Liewe vriende en familie
Baie dankie dat julle ons in hierdie tyd in gebed bystaan.
Dankie vir elkeen wat gee en elkeen wat ons ondersteun.
Dankie vir elke boodskap van bemoediging en elke skrif.
Dit is tye soos die wat die Here met jou praat selfs deur ‘n plakker agter op iemand se motor.
Soms is jy so gebroke en voel dit asof jy leeg getap is, asof jy met jou hart in jou arms rondloop en dat jy so kwesbaar is.
Jy voel so weerloos en stukkend en asof enige iets jou kan seermaak. Selfs die wind daar buite. Dit voel asof jy geen krag het om in die oggend op te staan nie. Alles in jou is al uitgehuil. Die dokter se eerste woorde. “Sy het net ‘n paar maande oor.” Of, ons hou haar nou net aan die lewe. Dan voel ek soos Job.
Here hoeveel nog? Ek dwaal rond om die tyd verby te kry tot die volgende besoektyd. Ek wil huil en alleen wees en soek ‘n plekkie weg van die mense wat verby my loop. Ek lees agter op ‘n publieke toilet se deur, op ‘n afgetrek ou plakker met verweerde swart koukie merke….Trust in God…
Selfs daar vind ek hoop en praat die Here met my.
Die Here is naby! Hy PRAAT met my deur die kleinste dingetjie, die dooie voeltjie by my voordeur laat my huil. Die Here se vir my: Ek weet van elke voëltjie wat val en jy is baie meer werd as baie voeltjies!
Ek dink aan al die goed wat ek en Mari-Alena nog wou saam doen en die seer in my is ondraaglik. Die dokter het vir my haar CT gewys en hoe ver die kanker gevorder het. Ek was stukkend en my geloof was baie min. Dit het gevoel asof ek haar reeds verloor het. Op my laagste, daar het die Here my kom optel en vir my gese, Vertrou MY!
Sy sal nie deur dit alles gaan as dit nie vir MY glorie is nie en as Ek nie daardeur verheerlik word nie. Ek sal jou NOOIT begewe of verlaat nie. Om te glo is om seker te wees van die dinge wat ons nie sien nie.
Verlede week het ek haar hare in die hospitaal gewas en uitgekam. Ek steek die bos hare weg wat ek uit die borsel trek. Sy vra my om dit vir haar te wys. Sy begin huil en ek hou haar vas. Mamma, ek kan nie meer nie, ek wil uit hierdie kamer uitkom!! Ek huil saam met haar en probeer haar moed inpraat, skrif gee, maar my hart breek in ‘n duisend stukkies in my. Haar arms is vol bloukolle van naaldsteke. Sy is so maer en haar ribbes en ruggraat staan uit. Net vel en been. Ek help haar bad en was haar saggies draai haar in ‘n handdoek toe, soos toe sy klein was en gee haar ‘n drukkie. Sy loop vooroor met ondersteuning.
Almal bid vir haar. Ek salf haar elke dag en spreek lewe.
Sy het haar volgende Chemo gekry terwyl sy so swak was. Die gewas in haar maag het weer vergroot en die uitgang verstop. Sy kon niks eet nie. Na die chemo was haar witbloed telling op 0.00
Die volgende dag was dit 0.03, die dag daarna 0.06
Die volgende dag was dit 0.16
Dit was twee dae voor Kersfees en die dokter het gesê dat sy nie sal kan huistoe kom indien dit nie 1.00 is nie.
Op Oukersaand het ons Kersfees na Mari-Alena toe geneem. Benjamin het met ‘n Kersboom in die hospitaal ingeloop, kompleet met ‘n rooi hoed. Ons het vrolike Kersmusiek gespeel en saam gebid en ‘n ware Christus-fees sommer daar in haar kamer gehou. Ons het vir mekaar geskenke gegee en Mari-Alena het dit so baie geniet. Sommer ook vir elkeen van die verpleegsters ‘n geskenkie gegee.
Daar was nie ‘n manier dat Mari-Alena se witbloedstelling bo 1.00 sal kan wees nie.
Kersoggend het Mari-Alena vrede daarmee gemaak dat sy nie by die huis sal kan wees nie.
Sy het vir die Here dankie gesê dat Hy na hierdie aarde toe gekom het, gebore is en dood gegaan het, omdat Hy so lief is vir ons. Later die oggend het die vrouedokter vir haar kom vra of sy graag sal wil huistoe gaan. Die dokter het vir haar gesê dat haar witboedtelling “Miraculously” opgetel het en 1.3 is!!
Ons het omtrent hospitaal toe gejaag en vir Mari-Alena gaan haal. Daarna is ons na my swaer en skoonsuster toe, Ockert se broer Cor en sy vrou Frances het kom kuier uit Kanada en ‘n heerlike Kersfees-ete voorberei. Vier van my vyf kinders was Kersdag by my. Dit was so groot wonderwerk! Die volgende dag het ons sommer strand toe gery en almal was vroeg oggend in die water om te swem. Mari-Alena, nog baie swak het die water so geniet! Haar boeties en Janneman haar vriend het haar ondersteun en ons het die dag saam geniet. Die Here is so getrou!! Gisteraand het ons haar terug geneem na haar hospitaal kamer en vanmore het sy weer begin met vier dae van chemo. Haar hare val in bosse uit, maar dit pla haar nie meer nie.
Ons vaar Kaapstad se strate in opsoek na ‘n pruik.
In Suid Oekraïne gaan dit goed. Die leiers het ‘n pragtige Kersdiens gehou en die kinders het gesing. Daar is vir elke kindjie ‘n geskenk gegee en daar was tonele, danse en baie vreugde!
Alles gaan aan. Elke bediening en die leiers bring elkeen sy deel.
Die kleuterskool doen goed en daar is nuwe kindertjies.
Ons is dankbaar!
Die Here is so goed en getrou! Hy hou ons vas, dra ons en sal ons nooit begewe of verlaat nie! Nooit nie!
Ons weet nog nie wat die mediese onkostes gaan wees nie, maar ons vertrou die Here vir elke dag. Dankie dat julle aanhou bid. Elke gebed dra krag en ek weet dat Mari-Alena reeds gesond is! Deur die wonde van Jesus is sy reeds genees! Ons dien ‘n God van wonderwerke.
Baie liefde en seën
Michele Potgieter
Suid Oekraïne
Stellenbosch
*Account Name:* Marialena Behandeling en Nasorg
*Account Number:* 2333274073
*Bank:* Capitec (Savings)
https://www.facebook.com/share/KaKbQoZMYNKG8HRy/?mibextid=LQQJ4d