Stof tot nadenke: ‘Oorwin die kwaad’

“Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad met die goeie”
Rom. 12: 21

Die woord kwaad word dikwels in die bybel gebruik, maar in ‘n verskeidenheid van kontekste. Die vers in Romeine 12 verwys nie na die emosie wat ons amal so dikwels aan skuldig is nie, maar aan die boosheid wat ons so maklik kan verswelg. Dit is so maklik om te val; deur die dinge wat ons dink, doen en sê. Ons moet gedurig daarop bedag wees dat die ‘kwaad’ alles in sy vermoë sal doen om ons te oorwin. Joh. 3: 20-21 stel dit duidelik dat almal wat kwaad doen, haat die lig omdat dit sy duister dade aan die kaak kan stel. Wanneer ons in die waarheid handel, kan almal sien dat ons gehoorsaam is aan God, by wie die kwaad geen plek het nie (Ps. 5: 5).

Salomo waarsku ons dat om wysheid te hê is om die kwaad te vermy, deur die Here te dien (Spr. 14: 16, Spr. 16: 6 en Spr. 16:17). Dis wanneer ons wysheid kortkom dat ons roekeloos en selfversekerd in ons eie krag lewe. Petrus vermaan ons om ons ten alle tye goed te gedra onder ongelowiges (1 Pet. 2: 12), ongeag hoe hulle oor ons praat, of watter aantuigings hulle teen ons mag hê; want deur die goeie te doen, sal ons ‘n “einde maak aan die kwaad wat mense sonder begrip uit onkunde praat.” (1 Pet. 2: 15). Ons moet wegbly van die ‘kwaad’ af en doen wat goed is (1 Pet. 3: 11), maar ons moet dit doen in nederigheid en met eerbied vir God. Sodoende kan ons met ‘n skoon gewete voor enige lasteraars bly staan, sodat hulle sal skaam word oor die kwaad wat hulle praat en doen (1 Pet. 3: 16).

Ten spyte van die kwaad wat ander aan mens doen, soos Josef se broers aan hom gedoen het (Gen. 50: 20-21), en Saul aan Dawid gedoen het (1 Sam. 24: 17-18), moet ons egter besef dat dit wat met ons gebeur in God se raadsplan is. Dit wat soms vir ons moeilik is om te verstaan wanneer dit gebeur, het uiteindelik ‘n toekomstige gevolg wat eers later vir ons duidelik word. Wanneer ons Ps. 15 ons eie maak, sal ons nie wankel nie. Wanneer ons die liefde van Christus in ons harte het sal ons ander geen kwaad aandoen nie (Rom. 13: 10) en wanneer ons ons van die kwaad gereinig het sal ons bruikbaar wees in God sy koningkryk (2 Tim. 2: 21) vir enige diens aan God.

Ons moet egter te alle tye onthou dat ons dit in beskeidenheid moet doen, want niks kom uit ons self nie. Dit is die liefde van God, die Vader, die genadegawe van Christus die Verlosser en die ewige werking van die Heilige Gees in ons lewe, wat ons die krag gee om die kwaad met die goeie te oorwin, sodat ons nie sal wankel nie (Ps. 5).