“My volk het twee sondes begaan: Hulle het My, die bron van lewende water, verlaat, en hulle het vir hulle waterbakke uit klip gekap, waterbakke wat gebars is en nie water hou nie.”
Jer. 2: 13
Dikwels in die Ou Testament speel water ‘n belangrike rol (bv. In Eks. 2: 10 “Toe hy oud genoeg was, het sy hom na die dogter van die farao toe gebring, wat hom as haar eie seun aangeneem het. Sy het hom Moses genoem, “want”, het sy gesê, “ek het hom mos uit die water gehaal.””; In Eks. 14: 22-29 waar die Israeliete droogvoets deur die see getrek het en die agtervolgende Egiptenare verdrink het nadat die see se walle weer deur God se beheer terug gevloei het; In Rig. 7: 6 word Gideon se vegters gekies na aanleiding van die manier wat hulle water gedrink het; en so kan ons talle voorbeelde noem). Selfs in hierdie lewe weet ons dat ons nie kan oorleef sonder water nie. Ons liggame bestaan uit meer as 75% water, en dit is dus vir ons onmoontlik om sonder water te lewe.
In Jer. 2: 13, word daar egter verwys na ‘n ander bron van water. In Job. 8: 11-13 noem Job dat riet en vleigras die water van die moeras nodig het om te groei, anders sal dit baie vinnig verdor. “So gaan dit met hulle wat God vergeet.”Jer 17:7-8 noem dat “Dit goed gaan met die mens wat sy vertroue in die Here stel, die mens vir wie die Here ‘n veilige vesting is; so iemand is soos ‘n boom wat by water geplant is en sy wortels na die stroom toe uitstoot, nie die hitte voel as dit kom nie en altyd groen blare het; ‘n droeë jaar raak hom nie en hy hou nie op om vrugte te dra nie.”
Christus verseker ons dat hy die bron van water is waarna ons nie weer sal dors kry nie. Die bron van lewende water wat ons alleen by God, die Vader, Jesus Christus, die Seun, en die Heilige Gees, wat ons Trooster is, kan kry. Wanneer ons hierdie bron van water ontdek het, sal daar ‘n fontein in ons opborrel en “strome van lewende water sal uit ons binneste vloei en ons die ewige lewe gee. Hiermee het Christus na die Heilige Gees verwys, want die mense wat tot geloof in Hom kom, sou die Gees ontvang.” (Joh. 4: 1-14 en Joh. 7: 37-39). Daardie bron waarna elkeen van ons dwarsdeur ons lewe soek, want dit is die enigste bron van lewe wat vrede gee. Dit is die enigste bron wat maak dat ons nooit weer dors word nie. Mag ons nie hierdie bron van lewende water ooit verlaat nie, want dan sal ons ook soos in in Spr. 10: 28 kan sê dat ons verwagting “vreugde” is omdat ons deur die krag van die Heilige Gees ook die stroom lewende water na ander kan bring. Ook dan sal Ps. 23 vir ons ‘n werklikheid word, waar ons elke dag in die nabyheid van die Lewende bron van water kan leef.


