Stof tot nadenke: Waarop hoop ons?

Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder dat julle kan weet watter hoop sy roeping inhou, en watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat Hy vir die gelowiges bestem het, en hoe geweldig groot Sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo
Eff. 1: 18-19

In ons jong dae is ons hoop so dikwels op die materiële en aardse dinge ingestel as gevolg van selfsugtige redes. Dinge wat dikwels deur ouers aangewakker word, bewustelik of onbewustelik, omdat dit so moeilik is om die onsienbare dinge aan ‘n kind te verduidelik. Ons hoop om gelukkig te wees; om bekendheid te verwerf; om baie ryk te wees; om beter af te wees as die meeste mense om ons; om slim te wees; om geleerdheid te kry. Wanneer jy in ‘n opregte christelike huis groot word, word jy reeds vroeg in jou lewe blootgestel aan die genadegawe van hoop wat daar is in die geloof. In 1 Kor. 13: 13 (”En nou: geloof, hoop en liefde bly, hierdie drie, en die grootste hiervan is die liefde”) word hoop, saam met die geloof en die liefde as die drie belangrikste gawes van ‘n Christen uitgewys deur Paulus. Dis in hierdie wete dat ons ook moet begin besef dat ons as kinders ‘n lewenspad gehad het om te loop wat ons by volwassenheid moet uitbring, soos Paulus so mooi gestel het in 1 Kor 13: 11 (“Toe ek ‘n kind was, het ek gepraat soos ‘n kind, gedink soos ‘n kind, geredeneer soos ‘n kind. Maar noudat ek ‘n man is, is ek klaar met die dinge van ‘n kind”). Ons moet ook so groei in die hoop in ons harte.

Hoe ouer ‘n mens word, en deur goeie en traumatiese lewenservaringe, besef mens al hoe meer dat die aardse verganklikheid nie enige behoudende dinge in mens se lewe kan bewerkstellig nie. Paulus waarsku in 1 Tim.6: 17 (“Dié wat in hierdie wêreld ryk is, moet jy waarsku om nie hooghartig te wees nie. Hulle moet nie hulle hoop op die onsekerheid van rykdom vestig nie, maar op God wat alles ryklik aan ons gee om te geniet”). Ook in Heb. 6: 19-20 word ons verseker (“Hierdie hoop besit ons as ‘n veilige lewensanker, wat agter die voorhangsel vas is. Daar het Jesus, ons Voorloper, ter wille van ons ingegaan.”). Ons word ook gemaan om nie net in hierdie lewe ons hoop op Christus te vestig nie (“As ons net in hierdie lewe ons hoop o Christus vestig, is ons die bejammerenswaardigste van alle mense”). Ons moet sterk staan in geloof en ons nie laat losruk van ons geloof en hoop in die evangelie van Christus nie (Kol. 1: 23 “Maar dan moet julle vas en sterk bly staan in die geloof en julle nie laat losruk van die hoop wat in julle gewek is deur die evangelie wat julle gehoor het nie”)

Waarop moet ons hoop? In Rom 15: 13 word ons duidelik daarop gewys en dat ons dit nie uit eie krag kan regkry nie (“ Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees!”) Hoe kry ons hierdie hoop? In Rom. 5: 4-5 word dit vir ons duideliker (“…en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop; en dié hoop beskaam nie, want God het sy Liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het.”). Laat ons dan in volharding hoop (Rom. 8: 25-26; “Maar as ons hoop op wat ons nie sien nie, wag ons daarop met volharding. Die Gees staan ons ook in ons swakheid by… ”) omdat ons deur die Heilige Gees tot geloof gekom het (Rom. 5: 3; “Deur Hom het ons in die geloof ook die vrye toegang verkry tot hierdie genade waarin ons nou vasstaan. En ons verheug ons ook in die hoop om deel te hê aan die heerlikheid van God”). Dan sal ons ook kan sê: “Die Here is my deel, sê my siel, daarom sal ek op Hom hoop” (Kla. 3:24) en saam met die Psalmdigter kan sê: “Gelukkig is die mens wat die God van Jakob as sy hulp het, wie se hoop gevestig is op die Here sy God -, Hy wat hemel en aarde gemaak het, die see, en alles wat daarin is, – Hy wat trou bly tot in ewigheid;” (Ps. 146: 5-6).