Stof tot nadenke: Hoe deursigtig is ons?

Ten slotte: Wees almal eensgesind, meelewend, vol broederliefde, vol ontferming, nederig, mense wat nie kwaad met kwaad vergeld of skeldtaal met skeldtaal nie; maar inteendeel, wees mense wat seën, omdat julle daartoe geroep is, sodat julle seën as erfdeel kan verkry.
1 Pet. 3: 8-9

Wat verstaan ons onder deursigtigheid? Is dit iemand wat nie raakgesien word nie, omdat hy te gering is om as belangrik geag te word? Is dit die nastreef na eerlikheid en opregtheid, deur te streef om nie dinge agter ‘n ander se rug te doen of te bespreek nie? Wat een mens as vernuftige beplanning beskou, kan dalk deur ‘n ander as ‘n gekonkel agter die rug van ander beskou word, omdat daar geen deursigtigheid ter sprake is nie? Ons word so menigmaal gemaan om eensgesind te wees, maar hoe bereik ons dit as daar ‘n gebrek aan deursigtigheid is? (“Wees eensgesind onder mekaar; moenie hoogmoedig wees nie, maar skaar julle by die nederiges.” (Rom. 12: 16); (“Immers, wie die lewe wil liefhê, en goeie dae wil beleef – laat hy sy tong weerhou van wat sleg is, en sy lippe daarvan om bedrog te spreek, en laat hy afwyk van die kwaad, en die goeie dinge doen, laat hy vrede soek en dit najaag; want die oë van die Here is op die regverdiges, en sy ore is oop vir hulle gebedsversoeke, maar die aangesig van die Here is teen dié wat verkeerde dinge doen.” (1 Pet. 3: 10-12)).

Die eensgesindheid waarna in die Bybel verwys word, is toegespits op ons geloof in die Drie-enige God, Die, vader, Seun en Heilige Gees. Dit is die een ding wat ons bymekaar moet hou, ter wille van eenparigheid en vertoue binne die geloofsgemeenskap (“En mag die God wat volharding en bemoediging bewerk, gee dat julle onder mekaar eensgesind sal wees, ooreenkomstig die wil van Christus Jesus, sodat julle eenparig, ja, uit een mond, aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, die lof sal bring.” (Rom. 15: 5-6); (“Ek pleit by julle broers, in die Naam van ons Here Jesus Christus, dat julle almal eenstemmig sal wees, en dat daar nie verdeeldheid onder julle sal wees nie, maar dat julle volkome eensgesind mag wees, met dieselfde denkwyse en dieselfde oortuiging.” (1 Kor. 1: 10)).

Die skep van vertroue binne die geloofsgemeenskap word egter dikwels gebaseer op ons ervaring van medegelowiges. Hoe bou ons aan daardie vertrouensverhouding, wat so noodsaaklik is ter will van die uitbreiding en uitleef van die evangelie? (“Ten slotte, broers, wees altyd bly, streef na vervolmaking, aanvaar vermaning, wees eensgesind, leef in vrede – en die God van liefde en vrede sal met julle wees.” (2 Kor. 13: 11)). Dit is slegs moontlik indien die geloofsverhouding tussen medegelowiges op die waarheid gebaseer is soos Salomo so goed weergee (“Wat reg is, kenmerk al die woorde uit my mond, niks daarin is geslepe of verdraai nie;…” (Spr. 8: 8); (“Verkry waarheid, en moet dit nie verkwansel nie, ook wysheid, vermaning en insig.” (Spr. 23: 23)).

Indien ons nie hierdie soeke na waarheid en opregtheid deel van ons alledaagse bestaan maak nie, kan ons nie eensgesindheid in die alledaagse bereik nie. (“So is regverdigheid teruggedwing, en bly geregtigheid ver weg staan. Ja, op die dorpsplein struikel die waarheid, en openhartigheid kan nie daar kom nie. So gebeur dit dat trou ontbreek. Wie afwyk van die kwaad, word beroof. Die Here sien dit, en dit is verkeerd in sy oë dat daar geen regverdigheid is nie.” (Jes. 59: 14-); (“”Jy mag nie jou broer in jou hart haat nie. Wys jou volksgenoot openhartig tereg. Jy mag nie ‘n misstap teen hom bly hou nie. Jy mag nie haatdraend wees en ‘n wrok koester teen kinders van jou volk nie. Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Ek is die Here.” (Lev. 19: 17-18)). Want ons as mense vra baie vinnig wat se eerlikheid is daar in die ander! (“Of beplan ek wat ek beplan uit menslike swakheid, sodat, wat my betref “ja, ja” tegelyk “nee, nee” kan wees?” (2 Kor. 1: 17)). Soos Paulus ook aan die Korinthiërs geskryf het.

Maar Petrus wys daarop dat indien, die lyding wat ons ervaar as mense, wanneer ander ons benadeel, sleg praat of agteraf beswadder, deur God gewil word, dan is dit beter dat ons ly omdat ons goed doen, eerder as dat ons kwaad doen (“Maar selfs al sou julle ly ter wille van wat reg is, gelukkig is julle. Moenie hulle intimidasie vrees of ontsteld raak nie. Inteendeel, eerbiedig Christus as Here in julle harte, altyd gereed om julle te verantwoord teenoor elkeen wat van julle rekenskap eis, oor die hoop wat in julle leef. Doen dit egter met beskeidenheid en respek, met ‘n goeie gewete, sodat, wanneer julle beswadder word, dié wat smalend is oor julle goeie leefwyse in Christus, beskaamd kan staan. Dit is immers beter, as dit God se wil sou wees, dat julle ly omdat julle goed doen, as dat julle ly omdat julle kwaad doen.” (1 Pet. 3: 14-17)).

Laat ons dus altyd soek om die goeie na te jaag, ongeag die gevolge. Laat ons ja, ja wees! (“Laat die woord ‘ja” by julle werklik ‘ja wees, en julle ‘nee’ ‘nee’. Meer as dit is uit die bose. ” (Matt. 5: 37). In die alledaagse lewe, maar veral as dit gaan oor ons geloof in Jesus Christus (“…sodat julle eenparig , ja, uit een mond, aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, die lof sal bring. Daarom, aanvaar mekaar, soos Christus julle ook aanvaar het, tot eer van God.” (Rom. 15: 6); (“Mag die God van hoop julle deur julle geloof met alle blydskap en vrede vervul, sodat julle hoop oorvloedig kan word deur die krag van die Heillige Gees. ” (Rom. 15: 13)).