“En nou vertrou ek julle toe aan God en sy woord van genade, Hy wat die mag het om op te bou en aan julle onder almal wat geheilig is, ‘n erfenis te gee. ”
Hand. 20: 32
Dr Frans Hancke se preek van 7 Januarie 2023 het dit so mooi gestel: “Ons moet God hoor asemhaal; so naby moet ons aan God leef.” Dis alleen wanneer ons in God se teenwoordigheid leef dat ons so naby aan Hom kan wees dat ons daagliks sy asemhaling kan hoor. Soos Christus dit so mooi stel in Luk. 8: 21 (“Wie na die woord van God luister en dit gehoorsaam, hulle is my moeder en broers.”) en Luk. 11: 28 (“Ja, maar waarlik gelukkig is hulle wat die woord van God hoor en dit onderhou”).
Hoe weet ons egter dat dit wel God se stem is wat ons hoor? Hoe weet ons dat ons nie na vals profete luister nie? Daar is ‘n paar verwysings na die stem van God, soos bv. In Ps. 29: 3-9 (“Die stem van die Here is oor die waters, die God van heerlikheid laat dit dreun, die Here is bo die magtige waters, die stem van die Here is glansryk. Die stem van die Here breek seders, dir Here versplinter die seders van Libanon. Hy laat hulle bokspring soos ‘n kalf, Libanon en Sirjon soos jong buffels. Die stem van die Here splyt rotse met vlamme. Die stem van die Here laat die woestyn bewe, die Here laat die woestyn by Kades bewe. Die stem van die Here laat wildsbokke lam, dit stroop bosse kaal”) gee die Psalmdigter ‘n weergawe van hoe hy die Stem van God ervaar; deur die waters se gedreun; in die natuur gebeure; in die seisonale siklus van lewe; maar meeste van al dat God in beheer is van alles. Ook Jeremia gee die belofte dat ons na God se stem luister, sal Hy vir ons ‘n God wees (“’Luister na my stem, dan sal Ek vir julle ‘n God wees, en julle sal My volk wees!” (Jer. 7: 23) en “Luister na My stem en tree op ooreenkomstig alles wat Ek julle beveel. Julle sal dan My volk wees, en Ek sal julle God wees.” (Jer. 11: 4)). Jeremia neem God se stem en teenwoordigheid waar in die gedruis van waters in die hemel, waar Hy die wolke laat opstyg het volgens sy skepping (“in Sy stem, wanneer Hy dit laat hoor, is daar die gedruis van water in die hemel. Hy laat stapelwolke opstyg aan die einde van die aarde; Hy maak weerligstrale vir die reën; Hy laat die wind vry uit sy vooraadkamers”(Jer. 51:16))
Met Jesus Christus se doop deur Johannes, het God dit vir ons duidelik kom maak dat Jesus nou sy stem op aarde geword het, waarna ons moet luister (“Terwyl hy (Johannes die doper) nog praat, het ‘n helder wolk skielik ‘n skaduwee oor hulle gegooi, en kyk, ‘n stem uit die hemel sê: “Dit is my geliefde Seun, oor wie Ek my verheug, Luister na Hom. ”(Matt. 17: 5)). Ook in Joh. 5: 37 noem Christus aan ons dat die Vader hom gestuur het. (“En die Vader wat My gestuur het, Hy het van My getuig. Julle het nog nooit sy stem gehoor of sy gestalte gesien nie. En julle het sy woord nie blywend in julle nie, omdat julle wat Hy gestuur het, nie glo nie” (Joh. 5: 37)). Mag elkeen van ons dus deel daaraan om een van Christus se kudde te wees, want dan sal ons na Sy stem luister (“My skape luister na my stem, en Ek ken hulle, en hulle volg My. Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal tot in ewigheid nooit verlore gaan nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie. ” (Joh. 10: 27-28)). Wanneer ons na Sy stem luister sal ons bestaan in die waarheid gegrond wees (“Elkeen wie se bestaan in die waarheid gegrons is, luister na My stem” (Joh. 18: 37)). Dit is waar en seker van Christus dat Hy van die begin af by God was (“In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God” (Joh. 1: 1)).
Laat ons, onsself dus nie mislei deur die bekommernisse van hierdie wêreld en die verleiding van rykdom nie, want dit verstik die stem van God (“…maar die bekommernisse van hierdie wêreld, die verleiding van (aardse) rykdom en die begeertes na allerlei dinge dring in en verstikdie woord, en dit bly sonder vrug…” (Mark. 4: 19)), want ons het die belofte van Christus dat ons die ewige lewe het, indien ons na Sy Woord luister (“Ek sê vir julle : Wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en vir hom is daar geen veroordeling nie, maar hy het uit die dood na die lewe oorgegaan.” (Joh. 5: 24)). Mag daar ook van ons gesê word dat ons die Woord van God waarlik as Sy Woord aanvaar het (“En daarom dank ons God onophoudelik dat julle, nadat julle die woord van God van ons ontvang het, dit nie as ‘n woord van mense aanvaar het nie, maar waarlik as die Woord van God.” (1 Tes. 2: 13)), sodat ons God met krag kan dien (“As iemand aan die woord is, laat dit soos die woorde van God wees; as iemand dien, laat dit wees vanuuit die krag wat God voorsien, sodat God in alles verheerlik kan word deur Jesus Christus, aan wie die heerlikheid en die krag behoort, vir ewig en ewig.”(1 Pet. 4: 11)) as bewys dat ons deur die Heilige Gees gedoop is (“Ek het egter die woord van die Here onthou, toe Hy gesê het, Johannes het wel met water gedoop, maar julle sal met die Heilige Gees gedoop word.” (Hand. 11: 16)). Laat die wêreld ervaar dat ons die stem van God hoor deurdat daar geen afbrekende woorde uit ons monde kom nie, maar slegs opbouende woorde. (“Nie ‘n enkele afbrekende woord moet uit julle mond kom nie, maar eerder ‘n woord wat goed is vir noodsaaklike opbou, sodat dit voordeel mag bring vir diegene wat die hoor. ” (Eff. 4: 29)); en mag God ook van ons kan sê “Ek ken jou dade. Kyk, Ek het voor jou ‘n oop deur gegee, wat niemand kan sluit nie. Al is jou krag min, het jy vasgehou aan my woord, en het jy my Naam nie verloën nie.” (Open. 3: 8).
Dit alles is moontlik deur die Liefde van God die Vader, die genadegawe van Jesus Christus se kruisdood, en die bystand van die Heilige Gees.


