Ek weet al vir baie lank dat daar iets besonder gebeur in saam-wees. Dink maar aan koffie kuiers om die kombuistafel wanneer jy na n lag ruk weer by familie of vriende gaan kuier. Daar vorm hegte bande sonder dat dit geforseerd is, sonder dat mens te veel moet doen.
Predikantesaamtrek Goudini 2026 Saam aanbid Foto krediet: Ds. Charné Viljoen
Saam-wees
Saam-wees herinner ons aan ons menslikheid, aan ons behoefte om te “connect” – nie net met mekaar nie, maar ook met God.
Ek het die week n sessie bygewoon waar ons gepraat het oor egtheid en dat ons vir mense woorde moet gee, belewenisse kan skep onder die leiding van die Heilige Gees, waar ons eg kan wees, nie hoef voor te gee nie. Die voorbeeld van n skare by ‘n musiekgroep vertoning, waar almal woord-vir-woord saam sing sonder dat daar lirieke op n bord verskyn, is gebruik. Mense het in daardie oomblik n egte belewenis van saam wees. Sommige geleerdes gebruik die woorde: “crowd psychology” en sê dat dit maak dat mense n belewenis saam met ander ervaar.
Predikantesaamtrek 2026 Werksessies Foto krediet: Ds. Charné Viljoen
Hoe dit ookal sy, ek is oorweldig deur die egtheid van hierdie saam-wees. Dit is ongelooflik om te hoor hoe 650 dominees saam “My God is so groot, so sterk en so magtig…” saam sing en die bewegings doen. Dit is merkwaardig om te beleef dat daar plek vir elkeen is en ons kan mekaar liefhê. So, het ek die liefde van God die week beleef…
Predikantesaamtrek 2026 Goudini Saamwees Foto krediet: Ds. Charné Viljoen
Ek is dankbaar om deel van die Kerk te wees. Ek is trots op die NG Kerk. God gee nuwe hoop!
“U laat ons profeteer oor elke dorp, in elke hart en huis. Wys ons wat kan gebeur, deur U Gees. Gee nuwe drome Heer!”
Die kerkraad het besluit om geloofsonderskeidend die moontlikheid van ’n standplaasverwisseling tussen ds. Danie Goosen (NG Kerk Groot-Brakrivier) en ds. Leon Cronjé (NG Kerk Stellenbosch Welgelegen) te begin ondersoek. Ons wil die gemeente vra om saam met ons te bid en te onderskei wat die Here se stem is vir die pad vorentoe.
Wat is ’n standplaasverwisseling?
’n Standplaasverwisseling is ’n beroepingsproses waar die uiteinde sou kon wees dat twee spesifieke predikante standplase (bedieningsgemeentes) verwissel (in hierdie geval Leon Cronjé na Groot Brakrivier en Danie Goosen na Stellenbosch-Welgelegen).
Hoe het dit gebeur? (Danie se storie)
Danie het die Bestuurspan tydens ‘n strategiese sessie verlede jaar ingelig dat hy die moontlikheid ondersoek om nader aan Stellenbosch te probeer vestig, aangesien sy persoonlike omstandighede verander het. Hy het egter onderneem om ‘n paar strategiese sake af te handel en vir voorbidding gevra. Rondom die einde van die eerste kwartaal het Danie vir Leon Cronje geskakel om te hoor of hy nie bewus is van ‘n persoon of self dalk standplaasverwisseling ondersoek nie.
Leon het gesê dat hy die hand van die Here in die proses ervaar en ongeveer 9 maande gelede al gevoel het om Danie te kontak. Hy het egter gewag en vertrou Danie sou met hom praat as die saak ook op sy hart gelê is deur die Here.
Danie is gelukkig in die gemeente van Groot-Brakrivier en die proses is nie maklik vir hom nie. Hy leef in afhanklikheid voor die Here, en glo dat na ongeveer 14 jaar in die gemeente, sy gawes ook ‘n dienende bydrae in Stellenbosch Welgelegen kon beteken. Hy dink ook dat standplaasverwisseling die moontlikheid oopmaak vir leraars en gemeentes om vernuwend voor die Here te bly leef. Hy vertrou alle partye sal dit as ‘n geskenk uit God se hand kan beleef. Vernuwende denke en roepingsbewustheid is die sleutels vir die pad waar God ons ookal mag lei. Danie vertrou saam met elkeen dat ons duidelikheid sal hê.
Hoe werk die proses nou verder?
Die proses wat nou voorlê is dat die onderskeie kerkrade van die moontlike nuwe standplase van die predikante onderhoude met hulle het om meer oor hulle unieke gawes en persoonlikhede te leer ken om te bepaal of hulle ’n vrugbare bedieningspad saam met die nuwe gemeentes sal kan loop.
Hierna, sal beide gemeentes se kerkrade ’n beroepingsvergadering hê om biddend te besluit of hulle die ander predikant wil beroep.
Vir ’n standplaasverwisseling om suksesvol te gebeur, moet beide gemeentes oortuig wees hulle hoor by die Here dat die nuwe predikant beroep moet word. Enige kerkraad kan op enige punt besluit dat hulle die proses wil beëindig.
Dit is hoekom dit so belangrik is om geloofsonderskeidend oor die saak te dink sodat ons besluite neem wat ons oortuig is die Here lei ons in. Ons vra daarom dat julle as gemeente asseblief in gebed sal intree in die volgende tyd wat ons besig is met hierdie proses as kerkraad. Bid vir:
die onderskeie gemeentes se kerkrade dat ons na die Here se stem en leiding sal soek en
slegs treë sal neem waarheen ons voel God self ons lei;
bid ook vir die onderskeie leraars betrokke en hulle gesinne;
en bid ook vir die twee gemeentes wat hierdie pad loop en dat die Here die grond binne hierdie geloofsgemeenskappe sal voorberei vir die uiteinde van die proses wat Hy wil hê, wat dit ook al mag wees.
Navrae
Kontak my gerus met enige vrae in die verband.
Danie is bereid om met enige lidmaat oor die saak te gesels en onderneem om die pad met integriteit te loop.
Die Sinode en onderskeie ringe ondersteun en begelei die kerkrade in die proses.
Hier in die begin van die jaar is ons dankbaar dat ons in die afgelope jaar kon getuig dat ons al die werke van ons gemeente met blymoedigheid kon doen.
Dat ons dienswerk en uitbreiding van die koninkryk nooit ‘n voltooidheid bereik nie, maar eerder die voortsetting van pelgrims saam op reis is, is ‘n voorreg. Ons dank u elkeen vir u aandeel en bemoediging om hierdie reis voort te sit.
Hierdie tyd van die jaar word ons herinner aan die koms van Jesus Christus. Dis ook die begin van ons kerklike jaar. Liedere soos “O, die goeie tyding” en “Welkom o stille nag van vrede” weerklink uit kerkgeboue en winkelsentrums. Midde in hierdie tyd raak ons ook bewus van pyn en lyding wêreldwyd. Oraloor word woorde gebruik soos apokalipties wat verwys na die eindtye. Laat ons gedurigdeur herinner word dat die eindtyd ingelui is met Christus se eerste koms. En Hy maak ons ook deel van Sy tyd en werke totdat Hy weer kom.
Ons wil u graag in hierdie tyd bedank vir al u harde werk tydens ons dankfees. Ons is ook dankbaar vir elke bydrae. Ons lof en dank aan die Here Jesus ons Here.
Ons wil u ook meedeel dat ek en ds. Danie by die Algemene Sinode se sitting was in Boksburg. Deur die sinode het ons elke sessie begin deur lofsang en aanbidding. Daarna het ons gewandel in die Woord en rondom tafelgesprekke met mekaar gedeel. Die sinode het belangrike en moeilike sake hanteer. Ons is trots om deel te wees van ‘n organisasie wat sekerlik een van die belangrikste rolspelers in ons land is met betrekking tot sake soos armoede, getuienis, jeug en vele meer. Ook sake wat die menswaardigheid van mense raak, is bespreek. Dit is egter teleurstellend dat die media klem lê op enkele negatiewe sake in hul beriggewing. U is welkom om te enige tyd met ons te gesels oor enige relevante saak in die breë kerk.
Ons wil u vra om ook voorbidding te doen vir ons beroepingsproses. Ons voer onderhoude in die komende week en beplan om ‘n beroep uit te bring die 14de November 2023. Bid asseblief saam met ons vir hierdie belangrike saak.
Ons is tans in Koninkrykstyd in die kerklike jaar. Dit bevestig dat God deur die werk van Jesus Christus Sy ryk gevestig het, en ons as koningskinders deur die werking van die Heilige Gees hierin deel. Dit is ‘n genadegeskenk (gawe) van God. Mag ons elkeen met danksegging leef!
Ons het daarom goedgedink om ons fees einde Oktober ‘n dankfees te maak. Ons begin die Vrydagaand met ‘n humoristiese konsert wat beloof om die lagspiere te prikkel. Die Saterdag skop die verrigtinge af om 09:00 waar talle produkte te koop sal wees. Ons poog om meer produkte op elke tafel te hê, maar kom vroeg om teleurstelling te voorkom en lekker gesellig saam te verkeer. Ons sluit die naweek af die Sondag met nagmaal in die kerk om 09:00 en 10:00 by Groenkloof. By die erediens is daar geleentheid om u dankbaarheidskoevertjie te bring soos wat u goeddink. Die koevertjie is bloot iets tasbaar wat u tydens die erediens kan ingooi, of andersins kan dit by die kerkkantoor ingegee word. Dit verhoed u nie om ‘n EFT te doen indien u dit verkies nie.
Ons is dankbaar vir die volgende: – vir Onse Hemelse Vader vir wie Hy is en wat Hy doen. – vir mense, mense soos u en talle ander wat ten spyte van hul broosheid streef om die goeie te doen. – vir ons gemeente en elke gawe wat die gemeente rig en bou. – vir ons gesonde finansies dat die werk van die Here kan voortgaan en blymoedige gewers soos u wat dit moontlik maak. – talle onderhoudswerk wat afgehandel kon word. – ons kerkraad, bestuurspan en personeelkorps wat hard saamwerk. In hierdie verband het ons die vakante leraarspos geadverteer en die sluitingsdatum vir die aansoeke is 30 Oktober 2023. Nominasies van leraars of finalejaarstudente kan ook deur lidmate by die kerkkantoor ingedien word. Ons het wel gedink dat die persoon nie ouer as 40 jaar moet wees nie.
Soos u weet sou ons die lys nog kon aanvul, maar ons wil u ook vra om ons te kontak waar ons dalk ‘n paar koninkryksake miskyk.
Laat weet die kerkkantoor indien u ‘n besoek verlang of voorbidding nodig het. Ons sal so spoedig moontlik reageer.
Ons wil elkeen van u aanmoedig om in onseker tye voort te gaan met die goeie werk waartoe Christus ons geroep het. Ons sluit af met die volgende woorde: “Terwyl ons dan so groot geloofskare rondom ons het, laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons maklik verstrik.”(Hebr 12:1-2) Groete in Christus. ______________ Willem du Preez Nms die kerkraad
Ons dank die Here vir elke goeie gawe in ons gemeente. Ons is dankbaar vir elke lidmaat wat die Boodskap uitdra en uitleef waar hulle ookal gaan. In besonder wil ons u bedank vir u betrokkenheid by die verskeie bedieningsaksies in die gemeente. Sonder elkeen se insette sou die werk nie moontlik wees nie.
Ons het sedert die Covid-pandemie ons situasie fyn dopgehou en is dankbaar om te getuig dat ons eredienste weer dieselfde getalle begin toon as voor die pandemie. Ons het twee versoeke gehad dat ons die tyd wat die kerk in die winter begin, moet verander. Ons sal die situasie monitor en voor die einde van die jaar hieroor terugvoer gee.
Ons het ook na vele oorwegings besluit om ons tweede leraarspos te vul. Die kerkraad het die pos geadverteer in die Kerkbode en die sluitingsdatum vir die pos was 2 Mei 2023. Daar was 31 aansoeke en ons is opgewonde, om na deeglike oorweging, aan te kondig dat ons 3 kandidate genooi het vir onderhoude. Die onderhoude vind die week plaas en ons wil u vra om voorbidding te. doen vir die onderhoudspaneel en al die kandidate. Ons besef dat dit ‘n groot verantwoordelikheid is om ‘n leraar na ‘n gemeente te beroep en vertrou die Here in hierdie proses.
Die ander werk in die gemeente gaan spontaan voort en ons sal nadat die huidige ouditproses afgehandel is terugvoering gee oor die finansiële posisie van die gemeente. Ons kan egter met vertroue noem dat die boekjaar met positiewe syfers afgesluit kon word.
Indien u gereeld op die terrein kom, sal u opmerk dat daar tans verskeie onderhoudswerk op die terrein gedoen word. Ons kan u verseker van ons deeglike beplanning en bestuur van ons fondse in die verband.
Ons wil u ook vra om die kerkkantoor te kontak indien daar nood is, ‘n besoek verlang word, of indien ons op enige manier kan help om die dienskarakter van ons gemeente te verbeter.
Ons vertrou dat dit elkeen van u se ervaring is dat deur net rondom jou te kyk, jy oor klein dingetjies dankbaar kan wees. Ons is dankbaar dat ons in die afgelope finansiële jaar al ons dienswerk kon voortsit en selfs uitbrei. Ons wil elkeen bedank vir u getroue ondersteuning, meelewing en voorbidding.
Goeiemôre gemeente Mag die tyd van die jaar vir elkeen van u die vrede bring wat Jesus Christus met Sy koms na ons gebring het. ‘n Vrede “te midde van …”
Ons het ons eerste Kerssangdiens in drie jaar eerskomende Sondag om 19h00. Dit beloof om ‘n wonderlike lofprysingsgeleentheid te wees. Na afloop van die diens kuier ons saam in die kerksaal met iets te ete en te drinke.
Goeiemôre gemeente Ons as ‘n gemeente is dankbaar dat ons die dienswerk van Christus kan voortsit waartoe Hy ons geroep het. Ons wil elkeen bedank vir enige vorm van dienswerk waarby u betrokke is. Ons besef ook dat hierdie betrokkenheid ook buite ons gemeentegrense val en moedig u aan om voort te gaan met die goeie werke waartoe Christus ons geroep het.
25 Mei 2022 Goeie môre gemeente Ons Pinkster begin eerskomende Sondag om 10h00 in die kerk en ‘n opname word by Groenkloof uitgesaai. Ons kom elke aand vanaf Sondagaand om 18h00 bymekaar in die kerkgebou en ons eet lekker saam sop daarna in die saal.
Die tema word die volgende oggend herhaal by Groenkloof om 10h00.
26 April 2022 Goeie môre gemeente, Die evangelie verkondig die boodskap dat Jesus Christus die Here is. Dit word beklemtoon in die Paasgebeure met die opstanding uit die dood en verskyning van Jesus Christus aan talle getuies. Ons deel in die skare getuies van gelowiges wat gereeld ons geloof in die Opgestane Christus bely. Ons hoop is op Hom gerig en in Hom gesetel. Mag ons dit gereeld met mekaar en die wêreld deel.
Die seisoen is hier. ‘n Tyd van terugkyk en vorentoe kyk (Adventstyd). Dit was ‘n jaar waarin ons as gemeente met dankbaarheid kon ervaar hoe God op talle wyses voorsien het. Ons het ook verlies ervaar. ‘n Verlies van geliefdes, normaliteit en soms gemeenskap van gelowiges. Ons moes elkeen op kreatiewe maniere nuut dink oor ons lewens, familie en vriende. Ook kerkwees het ‘n nuwe era ingegaan. Virtuele eredienste het ‘n algemene verskynsel geword en ons glo dat, alhoewel ons weer in die kerkgebou bymekaar kom, eredienste virtueel sal voortgaan. Dit kan egter nooit plaasvervangend wees vir die “in die oë kyk” geleenthede nie. Mag ons ere-diens aan God in ons lewens nuwe gestalte kry in ons huise, gemeenskap en wêreld. Ons moedig kreatiewe dissipelskap in u invloedsfeer aan. Soos Christus eens na die wêreld gekom het, mag iets van die gestalte van Sy koms ook in ons en deur ons sigbaar word.
Ons groet u hier in Augustusmaand in die naam van Jesus Christus. Dit is ‘n maand waar ons dink aan al die vrouens in ons lewens, maar veral ook in ons land en wêreld. Ons is dankbaar vir al ons oumas, ma’s, dogters, eggenote en vriendinne.
Ons groet u in die Naam van Jesus Christus ons Here. Ons bid en vertrou dat dit met u goedgaan. Ons besef egter ook dat baie van ons ontberings beleef en verliese ervaar het. Ons vertrou dat elkeen van ons opnuut besef dat ons geloofsvertroue in Jesus Christus ons ook in hierdie tye tot innerlike vrede stem. Lees meer “Brief aan die Gemeente – 22 Januarie”