Stof tot nadenke: ‘n Nuwe mens

“Nikodemus sê vir Hom: “Hoe kan ‘n mens weer gebore word as hy reeds oud is? Hy kan tog nie ‘n tweede keer in die moederskoot ingaan en gebore word nie?” Jesus antwoord: “Amen, amen. Ek sê vir jou: as iemand nie uit water én Gees gebore word nie, kan hy die koningkryk van God nie binnegaan nie”
Joh. 3: 4-5

Die vraag waarmee baie mense worstel, en tog so eenvoudig deur Christus beantwoord word. Ons moet deur water gebore word, die normale geboorte in die menslike konteks. Dit is egter die tweede geboorte wat so dikwels vir ons ‘n duister saak is. Uit ons menslike perspektief wil ons dinge beheer. Ons wil die vermoë hê om dinge te doen, wat vir ons beheer gee oor die uitkomste. Ons wil nuwe mense wees in Christus, want ons leef met die natuurlike drang, soos God ons geskape het, om nader aan God te kom.

Dit is egter nie uit eie krag wat ons die Heilige Gees in ons lewens kan indwing nie. Ons is deur Christus geroep, en Sy genade gawe, deur vir ons aan die kruis te sterf, het dit vir ons moontlik gemaak om die Heilige Gees in ons lewe te ervaar. Ef. 2:22 stel dit so mooi: “In Hom word julle ook saam opgebou tot woonplek van God deur die Gees”. Dit was egter deur Christus se vredesboodskap aan almal wat ver was, en diegene wat naby Hom leef, dat ons toegang tot die Vader deur die Heilige Gees verkry het (Ef. 2: 17-18).

In 1 Pet. 1: 23 word ons herinner dat ons “nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike, deur die lewende en blywende woord van God” weer gebore word. Maar hoe kan ons seker weet dat ons weergebore is? Wat is die maatstaf vir vrede in ons gemoed? Christus het vir ons ‘n voorbeeld nagelaat, sodat ons in Sy voetspore kan volg. Hy wat geen sonde gedoen het nie, en in wie se mond geen bedrog was nie. Toe Hy uitgeskel is het Hy nie teruggeskel nie. Toe Hy gely het, het Hy nie gedreig nie. Hy het Homself totaal oorgelaat aan die Vader wat regverdig oordeel (1 Pet. 2: 21-23).

Verder gee Petrus menige eienskappe, naamlik om eensgesind, meelewend, vol broederliefde, vol ontferming, nederig, mense wat nie kwaad met kwaad vergeld of skeldtaal met skeldtaal nie. Ons moet eerder mense wees wat seën oor ander spreek (1 Pet. 3: 8-9). Ons moet ons denke vernuwe en die nuwe mens wees, wat ons word wanneer die Heilige Gees ons as woonplek gebruik. Ons moet “die nuwe mens soos ‘n nuwe kleed aan trek , wat in ware geregtigheid en heiligheid in ooreenstemming met God geskep is.” Daar is ook in Kol. 3-9-11 nog menige maatstawwe, sodat ons kan weet dat ons deel is van Christus wat alles in almal van ons kan wees. Dit is egter nie uit ons eie krag nie, maar alleen deur die genade van God se Liefde vir ons, van Christus se kruisdood en onder leiding van die Heilige Gees, wat ons volwaardige Nuwe mense kan wees.