“God het gesê: “Die land moet groen plante laat uitspruit – gewase wat saad gee, bome wat op land vrugte dra, vrugte volgens elkeen se aard, vrugte waarin hulle saad is.”
Gen. 1: 11
Die Suid Afrikaanse Raad van Kerke het in 2007 besluit om die Seisoen van Skepping permanent deel van die kerklike kalender te maak. Dit is ‘n jaarlikse viering wat van 1 September tot 4 Oktober strek. Dit het dus so pas tot ‘n einde gekom. Daardie wonderlike seisoen, waar die nuwe lewe wat orals te siene is en deur die natuur amper uitgeskreeu word, deur die voëlgesang en nuwe blare aan bladwisselende bome. Dit was een van God se skeppingsdade en dit is so gepas om dit met dankbaarheid te vier en raak te sien. Nuwe nessies wat gebou word. Die nuwe lewe van jong voëls en klein diertjies wat oral te sien is. Dit is ‘n baie gepaste herinneringe aan God se Skepping wat elke dag vir ons ten toon gestel word net soos in die visoene van Johannes (“En ek het die hele skepping – in die hemel, op die aarde en onder die aarde, op die see, en alles wat daarin bestaan – hoor uitroep: “Aan Hom wat op die troons sit, en aan die Lam, kom toe die lof en die eer en die heerlikheid en die sterkte, vir ewig en ewig.” (Open. 5: 13)).
Ons verloor so dikwels die wonderlike en asemrowende mooi van die natuur om ons, as gevolg van die vernietigende effekte van mense se verkeerde oordele wat lei tot oorlog , woede, haat, selfsug en gierigheid wat die vernietiging van alles wat mooi is tot gevolg het (“Waar kom al die oorlë en gevegte vandaan? Kom dit nie van julle begeertes wat in julle ledemate oorlog voer nie? Julle begeer, maar julle besit niks nie; julle pleeg moord, en is vol jaloesie, en julle kan niks bereik nie. Julle veg en maak oorlog, en tog het julle niks, omdat julle nie bid nie.” (Jak. 4: 1-2); (“Woede is wreed en toorn oorweldigend, maar wie kan staande bly teen jaloesie?” (Spr. 27: 4); (“Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jy moet jou naaste liefhê,’ en ‘Jou vyand moet jy haat’. Maar Ek sê vir julle : nJulle moet julle vyande liefhê en bid vir hulle wat julle vervolg,…” (Matt: 5: 43-44); (“Want waar afguns en selfsug heers, kom wanorde en allerlei gemene dade voor.” (Jak. 3: 16); (“Toe sê Hy vir hulle: “Pas op en wees op julle hoede vir elke vorm van gierigheid, want ‘n mens se lewe word nie bepaal deur die oorvloed van sy besittings nie.” (Luk 12: 15)).
Daarom kan ons net met danksegging voor God staan omdat ons elke jaar in die lente seisoen herinner word aan watter absolute skoonheid daar in hierdie wêreld is. Ons kan stil raak voor God in verwondering oor Sy skepping wat so presies, so herhaalbaar en georden is. Dit strek van die Sterrehemel, tot by alles in en om die aarde, wat dit vir ons moontlik maak om hier te leef, op hierdie tydelike woonhuis en wonderskone skepping van God. Hy wat die skeppingsdrang gehad het om iets mooi te maak. (“Want sy onsigbare eienskappe, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, word van die skepping van die wêreld af in sy werke begryp en is sigbaar.” (Rom. 1: 20)). Hy wat dit wat Hy geskep het so lief het dat Hy alles sal doen om ons as mense te laat besef hoe geseënd ons is om ‘n kykie in hierdie wonderwêreld mee te maak.
Die Vader wat ons so lief gehad het dat Hy bereid was om selfs Sy Seun, Jesus Christus, as Verlosser te stuur. (“Die Seun is die beeld van die onsigbare God, die Eersgeborene oor die hele skepping; want deur Hom het God alles geskep: alles in die hemel en op die aarde, die sigbare en die onsigbare dinge, of dit koninklike of heerende magte, owerhede of gesagvoerders is – alles is deur Hom geskep. Hy het voor alles bestaan, en in Hom hou alles in stand.” (Kol. 1: 15-16)). Hy wat ons nooit alleen laat nie, want die Heilige Gees is hier by ons om ons te lei en te leer. Hy maak ons bewus van die mooi om ons, en help ons om deur al die pyn en leiding van hierdie wêreld te kyk en Hom raak te sien in al die wonderlike plant en diere lewe. Hy wat ons telkens laat besef dat dit Hy is wat voorsien. In alles se behoeftes, van die kleinste organismes tot by die mens. Ons kan net dankbaar wees dat God ook na ons om sien (“Maar iewers het iemand dit uitdruklik bevestig en gesê: “Wat is die mens dat U aan hom dink, of die mensekind, dat U na hom omsien?”” (Heb. 2: 6)).
Met hierdie wete kan ons saam met Paulus getuig dat niks ons sal kan skei van die Liefde van God, en die verlossing deur Jesus Christus nie (“Ek is immers daarvan oortuig dat nóg dood, nóg lewe, nóg engele, nóg magte, nóg teenswoordige, nóg toekomstige gebeure, nóg kragte, nóg hoogte, nóg diepte, nóg enigiets anders in die skepping, ons sal kan skei van die liefde van God in Christus Jesus, ons Here” (Rom. 8: 38-39)). Ons kan in ootmoed en dankbaarheid elke skeppings gawe waardeer en geniet, want dit is ons daaglikse herinnering dat ons ‘n Almagtige God aanbid!


