Stof tot nadenke: Verganklikheid van die aardse

Julle rykdom het vergaan, en julle klere is motgevreet. ‘Julle goud en silwer is verroes, en die roes sal teen julle getuig, en julle liggame soos vuur verteer…”
Jak. 5: 2-3

In menige plekke in die Bybel en in die geskiedenis van die aarde, word ons herinner aan die verganklikheid van die hier en nou, die verganklikheid van hierdie wêreld (bv. Jak. 1: 11 “ want die son met sy hitte kom op en verdor die veld, en die blom val af en sy skoonheid gaan tot niet”). Met die media se uitsending van die oorloë en gerugte van oorloë besef ons daagliks hoe vernietigende impak die mens self op hierdie aarde het. Waar stede en al die mense daarin in ‘n oogwink platgevee word met die aarde, soos ook in Sodom gebeur het (“Sodom, wat in ‘n oogwink vernietig is, sonder menslike toedoen.” Kla. 4:6) en tans in die Gasa strook, wat ‘, herhaling is van wat in Sef. 2:4 sou gebeur. (“Want Gasa gaan verlate lê en Askelon gaan ‘n woesteny word…”). Dit is soms uit ons menslike oogpunt onverstaanbare gebeure, maar God waarsku dikwels in die ou Testament teen ongehoorsaamheid aan Hom (bv. Deut. 8: 20 “…soos die nasies wat die Here voor julle vernietig, so sal julle omkom, omdat julle na die stem van die Here julle God nie geluister het nie.”).

In Christus se wandel op aarde maan Hy ons gedurig om nie vir ons skatte bymekaar te maak waar mot en roes verniel nie (Luk. 12: 33 “Maak vir julle beursies wat nie vergaan nie, ‘n onuitputlike skat in die hemel, waar ‘n dief nie kan bykom en geen mot kan verniel nie…”) of dat ons nie vir ons voedsel wat vergaan moet bymekaar maak nie, maar die voedsel wat hou tot in die ewige lewe. Daar is net een wat die voedsel vir ons kan gee, naamlik Jesus Christus (”Julle moet nie werk vir die voedsel wat vergaan nie, maar vir die voedsel wat hou tot in die ewige lewe. Dit sal die Seun van die Mens vir julle gee, want op Hom het God die Vader sy seël geplaas.” Joh. 6: 27)

In 2 Kor. 4: 16 kry ons die bemoediging om nie moed op te gee nie, “…want al vergaan ons uiterlike mens, word ons innerlike mens van dag tot dag vernuwe”. Ons kan dus net soos Petus lof bring aan God die Vader vir die ontferming deur die verlossing deur Jesus Christus, omdat ons ‘n nuwe hoop kan hê op ‘n erfenis wat nie kan vergaan nie, nie besmet kon word of verwelk nie en wat deur God self vir ons in bewaring gehou word (Pet. 1: 3-5 “Lofwaardig is die God en Vader van ons Here Jesus Christus. Dit is Hy wat ons in sy groot ontferming, deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood, opnuut verwek het, sodat ons ‘n lewende hoop mag hê op ‘n erfenis wat nooit vergaan, besemt of verwelk nie, en wat in die hemel vir julle in bewaring gehou word – ja, vir julle wat deur julle geloof, deur die krag van God bewaar word virdie verlossing wat gereed is om in die eindtyd geopenbaar te word.”)

Laat ons nie ons toevlug neem in wat ons vernietig nie (Ps. 52: 9), maar laat on vertrou op die Heilige Gees wat vir ons die wapens in die stryd voorsien (“Die wapens van ons stryd is immers nie menslik nie, maar danksy God, kragtig om ons sterk vestings af te breek, redenasies te vernietig en ook elke skans wat opgerig word teen die kennis van God.” 2 Kor. 10: 4-5). Laat ons oog gevestig bly op die onbsigbare dinge, “…want die sigbare is tydelik, die onsigbare ewig” (2 Kor. 4: 18) en “…die blywende het veel groter heerlikheid.” (2 Kor. 3: 11)