“Ek pleit by julle, broers, in die Naam van ons Here Jesus Christus, dat julle almal eenstemmig sal wees, en dat daar nie verdeeldheid onder julle sal wees nie, maar dat julle volkome eensgesind mag wees, met dieselfde denkwyse en dieselfde oortuiging.”
1 Kor. 1: 19
Stryd en samewerking is een van die dinge wat almal van ons mee sukkel. Enige teenstand, of ander gedagtegang, of werkwyse, of lewenswyse word so dikwels as persoonlik aanvalle beskou. Alhoewel dit nie die bedoeling van ‘n ander persoon is nie, word daar oombliklik ‘n verdedigings posisie ingeneem, om enige ander gedagtes uit die weg te ruim. Dit is dikwels nie regtig enige aanval op jou as persoon nie, maar bloot vanuit ‘n ander persoon se perspektief. In die film August Rush, stel die hoof karakter dit so mooi, wanneer iemand hom vra: “Are you thinking what I am thinking.” en die seun, sonder twee gedagtes, dadelik antwoord: “No, I am thinking something else.”
Dit is interessant dat hierdie soort van stryd nie noodwendig ‘n doelbewuste teenstand is van ‘n ander nie, maar mense met verskillende werkswyses, verwysingsraamwerke en ervarings wat teenstand in mekaar wek, sonder goeie gronde. Wanneer ons na Paulus se woorde van 1 Kor. 1: 19 kyk, besef ons dat ons moet saamwerk, want dit gaan nie oor ons nie, maar tot eer en verheerliking van Jesus Christus wat ons die grootste geskenk ooit gegee het. Ons moet bedag daarop wees dat ons stryd nie teen vlees en bloed is nie, maar teen die magte van die duisternis (“Vir ons is die stryd immers nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van hierdie duisternis, teen die bose geeste in die hemelruim.” (Eff. 6: 12)), wat besonder goed daarin is om tweespalt te wek, waar dit totaal en al onnodig is. Ons moet onsself net daarteen bewapen met die volle wapenrusting van God, sodat ons saam weerstand kan bied teen die bose se subtiele invloede. (“Staan dan vas, deur julle te omgord met die waarheid,- julle te bedek met ie borsplaat van geregtigheid, – en deur bereidheid vir die evangelie van vrede as skoene aan julle voete aan te trek, -en by dit alles die skild van die geloof op te neem, waardeur julle in staat sal wees om die vurige pyle van die bose te blus. Dra ook die helm van verlossing- en die swaard van die Gees – dit is die woord van God.” (Eff. 6: 14-17))
Ons moet egter wel bedag wees op mense wat verdeeldheid en struikelblokke veroorsaak, wat in stryd is met waarin mens onderrig is (“Ek doen ‘n beroep op julle, broers, om mense in die oog te hou wat verdeeldheid en struikelblokke veroorsaak, in stryd met die leer waarin julle onderrig is. Bly weg van hulle af.” (Rom. 16: 17)). Ons tree in menslike swakheid op, maar ons krag kom uit God (“Want al tree ons in menslike swakheid op, voer ons die stryd nie in menslike swakheiud nie. Die wapens van ons stryd is immers nie menslik nie, maar danksy God, kragtig om sterk vestings af te breek, redenasies te vernietig, en ook elke skans wat opgerig word teen die kennis van God. ” (2 Kor. 10: 3-5)). Laat ons dus as een gemeenskap van Jesus Christus die goeie stryd van die geloof aangryp (“Stry die goeie stryd van die geloof; gryp die ewige lewe aan, waartoe jy geroep is en waarvan jy die goeie belydenis voor baie getuies afgelê het.” (1 Tim. 6:12)), sodat ons ook soos Paulus kan sê: “Ek het die goeie stryd gestry, ek het die wedloop voltooi, ek het die geloof behou.” (2 Tim. 4: 7).
Laat ons in vrede met mekaar leef, want ons is almal takke van dieselfde boom (“En as ‘n aantal van die takke van die mak olyfbome uitgebreek is, en jy, die wilde olyf, tussen die takke ingeënt is, en so aan die voedingskrag van die mak olyfboomse wortel deel gekry het, moet jy nie teenoor die ander takke spog – jy ondersteun nie die wortel nie, maar die wortel jou. Jy sal dan sê: Daar is takke uitgebreek sodat ék op die boom ingeënt kan word. Goed en wel. Dit is deur ongeloof dat hulle uitgebreek is. Maar jy is daar deur jou geloof. Moenie hooghartig wees nie, maar wees vol ontsag. Want as God die natuurlike takke nie gespaar het nie, sal Hy jou dalk ook nie spaar nie. Sien daarom God se goedheid sowel as sy strengheid oor hulle afvallig geword het, maar sy goedheid oor jou – mits jy in sy goedheid bly, want ook jy kan uitgekap word.” (Rom. 11: 17-22)), en moet in vrede met mekaar leef (“Maar ons vra julle broers, om respek te betoon aan diegene wat ywerig onder julle werk, en julle in die Naam van die Here voorgaan en teregwys, en om, op grond van hulle werk, in liefde en met die hoogste agting op te tree. Leef in vrede met mekaar.” (1 Tess. 5: 12)).
Laat ons dus saamwerk want ons is almal kinders van God, in Jesus Christus (“Want deur die geloof is julle almal kinders van God in Christus Jesus, want julle wat in Christus gedoop is, het Christus soos ‘n kleed aangetrek. Daar is nou nie meer Jood of Griek, nie meer slaaf of vryman, nie meer manlik of vroulik nie; want julle almal is één in Christus Jesus! En as julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en, ooreenkomstig die belofte, erfgename.” (Gal. 3: 26-29)). Laat ons die vrug van die Gees uitleef (“Maar die vrug van die Gees is: liefde, blydskap, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing. Teen hierdie soort dinge is daar nie ‘n wet nie.” (Gal. 5: 22-23)), en nie verwaand of jaloers teenoor mekaar wees nie (“Laat ons nie verwaand wees, mekaar uittart of op mekaar jaloers wees nie.” (Gal. 5: 26)). Laat ons mekaar dien in liefde en nie mekaar probeer verslind nie (“Julle broers, is tog tot vryheid geroep. Moet net nie julle vryheid misbruik, sodat dit aanleiding gee vir die vlees nie, maar dien mekaar deur liefde. Want die hele wet word in één uitspraak vervul: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” As julle mekaar byt en verslind, pas op dat julle nie deur mekaar verorber word nie.” (Gal. 5: 13-15)). Laat ons daarom nie moeg raak om goed te doen (“Laat ons daarom nie moeg raak om goed te doen nie, want as ons nie verslap nie, sal ons op die regte tyd oes. Laat ons dan, terwyl ons die geleentheid het, aan almal goed doen, maar veral aan die huisgesin van die geloof. ” (Gal. 6: 9-10)).


