Hierdie is nie ‘n antieke uitbeelding nie (die Engelse woorde daarop verklap dit). Ons ken die verhaal: 10 melaatses word genees, maar slegs een kom terug om dankie te sê. Wat val jou op terwyl jy hierna kyk? Vir my is dit die enkele man wat by Jesus se voete kniel. Nege ander mans is steeds vol sere. Maar is al tien dan nie genees nie? Waarom hou die kunstenaar die ander nege dan nog steeds siek? Waarskynlik omdat hulle dalk van hul melaatsheid genees is, maar nie die heelheid (vrede) ontvang het (sien #16) wat Christus werklik wil aanbied nie.
Vroeër (#VD 6) is ‘n mosaïek-muurpaneel geplaas wat uit die 6de eeu dateer; vandag se toneel kom uit dieselfde basilika in Ravenna, Italië.
Dit is ‘n visuele uitbeelding van die vrou wat “aan bloedvloeïng gely het” (Matt 9:20; Mark 5:25; Luk 8:43). Die kunstenaar beeld hier nie die groter skare uit nie; net vir Jesus saam met 4 dissipels. Die vrou is seker reeds “uitgevang” omdat sy knielend voor Jesus is. Kyk net hoe toegevou is haar hande (ook een van die agterste mans s’n). Hierdie vrou is volgens die Torah onrein. (Twaalf jaar reeds!) Niemand mag haar aanraak nie. Maar Jesus hou sy hand uitgestrek.
In 1433 het ene “Daniel van Urank” ‘n Armeense miniatuur Evangelie(tjie) geïllustreer in ‘n bykans naïwe manier! Sewe figure (die getal van volkomenheid) is by ‘n tafel: ses dissipels (vandaar die stralekrans) en Jesus (sy kleedskleure en die kruis in sy stralekrans dui dit aan). Al die oë is na Jesus gedraai; en Jesus se oë is boontoe gerig. Dit is duidelik ‘n nagmaaltafel, maar Jesus staan bo-op die tafel. Waarom?
Elke dissipel het een broodjie; Jesus hou twee vas. Dit is nie vir hulle nie; dit is om uit te deel. Tel die broodjies en vissies in elke kelk – nie een van die verhale in die Bybel praat van drie vissies en drie broodjies nie. Waarom dan? Maar, jy weet: drie is die Goddelike getal. Op die tafel – weerskante lê 2 x 7 broodjies.
Die nagmaal en die verhaal van Jesus wat die skare voed – alles in een klein illustrasie, om ons te herinner: God deel oorvloediglik uit!
Deel 2
TEKSVERS:
“En God is by magte om aan julle alles in oorvloed te skenk, sodat julle in alle opsigte altyd van alles genoeg kan hê en volop kan bydra vir elke goeie werk” (2 Kor 9:8).
Net een wonderwerk verskyn in al vier evangelies, en dit is daardie een waar Jesus die honger skare voed (Matt 14:15-21; Mark 9:1-10; Luk 9:12-17; Joh 6:1-13). Elke evangelieskrywer gee sy eie weergawe van die verhaal, maar daar is veel meer aan hierdie gebeurtenis as maar net Jesus wat honger mense jammer kry en vir hulle kos wil uitdeel. Jesus doen veel meer! Dit is ‘n illustrasie van wat wag! Hy gee nóú reeds ‘n proesel van die feesmaal wat ééndag gehou gaan word (aldus Openb 3 en 19). Selfs Dawid kon daaroor juig: “U ontvang my soos ‘n eregas, ek word oorlaai met hartlikheid” (Ps 23:5).
Daar is etlike beskrywende woorde vir God in die Bybel: genadige; liefdevolle; goeie; sterke, ens. Maar, die woord wat dit alles vir my omsluit, is dat God die vrygewige God is. Lees net weer 2 Kor 9:8. Kyk net hoe kies Paulus sy woorde: alles; in oorvloed; alle opsigte; altyd; van alles; genoeg; volop. God hou niks terug nie!
Maar net soos in die wonderverhaal waar Jesus by die dissipels wil weet wat húlle by hulle het om te eet; gaan 2 Kor. 9 ook oor óns wat kry om te gee. Gaan lees vandag 2 Kor 9 en kyk weer na Daniel van Urak se illustrasie, en vra jouself af: is jou beskrywende woord ook soos díé van God – vrygewige? Jy is immers beeld van God.
GEBED:
Maak van my ‘n vrygewige mens, Heilige Gees, omdat ek so vrygewiglik van U ontvang.
Du bist gesegnet, ein Segen bist du” (Jy is geseën, ‘n seëning is jy) deur Helge Burggrabe
Op Dag 22 van ons Lydenstydreeks #VisioDivina luister ons “Du bist gesegnet, ein Segen bist du” (Jy is geseën, ‘n seëning is jy) deur Helge Burggrabe. Dit is so maklik om saam te sing, omdat dit ‘n enkelfrase lied is.
Ontwikkel en saamgestel vir die NG Kerk Weltevreden
As hierdie reeks jou bemoedig (én jy kan dit bekostig), wil jy nie oorweeg om my finansieel te ondersteun nie? STANDARD BANK Takkode: 051001 Rek No: 080042805 RM BEZUIDENHOUT Kampstraat 13, Eurekapark, Groot-Brakrivier, 6525.
In 2007 het die Amerikaanse kunstenaar, Michael Dudash, die skildery gemaak, getiteld: “Not by bread alone.” Dit sou ook seker getiteld kon wees, “Not by work alone.” Want is dit nie ons groot “probleem” nie! Vra iemand hoe dit gaan, en die antwoord is iets soos, “aan die hardloop…”.
Soveel keer lees ons in die Bybel dat Jesus “soos sy gewoonte was” (Luk 22:39) homself afgesonder het om te gaan bid. “Hy het alleen na die berg toe gegaan om te bid. Toe dit aand word, was Hy daar alleen” (Matt 14:23).
Dudash (wat self in die berge van Vermont leef) kontrasteer die ruheid van die berge (is dit dalk simbolies van die lewe?) met die sagte, vloeiende wit van Jesus se kleed, ‘n postuur van kalmte.
Lydenstyd is ‘n tyd van afsondering en luister. Ek het herhaal my eie motto aan myself: “die sekerste manier om nie God se stem te hoor nie is ‘n besige lewe.”
Deel 2
TEKSVERS:
“Hy beskut jou onder sy vleuels en is vir jou ‘n veilige skuilplek. Sy trou beskerm jou aan alle kante.” (Ps 91:4).
Vandag se meditasie het eintlik anders om begin: eers het ek – toevallig – op die musiek van Melissa Dittrich oor Psalm 91 afgekom. Terwyl ek na die woorde luister, is dit nie ons menslike vrese en behoefte na veiligheid waaraan ek eerste gedink het nie, maar aan Jesus s’n. Is dit dalk waarom Hy Homself daagliks afgesonder het om te bid? Soms ‘n ganse nag lank!
Die Psalms was die gebede van Jesus se tyd. Hoeveel keer het Hy dalk Psalm 91 opgesê (wat Hy – as ‘n Joodse man – uit sy hoof sou ken). Ek kan my indink, hoe nader Jesus aan daardie Donker Vrydag gekom het, hoe groter sou sy begeerte na tyd met God geword het. Ons weet nie wat Jesus gebid het as hy homself so afgesonder het nie. Maar ek hoor Hom in sy moedertaal bid: “El Shaddai … Abba …”. Allerhoogste God … Vader…
En terwyl ek Psalm 91 weer lees, sien ek weer die ikoon van Rublev se drie engele met hul vlerke (of “vleuels”) wat aan mekaar raak; ‘n muur agter hulle vorm. Soos Dawid skryf: “Hy beskut jou onder sy vleuels en is vir jou ‘n veilige skuilplek. Sy trou beskerm jou aan alle kante.” Geen opening waardeur ons kan val. Veilig. Vasgehou.
GEBED:
U, Almagtige, “U is my toevlug en my veilige vesting, my God op wie ek vertrou.
Melissa Dittrich David: Psalm 91
Op Dag 21 van ons Lydenstydreeks #VisioDivina luister ons na die Kanadees, Melissa Dittrich David, se weergawe van Psalm 91.
Ontwikkel en saamgestel vir die NG Kerk Weltevreden
As hierdie reeks jou bemoedig (én jy kan dit bekostig), wil jy nie oorweeg om my finansieel te ondersteun nie? STANDARD BANK Takkode: 051001 Rek No: 080042805 RM BEZUIDENHOUT Kampstraat 13, Eurekapark, Groot-Brakrivier, 6525.
Wat hierdie kunswerk van die Koreaanse kunstenaar, Yongsung Kim, vir my so uniek maak is dat jy nie presies weet vanuit watter rigting jy daarna moet kyk nie. Een oomblik kyk jy van bo en sien die figuur aan die onderkant staan met ‘n uitgestrekte hand. Is dit nie wat Saggeus (Visio Divina #18) dalk ook gesien het nie – ‘n hand, opgesteek in sy rigting: “Saggeus, klim af.” Die volgende oomblik kyk jy weer van onder af en sien jy die hand wat afgesteek word na jou: “Hou vas, ek sal jou uit trek.”
Natuurlik, ja, jy moet van onder af kyk, want die son is dan agter die figuur se kop. Is dit Jesus met ‘n stralekrans om sy kop (‘n “halo”)? Alles is uit fokus geskilder, behalwe die Hand.
Dit is alles wat ek sien. Die vraag is, wat sien jy?
Deel 2
TEKSVERS:
“As jy deur water moet gaan, is Ek by jou, deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie” (Jes 43:2).
Ek kan werklik nie met sekerheid sê uit watter rigting ek na die uitgestrekte hand moet kyk nie. Natuurlik suggereer die golwe ‘n drenkelling aan wie ‘n reddened hand deur die water aangesteek word. Tog sien ek ook hoe ek te hoog geklim het, en die hand van onder af aangebied word om my te help om af te kom. Dit is toe dat ek besef, eintlik maak dit nie saak van waar ek kyk nie, die hand wat uitgestrek is, kan ek – ongeag die rigting – nie miskyk nie. Dit is altyd daar. “U omsluit my van alle kante,” skryf Dawid (Ps 139:5). Die Hand is nooit afwesig nie.
“Klim ek op na die hemel, is U daar, gaan lê ek in die doderyk, is U ook daar,” skryf Dawid (139:8). Oral vind ek U hand. Hoe instemmend sal ons nie almal kopknik nie. En tog… waarom voel ons dan soms so godsverlate? Het jy dan nie ook al gewonder nie: Here, wáár is U dan? Waar is die uitgestrekte Hand dan nou wanneer ek dit nodig het?
Soek ons dalk die hand vanuit ‘n rigting en herken ons dit nie vanuit ‘n ander rigting nie? Soos die persoon wat – na ‘n groot vloed – op sy huis se dak sit, pleitend dat God sal red. Menigmaal kom iemand daar verby wat aan ‘n groot boomstomp klou: “spring, hier is plek!” Maar jy kyk in die lug vir die helikopter…
GEBED:
Dankie dat die “Ek is”, altyd by my is!
Take My Hand, Precious Lord – John Thomas.
Op Dag 19 van ons Lydenstydreeks #VisioDivina luister ons na ‘n ou bekende Spiritual – “Take My Hand, Precious Lord” – soos uitgevoer deur die bariton, John Thomas.
Uit die lirieke:
When my way groweth drear Precious Lord, linger near When my light is almost gone Hear my cry, hear my call Hold my hand lest I fall Take my hand, precious Lord Lead me on
Ontwikkel en saamgestel vir die NG Kerk Weltevreden
As hierdie reeks jou bemoedig (én jy kan dit bekostig), wil jy nie oorweeg om my finansieel te ondersteun nie? STANDARD BANK Takkode: 051001 Rek No: 080042805 RM BEZUIDENHOUT Kampstraat 13, Eurekapark, Groot-Brakrivier, 6525.
“Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sy met julle almal” (12 Kor 13:13). Die grootste misterie speel voor ons af wanneer ons Sondae in die erediens gegroet word in die Naam van die Drie-Enige God. Maar wat sal ‘n gewone sterfling tog ooit van hierdie misterie kan verstaan? Daarom het ons digters. En ons het komponiste. En ook kunstenaars. Hulle wat dit sê wat ons nie kan nie. Andrei Rublev (15de eeu) was so iemand. Geen ander ikoon kan vir ons die Drie-Eenheid (Triniteit) so “verwoord” soos die “Ikoon van die drie besoekers” (1425-27) nie.
In Genesis 18 lees ons van drie engele wat Abraham en Sara besoek, maar kyk jy dieper, dan leer jy hierin iets van die misterie van die Drie-Enigheid ken:
Drie engele – so intiem teen aan mekaar dat hulle vlerke raak – sit in ‘n sirkelvorm (simbool van ewigheid) aan ‘n tafel. Daar is aan die voorkant ‘n opening – dit nooi jou in om deel te neem aan die ete. Ons lees dat Abraham ‘n kalf geslag het. Die bak staan op die tafel. Al drie figure seën die bak. Sonder woorde verklap die kleure alles! Een is geklee in die kleur van heerlikheid: goud. Een dra die kleur van bloed; met hemelse blou daaroor. Die derde figuur dra ook groen (die kleur van nuwe lewe). Alles is goddelike kleur. Kyk na die agtergrond: ‘n boom verrys agter die middelste figuur. Die boom van die lewe. Die boom wat die hout kon verskaf vir ‘n kruis?
Daar is drie bekers – een op die tafel; een op die grond (waarin die gebede van gelowiges opgevang word?) en een waarin die middelste figuur sit (sien die videoverduideliking).
Al wat oorbly is vir ons om te sê, “O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele, hoe onnaspeurlik sy weë! Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid” (Rom 11:33-36).
GEBED:
Heilige Drie-Enige God, dankie dat ek die misterie van U wese in hierdie Lydenstyd beter mag leer ken.
Ikoon van die Triniteit
Kyk gerus na hierdie verduideliking van die Ikoon van die Triniteit:
Oase Gemeente – Drie Eenheid
Op die derde Sondag van ons Reeks Visioe-Divina luister ons na Oase Gemeente – Drie-Eenheid.
Ontwikkel en saamgestel vir die NG Kerk Weltevreden
As hierdie reeks jou bemoedig (én jy kan dit bekostig), wil jy nie oorweeg om my finansieel te ondersteun nie? STANDARD BANK Takkode: 051001 Rek No: 080042805 RM BEZUIDENHOUT Kampstraat 13, Eurekapark, Groot-Brakrivier, 6525.
In 1170 nC is ‘n klein (27 x 18 cm) geïllustreerde manuskrip vir die St Albans Abbey (Abdy) saamgestel – die sg. Albans Psalter. By elke illustrasie van ‘n bybelverhaal word die teks met ‘n versierde eerste letter (so groot soos ‘n klein muntstuk) begin. Waarna ons vandag kyk is die eerste letter (‘n “d”) waarmee die verhaal van Saggeus begin. Kyk lank hierna – wat sien jy alles? ‘n Boom met 4 takke. En druiwetrosse? Sou dit herinner aan Jesus se woorde: “Ek is die wingerdstok; my Vader die boer” (Joh 15:5). Of, dat ons aan ons vrugte geken sal word nie (Matt 12:33)?
Waarom 5 trosse as daar dan net 4 takke is? In die Bybel is die getal 5 die simbool van genade. Dit beeld God se genade-op genade, sy goedheid en guns teenoor die mens uit. (En is die verhaal van Saggeus nie juis ‘n verhaal van genade nie!)
Deel 2
TEKSVERS:
“Die Seun van die mens het immers gekom om te soek en te red wat verlore is” (Luk 19:10).
Saggeus was nie net ‘n tollenaar nie; hy was die hóóftollenaar. Hy was nie net ryk nie, hy was báíe ryk. Saggeus was ook ‘n verstotene onder sy eie mense. (“’n Sondaar” noem Lukas hom in 19:7, m.a.w. iemand wat die Wet van Moses verontagsaam het.) Sulke mense is gewoonlik ook vereensaamdes, juis omdat hulle so “sosiaal onaanvaarbaar” was. (Ons ken almal sulke mense; dit is daardie tipe mense oor wie ons praat; of wie ons liefs in ‘n winkelsentrum maak of ons nie raaksien nie.)
Ek wonder of Saggeus gedink het hy gaan net ‘n toeskouer van Jesus bly? Die blindes en die melaatses het nog die verskoning gehad dat hulle nie hul eie siektetoestande “gekies” het nie; Saggeus – daarenteen – het gekies om ‘n tollenaar te wees. Hy het gekies om geld van sy arm landgenote vir homself toe te eien. Die verwerpinge wat hy moes ervaar was hy sélf voor verantwoordelik.
Mag ek eerlik bely? Ek weet nie of ek myself sommer met Saggeus sou vergelyk nie: ek is immers ‘n dominee (‘n christen); ek kom mense nie (doelbewus) te na nie; ek “probeer” darem goed wees, en ek dink nie ek besteel die armes nie. Maar dan hoor ek weer die woorde van Jesus: “Die Seun van die mens het immers gekom om te soek en te red wat verlore is”. En dan wonder ek, wie is die gelukkigste mens? Saggeus, of ek wat dink dat ek “okay” is?
En jy?
GEBED:
Hemelvader, U ken my deur-en-deur. Wees my genadig, soos U vir Saggeus ook was.
———–
Sinfoglesia: “Gratia” (die Latynse woord vir genade)
Op Dag 18 van ons Lydenstydreeks #VisioDivina luister ons na ‘n Duitse groep, “Sinfoglesia” se nuwe lied, “Gratia” (die Latynse woord vir genade)
Ontwikkel en saamgestel vir die NG Kerk Weltevreden
As hierdie reeks jou bemoedig (én jy kan dit bekostig), wil jy nie oorweeg om my finansieel te ondersteun nie? STANDARD BANK Takkode: 051001 Rek No: 080042805 RM BEZUIDENHOUT Kampstraat 13, Eurekapark, Groot-Brakrivier, 6525.
Dit was eers in die 1500’s dat kunstenaars aandag aan híérdie bybelverhaal begin gee het. Sommige reken dit is omdat Martin Luther gereeld hierna verwys het as ‘n voorbeeld van vergewende liefde teenoor verguisende veroordeling. Wat hierdie skildery (deur die Vlaamse kunstenaar, Pieter Bruegel, 1565) so besonders maak is die vreemde monokleure (wat die figure bykans soos klipbeelde laat lyk). Waar ander kunstenaars die owerspelige vrou óf neergegooi op die grond, óf as ‘n gevangene voor die skare geskilder het, staan sy hier, kiertsregop, en is dit Jesus wat buig.
Hoe weet jy dit is Jesus? (Daar is geen stralekrans om sy kop nie; en Hy dra nie die tipiese purper-en-blou kleed nie.) Die bukkende man lyk dan net soos al die ander. Maar is dit nie die punt nie! Jesus lyk “soos ons.” ‘n Mens! Maar Hy tree anders as ons op. Jesus buig voor die sondige vrou en voor elke sondige mens wat staar.
Deel 2
TEKSVERS:
“Laat die een van julle wat ‘n skoon gewete het, eerste ‘n klip op haar gooi.” (Joh 8:7).
Dit is ‘n strikvraag waaruit Jesus Homself nie sou kon loswikkel nie. Daar was net een regte antwoord: “stenig haar!” Dit was wat die wet van Moses beveel het. Vir owerspel is daar nie genade nie! Die Fariseërs het dit geweet. Die skare het dit geweet. Die vrou het dit geweet. En toe kom die vraag, “…Maar u, wat sê u?” (v5). Dalk sou Jesus (om tyd te koop) kon sê, “en die man, waar is hy? Bring hom, hy moet ook gestraf word volgens die wet van Moses.” Maar nee, Jesus antwoord nie ‘n woord nie. Hy buk net grond toe.
Dit was ‘n ontstellende ding wat Jesus gedoen het: hy verneder homself om laer as die vrou te buig … nie net ‘n vrou nie; maar ‘n vrou soos sý! En steeds geen woord nie! Hy krap net met sy vinger in die sand.
Natuurlik wou hulle ‘n antwoord van Jesus hê (want dan kon hulle hom aankla). “Toe hulle aanhou om Hom te vra, het Hy regop gekom en vir hulle gesê: “Laat die een van julle wat ‘n skoon gewete het, eerste ‘n klip op haar gooi.” (Het jy opgelet dat Bruegel klippe by haar voet geskilder het?)
Die res van die verhaal ken jy goed. Jy ken die gesprek wat Jesus met die vrou het (Joh 8:8-11). Maar mag ons nooit hierdie verhaal lees sonder om nie te onthou van die geboë Jesus nie En dit voor ‘n sondaar.
GEBED:
Vergewe my, Here, dat ek soveel keer eerder reg wil wees as om te buig.
———–
“Nederland Zingt” “Genade, zo oneindig groot
Op Dag 17 van ons Lydenstydreeks #VisioDivina luister ons na ‘n “Nederland Zingt”-opname in Doesburg waar die gemeente “Genade, zo oneindig groot” sing.
Ontwikkel en saamgestel vir die NG Kerk Weltevreden
As hierdie reeks jou bemoedig (én jy kan dit bekostig), wil jy nie oorweeg om my finansieel te ondersteun nie? STANDARD BANK Takkode: 051001 Rek No: 080042805 RM BEZUIDENHOUT Kampstraat 13, Eurekapark, Groot-Brakrivier, 6525.
Hierdie ikoon (uit Noord-Masedonië) is getiteld “Die Omhelsing.” Die meeste mense assosieer die ikoon met Adventstyd: die swanger Maria het vir drie maande by haar Tant’ Elisabeth (toe ses maande swanger) gaan bly (Luk 1:56). Maar tog wonder ek of dit nie juis ook ‘n Lydenstydikoon is nie? Hoe min het hierdie twee vroue geweet wat vir hulle (en hul twee seuns) gewag het nie! Simeon het dan reeds vir Maria by die tempel (in Luk 2:35) gesê: “En wat jou betref, ‘n swaard sal deur jou siel gaan.”
Ladislav Zaborsky is in 1921 in die destydse Joegoslavië gebore. In die 1950’s het hy met tronkstraf begin. Sy misdaad? Dat hy nie opgehou het om as ikonograaf (kunstenaar van sakrale werk) te werk na die kommunistiese oorname nie. Die kunswerk wat so aanstoot gegee het? ‘n Uitbeelding van Jesus as ‘n hande-arbeider wat hy in 1949 geskilder het.
Een van die oudste (6de eeu n.C.) ikone uit Egipte staan bloot bekend as die “Vriendskapsikoon”. Jesus se stralekrans het die tipiese kruis agter sy kop en bygeskryf staan “Verlosser.” Jesus word uitgebeeld as ‘n jong man met ‘n korter baard, langs hom is ‘n ouer man met ‘n langer, grys baard. Hy word uitgeken as “Abba (vader) Mena” – 4de eeuse martelaar.
Die een kunswerk (links) ken ons goed – dit is Salvador Dali se “Die Christus van Johannes van die Kruis”. Johannes van die Kruis was ‘n priester wat in die 16de eeu geleef het. Die skets aan die regterkant (van Jesus – wat reeds gesterf het) is juis deur Johannes van die Kruis gemaak.
Sonder om te raai weet jy dadelik hierdie (16de eeuse) ikoon beeld Jesus uit wat ‘n storm stil maak. Omdat ‘n enkele ikoon die hele storie moet vertel, sien jy twee Jesusse (met glanskrans om elk se kop): eers ‘n slapende Jesus, dan een met ‘n uitgestrekte hand wat die golwe stil maak. Maar dit is nie die unieke van die ikoon nie. Kyk in die rigting waarna Jesus se hand dui: ‘n bose figuur met ‘n tuit in sy mond wat wind aanblaas. Aan die oorkantse oewer is daar bose geeste wat op die varke se rûe aangejaag kom en in die see in vaar. Dit herinner dadelik aan die verhaal (in Mark 5:1-20) waar Jesus die bose geeste uit die besetene van Gerasa uitdryf, en die demone in die varke jaag, wat dan oor die krans val in die see in en daar verdrink (Mark 5:13).
Nikola Sarić is ‘n kontemporêre ikonograaf wat hierdie verstommende verhaal visueel uitbeeld: In Februarie 2015 het ISIS 21 christene op die strand in Libia onthoof. (Vandaar die naam van die ikoon: “Ikoon van die heilige martelare”). Knielende mans, geklee in oranje “tronkuniforms” (om uit te beeld dat hulle gevange geneem is); op die bors van die voorste mans se klere is ‘n kruis. 20 swart gemaskerde mans hou elke met ‘n arm uitgestrek die nekke van die christene vas. In die 2 voorste en 2 agterste mans se hande hou elk ‘n mes vas. ‘n Rooi lyntjie van bloed loop al om die 21 mans se lywe, af tot aan die golwe van die see.
Daar is eeu-oue ikone oor die tollenaar en die fariseër. (So is daar bv. in Kosovo ‘n klooster wat ook as wêrelderfenis-gebou verklaar is met muurskilderye wat uit die 14de eeu de eeu dateer.) Vandag (#8) se ikoon is egter ‘n meer moderne Ukraïniese ikoon.
In die eerste eeue was dit algemeen om Jesus uit te beeld as ‘n jong man met ‘n skaap oor sy skouers. Is dit werklik hoe Jesus gelyk het? Nee. ‘n Ikoon is nie ‘n portretstudie nie. (Juis daarom is die gesigvorm soms buite proporsie), Die ikoon is ‘n vingerwysing na ‘n boodskap van Jesus. Alles in die ikoon het simboliese betekenis – die kleur van die uitrustings; die posisie van die liggaamsdele; die rigting waarin die gesigte kyk, ens.
In Ravenna, Italië, is ’n Basilika uit die 6de eeu (vandag ’n wêrelderfenisgebou). Die toneel van Jesus se bergpredikasie is uniek in vergelyking met ander ikone oor dieselfde skrifgedeelte. Wat jou in hierdie ikoon opval is dat daar net elf dissipels is? Is Judas Iskariot die afwesige? Maar kyk weer, geen een van die dissipels kyk na Jesus terwyl Hy praat nie.
(Sondae word nooit as ‘n Lydingsdag getel nie.) Soos die Heilige Gees die hart van skrywers kan inspireer om Godswoorde neer te pen, so kan die Heilige Gees die hart van die kunstenaar inspireer om Godsbeelde met ’n kwas vas te lê. Soos die Heilige Gees die oë van ’n leser kan inspireer om ’n groter waarheid raak te lees as bloot ink op papier, so kan die Heilige Gees die een wat voor ’n ikoon staan ook inspireer om dieper te kyk as ’n “prentjie.” Dit noem ons “VISIO DIVINA” – heilige kyk.
Die doel van ’n ikoon (’n visuele uitbeelding van ’n teks) is om die kyker dieper in ’n storie in te trek. Jy “lees” nie net die ikoon nie; jy lees jouself daarin raak. ’n Ikoon is dus ’n ontmoetingsgeleentheid. In hierdie ikoon sien jy die ontmoeting tussen Petrus en Jesus. Maar hoe langer jy kyk hoe meer sien jy dat dit ook ’n ontmoeting tussen jou en Jesus is.
Daar is nie veel inligting oor hierdie Griekse ikoon (uitbeelding) van die profeet Esegiël wat na die laagte vol droë beendere gebring word nie (Eseg. 37). “Kan daar in hierdie beendere weer lewe kom?” vra die Here. Natuurlik nie! Behalwe (en so beeld die ikoon dit uit) deur die opstanding van Jesus! Kyk mooi: agter die bejaarde profeet staan die verheerlikte Christus (met die stralekrans) en ‘n skitterende, leë kruis. Die graf is leeg. Dood is oorwin. “Kan daar in hierdie beendere weer lewe kom?” Natuurlik, ja! Oor en oor bly die vraag: Kan daar in doodsheid lewe kom? Ja, ja, ja
Kliek op die skakel en beweeg af op die skerm tot by die video vir ‘n treffende visuele uitbeelding van Esegiel 37. (“Valley, Dry Bones”)
“Dít verseker Ek julle: …Ek het gekom sodat (julle) die lewe kan hê, en dit in oorvloed” (Joh 10:10). Die Kerkvader Irenaeus (2de eeu n.C) het gesê, dat God verheerlik word deur die mens wat sy/haar lewe voluit leef. Volgens Irenaeus het dit beteken jy leef die lewe soos God dit bedoel het om geleef te word – as werklike verteenwoordiger (beeld/ikoon, aldus Gen 1:27) van God. Jy lééf, omdat God jou lewe wíl. Danksy God se “asem” (Sy Gees/ “Ruach”) mag jy leef. Die hartseer ellende is dat daar soveel mense is wat soos “dooie beendere” deur die lewe gaan. Wandelende lyke. Wat so leef dat God nie in hulle lewens herken kan word nie.
Vir 40 dae lank draai ons die vergrootglas op ons eie lewens. Bely ons dalk met die mond dat God die Heerser van ons lewens is, maar daar is geen sigbare teken daarvan in ons doen en late nie? Jakobus leer dat geloof wat nie tot dade oorgaan nie ‘n dooie geloof is (Jak 2:17). As die Heilige Gees (die Goddelike Asem) geloof in ons bewerk, kán ons nie anders nie as om ons lewens te wy aan daardie dinge – die goeie dade – wat God sal verheerlik (aldus Ef 2:10b). Lydenstyd is lewegewende tyd! Vir die dooie geloofsbeendere is daar die belofte van nuwe lewe! Soos Paulus skryf, “Stel julle in diens van God as mense wat dood was maar lewend gemaak is, en stel elke deel van julle liggame in diens van God as werktuig om te doen wat God wil” (Rom 6:13).
GEBED:
Moet nie ophou om my lewe nuut te maak nie, my Here!
“Dry Bones” soos uitgevoer deur The Kings Heralds.
Op Dag 3 van ons Lydenstydreeks #VisioDivina luister ons na die baie bekende lied, “Dry Bones” soos uitgevoer deur The Kings Heralds. Hierdie is ‘n kwartet wat al sedert 1927 bestaan.
As hierdie reeks jou bemoedig (én jy kan dit bekostig), wil jy nie oorweeg om my finansieel te ondersteun nie? STANDARD BANK Takkode: 051001 Rek No: 080042805 RM BEZUIDENHOUT Kampstraat 13, Eurekapark, Groot-Brakrivier, 6525.