Woensdag 1 Mei: “Hy sê toe vir sy dissipels: ‘Die oes is groot, maar die arbeiders min. Bid dan die Here aan wie die oes behoort, om arbeiders uit te stuur vir sy oes.’” (Matteus 9:37-38 Afr83)
Donderdag 2 Mei: FEBA Oekraïne hou aan om die evangelie uit te saai te midde van verskriklike geweld. ‘n Missiel het onlangs ‘n gebou minder as ‘n kilometer vanaf FEBA se ateljee in Kiëf getref. Hou asseblief aan om vir Oekraïne te bid. Bid vir ‘n einde aan die oorlog en bid dat FEBA Oekraïne sterk sal bly staan in hul geloof.
Vrydag 3 Mei: Radio Nuru, FEBA Mosambiek se stasie in Cabo Delgado, is midde-in die jihadiste-konflik geleë. Ten spyte van die voortdurende bedreiging van geweld, hou die span aan om elke dag tot 17:00 uit te saai. Bid dat God FEBA Mosambiek sal bewaar en elke minuut van uitsaaityd sal seën.
Saterdag & Sondag 4-5 Mei: FEBA se uitsendings het al talle selfdoodpogings voorkom. Dié FEBA Kambodja-luisteraar het gedink sy skakel vir oulaas in op Krusa FM voordat sy ‘n oordosis sou neem. Sy vertel: “Ek het gehoor dat ander luisteraars ook soos ek teleurgesteld is en hulle het ongelooflike bemoediging ontvang… Ek het huilend gebid dat God my die krag sal gee om die lewe se uitdagings te trotseer en my sal leer om die lewe te waardeer soos Hy dit bestem het. Ek het die medisyne uit my hand laat val.” Bid dat diegene wat só ly, troos en hoop uit FEBA se uitsendings sal put.
Maandag 6 Mei: Het jy geweet? Daar is sowat 20 miljoen Moslems in Rusland en FEBA werk hard om na hulle toe uit te reik. Bid dat FEBA Rusland se pogings vrug sal dra. Bid ook vir die FEBA Rusland-span en hul luisteraars, wat in ’n harde en onderdrukkende politieke klimaat moet leef en bedien.
Dinsdag 7 Mei: “Ek was op pad om selfdood te pleeg, maar nadat ek na jul Hoop in Christus-program geluister het, het ek van plan verander. Ek het elke dag na jul stasie begin luister en nou is ek wedergebore.” (FEBA Mosambiek-luisteraar)
Woensdag 8 Mei: “Die Here is goed, Hy is ‘n toevlug in tyd van nood, Hy sorg vir dié wat by Hom skuil.” (Nahum 1:7 Afr83)
Donderdag 9 Mei: In Kazakstan het Moslemgebruike, soos die Ramadan-vas en gebede by die moskee, ‘n modegier onder jongmense geword. Tog is baie van hulle werklik op soek na die waarheid. Bid dat hulle Christus deur FEBA Kazakstan se sosiale media-uitsendings sal ontmoet en dat die ouer geslag ook hul harte vir God se Woord sal oopmaak.
Vrydag 10 Mei: Prys God vir die lewens wat deur FEBA Mali se uitsendings verander word. Baie luisteraars is Moslem en loop die gevaar om deur hul families verwerp te word as hulle Christus aanneem. Bid dat hierdie luisteraars vertroosting en krag by God sal vind en bid dat hul families ook vir Christus deur FEBA Mali se uitsendings sal ontmoet.
Saterdag & Sondag 11-12 Mei: Indië ondervind tans ‘n toename in die vervolging van Christene. Daar is onlangs ‘n wetsontwerp in Assam goedgekeur, wat dit onwettig maak om vir ‘n siek persoon te bid, terwyl Christen-skole opdrag gegee is om van Christelike simbole, soos die kruis, ontslae te raak. Anti-bekeringswette is tot dusver in 12 state in werking gestel. Dit is nou meer noodsaaklik as ooit om deur middel van media, Christus aan die mense van Indië te bring. Bid dat FEBA Indië die Goeie Nuus sal kan aanhou uitsaai en dat hul boodskap wetgewers se harte sal verander.
aandag 13 Mei: In Kirgisië kan jy jou plek in die samelewing, én jou werk, verloor as jy ‘n Christen word. Verlede jaar het video’s op sosiale media mense aangehits om Christene te vervolg. Ten spyte hiervan hou FEBA Kirgisië se bediening aan groei. Bid dat God die span en hul luisteraars sal beskerm, en dat FEBA Kirgisië se uitsendings meer luisteraars sal trek.
Dinsdag 14 Mei: “Ek het deur die radio ontdek dat Christenskap ‘n baie goeie geloof is… God weet hoe lief ek hierdie geloof het en hoe graag ek ‘n Christen wil word. My familie is egter almal Moslem en sal my haat as ek Islam afsweer ter wille van Christenskap. Bid asseblief vir my.” (FEBA Mali-luisteraar)
Woensdag 15 Mei: “Die Here is genadig en regverdig, ons God ontferm Hom oor ons. Die Here beskerm die hulpeloses: ek was magteloos, maar Hy het my gered. Ek moet nou tot rus kom, die Here het goed aan my gedoen…” (Psalm 116:5-7 Afr83)
Donderdag 16 Mei: Het jy geweet? Vandag is die VN se Internasionale Dag vir Saamleef in Vrede. Baie van FEBA se luisteraars leef in samelewings wat deur oorlog of vervolging uitmekaar geskeur is, terwyl ander deur hul families verstoot word as hulle Christene word. Bid dat God FEBA se spanne en luisteraars sal vertroos en sal help om as vredemakers te dien.
Vrydag 17 Mei: FEBA Malawi se programme word vanaf Eswatini via kortgolf na Tanzanië uitgesaai, en FEBA Mosambiek se uitsendings bereik ook die Yao Moslems daar. Pastoor Amos Phiri van FEBA Malawi het onlangs 125 luisteraarklubs in die Tunduru-distrik gevestig! Bid dat FEBA se luisteraars in Tanzanië Christus deur die radio sal ontmoet.
Saterdag & Sondag 18-19 Mei: Sommige mense deel die Goeie Nuus ten koste van hulself. ‘n FEBA Bangladesj-luisteraar vertel: “Ek het onlangs 24 mense na jul luisteraar-byeenkoms gebring en 13 van hulle het Christus aanvaar. Die ander veroorsaak egter probleme. Hulle versprei gerugte oor my. Nou sê plaaslike leiers ek kan nie meer deel wees van die gemeenskap nie.” Bangladesj is meer as 90% Moslem, met 278 onbereikte mensegroepe. Bid dat God mense se harte sal oopmaak teenoor FEBA Bangladesj se uitsendings en dat Hy luisteraars wat verstoot word weens hul geloof, sal vertroos en beskerm.\
Maandag 20 Mei: In China probeer die regering godsdiens ten volle beheer. Kerke moet die regering se toestemming kry om dienste te hou, so huiskerke is tegnies onwettig. Laas Kersfees is Christene verbied om dit openlik te vier. Bid dat FEBA China se uitsendings gelowiges sal bemoedig en nie-gelowiges sal bereik, totdat almal gehoor het.
Dinsdag 21 Mei: “Ons het in ’n klein dorpie gewoon waar iedereen ‘n Boeddhis was. In daardie stadium het niemand nog ooit van Jesus Christus en Sy reddingsplan gehoor nie. Dit het verander toe ons aan jul radioprogramme bekendgestel is. Ek het ‘n Christen geword as gevolg van jul uitsendings. Dankie dat julle my na God toe gebring het.” (FEBA Mianmar-luisteraar)
Woensdag 22 Mei: “Geseënd is julle wanneer julle beledig word ter wille van die Naam van Christus. Dit is ‘n bewys dat die Gees aan wie die heerlikheid behoort, die Gees van God, op julle bly.” (1 Petrus 4:14 Afr83)
Donderdag 23 Mei: FEBA Etniese Bedieninge vervaardig programme vir 18 etniese minderheidsgroepe reg oor Suidoos-Asië, insluitende die Khmu, die Ifugao en die Belitung. Bid dat God vir die spanne die nodige vaardighede en wysheid sal gee om inhoud te skep wat luisteraars in staat sal stel om die waarheid van God se Woord deur FEBA se uitsendings te ervaar.
Vrydag 24 Mei: Bid vir FEBA Niger. Dis nie ‘n maklike land om in te evangeliseer nie en die nuutgevormde span het ‘n moeilike taak voor hulle. Bid dat God vir FEBA Niger sal inspireer met kreatiewe idees vir program-inhoud, en moed sal gee om die Goeie Nuus met vrymoedigheid te deel.
Saterdag & Sondag 25-26 Mei: Prys God vir die geleentheid om die evangelie in Pakistan te deel. FEBA Pakistan vervaardig inhoud vir verskeie aanlynplatforms, saai uit op FM- en AM-stasies, en hou byeenkomste vir dié wat meer oor die Christelike geloof wil leer. Pakistan is sewende op die lys van lande waar Christene dit die moeilikste het. Vervolging is algemeen en gaan soms oor in dodelike geweld. Bid dat die FEBA Pakistan-span veilig sal kan bedien en dat luisteraars hul harte vir die Goeie Nuus sal oopmaak.
Maandag 27 Mei: Suid-Afrika se nasionale en provinsiale verkiesings vind Woensdag 29 Mei plaas. Bid dat die verkiesing vry en regverdig sal wees, en dat God Sy hand van vrede en bewaring oor elke stemlokaal sal hou. Bid ook dat die toekomstige leiers Sy wil en wysheid sal soek.
Dinsdag 28 Mei: “Die Way of Life Punjabi-programreeks het ’n betekenisvolle impak op die bespreking van ernstige kwessies wat gereeld ons persoonlike en gesinslewe bederf. Die Woord van God het my lewe in 2024 verander en omskep. Hou asseblief aan bid dat hierdie nuwe geloof sterk sal groei in my en my gesin.” (FEBA Pakistan-luisteraar)
Woensdag 29 Mei: “Die genade van God wat verlossing bring, het immers aan alle mense verskyn. Dit voed ons op om die goddelose leefwyse en wêreldse begeerlikhede te laat vaar en met selfbeheersing, opregtheid en godsvrug in die teenswoordige wêreld te lewe…” (Titus 2:11-12 Afr83)
Donderdag 30 Mei: Meer as 6,000 mense het aan die einde van 2023 deur FEBA Thailand se Kersprojek tot bekering gekom! Meer as 30,000 minderbevoorregte kinders het Kersgeskenke ontvang. Prys God vir Sy oorvloedige seën en bid dat elkeen van die mense wat betrokke was, kinders inkluis, God se Woord sal aanvaar.
Vrydag 31 Mei: Prys God vir die groei in FEBA Malawi se bediening. Hulle het die afgelope paar maande duisende nuwe luisteraars bygekry en honderde luisteraarklubs is gevestig. Tog staar hierdie luisteraarklubs en miljoene ander mense voedseltekorte in die gesig as gevolg van klimaatsverandering. Bid dat God ter wille van Sy kinders sal intree.