Stof tot nadenke: Wat gee ons vreugde?

Die koninkryk van God is tog nie ‘n saak van kos en drank nie, maar van geregtigheid en vrede en blydskap in die Heilige Gees
Rom. 14: 17

Wat is dit wat elkeen van ons vreugde verskaf in hierdie aardse lewe van ons? Ons vind ons tydelike vreugdes, wat dikwels nie juis langdurig is nie, in allerhande aardse plesiertjies. Ons hou van fees vier, familie en vriende om ons hê. Baie van ons vind ons vreugde daarin om alles wat ons wil hê te kan koop en te geniet. Maar bring dit regtig ware en blywende vreugde. Die blydskap met hierdie aardse dinge is so dikwels van kortstondige duur. Die oomblik wat die nuutheid van daardie lank begeerde ding oorgewaai het, bly ons agter met nog ‘n hol kol…wat ons so dikwels met ‘n volgende item probeer vul, wat ons dink ons gelukkig sal maak; maar doen dit regtig?

Reeds in Gen. 31: 27 worde ons verseker dat God ons met vreugde sou wou sien gaan, soos Hy so graag vir Adam en Eva wou doen (“Waarom het jy in die geheim gevlug en my vertroue geskend? Jy het my nie ingelig nie. Ek sou jou weggesien het met vreugde en liedere, met tamboeryne en liere.”) In Jes. 35: 10 vind ons die woorde: “dié wat deur die Here vrygekoop is, sal terugkeer, hulle sal in Sion aankom met juberkrete – met ewige vreugde sal hulle gekroon wees. Blydskap en vreugde sal hulle oorweldig, en verdriet en gesug sal wegvlug.” Ons is so hardkoppig en wil so dikwels nie glo wat deur die profete voor ons neergelê word nie. Dit kan tog nie so maklik wees soos in Miga 7: 18 vir ons vertel dat God ons vergewe nie (“Wie is ‘n God soos U? U is ‘n God wat skuld vergewe, wat by die oortreding verbygaan tot voordeel van die oorblyfsel van sy eiendom, wat nie vasklem aan sy toorn nie, maar wat vreugde vind in troue liefde.

Ons word aangespoor om in vreugde te leef oor God wat ons so lief gehad het (Joh. 6: 3) en dat on “…vol vreugde (moet) wees voor die Here jou God oor alles waaraan jy jou hand gewaag het” (Deut. 12: 18). Ons moet dus alles wat ons doen met blydskap en vreugde doen, want dis ‘n gawe van Bo. Ons kan ons toevlug in die Here vind, en hoef nooit neerslagtig te wees nie (“Moenie neerslagtig wees nie, want die vreugde van die Here, dit is julle toevlug” (Neh. 8: 11)). Net soos Job kan ons ons vreugde vind in die Almagtige Vader, van Hemel en aarde, deurdat ons ons gesig na Hom ophef. (“Ja, dan sal jy vreugde vind by die Almagtige, en jou gesig na God ophef.” (Job 22: 26)). Dan sal ons ook soos die Psalmdigter God kan loof omdat Hy ons vreugde in ons harte gee, meer as wat enige aardse plesier ons vreugde kan gee. (“U het vreugde in my hart gegee, meer as in die tyd wanneer mense koring en nuwe wyn volop is” (Ps. 4: 8): “U wys my die pad van die lewe: oorvloedige vreugde in U teenwoordigheid, liefikhede in U regterhand, vir altyd” (Ps. 16: 11); “Vind jou vreugde in die Here, dan sal Hy jou gee wat jou hart begeer…” (Ps. 37: 4)). Ons kan God vra om ons weer lewend te maak volgens Sy woord (Ps. 119:24-25) en indien God ons aanvaarbaar vind gee Hy ons kennis en vreugde (Pred. 2: 26)

Mag ons in hierdie feestelike tyd waar ons die Seun van God se geboorte herdenk, uitbundige vreugde en blydskap beleef soos wat aan Maria beloof is in Luk. 1: 14 (“Jy sal blydskap en uitbundige vreugde beleef, en baie mense sal bly wees oor sy geboortte”); en ook die vreugde wat ervaar is deur die wyse manne (“Toe hulle die ster sien, het hulle ‘n onbeskryflike groot vreugde ervaar” (Matt. 2: 10)). Dan sal ons ook soos Paulus kan sê “U het vir my die paaie na die lewe bekend gemaak – deur U teenwoordigheid sal U my met blydskap vervul” (Hand 2: 28). Mag ons ook soos Petrus sê dat ons Hom liefhet al het ons Hom nie gesien nie, en dat ons sal kan jubel met ‘n onuitspreeklike en heerlike blydskap. (“Hom het julle lief, al het julle Hom nie gesien nie; en al sien julle Hom nie nou nie, glo in Hom, en jubel julle met ‘n onuitspreeklike en heerlike blydskap, …” (1 Pet. 8)

My hoop vir elkeen van julle in hierdie feestyd is dat: “…die God van hoop julle deur julle geloof met alle blydskap en vrede vervul, sodat julle hoop oorvloedig kan word deur die krag van die Heilige Gees” (Rom. 15: 13).