Stof tot nadenke: Wie is in beheer?

U het my al gesien toe ek nog ongebore was, al my lewensdae was in u boek opgeskrywe nog voordat ek gebore is. Hoe wonderlik is u gedagtes vir my, o God, hoe magtig hulle almal!
Ps. 139: 16-17

Ons is deur ons lewe gedurig bewus dat iemand in beheer is. Dit is egter so dikwels mense wat in beheer is, op hierdie aarde. Wanneer ons gebore is en ons kom in hierdie vreemde wêreld in, raak ons as klein kindertjies bewus daarvan dat ons ouers in beheer is. Wanneer ons heel klein is, is dit wonderlik om so totaal te kan vertrou op die ouers aan wie ons toe vertrou is. Almal is egter nie in hierdie kleinmens wêreld, so bevoorreg om deur liefdevolle ouers groot gemaak te word nie. En word in ontnugterende toestand groot. Wanneer ons tieners en naskoolse jongmense is, raak ons bewus van onderwysers, skoolhoofde, dosente, en werkgewers, wat in beheer is van ons lewens. Dikwels met relatief goeie gevolge, maar ook dikwels word ons teleurgestel deur die persone in beheer. Veral wanneer ons meer van hulle verwag het. Wanneer mens dink dat die mense in beheer dieselfde waardestelsel as mens het, wat na beide kante toe kan werk, goed of sleg, raak mens teleurgestel met dit waarmee jy gekonfronteer word. Selfs wêreldwye regeringsmagte kan mens so teleurstel, dat jy wonder of daar nog iemand in hierdie wêreld onder die son vertrou kan word.

In hierdie onsekerhede, kan ons as mense net vashou, soos die Psalmdigter, aan die wete dat God altyd in beheer is van elkeen van ons se lewe. Hy ken ons van voor ons geboorte af. Hy het ‘n plan met elkeen van ons, in Sy groot raadsplan. In die boek “In Jesus se Voetspore” wat deur Bruce Marchiano geskryf is oor sy ervarings, lank voor en tyens die verfilimg van die film ‘The Gospel according to Matthew’. Hy is as jong student een middagete ingelig deur ‘n dosent, ‘n gelowige Christen, “Bruce, God het iets groots vir jou lewe beplan. Ek weet nie wat dit is nie, maar dis baie, baie groot”. Hy was verstom hieroor, want die man het hom glad nie geken nie. Jare later in sy lewe en tydens ‘n laagtepunt in sy akteurs bestaan, besluit hy telkens om nie gehoor te gee aan die roepstem van God nie. Hy het geweet wat God van hom verwag, maar wou net soos Jona, nie luister nie. Hy is op wonderbaarlike wyse, uiteindelik nie regtig die keuse gegee om te weier nie. Hierdie ervaring het hom aanleiding gegee tot sy hoofrol in bogenoemde film waar hy die rol van Jesus moes vertolk. Die regiseur, wat biddend gesoek het na ‘n Christen akteur om die rol te vertolk, het baie gou besef dat Bruce oor sy pad gebring is in antwoord op gebede. In sy boek noem hy onomwonde dat die belofte van Ps. 139: 16 nie net op hom van toepassing is nie, maar op elkeen van ons wat deur die loop van ons lewens besef, dat God alleen in beheer is.

Van ons begin tot ons einde. Hy berei ons voor vir die pad wat elkeen van ons, in ons uniekheid, van voor ons geboorte, moet stap. Hy hou sy hand oral om ons, of dit nou goed of minder goed gaan. Hy is lief vir elkeen van ons en ons moet besef dat niks ons kan skei van die liefde van Christus nie, soos Paulus dit so mooi stel (“Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefhet. Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.” (Rom. 8: 37-39); (“Mag julle in staat wees om saam met al die gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek. Mag julle sy liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan, en mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God.” (Eff. 3: 18-19)).