“Daarop het die toesighouers en satrape (provinsiale goewerneurs in die ou Persië) na ‘n rede vir ‘n aanklag teen Daniël gesoek in verband met die koninkryk, maar hulle kon geen rede of fout vind nie, omdat hy betroubaar was. Geen nalatigheid of fout is by hom gevind nie.”
Dan. 6: 5
Hoe getrou is ons in ons geloof? Dwaal ons maklik af na die verleidings en aanvalle van hierdie wêreld? Of sal daar van ons gesê kan word soos van Daniël, dat ons betroubaar is? Waar het Daniël se betroubaarheid so duidelik uitgekom? Dit vind ons in Dan. 6: 11 (“Toe Daniël te wete kom dat die bevelskrif (om die Koning alleen te aanbid) geskryf is, het hy sy huis binnegegaan. Hy het in sy bovertrek oop vensters gehad in die rigting van Jerusalem; en hy het drie keer op ‘n dag daar op sy knieë gegaan, gebid en voor God lof uitgespreek, soos hy voorheen gedoen het.”). So het hy aan sy hele wêreld gewys dat hy aan God getrou sal bly, ten spyte van die moontlike gevolge.
Reeds in Eks. 19: 5 (“As julle dan nou getrou luister na My stem en my verbond nakom, dan sal julle onder al die volke my persoonlike eiendom wees, al behoort die hele aarde aan My”) beloof God dat as ons getrou na Sy stem sal luister en Sy verbond sal nakom, dat ons onder die volke Sy persoonlike eiendom sal wees. Ons weet dat alhoewel hierdie belofte aan die Isreliete gemaak is dit ook op ons van toepassing, wanneer ons in Jesus Christus glo (“Maar God is getrou – ons woorde aan julle is nie tegelyk ‘ja’ en ‘nee’ nie; want Jesus Christus , die Seun van God, wat deur ons aan julle verkondig is, deur my (Paulus) en Silvanus en Timoteus, was nie ‘ja’ én ‘nee’ nie- inteendeel, in Hom het dit ‘ja’ geword” (2 Kor. 1: 18-19))
Sien ons kans om getrou in ons geloof aan Jesus Christus dit so ten toon te stel, selfs in ‘n wêreld wat ons smaad en hoon omdat “die wetenskap” alles ‘wat ons glo’ verkeerd bewys het? Of is die hele wetenskap wêreld op soek na antwoorde om beter te verstaan wat God sonder moeite geskep het? Die Bybel verseker ons dikwels van die getrouheid van God (“Maar die Here is getrou; Hy sal julle versterk en van die Bose bewaar” (2 Tes. 3: 3)). Daniël se geloof was getrou aan God, en hy het geweet dat God hom sal bewaar, so het hy die leeukuil oorleef, omdat hy geweet het dat God hom sal bewaar. Ook Sadrag, Mesag en Abednego, vriende van Daniël, het geweier om die goue beeld van Nebukadneseer te aanbid en moes ‘n vuurdoop deurgaan terwille van hulle getrouheid aan God (Dan. 3). So het hulle God se almag vir die wêreld ten toon gestel, en Konings omgehaal om die almag van God te erken. (“Moenie vir enigiets wat jy nog gaan ly, bang wees nie. Kyk, die Duiwel gaan sommige van julle in die tronk laat gooi, sodat julle getoets kan word. Tien dae lank sal julle verdruk word. Wees getrou tot die dood toe, en Ek sal aan jou die oorwinnaarskrans van die lewe gee.” (Open. 2: 10)).
Ons weet dat ons nie uit eie krag getrou kan bly nie, al is die wil daar om aan God getrou te bly, want God is getrou en sal ons nie bo ons vermoë laat versoek nie (“Geen versoeking het oor julle gekom, behalwe ‘n menslike een nie. God is egter getrou. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle vermoë versoek word nie, maar sal saam met die versoeking ook die uitkoms gee, sodat julle dit kan verduur” (1 Kor. 10: 13)). God het dit alles moontlik gemaak vir ons deurdat Hy vir Jesus Christus gestuur het, wat vir ons almal gesterf het en sodoende die sonde oorwin het. (“En Hy het vir almal gesterwe, sodat dié wat lewe, nie meer vir hulleself moet lewe nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf het en uit die dood opgewek is.” (2 Kor. 5: 15)).
Laat ons almal getrou in geloof bly aan God die Vader, die Seun as Verlosser en die Heilige Gees, sodat God oor ons sal voel soos Petrus oor die mense in Antiogië gevoel het (“Toe hy daar aankom en die genade van God sien, was hy bly en het almal aangemoedig om met vaste voorneme van hart aan die Here getrou te bly” (Hand. 11: 23)); of soos Paulus gevoel het oor die Korinthiërs (“Ek dank my God altyd oor julle vir die genade wat Hy in Christus Jesus aan julle geskenk het, want in Hom het God julle in alles ryklik geseën, veral in die gawes van woord en kennis” (1 Kor. 1: 4-5)). Laat ons dus nie wanneer God aan ons deur kom klop , versuim om dit oop te maak nie (“Kyk Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand My stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe, en saam met hom eet, en hy saam met My” (Open. 3: 20-21); en “Laat dié wat ore het, luister na wat die Gees aan die gemeente sê” (Open. 3: 22)).
Laat elkeen van ons die stem van God hoor en soos Jesaja antwoord (“Toe hoor ek die stem van my Heer wat sê: “Wie sal Ek stuur en wie sal vir ons gaan?” Ek sê toe: “Hier is ek, stuur my!” (Jes. 6: 8)). Laat ons nie in ons tente sit en mor, en 40 jaar mense word nie! (“Hulle het in hulle tente gemor en nie na die stem van die Here geluister nie.” (Ps. 106: 25)). Of laat ons nie so dwaas soos die farao redeneer nie (“Maar die farao het gesê: “Wie is die Here, dat ek na sy stem moet luister om Israel te laat gaan? Ek ken nie die Here nie, en Israel sal ek ook nie laat gaan nie” (Eks. 5: 2)). Laat daar eerder van ons gesê word dat ons na die woord van God geluister het (“Ek het na die stem van die Here my God geluister. Ek het opgetree net soos U my beveel het” (Deut. 26: 14)), sodat die Psalmdigter se woorde ook vir ons waar kan wees (“Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In U hande is ek veilig ” (Ps. 23: 4)). Dis dan wanneer ons ook getrou in geloof kan wees soos Daniël en sy vriende van ouds.


