Stof tot nadenke: Bekommernis

“Die man by wie daar tussen die onkruid gesaai is, is hy wat die woord hoor, maar die bekommernis van die lewe en die verleidelikheid van rykdom verstik die woord, en dit bly sonder vrug.”
Matt. 13: 22

Dit is so maklik om verstrengel te raak in die alledaagse gebeure, gerugte van oorloë, woede, haat, nyd en leuens rondom ons, dat ons die gevaar loop om sonder vrug te bly. Christus stel dit so mooi in Luk. 12: 25-26 “Trouens wie van julle kan deur hom te bekommer sy lewe met een uur verleng? As julle nie eens so ‘n klein dingetjie kan regkry nie, waarom bekommer julle julle oor die ander dinge?” Dit is so deel van ons lewe omdat ons alles om ons wil beheer en beplan. Terwyl God ons telkens herinner daaraan dat Hy in beheer is. Ons kan kyk na die diere en vöels van die veld (matt. 6: 25-27). God het in Sy raadsplan ‘n siklus van seisoene en beskikbare voedsel in die vorm van nuwe saad en nuwe lewe geskep.

Jesaja het die volk van God telkens gewaarsku dat hulle hulle nie deur God laat lei nie (Jes. 9: 12). Dat hulle hulle nie bekeer en nie aan hom die eer, wat Hom toekom, gee nie, met verreikende gevolge; en dat hulle nie oor mekaar bekommerd is nie (Jes. 9: 17-18), wat ‘n aanduiding is van naaste liefde. Christus wys ons daarop dat om ons te bekommer oor allerhande dinge, iets is wat deur die ongelowiges beoefen word (Matt. 6: 32-34). Ons moet ook waak daarteen om bekommernis op ‘n ander te lê, want ons benadeel so ‘n persoon (Spr. 12:25). Dit is beter om ‘n ander met vriendelike woorde op te vrolik.

Ons kan dus al ons bekommernis in die hand van die Vader, die genade van Christus se kruisdood en die leiding van die Heilige Gees, in totale afhanklikheid, oorlaat. Ons hoef ons nie te bekommer oor dinge waaroor ons geen beheer het nie, want God se Plan is vir ons duister. Ons kan wel bedag wees op mense en gebeure wat met valse voorwendsels voorgee om bekommerd te wees oor die mense en die dinge wat rondom ons gebeur (Joh. 12: 4-6). Dit is dikwels deur gierige motiewe wat hulle gedryf word.

Selfs watter woorde ons uiter, moet ons aan die leiding van die Heillige Gees oorlaat. So ons hoef nie op ons eie kragte staat te maak wanneer ons die leiding van die Heilige Gees in ons lewens aanvaar het nie. Want woorde sal deur die Heilige Gees geïnspireerd vir ons gegee word wanneer ons dit nodig mag hê. (Mat. 10: 19-20; Matt. 13: 11; Luk. 12: 11-12). Christus het ons in Joh. 10: 11-13 daaraan herinner dat Hy die goeie Herder is, en Hy alleen sal ons waarlik beskerm, aangesien huurlinge kan weghardloop, sodra gevaar dreig. So plaas jou lewe volkome in die hande van God.