“Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees!”
Rom. 15: 13
‘n Vraag “Is ons te bang om na die stem van die Heilige Gees te luister?”, het my laat wonder hoekom ons dan bang sal wees? Kan ons bekostig om nie na die stem van die Heilige Gees te luister nie? (“Die Heilige Gees is die waarborg dat ons ook verder sal ontvang wat God belowe het, wanneer Hy almal wat aan Hom behoort, volkome sal verlos. Daarom moet ons sy grootheid prys.” (Eff. 1: 14)). Die stem van die Heilige Gees is die enigste wat ware vreugde kan gee en ook ‘n vrede (Rom. 15: 13) wat alle verstand te bowe gaan (“Mag julle sy liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan, en mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God. ” (Eff. 3: 19); (“En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus. ” (Fil. 4:7)). Die bang moet dus
kom van die moontlike uitruk uit ‘n gemak sone waarin ons leef; en wat ons laat dink dat ons op ‘n goeie plek is. Die hier en nou. Die dink dat ons dalk meer van onsself sal moet gee as wat ons bereid is om te doen. Een van die sprekers by die getuienisnaweek het dit so goed gestel: “Al wat ons hemel toe kan vat is siele, ons het een lewe om te lewe, ons kan dit nie op onsself mors nie!”, dat dit ons in ons gemakstoele tot stilstand moet bring. Was dit God se bedoeling dat ons net vir onsself moet leef? Is dit waarvoor Jesus Christus vir ons aan die kruis kom sterf het? (“Maar toe het die goedheid van God ons Verlosser en sy liefde vir die mens verskyn. Hy het ons verlos, nie op grond van iets wat ons vir ons vryspraak gedoen het nie, maar op grond van sy eie ontferming. Dit het Hy gedoen deur die wedergeboorte wat die sonde afwas, en deur die Heilige Gees wat nuwe lewe gee. God het die Heillige Gees oorvloedig op ons uitgestort deur Jesus Christus ons Verlosser. So is ons dan deur sy genade vrygespreek en het ons erfgename geword van die ewige lewe wat ons verwag. Dit is ‘n betroubare woord. Daarom wil ek hê dat jy van hierdie dinge met groot nadruk moet getuig, sodat dié wat tot geloof in God gekom het, hulle op goeie werk kan toelê, werk wat goed en nuttig is vir die mense. Maar jy moet jou nie inlaat met dwase strydvrae en geslagregisters en met twis en stryery oor die wet van Moses nie, want dit is nutteloos en sinloos.” (Tit. 3: 4-9))
Ons is nie almal sendelinge wat kan uitgaan na vreemde lande nie, maar ons kan hier en nou die liefde van Jesus Christus begin uitleef, sodat die mense waarmee ons in aanraking kom, kan weet dat ons nakomelinge en volgelinge van Jesus Christus is. Ons sal ook begin besef dat dit soveel vreugde en vrede in die gemoed gee, wanneer ons bereid is om van onsself of ons goed te gee, sonder om enigiets terug te verwag. Ons moet ook ons kinders leer om te gee, nie om iets terug te verwag nie, maar uitsluitlik as gevolg van hierdie genoegdoening of plesier wat ons daaruit kan kry. Dit is nie noodwendig ‘n selfsugtige aksie nie, maar om die vreugde en dankbaarheid van ontvangs te ervaar, is ‘n onvervangbare vreugde wat mens diep in die hart raak. Sodat ons in vrede en vreugde kan leef, omdat Jesus Christus vir ons ‘n Genadegawe gegee het, wat so groot is dat ons dit nie altyd begryp nie; en sodat ons in vreugde kan leef wat van die Heilige Gees kom (“Broers, ons weet dat God julle wat Hy liefhet, uitverkies het, want die evangelie wat ons aan julle verkondig het, het nie bloot met woorde tot julle gekom nie, maar ook met krag en deur die Heilige Gees en met volle oortuiging. En julle het ons voorbeeld gevolg en volgelinge van die Here geword. In baie moeilike omstandighede het julle die woord aangeneem met ‘n blydskap wat van die Heilige Gees kom.” (1 Tess. 1: 4-6)).
Laat ons nie die Heilige Gees bedroef nie, want Hy het ons verseël as eiendom van God (“En moenie die Heilige Gees van God bedroef nie, want Hy het julle as die eiendom van God beseël met die oog op die verlossingsdag. Moet nooit verbitter of opvlieënd wees of woedend word nie; moenie vloek of skel nie; moet niks doen wat sleg is nie. Wees goedgesinf en hartlik teenoor mekaar, en vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het.” (Eff. 4: 30-32)). Paulus wys ons ook daarop hoe om te lewe, vir ons is dit nie altyd maklik met ons verskillende persoonlikhede en agtergronde nie, maar dit is doenbaar deur die leiding van die Heillige Gees (“Wees altyd bly. Bid gedurig. Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag. Moenie die werking van die Heilige Gees teenstaan nie. Moenie profesieë gereingskat nie, maar toets dit alles, behou wat goed is, en bly weg van alles wat sleg is.” (1 Tess. 5: 16-22); (“Ons het onberispelik opgetree, met begrip, met verdraagsaamheid. Dit alles het ons gedoen deur die Heillige Gees, deur opregte liefde, deur die woord van die waarheid en deur die krag van God. Ons wapen vir aanval en verdediging is om die wil van God te doen.” (2 Kor. 6: 6-7)).
Laat daar van ons gesê word dat ons nie hardkoppig is nie, maar dat ons die wil van God doen (“Daarom word daar gesê: “Vandag as julle sy stem hoor, moet julle nie hardkoppig wees nie, soos julle voorvaders toe hulle in opstand gekom het nie.”” (Heb. 3: 15)). Laat ons toelaat dat dit wat ons weet is die waarheid, en wat ons van die begin af gehoor het, binne-in ons bly (“Wat julle betref, wat julle van die begin af gehoor het, moet in julle bly. As wat julle van die begin af gehoor het in julle bly, sal julle ook in die Seun en in die Vader bly. En dit is wat die Seun ons belowe het: die ewige lewe. Dit het ek aan julle geskrywe oor die mense wat vir julle wil mislei. Wat júlle egter betref, die Gees waarmee Hy julle gesalf het, bly in julle, en julle het niemand anders nodig om julle te leer nie. Sy Gees leer julle alles, en wat Hy julle leer, is die waarheid en geen leuen nie. Ja, soos Hy julle geleer het, moet julle in die Seun bly.” (1 Joh. 2: 24-27)). Ons moet nie onsself sus dat daar nie gevolge sal wees as ons die waarheid aanvaar het, en dan afvallig geword het nie (“Wanneer mense een keer deur die Gees verlig is, die hemelse gawe ontvang en deel gekry het aan die Heillige Gees, die goeie woord van God leer ken het en die kragte van die toekomstige wêreld ondervind het en dan nogtans afvallig geword het, is dit onmoontlik om hulle weer tot bekering te bring. In hulleself kruisig hulle immers weer die Seun van God en maak hulle Hom in die openbaar tot ‘n bespotting. Dit is soos met grond wat die reën indrink wat dikwels daarop val. As dit bruikbare gewasse voortbring vir dié wat dit bewerk, word dit deur God geseën. Maar as dit doringstruike en dissels oplewer, is dit waardeloos.” (Heb. 6: 4-8)).
Laat ons in oorgawe na die leiding van die Heilige Gees gaan lewe, en die vreugde en vrede van God se genade sal ons metgesel wees.


