“En mag God, die bron van alle standvastigheid en bemoediging, gee dat julle eensgesind onder mekaar sal wees soos Christus Jesus dit wil hê. Dan kan julle almal eensgesind uit een mond lof toebring aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus”.
Rom. 15: 5-6
Wat beteken dit vir elkeen van ons om eensgesind te wees? Is dit vir ons moontlik om te alle tye eensgesind te wees? Laat ons ons weg lei van dit wat regtig belangrik is, deur mense wat verskuilde agendas het? Deur mense wat daarvan hou om die menslike geslag op te deel en in klein benoude dosies met naamplaatjies aan te bêre? Deur mense wat die leuen tot ‘n fyn kuns vervolmaak het? Of is ons besig om die punt van eensgesindheid heeltemal te mis, deur ons menslike idees van wat dit beteken?
Kan ons eensgesind wees wanneer daar mense is wat vir elkeen van ons ‘n naamplaatjie wil omhang. Hetsy of dit as vroom, losbandig, krimineel, goed, wit, swart, man of vrou is? Daarmee word daar noodwendig eienskappe toegedig wat heel moontlik nie akkuraat is nie? Sommige van hierdie eienskappe kan eienskappe wees wat God vir ons gegee het met ‘n doel. Elkeen van ons het genade gawes ontvang, nie deur ons eie toedoen nie, maar deur die werking van die Heilige Gees in ons lewens. Daarom waarsku Paulus ons teen geestelike hoogmoed; waar een persoon dink hy is meer belangrik as ‘n ander in God se werk. Deur eenstemmig te wees, kan ons verseker dat daar nie verdeeldheid onder ons sal wees nie (“Ek pleit by julle broers in die Naam van ons Here Jesus Christus, dat julle almal eenstemmig sal wees, en dat daar nie verdeeldheid onder julle sal wees nie, maar dat julle volkome eensgesind mag wees, met dieselfde denkwyse en dieselfde oortuiging” (1 Kor. 12: 10)).
Sodra iemand ‘n naamplaatjie vir iemand anders om die nek hang, spreek dit heel moontlik van ‘n gevolg dat mense gedurig vergelyk word. Dit is een van die mees sinlose dinge wat enigiemand kan doen! Dit spreek van ‘n innerlike jaloesie, omdat mense teen mekaar opgeweeg word. Dit is sinloos, want God het elkeen van ons uniek gemaak, mens kan jouself nie met iemand anders vergelyk nie, want elkeen van ons se hele wese is deur God geskep deur Sy leiding deur elkeen van ons se lewens. Met die ervaring wat jy beleef het langs die pad, dit alleen maak jou uniek en enig van jou soort. Niemand anders het die pad beleef en geloop soos jy gedoen het nie. God het jou nodig net soos jy is! Wanneer ons neersien op ‘n ander se gawes, waarvan niemand s’n dieselfde is nie, is dit nie ‘n goeie rede om op mekaar neer te sien of met mekaar te wedywer nie, want al het jy ook die beste gawes ontvang (gemeet aan menslike terme), maar daar is geen liefdesgesindheid waarmee jy dit uitleef nie, beteken jy vir die gemeente en die Here niks (“Daarom, soos daar geskryf staan: “Wie hom op iets wil beroem, moet hom op die Here beroem.”” (1 Kor. 12: 31)).
Die eensgesindheid waarvan Paulus praat in 1 Kor. 1: 10 (“Ek doen ‘n beroep op julle almal, broers, in die Naam van ons Here Jesus Christus, om eensgesind te wees. Daar moet geen verdeeldheid onder julle wees nie. Julle moet een wees in dieselfde gesindheid en met dieselfde oortuiging.”). Selfs Paulus het reeds ervaar dat daar verdeeldheid onder gelowiges is deurdat hulle verskillende predikers aangehang het. Paulus het gerugte gehoor van verdeeldheid onder die Korinthiërs. (“Wat ek bedoel is dat elkeen van julle sê: “Ek is vir Paulus”; een: “Ek is vir Apollos”; een: “Ek is vir Sefas”; en een: “Ek is vir Christus.” Is Christus verdeel? Paulus is tog nie vir julle gekruisig nie? Of is julle dan in die naam van Paulus gedoop?” (1 Kor. 1: )). Paulus se antwoord is baie duidelik: Dit gaan nie om enigiemand hier op aarde nie, maar om die evangelie van Christus. Dit is waar ons eensgesindheid gesetel moet wees (“Christus het my immers nie gestuur om te doop nie, maar om die evangelie te verkondig. – nie met wysheid van woorde nie, sodat die kruis van Christus nie van sy krag ontneem word nie.” (1 Kor. 1: 16-17)). Hierdie eensgesindheid wat bepleit word is gesentreer op die genade van die Hemelse Vader deur Jesus Christus. Alleen wanneer ons die belang van die woord van God as prioriteit het, soos deur Jesus Christus aan ons gedemonstreer, en deur die leiding van die Heilige Gees, kan ons die eensgesindheid bereik (“Wees almal eensgesind, medelydend, liefdevol, goedhartig, nederig. Moenie kwaad met kwaad vergeld of belediging met belediging nie. Inteendeel, antwoord met ‘n seënwens, want daartoe is julle geroep, sodat julle die seën van God kan verkry”(1 Pet. 3: 8-9)).
Laat ons ons ook nie vir die evangelie skaam nie, want dit is die krag van God tot verlossing vir elkeen wat in Hom glo (“Ek skaam my immers nie vir die evangelie nie, want dit is die krag van God tot verlossing vir elkeen wat glo, eerste vir die Jood, maar ook vir die Griek. Want daarin word geopenbaar dat die geregtigheid van God geheel en al op geloof berus, soos daar geskryf staan: “Die regverdige op grond van geloof sal leef.”” (Rom. 1: 16-17)). Laat ons in eensgesindheid leef in die sekerheid dat Jesus Christus ons Verlosser is en laat ons niks uit selfsug of uit eie eer doen nie. Laat ons mekaar dien soos wat Jesus Christus ons geleer het om te dien (“Aangesien julle die troos in Christus ondervind het, die aansporing deur die liefde, die gemeenskap deur die Gees, die innige meegevoel en meelewing – maak dan nou my blydskap volkome deur eensgesind te wees; een in liefde, een van hart, een in strewe. Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. Julle moenie net elkeen aan sy eie belang dink nie, maar ook aan dié van ander.” (Fil. 2: 1-4)).Laat ons ons weerhou om kwaad te praat van enigiemand, want ons weet nie waar God met ‘n ander oppad is nie (“Daar staan geskrywe: “As iemand die lewe liefhet en ‘n lang lewe begeer om die goeie te geniet, moet hy sy tong weerhou van kwaadpraat en sy lippe van leuens. Bly weg van die kwaad af en doen wat goed is, soek vrede en jaag dit na! Die Here sorg vir die opregtes en luister na hulle hulpgeroep, maar Hy tree op teen dié wat kwaad doen”” (1 Pet. 3: 10-12)).
Laat dit waar wees van ons dat die getuienis van Jesus Christus sterk in ons gevestig is sodat ons standvastig in geloof kan bly (“…en vir die die genade van God, wat aan julle gegee is in Christus Jesus. Want deur Hom is julle in alle opsigte verryk in elke woord en in alle kennis. Net so is die getuienis oor Christus stewig onder julle gevestig, sodat julle, terwyl julle wag op die openbaarmaking van ons Here Jesus Christus, nie in enige genadegawe tekort skiet nie. Hy sal julle ook tot aan die einde standvastig maak, sodat julle sonder blaam sal wees op die dag van ons Here Jesus Christus. God is getrou, deur wie julle geroep is tot verbondenheid met sy Seun, Jesus Christus, ons Here” (1 Kor. 1: 4-9)). Laat die Pelgrimslied van Dawid waar word in ons gemeenskap en gemeente deurdat ons eensgesind sal wees. (“Hoe goed, hoe mooi is dit as broers eensgesind saam woon! Dit is soos reukolie wat van die kop af in die baard afloop, die baard van Aäron, af tot by die soom van sy klere. Dit is soos die dou van Hermonberg wat op die berge by Sion val. Waar broers so saam woon, skenk die Here seën: ‘n lang, lang lewe.” (Ps. 133: 1-3)).


