“…maar hy wat in die Gees saai, sal uit die Gees die ewige lewe oes. Laat ons daarom nie moeg raak om goed te doen nie,…”
Gal. 6: 8-9
DIe Kerklike jaar word opgedeel na aanleiding van die genadegawes wat God vir ons gegee het. Tans is ons in die Koninkrykstyd wat net na Pinkster begin en eindig teen die einde van November. Soos die naam van die tyd aandui gaan dit oor die heerskappy van die drie-enige God (Skepper, Verlosser en Trooster). In die tyd voor die Hemelvaart het Christus die evangelie van die koninkryk aan die apsostels verkondig, sodat Hy hulle kon stuur om die evangelie te gaan verkondig. (Matt 24: 14 “Hierdie evangelie van die koninkryk sal oor die hele wêreld verkondig word as getuienis vir al die nasies”); ook in Mark. 13:10 “En die evangelie moet eers aan al die nasies verkondig word” en in Luk 4: 43 s136 Christus “Ek moet ook in die ander dorpe die evangelie van die koninkryk van God verkondig, want daarvoor is ek gestuur”
In Luk. 16:16 noem Lukas dat “Tot en met die tyd van Johannes (die Doper) het die Wet en die profete gegeld, maar van toe af word die evangelie van die koninkryk van God verkondig…”. Nadat Jesus die apostels die mag gegee het oor siektes en om demone uit te dryf, het Christus hulle uitgestuur om die koninkryk van God te verkondig en om siekes gesond te maak. (Luk. 9: 1-2). Dit alles is moontlik gemaak deur die teenwoordigheid van die Heilige Gees wat in en deur mense werk. Ons kan hierdie koninkrykstyd nie in volvoering bring sonder die krag en hulp van die Heilige Gees nie. In Mark. 13: 11 word die belofte gegee dat ons nie op ons eie krag hoef te reken nie, want die Heilige Gees sal deur ons werk en woorde in ons mond lê, waar en wanneer dit mag nodig wees. (“…moet julle julle nie vooraf bekommer oor wat julle moet sê nie, maar wat ook al op daardie oomblik aan julle gegee word, dit moet julle sê; want dit is nie julle wat praat nie, maar die Heilige Gees.”
Die koninkrykstyd is nie ‘n tyd wat behoort te eindig teen einde November nie. Dit is ‘n tyd wat gedurig in ons lewe moet posvat, en ‘n lewenstyl moet word. Die kerklike jaar instellings is herinneringe aan die genadegawes wat God, die Vader, Christus die Seun en die Heilige Gees in ons lewens bewerkstellig het. Die Koninkrykstyd is hier, sodat ons God se koninkryk kan help uitbou, getuies vir die genadegawes wat elke dag in ons lewe posvat en oorneem kan wees. Sodoende gee ons totaal oor aan die beheer van die Heilige Gees. Dan sal ons ook soos die apostels “…krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle (ons) kom en julle (ons) moet my getuies wees…” (Hand. 1: 8). Dan sal ons ook soos die Psalm digter en Jesaja God se lof in geloof kan besing (“Verbly julle in die Here, regverdiges, en prys sy heilige Naam” (Ps. 97: 12) en “ Besing die Here, want verhewe dinge het Hy gedoen; dit moet bekend word oor die hele aarde” (Jes. 12: 5). Ons sal dan in dankbaarheid leef en elke dag met danksegging begin.


