Gebedsgids vir November 2025 NG Kerk Groot-Brakrivier

Gebed
1 Joh 5:4 “Want alles wat uit God gebore is, oorwin die wêreld; en dit is die oorwinning wat die wêreld oorwin het, naamlik ons geloof

1 November – Saterdag – God se genade is vir vandag

Here, help my om die mense wat my pad vandag verbykom nie mis te kyk nie,  maar my oor hulle te ontferm. Hulle is dalk honger, koud, siek, eensaam of  hartseer. God se genade is vir almal beskikbaar maar ek moet net die  bereidwillige instrument wees.

2 November – Sondag – Ek is nie bang nie 

Mag die liefde van God en Sy beloftes jou altyd verseker van Sy nabyheid en  beskerming. Mag Sy vrede jou gemoedsrus gee en Sy blydskap jou beskerm. Al druis en skuim die waters van die see, weet ek U is vir my ‘n beskutting.

3 November – Maandag – Aanvaar net Sy plan

Het God vandag jou planne gekanselleer om gevaar te vermy? Hy het dalk  jou   ‘n ander pad laat ry om jou lewe te red.  Jy moet dit net aanvaar, want Sy plan   is beter as joune.                                         

4 November – Dinsdag – Die veelkleurigheid van God                                                                                      

Jesus se paaie is hoër as myne, Sy gedagtes is by verre meer verrykend en kan  nie met myne vergelyk word nie.  Sonder Hom is ek totaal verlore.  Jesus, neem  my hand en lei my veilig na U Koninkryk. 

5 November – Woensdag – Wandel deur geloof

God wil hê ons moet gister se laste agter laat, want Sy genade is elke oggend  nuut. Hy wil saam met ons wandel, want Hy het reeds die pad vir ons voorberei.   Hou jou oë gerig op Hom, dan sal jy nooit in die duisternis wandel nie.

6 November – Donderdag – Hy is die kern van alles

Jesus, U is nie net deel van die skepping nie, maar die middelpunt waartoe alles  lei. U is die Brood van die lewe, die Opstanding en wat die ewige lewe bied aan  diegene wat in U glo – te midde van lyding en dood.

7 November – Vrydag –  Sout van die aarde

Vader, leer ons ook hoe om die sout van die aarde te wees soos wat ons in U  woord lees. Ons moet die gemeenskap met medelye, geregtigheid en  barmhartigheid kan geur deur aktief die leringe van Jesus uit te leef.

8 November – Saterdag – Here, leer ons 

Here,  help ons om ‘n baken van U liefde te wees. Gee ons die wysheid om  geduldig en vriendelik te wees met elkeen wat ons pad kruis. Help ons om U  lig uit te leef. 

9 November – Sondag – My spesiale kind is deel van Sy plan

Wanneer ouers verneem dat hul baba met Downs Sindroom gediagnoseer is,  dui jou wêreld ineen. Jy wil nie hierdie grondpad loop nie. Maar as jy met God die pad stap, dan kry jy die mooiste waardering vir die klein mensie wat jou  lewe inkleur.

10  November – Maandag  –  Volhard in geloof

Vader, help my om te volhard in geloof met die wete dat U my nooit sal verlaat  nie. Anker my siel in U waarheid en hou my vas in tye van twyfel en  onsekerheid. 

11 November – Dinsdag – Die lang vermoeiende pad 

Jesus, wanneer ek so verlang na my familie of kinders wat so wyd versprei is, is   dit net U wat my kan troos.  Dit is ook net U wat langs my staan en my optel as   die pad vir my te lank is. 

12 November – Woensdag – Die prys is ook vir jou betaal

Jesus word geslaan, gekruisig en Hy sterf. Hy beleef die uiterste liggaamlike  pyn. Hy word verwerp en verloën. Hy kan nou vir jou meegevoel en troos bied  want Hy het die ergste reeds beleef deur die prys vir ons redding te betaal.

13 November – Donderdag – Vermy jy die kruis?

Vermy ons dalk die kruis omdat dit ontbering en opoffering is? Kom ons  hardloop eerder  na die kruis, nie in vrees nie, maar met volharding. Die doel is  om die wedloop van die lewe te voltooi, met Jesus as die Leidsman en  Voleinder.

14 November – Vrydag – Wanneer ons Jesus se voetstappe hoor

Jesus, wat ‘n wonderlike voorreg om U voetstappe te hoor,  veral wanneer ons  oorweldig en moedeloos voel. Om by U voete te sit, is vir my ‘n plek van  veiligheid en vurige gebed. 

15 November – Saterdag – Vertrou Hom met jou hele hart

God sê: “Ek is die opstanding en die lewe wat die dode laat verrys. Ek is die  Waarmaker van jou drome  – laat my toe om jou drome wat gesterf het weer  te laat herleef.  Jy sal leer om My stem te herken, moenie bang wees om My te  vertrou met jou hele hart nie. 

16 November – Sondag –  Ons diepe afhanklikheid van God

Jesus Christus het juis aan die kruis ons siektes op Hom geneem en ons  swaarkry gedra. Ons besef ons diepe afhanklikheid van God en weet dat Hy  alleen in beheer is.

17 November – Maandag – Hy is  my geliefde Seun,  ‘n Kind so na my hart

Hy is die Seun van God, die Opstanding en die Lewe, die Alfa en die Omega. Hy  is die Goeie Herder. Jesus Christus is onveranderlik – tot in ewigheid.  Amen.

18 November – Dinsdag – God laat alles ten goede meewerk

God se waarheid is nie afhanklik van ons emosionele toestand nie. Al is ons van  alles gestroop, is Jesus steeds die Koning van die konings en is aan stuur van  ons lewe – ongeag wat die uitkoms gaan wees. Vertrou Hom, Hy is steeds in  beheer.

19 November – Woensdag – Hoe gaan dit regtig met jou

Here, help my om op u beloftes te vertrou en op u voorsiening staat te maak.   Ek wil my bekommernisse en angs aan u voete neerlê. Ek vertrou alleen op U.

20 November – Donderdag –  Vertroetel die huwelik

Hemelse Vader, ons bid vir alle verhoudings en huwelike en dat U hulle sal  beskerm teen elemente wat dit wil vernietig. Seën hulle met ‘n diep liefde vir  mekaar en vul hulle met ‘n passie om mekaar elke dag opnuut  te ontdek en te  waardeer. 

21 November – Vrydag – God se goedheid en guns

Vader, as ek my hoof buig voor ‘n bord kos, dan wil ek U ook dank vir lepels vol  genade, koppies vol hoop en bakke vol liefde. Mag elkeen se  beker vandag  oorloop in die teenwoordigheid van Jesus. U goedheid en guns is  nimmereindigend.

22 November – Saterdag – Mededeelsaamheid 

Laat ons dan gedurig deur Hom aan God ‘n lofoffer bring, dit is die vrug van die  lippe wat Sy naam bely. Vergeet die weldadigheid maar nie van  mededeelsaamheid nie, want God het ‘n welbehae aan sulke offers.

23 November – Sondag – Reik uit na die ongekende

Psalm 142:7  Luister tog na my hulpgeroep want ek is magteloos. Red my van  my vervolgers want hulle is te sterk vir my. FEBA verkondig die Goeie Nuus  onder die nasies sodat elke man, vrou en kind die Evangelie van Jesus Christus  kan hoor.  

24 November – Maandag – Omsluit my van alle kante

Here, U ken my en sien dwarsdeur my.  U ken my gedagtes nog voordat hulle by my opkom. U is goed bekend met my paaie – of ek reis of oorbly, U bepaal dit.  Hoe kan ek anders om myself volkome oor te gee aan God wat so Almagtig is?   

25 November – Dinsdag – Elkeen sterf, maar net een het opgestaan

Hemelse Vader, die dood is buite ons beheer, dit is bedreigend en onvriendelik.  Die angel van die dood, die sonde, is aan ‘n kruishout vasgeslaan.  Die skuldbrief is vereffen en daar is geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie. Ons loof U!

26 November – Woensdag –  Sprei jou vlerke en vlieg my kind 

Spreuke 4:4 “Wat ek jou sê, moet jy vashou.  Moenie my woorde vergeet en daarvan afwyk nie en wees veral versigting met wat in jou hart omgaan”.   So moet ons ook ons kinders as verantwoordelike, selfstandige volwassenes die lewe instuur.

27 November – Donderdag – Uit eerbied vir God,  respekteer die bejaardes

Hemelse Vader, ons wil vir elke bejaarde bid vir gesondheid en krag, hoop en vertroosting,  vrede en berusting en bid dat hulle familielede hulle met baie liefde sal omring. Maak dit vir hulle ‘n tyd van verdieping en voortgesette diens.

28 November – Vrydag –  Welk ‘n vriend het ons in Jesus

Welk ‘n vriend het ons in Jesus, wat ons sonde straf wou dra.  Wat ‘n voorreg dat ons alles, in gebed van God kan vra. As ons vriende ons verlaat het, dra ons hul op aan die Heer, in Sy arms is ons veilig, Hy vertroos ons keer op keer.   Amen.

29 November – Saterdag –  Vir ons onderwysers

Here, rus die opvoeders toe met wysheid om gedagtes te vorm. Rus hulle toe met die waarheid en visie om die toekoms te vorm en leer hulle van liefde om die wêreld te vorm. Ons is dankbaar vir hul onbaatsugtige liefde in elke kind se lewe.

30 November – Sondag – Wees U vir ons kinders ‘n toevlug

Vader, ons bid vandag vir beskerming vir ons kinders en kleinkinders in hierdie wêreld waar dit so boos is. Seën hulle oorvloedig en help hulle om in U wysheid te groei en U weë te wandel.

Gebedsgids vir Oktober 2025

Gebed

GEBEDSGIDS – OKTOBER 2025

1 Oktober – Woensdag –  Oktober maand

Dit is Oktobermaand en ons sê saam met Louis Leipoldt dankie vir die helder dae, ‘n blou hemel en ‘n blomtuin vol bome.

2 Oktober – Donderdag – Helpende Hand

Kom ons sê dankie vir almal wat ‘n helpende hand uitsteek en die moed het om betrokke te raak by hulle wat langs die pad lê. 

3 Oktober – Vrydag – Vakansie

Dit is die begin van ‘n kort vakansie. Kom ons tree so op dat ons kinders ons ook sal navolg en ons maak hierdie vakansie vir hulle onvergeetlik. Ons bid vir alle rolmodelle en dat ons besef dat elke dag is ‘n dag om ‘n voorbeeld vir hulle te kan wees.                  

4 Oktober – Saterdag – Verslaafdes

Ons gebed is dat alle verslaafdes na U sal kom vir redding, reiniging en genesing en dat hulle sal besef dat die Here hulle lief het al is hulle ook in ‘n diep put en dat Hy hulle sal vergewe ongeag waarin hulle ookal verval het.

5 Oktober – Sondag – Bejaardes

Daar is baie bejaardes onder ons. Kom ons dank God dat hy by ons bejaardes is en hulle begenadig met rustigheid, vrede en wysheid en dat hulle ook sal voel dat hul nog iets beteken vir die jongeres.

6 Oktober – Maandag – Stilte

“Here, te midde van ‘n besige en luidrugtige wêreld, is ons gebed: maak dit stil in ons binneste sodat ons net ‘n sagte teenwoordigheid sal ervaar en so sensitief vir U stem sal wees.”

7 Oktober – Dinsdag – Getuig

Kom ons bid dat mense in liefde en vrede sal saam leef, dat elke knie sal buig en elke tong sal getuig dat Christus die Here is.

8 Oktober – Woensdag – Leiers

Bid vandag vir almal wat leiding gee voor U sal buig en dat hulle suiwer sal koers hou en nie sal betrokke raak by korrupsie nie en die mense vir wie hulle moet lei, hul uiteindelike oorweging sal wees.

9 Oktober – Donderdag – Ons huis

Here, maak ons huis die eerste skool en kerk vir ons kinders en dat hulle hier sal leer wat goed en reg en edel is.

10  Oktober – Vrydag – Rustigheid

Ons bid vandag dat Psalm 23 se groen weivelde en rustige waters nie net ‘n droom sal wees nie, maar ‘n werklikheid en dat ons die rustigheid en vrede wat God gee in ons elkeen se lewe sal wys en dat ons dit ook kan uitdra aan ander.

11 Oktober – Saterdag – Werk vir die Here

“Here, help ons om elke ding wat ons hand vind om te doen, ons na die beste van ons vermoë doen, asof ons dit vir U doen”.

12 Oktober – Sondag – Gideons

Ons dankoffer is vandag vir die Gideons en ons dank God vir die miljoene testamente wat hulle al langer as ‘n eeu versprei in skole, hotelle, hospitale, gevangenisse en militêre basisse en so miljoene mense bereik met die evangelie van Jesus.

13 Oktober – Maandag – Onderwysers

Die skole open weer vandag en ons dank God vir toegewyde onderwysers wat leerders voorberei vir die eise van die lewe. Ons dink aan hulle wat ook die kinders moet leer en wys met hul optrede hoe om te lewe. 

14 Oktober – Dinsdag – Beskerming van Jesus

Dankie Here dat U die Weg, die Waarheid en die Lewe is en dat U met U liefde ons beskerm teen gevare en die invloed van die duiwel wat ons wil wegraap van U liefde.

15 Oktober – Woensdag – Fyn aanvoeling

Ons bid dat U aan ons sal gee, ‘n fyn aanvoeling om die regte besluite te neem en ‘n positiewe gesindheid te openbaar.

16 Oktober – Donderdag – Woord van die Here

Vandag dank ons U vir U Woord wat ewig, onfeilbaar en onmisbaar is en ons spesiale dank ook vir die leraars, sendelinge, pastore en godsleiers wat dit vir ons oopmaak en verduidelik sodat ons dit kan verstaan en uitleef.

17 Oktober – Vrydag – Jesus-liefde

Leer my Here, om lief te hê soos U liefgehad het: onvoorwaardelik en tot die einde toe. Dankie dat U gesterf het vir my sondes en my vergewe vir al my sondes.

18 Oktober – Saterdag – Sagte hart

Here, gee ons ‘n sagte hart wat medelye het met die armes en almal wat in nood is en gee dat ons sal help waar ons kan en so hul nood verlig en ook maniere sal vind om hul te bemagtig en hul trots sal herstel.

19 Oktober – Sondag – Gesondheidsdienste

Vandag is dit ‘n biddag vir gesondheidsdienste. Gee vir die dokters en verpleegsters simpatieke harte en seën hulle op hul arbeid en help hul ook dat hul die nodige insig en krag sal ontvang om hul werk met vreugde te doen.

 20 Oktober – Maandag – Sondes

Kom ons bid vandag saam met Dawid in Psalm 51 dat die Here ons sondes sal weg neem sodat ons weer rein kan wees om so voor Hom te verskyn.

21 Oktober – Dinsdag – Stem van die Here

Dankie Here dat U deur U Gees by ons teenwoordig is. Help ons om U stem duidelik te hoor. Maak ons ook stil sodat ons U stem in die sagte fluistering van die wind sal herken.

22 Oktober – Woensdag- Ons land

Here, ons bid U seën af op ons land en al sy mense en ons bid dat U ons sal bevry van bitterheid en haat. Ons bid dat ons in liefde en vrede sal saambly en werk en U naam in alles sal vereer.

23 Oktober – Donderdag – Sintuie

Kom ons dank die Here vandag vir die gawe van ons sintuie en die gawe van lewe en gesondheid, die feit dat ons kan beweeg, sien voel en hoor. Ons bid ook dat ons sal dink aan die mense wat sukkel. Gee ons die empatie om ook uit te reik om behulpsaam te wees indien hulle sukkel.

24 Oktober – Vrydag – Gemeentekonsert

Dit is vanaand ons gemeentekonsert en ons wil saam met Paulus in Filippense 4:4 sê: “wees bly in die Here!” Ons sê dankie vir heerlike samesyn van ons gemeente dat hulle ook so U Naam kan vereer.

25 Oktober – Saterdag – Dankfees

Vandag is ons Dankfees! Kom ons juig saam met Dawid in Psalm 65:12. U kroon die jaar met U goeie gawes. Waar U ook gaan, is daar oorvloed. Ons dank U Here.

26 Oktober – Sondag – Hervormingsondag

Op Hervormingsondag dank ons die Here vir ons duur gekoopte Protestantse erfenis en vir al die geestelike seëninge waaraan ons vandag opnuut herinner word.

27 Oktober – Maandag – Getuienisbediening

Die getuienisbediening vergader vandag en ons dank die Here vir die bereidwillige sopkokers, sopskenkers en die uitreikspan wat die sop, brood en die Woord gaan uitdra en verkondig en ons dank die Here vir die onbaatsugtige werk wat hulle doen.

28 Oktober – Dinsdag – Die Here se lig

“Here, hoe helderder die lig van U heerlikheid skyn, hoe meer word ons bewus van ons donkerte. Dankie dat ons uit die bevryding van ‘n opregte skuldbelydenis kan leef”.

29 Oktober – Woensdag – Geloof

“Jesus, versterk tog ons hoop en liefde, maar veral ook ons geloof sodat ons seker kan wees dat niks ons van U liefde sal skei nie.”

30 Oktober – Donderdag – Geskeides

Kom ons bid vir alle geskeides dat hulle sal opstaan tot ‘n nuwe lewe van hoop en dat die Here vir hulle die pad wat hulle moet loop, sal wys. Bid ook dat hulle die liefde van God sal ervaar en weer geliefd sal voel.

31 Oktober – Vrydag –Sportmanne en vroue

Bid vandag saam vir alle sportmanne en -vroue dat hulle nie sal nalaat om aan die Heer al die eer te gee vir hul gesondheid en talent nie.

GEBEDSGIDS SEPTEMBER 2025 NG Kerk Groot-Brakrivier

Gebed

1 Johannes 3:16  Hieraan weet ons wat liefde is: Jesus het sy lewe vir ons afgelê.

1 Sep – Maandag – Jesus se nuwe seisoen begin met ‘n wildernis tyd

Nadat Jesus gedoop was, het Hy dadelik uit die water uitgeklim en die  Hemele het meteens vir Hom oopgegaan. Dit is Sy nuwe seisoen en Hy  verwag ook dat ons elke seisoen van ons lewe vreugdevol sal ervaar tot ere  van Sy naam.    

2 Sep – Dinsdag – ‘n Fondasie vir ewige lewe

Jesus, dankie dat U die ewige en onwrikbare rots in my lewe is waarop ek  my fondasie kan bou.  Met U kan ek die storms en aanslae teëstaan sonder  om te val.

3 Sep – Woensdag – God se genade is baie meer

Die dorings van ons lewe is baie, maar God se genade is baie meer. En daar  waar jy die seerste kry, is waar God se genade op sy grootste is.

4 Sep – Donderdag –  Wie het ek buiten U in die hemel?

Buiten U in die hemel, begeer ek niks op aarde nie. Dankie Vader vir U  teenwoordigheid in my lewe.  Al is ek afgetakel na liggaam en gees,  aan U  behoort ek vir altyd.    

5 Sep – Vrydag – God se beloftes

Jesus, versterk ons geloof sodat ons op U alleen sal vertrou.  Verlos ons van  die kleingeloof wat ons verhinder om U wonderwerke te sien en te ervaar.

6 Sep – Saterdag  – Brandende Bos

Here, help ons om bewus te wees van die brandende bosse in ons lewens.  Gee ons die vermoë om U stem duidelik te hoor en ons harte oop te maak  vir U leiding. 

7 Sep – Sondag – Nasionale Biddag vir Dowes 

Hou my vas Here Jesus te midde van stormagtige weer. Wanneer vrese en  twyfel ontstaan wil ek U liefde en vrede ervaar. Hou my naby U Jesus, daar  voel ek veilig.      

8 Sep – Maandag –  Is jy gereed?

Vader, ek wil elke dag gereed wees om U te verheerlik.  Ons vertoon U  beeld en moet U koningskap en liefde weerspieël. Sonder U is ons geestelik swak.

9 Sep – Dinsdag  – Geestelike Fiksheid

Wat help dit my broers, as iemand beweer dat hy glo, maar sy dade bevestig dit nie? Dankie Here vir geleenthede om geestelik fiks te bly, om vir die gemeenskap te bid en iemand na die Here toe te lei.

10  Sep – Woensdag – Waak en bid

Dankie Vader dat U ons toerus met sintuie om waaksaam te wees. Ons sal  aanhou waak en bid om oorwinning oor die wêreld, die vlees en die vyand te  behaal. 

11 Sep – Donderdag  – Dankbaarheid van kind van God

Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het: Hy noem ons kinders  van God, en ons is dit ook. En die wêreld ken ons nie, omdat hulle Hom nie  ken nie. 

12 Sep – Vrydag  – Wees soos ‘n arend

Vader, ons wil gevul wees tot volheid van U. Ons wil uitstyg soos ‘n arend,  want saam met U is daar geen beperking van U liefde en genade vir ons nie.

13 Sep – Saterdag  – U liefde is oneindig groot

Vader, ons begryp hoe oneindig diep die liefde van Christus strek. Mag ons  U liefde ken wat ons verstand te bowe gaan en vervul word met die volheid  van God.

14 Sep – Sondag –   Sending aan Melaatses

Vader, ons bid dat elkeen wat geaffekteer is met die siekte, U net kan  aanraak. U het nie gekom om ons liggame te genees nie, maar om ons  verhouding met God te herstel.  

15 Sep – Maandag – Koninkrykswerk

Laat God toe om jou toe te rus vir Sy werk.  Kom ons reik uit en raak  betrokke by die kerk se sendingwerk, gemeenskapswerk of by die ontferming oor die kwesbares.

16 Sep – Dinsdag – As die lewenstrome woedend om jou slaan

My toevlug en my bergvesting, my God op wie ek vertrou. Hy sal jou dek  met sy vlerke, en onder sy vleuels sal jy skuil. Ek dank U vir U beskerming,  leiding, wysheid en liefde.

17 Sep – Woensdag – Gee jy soms oor

Dankie Hemelse Vader dat U die duurste prys vir ons betaal het. U is  my  rots by wie ek skuil. U is die stuurman van my lewe en my veilige hawe. Sonder U is ek niks. 

18 Sep – Donderdag  – Verwoesting in jou hart?

Wees nie afgunstig op die kwaaddoeners nie en begeer nie om met hulle  saam te wees nie. Hulle hart bedink verwoesting en hulle lippe spreek  moeite. 

19 Sep – Vrydag –  God is my rigtingwyser

Here, ek erken dat ek nog te veel beheer oor my eie besluite het en vra  vergifnis vir my rebelsheid. Onderrig my met wysheid in oorvloed. U leiding is konstant.

20 Sep – Saterdag – Die begeerte om te kan hoor

Jesus het gekom om ons te versoen met die Vader. Hy is die lewende weg  na die troon – die voorhangsel is geskeur. Dit is ons geboorte-voorreg om Sy  stem te kan hoor.

21 Sep – Sondag – Bediening aan die dowes

Here, ons buig nederig voor U en dank U vir genade so groot. Ons bid vir  herstel in ons liggame wat gebreek en gekneus is.  Vader, raak asb die  gehoor aan van diegene wat nie al hulle sintuie kan geniet nie. By U is niks  onmoontlik nie.

22 Sep – Maandag – Word ‘n visser van mense

Laat jou geloof sigbaar word in jou dade. Deel jou geloof en maak dissipels  vir Jesus. Volhard sodat jy eendag alles wat Jesus vir jou in die hemel  bewaar, in besit neem.  

23 Sep – Dinsdag  –  Sy oneindige liefde vir jou

God ken ons lewe. Hy het die pad reeds voorberei. Hy ken die toekoms,  vertrou Hom net. Hy ken jou bekommernis, gee dit oor en raak stil. Hy ken  jou hartseer, teleurstellings en sien jou trane – Hy sal dit afdroog. Daar is geen einde aan Sy goedheid nie.               

24 Sep – Woensdag – Erfenisdag 

Vader, ons dra hierdie land met sy kulturele diversiteit op aan U. Seën  asseblief ons land en mense en leer ons hoe om mekaar te kan aanvaar, te  vergewe en lief te hê.  

25 Sep – Donderdag –  Alle eer aan U

Dankie Vader vir die wonderlike gawe om te kan kommunikeer. Lei ons om  dit met oorgawe te gebruik om mekaar aan te moedig en te vertroos en om  U te eer. 

26 Sep – Vrydag – God laat alles ten goede werk 

Here, ek weet dat U tot alles in staat is en alles kan uitvoer volgens U wil.   Soms is ons ongeduldig as ons gebede nie dadelik verhoor word nie.   Vergewe ons ongeduld Here – U is altyd op tyd. 

27 Sep – Saterdag –  Is die losprys te hoog?

Deur die oortreding van een mens het baie gesterf, maar deur die genade  van God en die genade van een mens, Jesus Christus, was Hy bereid om die  losprys te betaal – vir jou.

28 Sep – Sondag  – Bediening aan Jode 

Johannes 8:31 – Jesus sê vir die Jode wat in Hom geglo het: As julle in my woord  bly, is julle waarlik my dissipels. En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.

29 Sep – Maandag – Jesus is jou skans

Jesus is die vrede in tye van moedeloosheid, siekte en hartseer. Jy is nie  gemaak om hierdie storms te beleef en te beveg nie. Jy is gemaak om God  te beleef en te sien hoe Hy jou storms stilmaak. 

30 Sep – Dinsdag  – Die uniekheid van Jesus

Hy is die enigste seun van God. Hy is ewig en die enigste weg na die Vader.   Hy het die mag om lewe te gee en die enigste Regverdige wat vir ons  sondes verruil het.

GEBEDSGIDS – JULIE  2025 NG Kerk Groot-Brakrivier

Gebed

1 Julie – Dinsdag – Siekes      

Ons Bid vandag vir alle siek mense en allerhande soorte siektes van ons tyd en bid dat hulle die nodige geduld sal hê om dit te hanteer en ook bid ons vir U genesende hand.

2 Julie – Woensdag – Besluite

Liewe Vader,  ek wil nie net besluite neem en my kop stamp nie. Laat ek volgens U wil bid en in U spoor loop sodat ek die regte optrede aan die dag sal lê.   

Lees meer “GEBEDSGIDS – JULIE  2025 NG Kerk Groot-Brakrivier”

Gebedsgids Mei 2025

Gebed

Donderdag – 1 Mei – Werkersdag

Vandag vier ons Werkersdag en wil ons dankie sê vir almal wat kan werk en ook bid vir die werkloses. Ons bid vir nuwe werksgeleenthede.  

Vrydag   2 Mei- Gestremde persone   

Ons bid vir al die gestremde persone en dra hulle welsyn en gemoed op aan die Vader en vra dat die mense sal sensitief wees vir hulle behoeftes.

Saterdag – 3 Mei – Gemeente fees

Vader, ons vra vandag U seën op ons fees waar gemeentelede saam verkeer en ook geld insamel vir ons kerk se behoeftes.

Sondag – 4 Mei – Arbeid Sondag

Ons dra vandag die werkerskorps wat werksgeleenthede skep aan die Here op en vra dat die Here hul besighede sal seën.

Maandag   5 Mei – Omgee bediening

Ons dra vandag ons gemeente se omgee bediening aan die Here op.  Ons bid vir Sy seën op al hulle werk en projekte.

Dinsdag   6 Mei – Jesus het opgestaan        

Here help ons dat ons nie sal skrik of twyfel as U in ons midde kom staan nie.  Dat ons nie vir bewyse sal soek of dit U is nie, maar sal glo.  Ons sê dankie in ons gebede dat Jesus ons nie verwerp het nie, maar steeds by ons is.

Woensdag  – 7 Mei  – Verstaan die Bybel

Ons bid dat Jesus ons verstand sal open om die Skrifte te verstaan en dit uit te leef om met ons leefstyl mense na Jesus te lei.  (Lukas 24:45

Donderdag – 8 Mei – Vergifnis van sondes

Ons dank die Here dat die bekering en vergifnis van sondes in Sy naam vir alle nasies en volkere is, dus ook vir ons.   (Lukas 24:47)

Vrydag – 9 Mei – Sondige bestaan 

Ons bid dat Jesus ons ook uit ons sondige bestaan sal opwek sodat ons Hom voortdurend sal loof vir die vergifnis van ons sondes.

Saterdag – 10 Mei – Ramot

Ons insameling is vir Ramot môre en bid ons dat mense mildelik sal gee vir die hulp van persone wat ekstra hulp benodig met hul verslawing en ook ten volle genesing sal ervaar.

Sondag – 11 Mei – Moedersdag  

Deur ons gebede vra ons dat die Here ons Moeders en instaan-Moeders sal seën en hulle die nodige insig sal gee om die kinders rondom hulle op te voed.

Maandag – 12 Mei – Mediese personeel

Ons bid vir al ons mediese personeel dra al hul werk aan die Here op en vra dat hul sensitief sal wees vir Sy leiding en ook met die nodige insig sal werk en met die nodige sagtheid met die siekes sal omgaan.

Dinsdag – 13 Mei -Vrede in onsekerheid

Ons vra vandag vir God se vrede om angstige harte te kalmeer en rus te bring in die middel van die lewe se onsekerhede.

Woensdag – 14 Mei – Mishandeling

In ons land is mishandeling op die voorgrond en bid ons vandag dat God met alle gesinne sal wees en vrede binne elke huis sal skep.

Donderdag – 15 Mei – Misdaad en Korrupsie  

Ons land word geteister deur misdaad, dwelms, korrupsie, verkragtings, moord en bendes.  Ons bid tot die Here en vra vir Sy drastiese ingryping en vir die staat om die nodige te doen om dit te bekamp.

Vrydag – 16 Mei –Dankbaarheid en vreugde

Kom ons dank God vandag vir sy daaglikse seëninge en ons bid dat vreugde sal oorloop selfs in die moeilike tye van ons lewe.

Saterdag – 17 Mei –Hoop vir die toekoms

Ons bid vandag dat God mense se harte sal vul met hoop en versekering van Sy goeie planne wat Hy vir die toekoms vir jou het. Glo dit en maak dit jou belofte.

Sondag – 18 Mei -Arbeidsbediening

Ons gee vandag vir die diens van die predikers wat by die besighede die woord van die Here bring en bid ons dat hul sal bydra vir hul werk maar ook dat hul vriendelik ontvang sal word waar hulle die boodskap moet bring.

Maandag – 19 Mei – Reën

Ons dank die Vader vir die oorvloedige reëns wat in ons land geval het, maar ons dra ook die bitter droë dele aan Hom op om dit met milde reën te seën.

Dinsdag – 20 Mei -Krag soos ‘n Arend     

“Here, ons bid vandag dat U die vermoeide en kragtelose sal oplig en met krag sal vul om soos ‘n arend te vlieg”.

Woensdag – 21 Mei – Polisiemag

Ons dra ons plaaslike polisie aan die Vader op en vra dat Hy sy beskermende hand oor hulle sal hou in hulle daaglikse gevaarlike werk.

Donderdag – 22 Mei – Genesing en vertroosting      

Ons dink vandag aan diegene wat siek is of treur en bid dat God se genesende aanraking ek diepe vertroosting voelbaar is hul lewe sal wees.

Vrydag – 23 Mei- Eenheid in ons gemeenskappe

“Vader, ons vra vandag dat U vir ons sal  help om liefde en aanvaarding in ons gemeenskap te wys en te bevorder sodat ons in ons woonbuurte, kerke en dorpe kan groei en liefde en vrede ervaar.

Saterdag  – 24 Mei – Leiding en Wysheid

Ons bid vir duidelikheid in ons besluitneming en die wysheid om elke dag in God se wil te wandel. 

Sondag  – 25 Mei – Buitelandse Sending  

Vandag dink ons aan ons buurlande, Zimbabwe, Mosambiek en Malawi en die sendelinge wat die boodskap daar bring. Bid dat die sendelinge genoegsame fondse ontvang om hul werk tot die beste van hul vermoë te kan doen.

Maandag – 26 Mei – Bybelstudiegroepe 

Bid vir al die Bybelstudiegroepe in ons gemeente en vir ‘n bewustheid van die teenwoordigheid van die Heilige Gees se leiding in die groepe.

Dinsdag – 27 Mei – Regering    

Ons bid vir die regering van die dag en vra die Vader om met elkeen wat in verantwoordelike posisies is, te wees en ‘n gees van eerlikheid en verantwoordelikheid te skep.

Woensdag – 28 Mei –Lig vir Jesus

Vra vandag dat ons Christene so sal leef dat Christus se lig deur ons sal skyn om moed te bring in ‘n donker wêreld en so mense na Jesus te lei.

Donderdag – 29 Mei – Hemelvaart

Hier waar ons vanoggend staan met die heerlike wete dat ons Heiland leef en dat Hy opgevaar het hemel toe, aanbid ons Hom, loof ons Hom, eer ons Hom deur ons gebede.

Vrydag- 30 Mei –   Vir nog ‘n maand

Vir nog ‘n maand wat verby is dank ons die Vader vir Sy liefde en genade wat Hy aan ons bewys het. Daar waar siekte is, vra ons genesing,  waar afsterwe was, vra ons vertroosting, waar eensaamheid is, vra ons Sy teenwoordigheid en waar vreugde is, dank ons Hom.

Saterdag – 31 Mei – Christelike klimaat

Ons dank Vader dat ons kinders nog in ‘n Christelike klimaat kan skoolgaan.  Ons bid dat die Vader dit so in stand sal hou en dat Hy elke kind, onderwyser en skoolhoof sal seën.

Gebedsgids April 2025

Gebed

 As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis elke dag opneem en My volg.”

Lukas 9:23

GEBEDSGIDS – APRIL  2025

1 April – Dinsdag – Niks vir onsself nie

Vader, help ons om weer bewus te word van ons gawes om ‘n seën vir ‘n ander een te wees. Om ander met onvoorwaardelike liefde en deernis te aanvaar en te bemoedig. Niemand van ons leef tog vir onsself nie, ons doen dit tot eer van God.

Lees meer “Gebedsgids April 2025”

Bybelgenootskap – Gebedsgids Herfs 2025

Bybelgenootskap van Suid-Afrika

Kom bid saam met die Bybelgenootskap van Suid-Afrika vir die werk wat hulle doen vir die verspreiding van Bybels in die wêreld.

Met die Bybel as grondslag en gemotiveer deur die Groot Opdrag, vervul die Bybelgenootskap van Suid-Afrika hul missie om bekostigbare Bybels beskikbaar te stel terwyl die volgende waardes al hul aktiwiteite rig – integriteit, vertroue, respek, diens, aanspreeklikheid – sodat elkeen die lewegewende boodskap van die Woord mag ervaar.

Lees meer “Bybelgenootskap – Gebedsgids Herfs 2025”

Gebedsgids Maart 2025

Gebed hande

Lukas 9:23 – 24

 “As iemand My wil navolg, moet hy homself verloën, en elke dag sy kruis opneem en My volg: want wie sy lewe wil red, sal dit verloor, maar wie sy lewe ter wille van My verloor, sal dit red”

1 Maart – Saterdag – Wat op aarde doen ek hier?

Vader, hoe wonderlik is dit om te weet dat U  my lewe op aarde beplan het en dat dit geen fout was nie. Ek weet Vader dat ek nie hier op aarde geplaas is om onthou te word nie, maar om vir die Ewigheid voor te berei. U naam sal ek loof.  Dankie dat U my gekies het.

Lees meer “Gebedsgids Maart 2025”

Frontiers SA Prayer Calendar 28 Feb-29 March 2025

Ramadan Prayer Guide 2025 Frontiers SA

About Frontiers

With love and respect, inviting all Muslim peoples to follow Jesus.
The goal of Frontiers is to see the Great Commission fulfilled among all Muslim peoples of
the world.

“How then will they call on him in whom they have not believed? And how are they to
believe in him of whom they have never heard? And how are they to hear without someone preaching? And how are they to preach unless they are sent?” -Romans 10:14–15

Lees meer “Frontiers SA Prayer Calendar 28 Feb-29 March 2025”

Gebedsgids Julie 2024

Gebed

GEBEDSGIDS – JULIE 2024

Voor hulle nog roep, sal Ek antwoord, terwyl hulle nog praat, sal Ek hulle gebed verhoor (Jes 65:24).

Maandag 1 Julie – Volhard in gebed

Ons prys die Here vir soveel lewens en gesindhede van mense wat Hy elke dag verander as gevolg van volgehoue gebed. Dank Hom vir getroue bidders en hou aan om die Here te vertrou vir wysheid en insig om mense se geestelike behoeftes met liefde en begrip aan te spreek.

Dinsdag 2 Julie – Gevangenes

Lees meer “Gebedsgids Julie 2024”