“Niemand kan in ‘n geheime plek wegkruip sonder dat Ek hom sien nie, sê die Here. Ek is oral in die hemel en op die aarde, sê die Here. ”
Jer. 23: 24
So dikwels in die Bybel lees ons van mense en volke wat wegvlug, soos bv. in die verhaal van Lot uit Sodom en Gomorra (“Nadat hulle vir Lot-hulle buite die stad gebring het, sê een van die mans vir hom: “Vlug vir jou lewe! Moenie omkyk nie! Moenie êrens in die vlakte vertoef nie, vlug berge toe, anders word jy omgebring.” (Gen. 19: 17)), of Moses wat gevlug het uit Egipteland as gevolg van ‘n moord wat hy gepleeg het (“Toe dit by die farao uitkom wou hy vir Moses doodmaak, maar Moses het van hom af weggevlug en in Midian gaan woon.” (Eks. 2: 15)). Van mense kan daar weggevlug word, soos dit duidelik uit die verhale van Jakob en Dawid blyk. Jakob wat gevlug het na sy bedrog teen sy broer (Gen. 27 en 28), en Dawid wat moes vlug vir sy lewe (“Maar sy vrou Mikal het hom gewaarsku: “As jy nie vannag vlug nie, word jy môre doodgemaak.” (1 Sam. 19: 11); (“Daarna het Dawid in die woestyn in bergskuilings gaan woon. Hy het in die berge in die Sifwoestyn gewoon. Saul het hom die hele tyd gesoek, maar God het hom nie in Saul se mag oorgegee nie. Toe Dawid besef dat Saul steeds daarop uit is om hom dood te maak, is hy na Goresa toe in die Sifwoestyn.” (1 Sam. 23: 14-15)).
In ons hedendaagse lewe is dit nie meer so maklik om weg te hardloop nie, te vlug of weg te kruip nie. Die ontwikkeling van nasporings tegnologie in die vorm van kameras, sateliet toestelle, waarvan onder andere selfone en slimfone met hul sosiale media; oefen apparate wat hartklop, ens. meet, motors met nasporings toestelle as gevolg van diefstalle, maak dit bykans onmoontlik om jou posisie geheim te hou of te kan wegkruip. Almal van ons gebruik Google of ander toepassings op ons fone en rekenaars. Die gebruik van kunsmatige intelligensie kan selfs jou stem of jou gesig opspoor. Die kunsmatige intelligensie word selfs geraadpleeg om besluite te neem! Dit laat mens wonder of ons nie in die vorm van hierdie ‘wonderlike tegnologie’, tred verloor met die feit dat dit deur mense ontwikkel is nie? Die kunsmatige intelligensie doen menige iterasies (herhalende berekeninge deur beskikbaar e data) deur gebruik te maak van die internet, wat beide met waarheid en met leuens gevul word. Die leer van die blikbrein is dus nie noodwendig gebaseer op 100% waarheid nie. Ook in die die proses word woorde omgeskakel na getalle, wat dan kan veroorsaak dat die finale antwoord nie noodwendig 100% akkuraat is nie. Dit het die bekommernis laat ontstaan dat ons as mense heel moontlik weer aan ‘n toring van babel bou (“Die Here het hulle daarvandaan oor die hele aarde versprei, en hulle het opgehou om die stad. Daarom is die Babel genoem, want daar het die Here die taal van die hele aarde verwar. Daarvandaan het die Here hulle oor die hele aarde versprei.” (Gen. 11: 8-9)), of ‘n afgod laat skep het deur mense (“Hy het dit van hulle ontvang, dit verwerk en daarna in die vorm van ‘n bulkalf gemaak. Toe sê die volk: “Hier is jou God wat jou uit Egipte bevry het, Israel!”” (Eks. 32: 4); (“Samaria, jou goue kalf is afstootlik! My toorn het losgebreek teen Samaria. Hoe lank sal hulle voortghaan om onrein te bly, as hulle dan deel is van Israel? En daardie ding, dit is deur ‘n ambagsman gemaak, dit is nie ‘n god nie! Van die kalf van Samaria sal daar net splinters oorbly.” (Hos. 8: 5-6)), omdat ons nie altyd voel asof God naby is om hierdie aardse lewe te beheer nie (“”As jy ooit die Here jou God vergeet en ander gode aanhang en hulle dien en vereer, verklaar ek vandag dat jy beslis tot niet sal gaan. Omdat jy dan nie gehoorsaam is aan die woord van die Here jou God nie, sal jy net so omkom soos die nasies vir wie die Here laat omkom het.”” (Deut. 8: 19-20)). Mag ons die perspektief behou!
Ons as volgelinge van Christus moet weet dat God ons altyd onder oë het. Dat ons nooit van hom kan wegvlug nie, soos die verhaal van Jona maar te duidelik aan ons uitwys (“Maar Jona het klaargemaak om na Tarsis toe te vlug, weg van die Here af. Jona is af Joppe toe, en daar het hy ‘n skip gekry wat op vertrek was Tarsis toe. Hy het vir die reis betaal en aan boord gegaan om saam met die bemanning Tarsis toe te gaan, weg van die Here af. Maar die Here het ‘n kwaai storm oor die see laat opkom. Daar was ‘n baie sterk wind op die see, en die skip wou uitmekaar breek.” (Jona 1: 3-4)). Ons moet tog besef dat ons nie van God die Vader, die Seun en die Heilige Gees kan wegvlug nie, soos die Psalmdigter dit so goed stel (“Waarheen sou ek gaan om u Gees te ontvlug? Waarheen sou ek vlug om aan u teenwoordigheid te ontkom? Klim ek op na die hemel, is U daar, gaan lê ek in die doderyk, is U ook daar. Vlieg ek na die ooste, of gaan woon ek in die verre weste, ook daar lei u hand my, hou u regterhand my vas. Ek sou die duisternis kon vra om my weg te steek, of die lig rondom my om in nag te verander, maar vir U is selfs die duisternis nie donker nie en die nag so lig soos die dag, duisternis so goed soos lig.” (Ps. 139: 7-12)).
Ons hoef ook nie bekommerd te wees, selfs in moeilike omstandighede nie, want God is altyd in beheer, soos ook duidelik uit die verhaal van Dawid wat gevlug het vir sy lewe. Daar het God uitkoms gegee deur ‘n aanval van die Filistyne om die land te verower (“Saul het aan die een kant van die berg langs gegaan, en Dawid en sy manne net aan die ander kant. En toe Dawid bang voor Saul wegvlug, terwyl Saul en sy manskappe al vir Dawid en sy manne begin omsingel om hulle te vang, kom daar ‘n boodskapper by Saul en sê: “Maak gou en kom, want die Filistyne het die land ingeval. Saul het opgehouiom Dawid te agtervolg en het die Filistyne tegemoet gegaan. Daarom noem hulle die plek Skeidingsrant.” (1 Sam. 23: 26-28)).
Ons moet weet dat God ons so lief het dat Hy nie sy Seun gespaar het nie, maar reeds lank voor die tyd vir ons beloof het dat Hy vir Jesus Christus sou stuur (“So sê die Here my God: Ek gaan in Sion ‘n klip neersit, ‘n uitgesoekte klip, ‘n hoekklip wat fondament aan fondament sal sluit. Wie op My vertrou, hoef nie te vlug nie. Ek maak geregtigheid die maatstaf, regverdigheid die toets.” (Jes. 28: 16-17)). Ons kan dus voluit leef vir Hom en hardloop soos mense wat nie onseker is oor waarheen ons oppad is nie (“Ek hardloop dan ook soos een wat nie van sy doel onseker is nie; ek slaan soos ‘n bokser wat nie in die lug slaan nie. Maar ek oefen my liggaam en bring dit onder beheer, sodat ek nie ander tot die stryd oproep en nie self kwalifiseer nie.” (1 Kor. 9: 26-27)).


