Stof tot nadenke: Selfondersoek na afgode

“Ek is die here julle God. Julle mag nie afgode dien nie en julle mag nie vir julle afgodsbeelde maak nie. Ek is die Here julle God” Lev. 19: 3-4

Ons persepsie van afgode is in die vorm van dooie beelde wat nie aanbid mag word nie, dit wat dikwels in die Ou Testament genoem word (Deut. 30:16; Jes 42: 17). Ons word gereeld gemaan om nie agter afgodsbeelde aan te loop nie. Wêreldwyd sien mens nog dikwels afgodsbeelde waar mense voor neerbuig, asof dié hulle kan hoor bid en hulle sou kon help. In Ps. 115 beskryf Dawid reeds baie raak hoe mens na die beeldende afgode moet kyk. Hulle het sienlose oë, gehoorlose ore, woordelose monde, stil hulpelose hande en voete wat nêrens heen kan gaan nie. Hy maan ook dat mense net soos hierdie dooie beelde sou word, indien hulle diesulkes sou aanbid (Ps. 135: 18) en dat God ons indien ons die afgode sou aanhang, Hy ons dienooreenkomstig sal behandel (Eseg. 14: 3-5; Eseg. 23: 49). So ons het met hierdie duidelike persepsie groot geword in ons tyd, en dit is redelik vanselfsprekend dat mens nie dooie beelde en klatergoud kan aanbid nie. Dit kan jou nie red nie, soos ons gereeld in die bybel gewaarsku word (1 Sam. 12: 20-21; 2 Kon. 17: 15; Jon. 2:8). En tog het mense nog altyd afgedwaal van die ware leer en reddingsbeloftes van God. Die waarskuwing in Jer. 2: 25 stel dit so mooi “Moenie jou skoene stukkend loop agter die afgode aan nie, jou keel laat droog word van die dors nie! Maar jy sê “Ek sal nie daarmee ophou nie! Ek het die vreemde gode lief, ek wil hulle dien.” Die vraag ontstaan dus of daar ander dinge is in vandag se tyd, wat vergelykbaar is met afgode waar agter ons ons skoene stukkend loop? Is daar dinge in elkeen van ons se lewe wat belangriker as God is? Is daar dinge wat ons doen, mense in ons lewens, gewoontes in ons elke dag se bestaan, benaderinge ten opsigte van ander mense wat ons van God kan laat vervreem; of wat maak dat ons nie hoor wanneer God met ons praat nie? Dit is ‘n vraag wat net elkeen van ons self kan beantwoord.

Ons is God se tempel deurdat die Heilige Gees in ons woon (1 Kor. 3; 16; 1 Kor. 6: 19) en daarom waarsku ook Paulus ons teen die afgode gebruike, want daardeur doen ons skade aan die tempel van God (2 Kor. 6: 16). Ons moet daarom daagliks in oënskou neem en seker maak dat ons nie ander ‘afgode’ in ons lewens toelaat nie, sodat ons die oorwinning kan smaak van Fil 4: 13, wat alleen deur God, die Vader, die gawe van Jesus Christus en die elke dag se leiding van die Heilige Gees in ons lewens ‘n werklikheid kan word; want die drie-enige God is die enigste ware God (Rom 8: 5-8; Jes 43: 10-12). Mag ons ook soos in Jos. 24: 15 sê: “Wat my en my familie betref, ons sal die Here dien.”