Stof tot nadenke: Keuses…

Toe het Jesus vir sy dissipels gesê: “As iemand My wil navolg, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg. Want wie sy lewe wil red, sal dit verloor, maar wie sy lewe ter wille van My verloor, sal dit vind.
Matt. 16: 24-25

Deur mens se hele lewe word jy voor keuses geplaas. Waar jy heen moet gaan, wat jy moet aantrek, wie jy in jou lewe moet toelaat of nie, watter beroep jy moet kies, ‘n lewensmaat wat jy moet kies, wat jy nodig het om gemaklik en met aansien te leef. Al hierdie keuses neem ons lewens totaal in beslag, sodat ons, so dikwels, die heel belangrikste en enigste noodsaaklike keuse in die lewe miskyk. Soveel mense soek op die verkeerde plek na die Ewige Lewe, maar met die persepsie dat dit hier op aarde moet wees. Hier waar hulle hulself kan verdrink in die aardse plesiertjies…sonder die besef dat dit alles net tydelik is. Vir hierdie kort rukkie wat ons op aarde gegun word. Ek het eenmaal raak gelees: “In this life, nothing is more certain than death.”, wat na ons aardse bestaan verwys het. Dit maak nie saak watter aardse besluite mens neem nie, ons is almal oppad na hierdie seker vleeslike dood. Dit is hoekom dit so belangrik is watter keuses ons hier en nou maak!

Die enigste werklike belangrikste keuse wat mens moet maak is: ‘Vir of teen Christus?’. Dit alleen is die enigste keuse wat jou lewe vir ewig kan verander. Jesus self stel dit so goed in Matt. 16: 24-25. Elkeen van ons word die keuse gegee om rein of onrein te leef (“Jesus het die skare nader geroep en vir hulle gesê: “Luister en verstaan dan: Dit is nie wat by die mond ingaan wat ‘n mens onrein maak nie; maar wat by die mond uitgaan, dit maak ‘n mens onrein.” (Matt. 15: 10-11); (“Alles is rein vir dié wat rein is, maar vir die besoedeldes en ongelowiges is niks rein nie: sowel hulle denke as hulle gewete is besoedel. Hulle bely dat hulle God ken, maar weerspreek dit met hulle dade; hulle is afstootlik en versetlik, onbekwaam om enigiets goed te doen.” (Tit. 1: 15-16)). Ons keuses bepaal ook of ons goeie of slegte vrugte dra (“Óf julle beskou die boom as goed en sy vrugte as goed, óf julle beskou die boom as sleg en sy vrugte as sleg. Aan sy vrugte word die boom immers geken. Addergeslag! Hoe kan julle iets goeds sê as julle sleg is? Want wat die hart van vol is loop die mond van oor. Die goeie mens bring nuit die goeie skatkamer goeie dinge na vore, en die slegte mens mens bring uit die slegte skatkamerslegte dinge na vore. Ek sê vir julle, van elke onbesonne woord wat mense kwytraak, sal hulle op die dag van oordeel rekenskap moet gee. Want op grond van jou woorde sal jy geregverdig word, en op grond van jou woorde sal jy veroordeel word.” (Matt. 12: 33-37)). So dikwels besef mense nie dat wat hulle doen en sê meer van hulle self sê, en ‘n weergawe is van hoe hulle ‘skatkamer’ lyk nie. Die persoon of aksie wat onder bespreking is, of teenoor wie gereageer word, het geen relevansie nie. Ook hier kan mens die keuse maak om stil te bly, of te werk aan die aansien van jou skatkamer sodat dit na ‘n ‘goeie skatkamer’ kan verander (“Sal ‘n wyse antwoord met sinlose kennis, en sy binneste met die oostewind vul? Kan hy sy saak verdedig met ‘n argument wat nie sin maak nie, met woorde waarmee hy niks uitrig nie? Jy is boonop die een wat ontsag vir God ondermyn; jy skat oorpeinsing voor God gering. Ja, jou sondeskuld vuur jou mond aan; jy kies die taal van geslepenes. Jou eie mond verklaar jou skuldig – nie ek nie; jou lippe getuig teen jou.” (Job. 15: 2-6)).

Nog steeds bly die een groot keuse van jou lewe: “Wil ek soos Jesus Christus wees?” As ons die keuse vir Christus gemaak het, moet ons as gesante van Hom optree (“Ons tree dan op as gesante ter wille van Christus, asof God self deur ons ‘n beroep op julle doen. Ons pleit by julle, om Christus ontwil: Laat julle met God versoen!” (2. Kor. 5: 20); (“Weet julle nie dat atlete wat in ‘n stadion aan ‘n wedloop deelneem, wel almal hardloop, maar net een die prys ontvang nie? Hardloop dan só dat julle dit ontvang. Almal wat deelneem, pas in alle opsigte dissipline toe – hulle nogal om ‘n verganklike oorwinningskrans te ontvang, maar ons ‘n onverganklike. Ek hardloop daarom so, dat dit nie doelloos is nie; ek boks so, dat ek nie in die lug slaan nie. Maar ek dissiplineer my liggaam en maak dit diensbaar, sodat ek nie, terwyl ek vir ander gepreek het, dalk self gediskwalifiseer word nie.” (1 Kor. 9: 24-27)), en voluit met dissipline vir God se koninkryk moet leef en werk.

Wanneer ons die keuse vir Jesus Christus gemaak het, kan ons met die gerustheid leef dat ons rus sal ontvang soos Jesus beloof in Matt. 28-30 (“Kom na my toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle, en leer van My, omdat Ek sagmoedig en nederig van hart is, en julle sal rus vind vir julle gemoed. Want my juk is draaglik en my las is lig.” (Matt. 11: 28-30). Ons word vermaan om die smal pad te soek en daarby te hou, met ander woorde ons moet die keuse maak om nie die wye pad, wat na die verderf lei, te kies nie (“Gaan deur die nou poort in. Die poort wat na die verderf lei, is wyd en dié wat daardeur ingaan, is baie. Maar die poort wat na die lewe lei, is nou en die pad daarheen smal, en dié wat dit kry is min.” (Matt. 7: 13-14)). Paulus en Timotheus wys ons op die keuses wat ons moet maak, sodat God met ons sal wees (“Verbly julle altyd in die Here! Ek herhaal: Verbly julle! Laat julle vriendelikheid aan alle mense bekend word. Die Here is naby. Moet oor niks bekommerd wees nie, maar maak in alles julle versoeke deur gebed en smeking met danksegging aan God bekend. En die vrede van God, wat alle begrip oortref, sal in Christus Jesus oor julle harte en gedagtes waak. Verder broers, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat lof verdien, ja, watter deug of watter prysenswaardige saak daar ook mag wees: rig julle gedagtes daarop. Wat julle van my geleer en ontvang en gehoor en in my gesien het: hou aan om dit te doen. En die God van vrede sal met julle wees.” (Fil. 1: 4-9)).

Ons kan ook met die versekering leef dat in sy Liefde sal ons nooit verlaat word nie soos so mooi gestel in Paulus se woorde (“Wat sal ons van die liefde van Christus skei? Swaarkry of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard? Soos daar geskrywe staan: “Ter wille van U word ons die hele tyd aan die dood uitgelewer, word ons as slagskape beskou.” Maar in dit alles is ons selfs meer as oorwinnaars deur Hom wat sy liefde aan ons bewys het. Ek is immers daarvan oortuig dat nóg dood, nóg lewe, nóg engele, nóg magte, nóg teenswoordige, nóg toekomstige gebeure, nóg hoogte, nóg diepte, nóg enigiets anders in die skepping ons sal kan skei van die liefde van God in Christus Jesus on Here.” (Rom. 8: 35-39)). Die woord van God is baie kragtig en laat ons onsself vul met die vaste spyse wat vir ons gegee word, sodat ons keuses kan maak tussen wat goed is, en wat kwaad is (“Want die woord van God is lewend en kragtig, en skerper as anige tweesnydende swaard. Dit dring deur tot by die raakpunt tussen siel en gees, tussen gewrig en murg, en beoordeel die hart se voornemens en gedagtes. Ja, niks wat geskape is, is vir Hom verborge nie, maar alles is oop en bloot voor sy oë, Hom teenoor wie ons ons moet verantwoord.” (Heb. 4: 12-14): (“Maar vaste kos is vir volwassenes, vir hulle wat oor die aanvoeling beskik, deur gewoonte geoefen, om te kan onderskei tussen goed en kwaad.” (Heb. 5: 14)). Laat ons dan ‘n keuse maak vir Jesus Christus, wat deur Sy verlossingsdaad dit vir ons moontlik gemaak het om deur die leiding van die Heilige Gees te leef.