Stof tot nadenke: Die Hemelse Koninkryk

Toe Jesus op ‘n keer deur die Farisieërs gevra is wanneer die koninkryk van God kom, het Hy geantwoord: “Die koninkryk van God kom nie met duidelike waarneembare tekens nie. Mense sal nie sê, ‘Kyk, hier is dit!’ of ‘Daar is dit !’ nie, want kyk, die koninkryk van God is in julle midde.
Luk. 17: 20-21

Van die vroegste tye was ons as mense saamgesleur met die konsep van ‘n koninkryk. Die idee van ‘n aardse koninkryk. Dit kom uit in bybelverhale en kinderverhale, en daar is min mense wat nie een of ander tyd in hulle jongmens lewe graag ‘n prins of prinses wou wees nie. Die prag, praal en wysheid wat deur Salomo versinnebeeld is, het ons as mense tot ‘n groot mate laat glo dat dit is hoe die lewe moet wees. (“Koning Salomo het tweehonderd grootskilde gemaak, met geplette goud daarop. Met seshonderd sikkel goud het hy elke skild oortrek. Hy het ook driehonderd kleinskilde gemaak, met geplette goud daarop. Elkeenvan hierdie skilde het hy met drie mina goud oorgetrek. Die koning het dit in die saal, bos van Libanon, geplaas. Die koning het ‘n groot troon van ivoor gemaak en dit met bladgoud oorgetrek. Daar was ses trappe vir die troon, en die sitplek het ‘n rug met ‘n ronde bokant en armleunings aan elke kant gehad. Twee leeus het langs die armleunings gestaan. Twaalf leeus het daar op die ses trappe gestaan, ses aan elke kant.” & “So iets is nog nooit vir enige koninkryk gemaak nie; So het koning Salomo, wat rykdom en wysheid betref, groter geword as al die konings van die aarde.” (1 Kon. 10: 16-20 & 23)).

God het dit egter op ‘n heel ander manier vir ons tot ‘n werklikheid laat kom. Hy het aan Israel beloof dat hulle vir hom priesters en ‘n heilige (toegewyde) nasie sal wees (“Vir My sal julle ‘n koninkryk van priesters en ‘n heilige nasie wees.” (Eks. 19: 6)). Wanneer die nasie egter nie aan die verwagtinge van God voldoen nie, kan daar baie vinnig, en langdurig ‘n skeiding kom. (“Hy sê toe vir Jerobeam: “Neem vir jou tien stukke, want so sê die Here, die God van Israel, ‘Kyk, Ek gaan die koninkskap uit die hand van Salomo skeur, en ten stamme aan jou gee. Maar die een stam sal syne wees, ter wille van ny dienskneg Dawid en ter wille van Jerusalem, die stad wat Ek gekies het uit al die stamme van Israel. Dit is omdat hulle My verlaat het en in aanbidding buig voor Astarte, die godin van die Sidoniërs en voor Kemos, die god van Moab, en voor Milkom, die god van die Ammoniete. Huule het nie op my paaie gebly deur te doen wwat reg is in my oë, en my vaste voorskrifte en bepalings uit te voer soos Salomo se vader Dawid nie. Ek sal nie die hele koninkryk uit sy hand neem nie, maar hom as leier aanstel solank hy leef, ter will van Dawid, my dienskneg, wat Ek gekies het, hy wat my wette en vaste voorskrifte nagekom het.” (1 Kon. 11: 31-34)).

Dit is God wat nasies ten gronde laat gaan, of besluit om hulle voorspoed te laat beleef. (“Een keer dreig Ek om ‘n nasie en ‘n koninkryk uit te ruk, af te breek en ten gronde te laat gaan.” (Jer. 18: 7); (“’n Ander keer sê Ek oor ‘n nasie en ‘n koninkryk dat Ek dit sal bou en plant. Maar as hy doen wat verkeerd is in my oë deur nie te luister na my stem nie, sal Ek jammer wees oor die goeie wat Ek gedink het om aan hom te doen.” (Jer. 18: 9-10)). Dit word duidelik gestel dat ons aan God se liefde en voorskrifte moet vashou (“”Nie elkeen wat vir my sê, ‘Here, Here,’ sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar net diegene wat die wil doen van my Vader in die hemele.”” (Matt. 7: 21)). Want daar word duidelik genoem dat nie elkeen sal ingaan in die koninkryk nie.

God het die belofte van die uitvoering van Sy Plan duidelik aan sy dienaars uitgewys deur die belofte van Jesus Christus wat sou kom (“Wanneer jou tyd aangebreek het om na jou voorvaders te gaan, sal Ek jou nakomeling ná jou, een van jou eie seuns, na vore laat tree, en Ek sal sy koningskap vestig. Hy is die een wat vir My ‘n huis sal bou, en hy sal vir My ‘n seun wees. My troue liefde sal Ek nie aan hom onttrek soos wat Ek dit aan jou voorganger onttrek het nie. Ek sal hom vir altyd in my huis en koninkryk aanstel, en sy troon sal altyd bestendig wees.” (1 Kron. 17: 11-14)). Dit is wat ons redding sal wees en ook die enigste wyse om in die koninkryk van die hemele in te gaan, wanneer ons vas glo dat Jesus Christus die versinnebeelding en uitvoer van die hemeles konkryk is soos duidelik in Lukas 17 asook in Matteus herhaaldelik gestel word (“”Bekeer julle want die koninkryk van die hemele is op hande.”” (Matt. 3: 2); (“Van toe af het Jesus met sy verkondiging begin en gesê: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele is op hande.” (Matt. 4: 17)).

Dit is so ‘n vir ons as mense ‘n wonderlike konsep, in so ‘n mate dat ook die bose daarvan wil besit neem (“Maar sedert die dae van Johannes die Doper tot nou toe ly die koninkryk van die hemele onder geweld en probeer geweldenaars dit in besit neem.” (Matt. 11: 12)). In Matteus 13 vertel Jesus verskeie gelykenisse om die begrip van hoe die koninkryk van die hemele is vir die mens wat dit ontdek (bv. “Die koninkryk van die hemele is soos ‘n skat wat in die veld begrawe lê. ‘n man het dit ontdek en weer toegegooi. Uit blydskap verkoop hy alles wat hy het en koop daardie grond.” (Matt. 13: 44)). Wanneer ons dit ontdek het, sal ons alles in ons vermoë doen om daaraan vas te hou. Maar Jesus stel duidelik dat ons soos kindertjies in Hom moet glo, anders sal hierdie onvervangbare skat buite ons bereik bly (“…en gesê: Amen, Ek sê vir julle, as julle nie verander en soos kindertjies word nie, sal julle beslis nie in die koninkryk van die hemele ingaan nie.” (Matt. 18: 3)).

Mag ons elkeen so vashou aan hierdie koninkryk van die hemele, wat deur God, die Vader, die Seun, Jesus Christus en die Heilige Gees se bystand, vir elkeen van ons, ‘n moontlikheid en werklikheid geword het.