“Maar wie diep in die volmaakte wet van vryheid inkyk en daaraan hou, sal gelukkig wees in wat hy doen, omdat hy nie ‘n vergeetagtige hoorder is nie, maar ‘n doener.”
Jak. 1: 25
Ons wonder dikwels of dit geloof alleen is wat ons red. Is dit voldoende om net volkome te glo dat Jesus Christus my Verlosser is? Dit is duidelik deur die hele boek van Jakobus, waarin hy briewe gestuur het vir die twaalf stamme in Diaspora, dat ook hulle soms met hierdie vraag geworstel het. Jakobus maan hulle egter telke male dat om net te glo nie voldoende is nie. In Jak. 2: 4 vra Jakobus “Wat baat dit broers, as iemand sê dat hy geloof het, maar hy het nie dade nie?” en in Jak. 2: 20 “Wil jy weet, o nietige mens, dat geloof sonder dade nutteloos is?”, in Jak. 2: 24 “Julle sien dus dat ‘n mens op grond van dade regverdig verklaar word, en nie deur geloof alleen nie.”, en in Jak. 2: 26 “Want net soos die liggaam sonder asem dood is, só is die geloof sonder dade dood.”
So dikwels hoor mens egter die aaname dat ons swak en sondig is, en dus nie altyd aan die vereistes van ‘n gelowige lewe kan voldoen nie. Tog skryf Jakobus in Jak. 1: 12 “Gelukkig is die man (of vrou) wat versoeking deurstaan, want as hy die toets slaag, sal hy die oorwinningskrans van die lewe ontvang, wat God beloof aan hulle wat Hom liefhet.” Ons hoor ook dikwels hoe mense God verkwalik wanneer daar versoeking oor hulle pad kom, of dat God aangeval word wanneer slegte dinge in hierdie aardse bestaan van ons gebeur. Ook hier gee Jakobus ‘n duidelike antwoord. “Laat niemand wat versoek word , sê “Ek word deur God versoek” nie, want God kan nie deur kwaad versoek word nie , en self versoek Hy niemand nie. Elkeen word versoek wanneer hy deur sy eie begeerte meegevoer en verlei word. Dan, wanneer die begeerte bevrug is, gee dit geboorte aan die sonde en wanneer die sonde volgroei is, gee dit geboorte aan die dood.” Jak. 1: 13-15
Die een ding wat Jakobus ons teen waarsku is die tong. In Jak. 1: 26 waarsku hy ons dat “As iemand dink dat hy godsdienstig is en nie sy tong kan beheer nie, mislei hy homself, so ‘n mens se godsdiens is vergeefs.” Hy waarsku ons dat die tong ‘n vuur is en “‘n wêreld van groot ongeregtigheid” (Jak. 3: 6) is en dat dit die hele liggaam kan besoedel. Dit is iets waarteen ons moet waak, want die tong kan nie deur ‘n mens getem word nie. “Dit is ‘n onbestendige kwaad, vol dodelike gif. Daarmee loof ons die Here en Vader, en daarmee vervloek ons mense wat na die beeld van God geskape is.” Jak. 3: 8-9.
Daar is egter hoop, want Jakobus noem dat indien ons wys en verstandig is, dat ons dit “deur goeie gedrag (sy/en) dade met sagmoedigheid ons wysheid kan toon.” Jak. 3: 13. In Jak, 4: 11-12 maan hy ons egter om nie van mekaar kwaad te praat nie, want “ wie kwaadpraat van sy broer, of oor sy broer oordeel, praat ook kwaad van die wet en oordeel die wet. Wanneer ons die wet oordeel is ons nie doeners nie maar regters.” Maar “daar is net een wetgewer en regter – Hy wat in staat is om te verlos en te vernietig. Maar jy, wie is jy om jou naaste te oordeel” Jak. 4: 11-12.
Laat ons dan in die wet van vryheid inkyk en gelukkig wees in wat ons doen, omdat ons nie hoorders is sonder om te doen nie. Deur die Vader, die Seun en die Heilige Gees is ons daartoe in staat om versoekings teen te staan en met hul hulp en bystand kan ons die tong onder beheer hou. Nie uit ons eie krag nie maar deur hulp en genade van God.


