werk waartoe Christus ons geroep het. Ons sluit af met die volgende woorde: “Terwyl ons dan so groot geloofskare rondom ons het, laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons maklik verstrik.”(Hebr 12:1-2)
Groete in Christus.
______________
Willem du Preez
Nms die kerkraad

Gemeentebrief Junie 2023

Gemeentebrief

13 Junie 2023

Goeiemôre gemeente

Ons dank die Here vir elke goeie gawe in ons gemeente. Ons is dankbaar vir elke lidmaat wat die
Boodskap uitdra en uitleef waar hulle ookal gaan. In besonder wil ons u bedank vir u betrokkenheid
by die verskeie bedieningsaksies in die gemeente. Sonder elkeen se insette sou die werk nie moontlik wees nie.

Ons het sedert die Covid-pandemie ons situasie fyn dopgehou en is dankbaar om te getuig dat ons
eredienste weer dieselfde getalle begin toon as voor die pandemie. Ons het twee versoeke gehad
dat ons die tyd wat die kerk in die winter begin, moet verander. Ons sal die situasie monitor en voor
die einde van die jaar hieroor terugvoer gee.

Ons het ook na vele oorwegings besluit om ons tweede leraarspos te vul. Die kerkraad het die pos
geadverteer in die Kerkbode en die sluitingsdatum vir die pos was 2 Mei 2023. Daar was 31 aansoeke en ons is opgewonde, om na deeglike oorweging, aan te kondig dat ons 3 kandidate genooi het vir onderhoude. Die onderhoude vind die week plaas en ons wil u vra om voorbidding te. doen vir die onderhoudspaneel en al die kandidate. Ons besef dat dit ‘n groot verantwoordelikheid is om ‘n leraar na ‘n gemeente te beroep en vertrou die Here in hierdie proses.

Die ander werk in die gemeente gaan spontaan voort en ons sal nadat die huidige ouditproses afgehandel is terugvoering gee oor die finansiële posisie van die gemeente. Ons kan egter met vertroue noem dat die boekjaar met positiewe syfers afgesluit kon word.

Indien u gereeld op die terrein kom, sal u opmerk dat daar tans verskeie onderhoudswerk op die terrein gedoen word. Ons kan u verseker van ons deeglike beplanning en bestuur van ons fondse in die verband.

Ons wil u ook vra om die kerkkantoor te kontak indien daar nood is, ‘n besoek verlang word, of indien ons op enige manier kan help om die dienskarakter van ons gemeente te verbeter.

Saam in Koninkryksdiens.

Willem du Preez
Voorsitter van die Kerkraad

Lees meer “Gemeentebrief Junie 2023”

Gemeente Brief April 2023

Gemeentebrief

Goeiemôre gemeente

Ons vertrou dat dit elkeen van u se ervaring is dat deur net rondom jou te kyk, jy oor klein dingetjies dankbaar kan wees. Ons is dankbaar dat ons in die afgelope finansiële jaar al ons dienswerk kon voortsit en selfs uitbrei. Ons wil elkeen bedank vir u getroue ondersteuning, meelewing en voorbidding.

Ons is ‘n gemeente, wat volgens grootte twee voltydse leraars in diens behoort te hê, daarom het ons na deeglike oorweging besluit om ‘n tweede leraarspos te adverteer. Ons vra u voorbidding vir hierdie belangrike saak en glo u deel ook in ons opgewondenheid.

In die afgelope jaar het Mev. Tillie Bothma besluit om nie langer haar kontrak by ons te hernu nie. Ons wil haar bedank vir jarelange getroue diens en gaan haar vriendelikheid mis. Ons bid en vertrou dat Tillie en Siemie hierdie fase van hul lewe sal geniet en bid die Here se seën vir hulle toe.

Terseldertyd verwelkom ons vir mev. Carmi Kriel. Ons glo Carmi sal gelukkig wees by ons in die kantoor en is dankbaar dat iemand met haar kwaliteite by ons aangesluit het.

Ons is in ons laaste lydingsweek. Ons wil u aanmoedig om ons eredienste in die tyd by te woon. Ons deel graag met u ons erediensprogram vir die Paasnaweek:

  • Goeie Vrydag, 7 April 2023: nagmaal vind plaas om 09:00 in die kerkgebou en 10:00 by Groenkloof.
  • Opstandingsondag , 9 April 2023: dienste vind plaas om 06:30 by Suiderkruis- strand, 09:00 in die kerkgebou en 10:00 by Groenkloof.
    Daar sal slegs van die Sondag se erediens ‘n virtuele diens opgeneem word.

Ons herinner u aan ons Dankfees wat plaasvind op 22 April 2023 om 09:00. Kom geniet die dag saam met ons. Kom vroeg om jou gunsteling gereg of koek te koop.

Ons bly dankbaar dat ons soveel dienswerkaksies in die gemeente het en wil u uitnooi om die sameroepers te kontak indien u betrokke wil raak by die bedienings. Ons leef in tye waar ons al meer bewus raak van mense wat emosioneel en finansieel swaarkry. Ons het talle maniere hoe ons probeer help, maar indien u bewus is van nood kontak asseblief die kerkkantoor dat ons kennis kan neem daarvan. Indien u bloot ‘n besoek verlang kontak asseblief die kerkkantoor of u kerkraadslid dat dit gereël kan word.

Ons bid saam dat die Here ons in die jaar sal dra deur Sy genade en liefde. Ons sluit af met ‘n gedagte uit die natuur.

In die natuur los diere ‘n spoor, dit word “spoortrappers” genoem. Mag elkeen van ons “spoortrappers” wees sodat ander kan sien in wie se spoor ons volg. Dan is dit ook so dat Jesus Christus nie net voor ons loop nie, maar veral saam met ons loop.

Mooiloop dag vir dag saam met Christus.

Namens die kerkraad

Willem du Preez.
Voorsitter van die kerkraad

Gemeentebrief – Desember 2022

Gemeentebrief

Goeiemôre gemeente
Mag die tyd van die jaar vir elkeen van u die vrede bring wat Jesus Christus met Sy koms na ons gebring het. ‘n Vrede “te midde van …”

Ons het ons eerste Kerssangdiens in drie jaar eerskomende Sondag om 19h00. Dit beloof om ‘n wonderlike lofprysingsgeleentheid te wees. Na afloop van die diens kuier ons saam in die kerksaal met iets te ete en te drinke.

Van Kersdag gepraat:
Ons Kersdagdienste die 25ste Desember is weer om 07h00, 08h00, 09h00 en 10h00. Ds Goosen sal vir die eerste 2 verantwoordelik wees en dr. Frans Hancke die laaste 2. Ons oujaarsdiens die 31ste Desember 2022 vervroeg na 18h00 en daar sal nie ‘n middernagdiens wees nie.

Vanaf 1 Januarie 2023 begin ons eredienste om 09h00. Na deeglike oorweging het die kerkraad besluit om ons eredienste te vervroeg. Ons kategese geskied terselfdertyd ook om 09h00. Ons wil ons ouers aanmoedig om ons hierin te ondersteun en betrokke te wees by die geloofsvorming van u kind. Ons begin ons kategese in die nuwe jaar met ‘n braai na afloop van die erediens. Elke ouer, kind en enige een wat betrokke raak by die bediening, is welkom. Vleis en bykosse word voorsien, maar bring jou eie drinkgoed en eetgerei.

Ons virtuele eredienste gaan in die nuwe jaar voort, maar die formaat sal verander na ‘n kort boodskap vanaf 1 Maart 2023. Alle inligting rakende die gemeente is op ons webblad beskikbaar. Na afloop van die jaar kan ons met vrymoedigheid getuig dat die Here ons gemeente geweldig geseën het met gelowiges wat hulle gawes in diens van Sy koninkryk uitlewe. Ons wil ook graag van u verneem hoe ons die dienswerk in die gemeente kan verbeter. Ons het talle nuwe intrekkers verwelkom in die gemeente en probeer sover moontlik hulle besoek. Indien u nog nie besoek is nie, wil ons dit graag doen so spoedig moontlik. Kontak die kerkkantoor indien ons u gemis het.

Finansieel is ons gemeente gesond. Ons dank u vir die getroue offers wat u bring of met EFT betaal. Ons kon al ons werk voortsit en beoog om ‘n tweede leraar te beroep. Die advertensie behoort aan die einde van die eerste kwartaal geplaas te word. Ons vra u voorbidding in die verband.

In die afgelope tyd het verskeie afgetrede leraars hulle in ons omgewing kom vestig en hulle het aansienlike druk verlig met preekbeurte. Ons kon ons eredienste by Groenkloof met die hulp van die leraars 2 keer ‘n maand hou en poog om in die nuwe jaar hiermee voort te gaan.

Ons getuienisbediening en omgeebediening se werk het uitgebrei want die nood weens stygende lewenskoste het vergroot. Ons dank elkeen vir u ondersteuning.

Wanneer ons die eiendomme en tuine, wat goed onderhou word en pragtig lyk, inag neem, bly ons biddend dankbaar. Nie net kon ons die geestelike werk voortsit nie, maar ons kon ook ‘n klomp onderhoudswerk doen.

Ons gebed vir die feestyd en die nuwe jaar is dat u ‘n geestelike tuiste by ons vind waar u saam die koninkrykswerk kan doen. ‘n Aanbiddende gemeente waar ons Sondae die gemeenskap van die gelowiges opsoek en in die week ‘n lig vir die wêreld sal wees.

Dit glo ons: “Die Lig het na die wêreld gekom! Prys Hom, loof Hom, Vredevors!” ‘

n Geseënde tyd word vir u en u geliefdes toegebid. Namens die kerkraad Voorsitter van die Kerkraad
Mnr. Willem du Preez

Gemeentebrief September 2022

Gemeentebrief

Goeiemôre gemeente
Ons as ‘n gemeente is dankbaar dat ons die dienswerk van Christus kan voortsit waartoe Hy ons geroep het. Ons wil elkeen bedank vir enige vorm van dienswerk waarby u betrokke is. Ons besef ook dat hierdie betrokkenheid ook buite ons gemeentegrense val en moedig u aan om voort te gaan met die goeie werke waartoe Christus ons geroep het.
Ons het in die afgelope tyd ons bedienings in die gemeente probeer opsom in ‘n kort inligtingstuk waar gemeentelede betrokke kan raak en nie uitgesluit voel nie. Dit is by die kerkkantoor beskikbaar indien u dit nog nie onder oë gehad het nie. Ons het tans die behoefte aan lidmate wat ons wil help met die rekenaar en die klank in ons eredienste, asook met ons preekopnames Woensdagmiddae. Kontak ons indien u hierin belangstel.
Ons het in die tyd besluit om ons eredienste in Groenkloof uit te brei en om twee keer per maand ‘n leraar daar te akkommodeer om daar dienste te lei. Ons is ook in die proses om die haalbaarheid van nog ‘n leraar te beroep in diepte te ondersoek en vra u voorbidding in die verband.
Ons kerkraad het nadat ons verskeie versoeke gekry het, ons eredienstye ondersoek en besluit om ons eredienstye te vervroeg na 09h00 vanaf 1 Januarie 2023. In die verband kan die leraar in die kerkgebou preek en dan 2 dienste per maand by Groenkloof hou om 10h00. Die enigste uitsondering sal ons Kersdagdienste wees waar ons vanaf 07h00 ‘n erediens het en elke uur tot 10h00.
Ons benodig tans lidmate wat ook ons jeugbediening wil help met die bediening van ons kinders tydens eredienste.
Ons wil graag ook van die geleentheid gebruik maak om elkeen te bedank vir hulle bydraes. Ons gemeente is in ‘n gesonde finansiële posisie en ons dienswerk kan onverpoosd voortgaan. Ons kon al ons sendelinge ondersteun en ons dienswerk in die gemeente voortsit. Ons kon die kerkgebou binne en buite onderhou.
In die tyd het ons mev. Marida Bridges as ons orreliste aangestel. Sy is ‘n groot aanwins in ons gemeente en ons sang in die gemeente is ‘n belewenis. Ons het ook ‘n begeleidingsgroep wat ons help om werklik tot eer van God te sing. Ons begin eersdaags met kooroefeninge en moedig u aan om hierby in te skakel.
Ons vertrou dat elkeen van u die genade van Christus in die tyd ervaar. Mag die van u wat lyding beleef ook die troos van die Heilige Gees ervaar. Hou aan bid vir ons en die werk waartoe God ons geroep het.


Groete in Christus.


Namens die kerkraad

Willem du Preez
Voorsitter van die kerkraad

Gemeentebrief Junie 2022

Gemeentebrief

25 Mei 2022
Goeie môre gemeente
Ons Pinkster begin eerskomende Sondag om 10h00 in die kerk en ‘n opname word by Groenkloof uitgesaai. Ons kom elke aand vanaf Sondagaand om 18h00 bymekaar in die kerkgebou en ons eet lekker saam sop daarna in die saal.

Die tema word die volgende oggend herhaal by Groenkloof om 10h00.

Ons herinner ook aan ons Hemelvaartdiens môreaand om 18h00 by die kerk.
Prof. Ian Nell van Stellenbosch lei ons Pinkster die jaar. Ons bid vir hom.

Hier is die inligting en temas vir Pinkster 2022.
Die vorming vir die lewe:
Geestelike rigtingwysers vir die lewe van elke dag.
In ‘n kultuur met soveel stemme wat roep vir ons aandag is dit dikwels moeilik om op die geestelike kant van die lewe te fokus en tussen al die stemme God se stem te hoor. Covid-19, werk, finansies en heelwat onsekerheid oor die toekoms is maar van die aspekte wat dreig om ons daagliks te oorweldig.

Die doel van hierdie reeks is om ‘n alledaagse spiritualiteit te ontwikkel wat vir ons kan ondersteun om koers en rigting te hou en hopelik ook help om betekenis te gee aan ons besige en vol lewens. Daar sal telkens by ‘n spesifieke geestelike rigtingwyser stilgestaan word wat ons help om te sien hoe ons deur God gevorm word en self vorm gee aan ons lewens.
Onderwerp, Vorming, Teks.

  1. Gesigte en stemme: die vorming van ons harte 2 Kor 3:12-18
  2. Roeping en drange: die vorming van ons begeertes Luk 3:21-22; 4:1-13 3. Deugde en wysheid: die vorming van ons karakters Ef 3:14-21
  3. Geheime en dissiplines: die vorming van ons siele. Matt 6:1-15
  4. Om vorm te verloor: Misvorming deur lyding en dood. Ps 22:1-12
    Ons moedig u aan om dit by te woon.

    Groete in Christus.
    Ds. Danie Goosen.

Gemeentebrief 26 April 2022

shallow focus of letter paper

26 April 2022
Goeie môre gemeente,
Die evangelie verkondig die boodskap dat Jesus Christus die Here is. Dit word beklemtoon in die Paasgebeure met die opstanding uit die dood en verskyning van Jesus Christus aan talle getuies. Ons deel in die skare getuies van gelowiges wat gereeld ons geloof in die Opgestane Christus bely. Ons hoop is op Hom gerig en in Hom gesetel. Mag ons dit gereeld met mekaar en die wêreld deel.
In die kerklike jaar leef ons nou in die tyd tussen Paasfees, Hemelvaart en Pinkster. Ons Pinkster begin 29 Mei 2022 in die kerk om 10h00 en daar sal slegs van die eerste Sondag se diens ‘n opname gemaak word, wat ook by Groenkloof uitgesaai word. Daar sal dus elke oggend om 10h00 ‘n erediens wees by Groenkloof en saans om 18h00 by die kerk. Die week sluit af Woensdagaand in die kerk en die volgende oggend om 10h00 by Groenkloof. Na ons aanddienste sal ons ‘n koppie sop geniet in die saal. Kontak u kerkraadslid om te help met die maak van die sop. Prof Ian Nell van die Universiteit van Stellenbosch sal die Pinkster dienste lei. Kom ons bid vir hom vir sy voorbereiding. Ons sien met verwagting daarna uit.
Daar is ook die mooi gebeurtenis, waar ons as gemeente saam met ds. Paul en Hettie Roodt gaan kuier omrede die Covidpandemie dit verhoed het toe hy op vroeë aftrede gegaan het. Die dag is 8 Mei 2022 en ons wil u elkeen uitnooi om die dag na die erediens te kom en daarna lekker eetgoed in die saal saam met hulle te geniet.
Ons gemeentefees vind op die 14de Mei 2022 om 09h00 plaas. Ons vertrou dat dit ‘n groot sukses sal wees. Hierdie is ‘n geleentheid waar ons saam kuier en saam werk. Ons het u elkeen se hulp nodig en daar is talle wyses hoe u betrokke kan raak nl.

Kom geniet die dag saam met ons.

Kontak die sameroepers as u produkte wil skenk of saam werk by die tafels (Ons kort veral nog by die
koektafel enige gebak, asook by die poedingtafel.)

Dra finansieel by deur ‘n EFT te maak wat duidelik gemerk is “gemeentefees”, of maak ‘n betaling by die
kerkkantoor of u kerkraadslid.

Bid vir ‘n mooi dag en samesyn.


Ons eredienste is tans nog op Youtube beskikbaar en ons kom bymekaar in die kerkgebou. Ons wil u aanmoedig om ons eredienste in persoon by te woon, aangesien die gemeenskap van gelowiges ‘n belangrike deel van ‘n gemeente is. Ons Youtube dienste gaan voort soos in die verlede.
Die projek waar ons die pastorie omgeskakel het in ‘n tehuis vir verswakte bejaardes is voltooi en word verhuur aan mev. Julia van der Merwe. U kan haar kontak vir meer inligting by 084 409 3857.
Wat ons finansies aanbetref is ons gemeente geseënd. Ons kan al ons diensaksies onverpoosd voortsit. Ons ondersoek die moontlikheid om die poste van ‘n tweede leraarspos, asook ‘n voltydse orrelistepos te vul.

Ons dank u vir u offervaardigheid in moeilike tye. Ons sal sodra ons boeke geoudit is, terugvoer gee aan die gemeente.
Op ons vorige Bestuurspanvergadering is Willem du Preez verkies as voorsitter van ons Bestuurspan en Johan Smit as onder-voorsitter. Hartlike geluk Willem en Johan. Ons bid vir hulle vir die taak en vra ook u ondersteuning vir die werk wat hul verrig. Willem kan gekontak word by 082 823 5988.

Mag u elkeen in hierdie jaar die besondere teenwoordigheid van ons Here Jesus ervaar deur Sy Gees. Bid vir ons, bid vir mekaar en bid in besonder vir ‘n brose stukkende wêreld.

Groete in Christus.
Danie Goosen.
(Nms die Kerkraad)

Gemeentebrief 3 Desember 2021

shallow focus of letter paper

Goeie more gemeente,

Die seisoen is hier. ‘n Tyd van terugkyk en vorentoe kyk (Adventstyd). Dit was ‘n jaar waarin ons as gemeente met dankbaarheid kon ervaar hoe God op talle wyses voorsien het. Ons het ook verlies ervaar. ‘n Verlies van geliefdes, normaliteit en soms gemeenskap van gelowiges. Ons moes elkeen op kreatiewe maniere nuut dink oor ons lewens, familie en vriende. Ook kerkwees het ‘n nuwe era ingegaan. Virtuele eredienste het ‘n algemene verskynsel geword en ons glo dat, alhoewel ons weer in die kerkgebou bymekaar kom, eredienste virtueel sal voortgaan. Dit kan egter nooit plaasvervangend wees vir die “in die oë kyk” geleenthede nie. Mag ons ere-diens aan God in ons lewens nuwe gestalte kry in ons huise, gemeenskap en wêreld. Ons moedig kreatiewe dissipelskap in u invloedsfeer aan. Soos Christus eens na die wêreld gekom het, mag iets van die gestalte van Sy koms ook in ons en deur ons sigbaar word.

Lees meer “Gemeentebrief 3 Desember 2021”