“As iemand dink dat hy godsdienstig is en nie sy tong kan beheer nie, mislei hy homself; so ‘n mens se godsdiens is vergeefs.”
Jak. 1: 26
In my verlede was die motto “If you can’t say something nice, don’t say it” (uit die hand vertaal in Afrikaans: “As jy nie iets mooi kan sê nie, bly stil”) in my ingedril. Groot was my verstomming toe ek, wat in ‘n baie beskutte, dog streng ouerhuis groot geword het, die eerste keer met iemand te doen kry wat presies die teenoorgestelde uitgeleef het. ‘n Mens wat juis praat wanneer die woorde soos ‘n lem deur ‘n ander kan sny. Wanneer sulke nydige of kwetsende woorde mens tref, word jy woordeloos gelaat. Daar is nie antwoorde reg, wanneer mens so beskermend grootgeword het nie. Miskien ook maar goed, want wanneer ons die Bybel deursoek na raad teen hierdie soort van aanvalle op jou lewensbestaan, besef mens dat dit ook die beskermende hand van God se Heillige Gees is wat jou beskerm en bewaar om aan die tong vrye teuels te gee
(“Die tong is ook ‘n vuur, ‘n wêreld van ongeregtigheid. Die tong is deel van ons ledemate, maar besoedel die hele liggaam. Dit steek die hele lewensloop aan die brand, en word uit Gehanna (soms vertaal as hel) aangesteek. Want elke soort wilde dieren voël, en kruipende dier en seedier, word en is getem deur die mensdom. Maar geen mens kan die tong tem nie; dit is ‘n onbestendige kwaad, vol dodelike gif. Daarmee loof ons die Here en Vader, en daarmee vervloek ons mense wat na die beeld van God geskep is. Uit dieselfde mond kom seën en vervloeking. Dit, my broers, behoort nie so te wees nie. ‘n Fontein laat tog uit dieselfde oog vars en bitter water uitborrel nie? ‘n Vyeboom, my broers, kan tog nie olywe dra, of ‘n druiwestok vye nie? ‘n Brak fontein kan ook nie soet water gee nie.” (Jak. 3: 6-12); (“Wie ‘n vals hart het, vind nie die goeie nie, en wie bedrieglik met sy tong is, beland in die moeilikheid.” (Spr. 17: 20)).
Jakobus gee ons goeie raad (“Let op, my geliefde broers, elke mens moet flink wees om te luister, stadig om te praat, stadig om kwaad te word. Want die woede van ‘n mens bewerk nie geregtigheid voor God nie.” (Jak. 1: 19-20)). Ook Salomo se wysheid wys op die krag van ‘n tong wat nie luiddrugtig gebuik word nie (“Met geduld word ‘n aanvoerder oorreed, en ‘n sagte tong breek gebeentes.” (Spr. 25: 15)). Maar ons mense het ‘n ewige stryd teen hierdie ledemaat wat ons so sukkel om te beheer (“Waarom spog jy oor ‘n bose daad, krygsheld? God se troue liefde is die hele dag daar. Jou tong beplan vernietiging, soos ‘n skeerp mes skeermes, jy wat bedrog pleeg. Jy hou meer van die slegte as die goeie, van leuens meer as om te sê wat reg is. Jy hou van allerhande lasterlike woorde, van ‘n tong wat bedrieg.” (Ps. 52: 3-6): (“Here, bevry my lewe, van lippe wat lieg, van ‘n tong wat bedrieg. Wat moet Hy jou gee, en wat moet Hy vir jou byvoeg, bedrieglike tong?” (Ps. 120: 2-3)). Die verwysing na mense wat goed kan praat, “They have the gift of the gab”, is dalk nie noodwendig so ‘n groot gawe, soos wat mense, wat nie so maklik die regte woorde kry nie, gedink het nie. Dit kan ook ‘n vloek raak vir ‘n mens (“Want met die oordeel waarmee julle oordeel, sal julle geoordeel word, en met die maat waarmee julle meet, sal vir julle afgemeet word.” (Matt. 7: 2); (“Ek sê vir julle, van elke onbesonne woord wat mense kwytraak, sal hulle op die dag van oordeel rekenskap moet gee.” (Matt. 12: 36)).
Ook in Openbaring word ons telke male gemaan om te luister wanneer die Heilige Gees met ons praat (“Laat die wat ore het, luister na wat die Gees aan die gemeentes sê” (Open. 2: 7; Open. 2: 11; Open. 2: 17); Open.2: 29; Open. 3: 6; Open. 3:13; Open. 3: 22 ); (“As iemand ore het laat hy luister:” (Open. 13: 9)). Dit is dus baie duidelik dat ons moet luister na die Woord van God en veral na die woorde van die Heilge Gees. Na hierdie Getuienisnaweek, waar ons na mense, wat ongetwyfeld met die Heilige Gees begeester is (“Petrus en Johannes het hulle egter geantwoord en gesê: “Of dit reg is voor God om eerder na julle te luister as na God, moet julle self oordeel; want ons kan nie swyg oor wat ons gesien en gehoor het nie.” (Hand. 4: 19-20); (“‘Is u dan tog ‘n koning?” het Pilatus gevra. Jesus antwoord hom: “U sê dat Ek ‘n koning is. Hiervoor is Ek gebore en hiervoor het Ek na die wêreld gekom: om oor die Waarheid te getuig. Elkeen wie se bestaan in die waarheid gegrond is, luister na my stem. ” (Joh. 18: 37)) geluister het, is dit ook duidelik waar ons die krag sal ontvang om ons tonge onder beheer te kry. Dit is nie in ons om die beheer van die tong oor te neem nie. Dit is alleenlik onder beheer van die Heilige Gees se leiding en totale beheer van ons lewe, wat ons tonge in ‘n positiewe rigting gedryf word, sodat ons onder beheer van die Gees, en deur die Liefde van God, gedryf word, om nie anders te kan, as om God se Jesus Evangelie na die wêreld om ons, naby en ver, te bring (“En Hy het vir hulle gesê: “ ‘n Lamp word tog nie gebring om onder ‘n maatemmer of bed gesit te word nie? Is dit nie bedoel om op ‘n lampstaander geplaas te word nie. Laat dié wat ore het om te hoor, luister!” (Mark. 4: 21-23)). Laat ons luister na die Heilige Gees se leiding en roepstem. Daar is wel tyd om daaroor te besin, want God laat die keuse aan jou oor om te luister na jou roeping in hierdie wêreld. Maar as jy jou keuse vir Christus gemaak het, moet jy begin reageer op daardie roepstem. Volg hierdie Woord van Waarheid en weet dat jy God volkome kan vertrou. Laat ons, ons woelige tonge aan die beheer van die Heilige Gees oorgee (“Immers , wie die lewe wil liefhê, en goeie dae wil beleef – laat hy sy tong weerhou van wat sleg is, en sy lipp daarvan om bedrog te spreek, en laat hy afwyk van die kwaad, en die goeie doen, laat hy vrede soek en dit najaag; want die oë van die Here is op die regverdiges, en sy ore is oop vir hulle gebedsversoeke, maar die aangesig van die Here is teen dié wat verkeerde dinge doen.” (1 Pet. 3: 10-12)). Laat ons ook soos Job kan getuig, dat ons in die weë van die Here bly glo en dit nagevolg het, want nêrens anders is daar so ‘n Waarheid vasgevang in een Boek, nl. Die Bybel, nie (“…ja, solank as wat my asem nog in my is, die lewensasem wat God gee, nog in my neus is – my lippe sal geen onreg spreek nie, en my tong geen bedrag kwytraak nie. Ek sal julle nooit gelyk gee nie! Totdat ek te sterwe kom, sal ek nie van my onberispelike optrede afsien nie. Aan my onskuld hou ek vas, ek sal dit nie los nie; my gewete pla my nie oor enige van my lewensdae nie.” (Job 27: 3-6)).
Laat ons wanneer ons praat, elke woord wat by ons mond uitkom, asook ons doen, tot eer en verheerliking van God die Vader, die Seun en die Heilige Gees wees. Of ons hier naby, of in verafgeleë lande leef, woon of werk; laat ons ‘n lig wees vir ander mense, sodat hulle Jesus Christus se liefde in ons kan sien. Dit is vir ons moontlik, maar alleen uit genade en onder beheer van die Een wat die Hemel, die aarde, en alles daarin en daarop, geskape het (“Wanneer hulle julle gevange neem en julle oorlewer, moet julle julle nie vooraf bekommer oor wat julle moet sê nie, maar wat ookal op die oomblik aan julle gegee word, dit moet julle sê; want dit is nie julle wat praat nie, maar die Heillige Gees.” (Mar. 13: 11)). Laat ons goed luister, dit bedink en doen op aandrang, voordat ons ons tonge vrye teuels gee…laat ons wag op die woorde wat die Heilige Gees vir ons gee.


