GEBEDSGIDS – OKTOBER 2025
1 Oktober – Woensdag – Oktober maand
Dit is Oktobermaand en ons sê saam met Louis Leipoldt dankie vir die helder dae, ‘n blou hemel en ‘n blomtuin vol bome.
2 Oktober – Donderdag – Helpende Hand
Kom ons sê dankie vir almal wat ‘n helpende hand uitsteek en die moed het om betrokke te raak by hulle wat langs die pad lê.
3 Oktober – Vrydag – Vakansie
Dit is die begin van ‘n kort vakansie. Kom ons tree so op dat ons kinders ons ook sal navolg en ons maak hierdie vakansie vir hulle onvergeetlik. Ons bid vir alle rolmodelle en dat ons besef dat elke dag is ‘n dag om ‘n voorbeeld vir hulle te kan wees.
4 Oktober – Saterdag – Verslaafdes
Ons gebed is dat alle verslaafdes na U sal kom vir redding, reiniging en genesing en dat hulle sal besef dat die Here hulle lief het al is hulle ook in ‘n diep put en dat Hy hulle sal vergewe ongeag waarin hulle ookal verval het.
5 Oktober – Sondag – Bejaardes
Daar is baie bejaardes onder ons. Kom ons dank God dat hy by ons bejaardes is en hulle begenadig met rustigheid, vrede en wysheid en dat hulle ook sal voel dat hul nog iets beteken vir die jongeres.
6 Oktober – Maandag – Stilte
“Here, te midde van ‘n besige en luidrugtige wêreld, is ons gebed: maak dit stil in ons binneste sodat ons net ‘n sagte teenwoordigheid sal ervaar en so sensitief vir U stem sal wees.”
7 Oktober – Dinsdag – Getuig
Kom ons bid dat mense in liefde en vrede sal saam leef, dat elke knie sal buig en elke tong sal getuig dat Christus die Here is.
8 Oktober – Woensdag – Leiers
Bid vandag vir almal wat leiding gee voor U sal buig en dat hulle suiwer sal koers hou en nie sal betrokke raak by korrupsie nie en die mense vir wie hulle moet lei, hul uiteindelike oorweging sal wees.
9 Oktober – Donderdag – Ons huis
Here, maak ons huis die eerste skool en kerk vir ons kinders en dat hulle hier sal leer wat goed en reg en edel is.
10 Oktober – Vrydag – Rustigheid
Ons bid vandag dat Psalm 23 se groen weivelde en rustige waters nie net ‘n droom sal wees nie, maar ‘n werklikheid en dat ons die rustigheid en vrede wat God gee in ons elkeen se lewe sal wys en dat ons dit ook kan uitdra aan ander.
11 Oktober – Saterdag – Werk vir die Here
“Here, help ons om elke ding wat ons hand vind om te doen, ons na die beste van ons vermoë doen, asof ons dit vir U doen”.
12 Oktober – Sondag – Gideons
Ons dankoffer is vandag vir die Gideons en ons dank God vir die miljoene testamente wat hulle al langer as ‘n eeu versprei in skole, hotelle, hospitale, gevangenisse en militêre basisse en so miljoene mense bereik met die evangelie van Jesus.
13 Oktober – Maandag – Onderwysers
Die skole open weer vandag en ons dank God vir toegewyde onderwysers wat leerders voorberei vir die eise van die lewe. Ons dink aan hulle wat ook die kinders moet leer en wys met hul optrede hoe om te lewe.
14 Oktober – Dinsdag – Beskerming van Jesus
Dankie Here dat U die Weg, die Waarheid en die Lewe is en dat U met U liefde ons beskerm teen gevare en die invloed van die duiwel wat ons wil wegraap van U liefde.
15 Oktober – Woensdag – Fyn aanvoeling
Ons bid dat U aan ons sal gee, ‘n fyn aanvoeling om die regte besluite te neem en ‘n positiewe gesindheid te openbaar.
16 Oktober – Donderdag – Woord van die Here
Vandag dank ons U vir U Woord wat ewig, onfeilbaar en onmisbaar is en ons spesiale dank ook vir die leraars, sendelinge, pastore en godsleiers wat dit vir ons oopmaak en verduidelik sodat ons dit kan verstaan en uitleef.
17 Oktober – Vrydag – Jesus-liefde
Leer my Here, om lief te hê soos U liefgehad het: onvoorwaardelik en tot die einde toe. Dankie dat U gesterf het vir my sondes en my vergewe vir al my sondes.
18 Oktober – Saterdag – Sagte hart
Here, gee ons ‘n sagte hart wat medelye het met die armes en almal wat in nood is en gee dat ons sal help waar ons kan en so hul nood verlig en ook maniere sal vind om hul te bemagtig en hul trots sal herstel.
19 Oktober – Sondag – Gesondheidsdienste
Vandag is dit ‘n biddag vir gesondheidsdienste. Gee vir die dokters en verpleegsters simpatieke harte en seën hulle op hul arbeid en help hul ook dat hul die nodige insig en krag sal ontvang om hul werk met vreugde te doen.
20 Oktober – Maandag – Sondes
Kom ons bid vandag saam met Dawid in Psalm 51 dat die Here ons sondes sal weg neem sodat ons weer rein kan wees om so voor Hom te verskyn.
21 Oktober – Dinsdag – Stem van die Here
Dankie Here dat U deur U Gees by ons teenwoordig is. Help ons om U stem duidelik te hoor. Maak ons ook stil sodat ons U stem in die sagte fluistering van die wind sal herken.
22 Oktober – Woensdag- Ons land
Here, ons bid U seën af op ons land en al sy mense en ons bid dat U ons sal bevry van bitterheid en haat. Ons bid dat ons in liefde en vrede sal saambly en werk en U naam in alles sal vereer.
23 Oktober – Donderdag – Sintuie
Kom ons dank die Here vandag vir die gawe van ons sintuie en die gawe van lewe en gesondheid, die feit dat ons kan beweeg, sien voel en hoor. Ons bid ook dat ons sal dink aan die mense wat sukkel. Gee ons die empatie om ook uit te reik om behulpsaam te wees indien hulle sukkel.
24 Oktober – Vrydag – Gemeentekonsert
Dit is vanaand ons gemeentekonsert en ons wil saam met Paulus in Filippense 4:4 sê: “wees bly in die Here!” Ons sê dankie vir heerlike samesyn van ons gemeente dat hulle ook so U Naam kan vereer.
25 Oktober – Saterdag – Dankfees
Vandag is ons Dankfees! Kom ons juig saam met Dawid in Psalm 65:12. U kroon die jaar met U goeie gawes. Waar U ook gaan, is daar oorvloed. Ons dank U Here.
26 Oktober – Sondag – Hervormingsondag
Op Hervormingsondag dank ons die Here vir ons duur gekoopte Protestantse erfenis en vir al die geestelike seëninge waaraan ons vandag opnuut herinner word.
27 Oktober – Maandag – Getuienisbediening
Die getuienisbediening vergader vandag en ons dank die Here vir die bereidwillige sopkokers, sopskenkers en die uitreikspan wat die sop, brood en die Woord gaan uitdra en verkondig en ons dank die Here vir die onbaatsugtige werk wat hulle doen.
28 Oktober – Dinsdag – Die Here se lig
“Here, hoe helderder die lig van U heerlikheid skyn, hoe meer word ons bewus van ons donkerte. Dankie dat ons uit die bevryding van ‘n opregte skuldbelydenis kan leef”.
29 Oktober – Woensdag – Geloof
“Jesus, versterk tog ons hoop en liefde, maar veral ook ons geloof sodat ons seker kan wees dat niks ons van U liefde sal skei nie.”
30 Oktober – Donderdag – Geskeides
Kom ons bid vir alle geskeides dat hulle sal opstaan tot ‘n nuwe lewe van hoop en dat die Here vir hulle die pad wat hulle moet loop, sal wys. Bid ook dat hulle die liefde van God sal ervaar en weer geliefd sal voel.
31 Oktober – Vrydag –Sportmanne en vroue
Bid vandag saam vir alle sportmanne en -vroue dat hulle nie sal nalaat om aan die Heer al die eer te gee vir hul gesondheid en talent nie.


