Stof tot nadenke: Besig?… Besig met wat?

Wie kan Hy tog wees dat selfs die wind en die see Hom gehoorsaam?
Mark. 4: 41

Ons is so besig in hierdie lewe. Besig om aardse skatte te versamel. Besig om te oorleef in ‘n wêreld wat nie vriendelik is, of jou noodwendig met oop arms ontvang nie. Besig om alles moontlik te doen om deur familie, vriende, kennisse en selfs onbekendes aanvaar te word. Ons is besig om te werk in die kerk en die gemeenskap. Maar die groot vraag is, is ons besig met die regte dinge?

Vandag wil ek vir Salomo gebruik as vooreeld. Salomo was van jongs af beskou as ‘n man wat in diens van God geywer het (“Salomo het sy liefde vir die Here betoon deur alles te doen wat Dawid, sy pa, hom voorgeskryf het.” (1 Kon. 3: 3); (“Here my God, U het my koning gemaak in my vader Dawid se plek, maar ek is nog jonk en onervare en ek moet regeer oor die volk wat deur U uitgekies is, ‘n groot volk, te veel om te tel. Gee my die gehoorsaamheid aan U dat ek u volk sal regeer en in alles insig sal hê, want wie kan uit homself hierdie groot volk van U regeer!” (1 Kon. 3: 7)).

God het hom gunstig beskou, omdat hy nie vir rykdom gevra het nie, maar vir wysheid (“God het aan Salomo wysheid gegee – ‘n besondere insig en begrip so omvangryk soos die sand wat langs die seestrand is.” (1 Kon. 4: 29)); tot so ‘n mate dat God hom ook die skatte van die wêreld gegee het. God het Sy belofte gehou, maar Salomo het verlei geraak deur die mooi vrouens, die rykdomme en die prag en praal wat daar onder sy heerskappy gevorm is. Hy het die Tempel in Jerusalem herstel (“Vier honderd en tagtig jaar nadat die Israeliete uit Egipte getrek het, vier jaar nadat Salomo koning van Israel geword het, het hy begin bou aan die tempel van die Here.” (1 Kon. 6: 1)), met groter prag en praal as wat mens jou kan indink (“Hy het die binneste heiligdom binne in die tempel ingerig om die verbondsark van die Here daar te sit. Die binneste heiligdom was tien meter lank, tien meter breed en tien meter hoog. Salomo het dit oortrek met geslae goud, en die altaar voor die binneste heiligdom het hy met sederhout oorgetrrek. Hy het ook die groot vertrek met geslae goud oorgetrek an die binnekant, en hy het goue kettings gespan voor die heiligdom, wat hy ook met goud oorgetrek het. Die hele vertrek, so groot soos hy was, is met goud oorgetrek en ook die hele altaar by die binneste heiligdom.” (1.Kon. 6: 19-22)). Selfs ‘n pilaargang is ter nagedagtenis na hom vernoem (“Terwyl die man aan Petrus en Johannes bly vashou, het die hele volk stomgeslaan om hulle saamgedrom in die pilaargang van Salomo.” (Hand. 3: 11)). Dit alles is ook gedoen deur mense in dwingarbeid te gebruik (“Koning Salomo het vir die hele Israel gwangarbeid ingestel en so ‘n arbeidsmag van dertig duisend man bymekaargebring. ” (1 Kon. 5: 13)), ‘n gebruik wat in ons hedendaagse lewe totaal onaanvaarbaar is; of geskied dit maar net in ‘n ander vorm?

Sy rykdomme het gegroei, en sy aardse begeertes na vroue het hom gedryf om selfs paleise vir hulle te bou; maar teen watter koste? (“Teen die tyd dat Salomo oud was, het sy vroue sy hart verlei om ander gode te volg, en was sy hart nie meer volkome by die Here sy God, soos wat die hart van sy Vader Dawid was nie.” (1 Kon. 11: 4); (“Is dit nie op dieselfde wyse wat Salomo, die koning van Israel, gesondig het nie? Onder talle nasies was daar nie ‘n koning soos hy nie. Hy was die geliefde van God, en God het hom oor die hele Israel koning gemaak. Maar selfs vir hom het die vreemde vroue tot sonde verlei. Moet ons nou ook van julle hoor dat julle al hierdie verskriklike kwaad doen, ontrou is aan ons God deur getroud te wees met vreemde vroue?” (Neh. 13: 26-27)). Vrouens met ander gelowe en bygeloof gewoontes is toegelaat in sy lewe. Afgode het sodoende in sy lewe inbeweeg. Hy het sy fokus op die Lewendige and Almagtige God verloor. Hy het gemaklik geraak in alles wat hy bereik het. Derhalwe het hy die guns van God verloor (“Die Here was toornig op Salomo, omdat sy hart afgewyk het van die Here, die God van Israel, wat twee maal aan hom verskyn het, en hom juis oor hierdie saak beveel het om nie ander gode te volg nie. Hy het egter nie nagekom wat die Here beveel het nie.” (1 Kon. 11: 9-10)).

As ons nou in die Nuwe Testament kyk na waarmee Salomo vergelyk word (“Die koningin van die Suide sal op die oordeelsdag opstaan saam met die mense van vandag en teen hulle getuig. Sy het immers van die uithoeke van die aarde af gekom om na die wysheid van Salomo te luister. En hier staan Een wat groter is as Salomo! Die mense van Nineve sal op die oordeelsdag opstaan saam met die mense van vandag en teen hulle getuig. Die mense van Nineve het hulle immers bekeer. En hier staan Een wat groter is as Jona!” (Luk. 11: 31-32)), weet ons dat daardie wysheid, prag en praal niks is in vergelyking met wat Jesus Christus vir ons beteken nie. Ons moet nie ons fokus op Hom verloor nie. Ons moet ons wegkeer van hierdie wêreld se verleidings. Ons prioriteite moet in die sterkste moontlike terme kontrasteer met die van die wêreld. Ons moet ons besig hou en leef in die besef dat ons nie in beheer is nie, maar God (“Wie van julle kan deur hom te bekommer een el by sy lewe voeg? En waarom is julle oor klere bekommerd? Let op die wilde narsings, hoe hulle groei. Hulle swoeg nie en hulle spin nie. Maar Ek sê vir julle, selfs Salomo in al sy prag was nie soos een van hulle geklee nie. As God die gras van die veld, wat vandag daar staan en môre in ‘n oond gegooi word, so klee, hoeveel te meer nie vir julle nie, kleingelowiges.” (Matt. 6: 27-30)). Ons moet God se woord verslind soos Jeremia gedoen het (“Toe u woorde gevind is , het ek hulle verslind. U woorde was vir my ‘n vreugde, ‘n genot vir my hart . U Naam is immers oor my uitgeroep, Here, God van alle magte! Ek het nie in die kring van uitbundiges gesit nie, en ek was nie uitgelate nie. Vanweë u hand het ek alleen gesit, want U het my met ‘n verontwaardiging gevul.” (Jer. 15: 16-17)). Ons moet daagliks in ootmoed leef met wat God, die Vader ons beloof het (“Julle ken die voorskrifte wat ons op gesag van die Here Jesus aan julle oorgedra het. Dit is die wil van God dat julle Heilig moet lewe. Weerhou julle van onsedelikheid. Elkeen van julle moet weet dat hy met sy vrou heilig en eerbaar moet saamlewe; julle moenie deur hartstog en begeerte gedrywe word soos die heidene wat vir God nie ken nie. Ook mag niemand hom in hierdie verband te buite gaan en sy broer bedrieg nie, want die Here straf sulke dinge. So het ons trouens al vroeëre gewaarsku; ons het julle nadruklik hierop gewys. God het ons nie geroep om onsedelik te lewe nie, want die Here straf sulke dinge. So het ons julle trouens al vroeër gewaarsku; ons het julle nadruklik hierop gewys. God het ons geroep om heilig te lewe. Wie hierdie voorskrifte verwerp, verwerp dus nie net ‘n mens nie, maar God, wat sy Heilige Gees aan julle gegee het.” (1 Tes. 4: 2-8)).

Ons moet in dankbaarheid leef vir wat Jesus Christus vir ons aan die kruis kom skenk het. Ons moet in vreugde en met lofprysing die grootheid van God beleef (“Geloof sy die Here wat aan sy volk Israel ‘n vaste woonplek gegee het soos Hy beloof het. Nie een van die goeie beloftes wat Hy deur sy dienaar Moses gemaak het, het onvervul gebly nie. Mag die Here ons God by ons wees.” (1 kon. 8: 56-57); (“Toe hulle dit hoor, het hulle God eensgesind aangeroep en gesê: “Here, U is die Een wat die hemel en die aarde en die see en alles daarin gemaak het, wat by monde van ons vader Dawid, u dienskneg, deur die Heillige Gees gesê het: “’Waarom gaan die heidennasies tekere, en bedink die volke nietige dinge? Die konings van die aarde neem stelling in, en die leiers span saam teen die Here en teen sy Gesalfde.’” (Hand 4: 24-26)) deur die leiding van die Heilige Gees (“Of besef julle nie dat julle liggaam ‘n tempel van die Heilige Gees is nie? Julle het die Heilige Gees wat in julle woon, van God ontvang, en julle behoort nie aan julleself nie: julle is gekoop, en die prys is betaal. Julle moet God dus in julle liggaam verheerlik. ” (1 Kor. 6: 19-20); (“Broers, ons weet dat God julle wat Hy liefhet, uitverkies het, want die evangelie wat ons aan julle verkondig het, het nie bloot met woorde tot julle gekom nie, maar ook met krag en deur die Heilige Gees en met volle oortuiging.” (1 Tes. 1: 4-5)).

Laat ons ons besig hou met wat tot eer van God is, op ‘n wyse wat God van ons verwag; in wat ons ookal doen en in ons daaglikse bestaan.