“Lê juis daarom alle ywer aan die dag om by julle geloof deug te voeg, by deug insig, by insig, selfbeheersing, by selfbeheersing, volharding, by volharding, godvresendheid, broederliefde, en by broederliefde, liefde vir alle mense.”
2 Pet. 1: 5-7
Ons hoor dikwels dat ons nie uit eie krag die ewigheid kan beërwe nie, want dit is ‘n genaddegawe van God. Dit is absoluut korrek, maar ons kan nou ook nie op ons louere sit en hoop dat ons die ewigheid sal erf nie. In Petrus 2 roep Petrus ons duidelik op om ons te beywer om geestelik te groei. Daar is dus tog ‘n sekere inset wat van ons kant af moet kom. Ons moet nadat ons besluit het om die genadegawe van God te aanvaar, ons beywer om al die deugde wat so mooi gestel word, in ons lewe ‘n werklikheid te maak.
Petrus stel dit duidelik dat indien ons ons beywer om al hierdie eienskappe in ons lewe ‘n werklikheid te maak, dat ons nie nutteloos en sonder vrug sal wees in die kennis en uitlewing van die voorbeeld van Jesus Christus nie. Petrus noem dat ons blind en kortsigtig is, en dat ons nie besef dat God ons vorige sondes vergewe het nie, indien hierdie eienskappe by ons sou kortkom.
Petrus noem selfs dat ons nooit sal struikel, as ons al hierdie dinge doen nie, en dat ons Verlosser Jesus Christus vir ons ryklik sal voorsien (2 Pet. 1:11). Hierdie herinnering daaraan, dat ons ons moet beywer om geestelik in Christus te groei, is belangrik terwyl ons in hierdie aardse woning van ons leef.
In 2 Pet. 1: 17-18 word ons ook weer aan die Waarheid van die Woord herinner. Simeon Petrus wat die voorreg gehad het om saam met Christus te wandel en die wonderdade aanskou het. Hy was by toe God Christus as Sy seun erken het. Dit is ook waarom Petrus dit nodig geag het om hierdie woorde, deur die leiding van die Heilige Gees, in bewaring te laat bly. Sodat ons kan weet dat ons nie hoef te twyfel nie, maar dat ons ons moet beywer om meer en meer soos Jesus te wees, in ons spreke en ons handel.


