Stof tot nadenke: ‘n Nuwe Seisoen

Ek laat blindes gaan op ‘n weg wat hulle nie ken nie; op paaie wat hulle nie ken nie, laat Ek hulle loop. Ek maak duisternis voor hulle lig, die ongelyk plekke maak Ek gelyk. Dit is die beloftes – Ek voer dit uit, Ek laat dit nie na nie.
Jes. 42: 16

Baie van ons is reeds in ons herfs en wintersjare, maar die aarde lê nog bar en daar is gedurig kinders en jongmense wat nog in hulle lente en somers-jare leef. Die verandering van ons lewensjaar seisoene is iets waaraan ons nie kan verander nie, al het soveel mense die begeerte om hier op aarde vir ewig te kan lewe. In die kerjaar is ons in die tyd van Epifanie. Dis die tyd van 6 Januarie tot die laaste Sondag voor Aswoensdag. Dit is ‘n tydperk wat aandui op die koms van Jesus Christus, en dit poog om ons te herinner aan die lewe van Christus, vanaf Sy kinderdae tot en met Sy lydenstyd. Dit begin by die Wyse manne se besoek aan die krip in Bethlehem, waar die Betlehemster ons herinner aan die belofte van God wat deur Jesaja (Jes 46:16) reeds voorspel is. God se beloftes is vas, Hy voer dit uit en Hy sal dit nie nalaat om te gebeur nie.

Ons word dus herinner aan die nuwe seisoen wat deur die lentetyd van Jesus Christus se lewe as geskenk vir ons gegee is. Johannes verseker ons dat in Hom is daar lewe en dat Hy die lig van die wêreld was (“In Hom was lewe, en dié lewe was die lig vir die mense. En die lig skyn in die duisternis, en die duisternis kon dit nie uitdoof nie” (Joh. 1: 4-5)). Hierdie lig het onder ons kom woon om ook vir ons as geloofs-blindes die pad wat ons nie ken nie te wys; om ons op paaie te laat stap en die duisternis voor ons lig te maak. Hierdie lig was Jesus Christus (“En die Woord het vlees geword en onder ons kom woon, en ons het Sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos dié van die unieke Seun van die Vader – vol genade en waarheid” (Joh. 1: 14)).

Jesus Christus self verseker ons dat Hy die lig van die wêreld is soos die belofte van Jesaja, deur God, die Vader aan ons deurgegee is. (“Toe het Jesus weer met hulle gepraat en gesê: “Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal beslis nie in die duisternis leef nie, maar sal die lig van die lewe hê” (Joh. 8: 12); “So lank as wat Ek in die wêreld is, is Ek die lig van die wêreld” (Joh. 9: 12)). Ons ontvang ook die belofte dat ons in Jesus Christus kan glo, om uit die duisternis te kom (“Jesus het uitgeroep en gesê: Wie in My glo, glo nie net in My nie, maar ook in Hom wat My gestuur het! En wie my sien, sien Hom wat My gestuur het. Ek het as ‘n lig na die wêreld gekom, sodat elkeen wat in My glo, nie in die duisternis sou bly nie” (Joh. 12: 44-46)).

Hoe kan ons nie in hierdie lig wil wees nie. Wanneer ons in hierdie wêreld kyk na al die duisternis wat om soveel mense hang. Die moord, doodslag en agteraf gekonkel van regerings en mense wat verkies om in die duisternis te leef. Die lig van die Wêreld het reeds gekom, en is deur baie mense in Bethlehem voor ons tyd beleef (“Die volk wat in duisternis woon het ‘n groot lig gesien; vir hulle wat in die gebied en die skadu van die dood leef, het ‘n lig opgegaan. “”Van toe af het Jesus met sy verkondiging begin en gesê: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele is op hande”(Matt. 4: 16-17)). Hoekom vind mense hierdie las van Jesus Christus so moeilik om te dra? Hy belowe ons dat die ‘n ligte las is (“Kom na My toe, almal wat vermoeid en swaar belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle, en leer van My, omdat Ek sagmoedig en nederig van hart is, en julle sal rus vind vir julle gemoed. Want my juk is draaglik en my las is lig” (Matt 11: 28-30)).

Laat ons dan ook soos die huis van Jakob, in die lig van die Here leef (“Huis van Jakob, kom, laat ons leef in die lig van die Here” (Jes. 2: 5)). Laat ons meer uitvind oor die lewe van Jesus Christus, die unieke Seun van God die Vader, en deur die werking van die Heilige Gees, sodat die wêreld kan sien ons behoort aan Hom (“Laat julle lig só voor die mense skyn, sodat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, kan verheerlik” (Matt. 5: 16)). Want dan sal die wêreld weet dat Jesus Christus die Seun van die Skepper God is (“Regverdige Vader, die wêreld ken U nie, maar Ek ken U, en hulle weet dat U My gestuur het. En Ek het u Naam aan hulle bekend gemaak en Ek sal die verder bekend maak, sodat die liefde waarmee U My liefgehad het, in hulle kan wees, en Ek in hulle.” (Joh. 17: 25-26)). Laat ons die lamp wat Christus kom aansteek het, nie versteek onder ‘n maatemmer nie, maar dit op ‘n lampstaander plaas, ongeag die lewensjaar-seisoen waarin ons leef (“Niemand steek ‘n lamp op en plaas dit dan in ‘n versteekte hoekie of onder ‘n maatemmer nie, maar op ‘n lampstaander, sodat die mense wat binnekom, die lig kan sien. Die oog is die lamp van die liggaam. As jou oog suiwer is, is jou hele liggaam ook verlig, maar as dit boos is, is jou liggaam ook donker. Pas dus op dat die lig in jou nie duisternis is nie. As jou hele liggaam verlig is en daar nie ‘n enkele donker plekkie is nie, sal dit heeltemal verlig wees, soos wanneer ‘n lamp jou met strale verlig” (Luk. 11: 33-36)).