GEBEDSGIDS – JUNIE  2026

Verbly julle in die hoop; wees geduldig in die verdrukking; volhard in die gebed.
Rom. 12:12

1 Junie – Maandag – Polisiemag

Ons dra vandag elke polisielid aan U op en vra U hand van bewaring oor hul  lewe en hul gees. Gee dat hul familie sal weet dat U ook daar by hulle sal   wees en bedank ons U dat U na hulle omsien, soos hulle na ons welsyn  omsien. 

2 Junie – Dinsdag – Leraars

Ons vra vandag dat U ons leraars bystaan en vir hulle die Woord oopbreek  sodat hulle insig sal hê rondom U boodskap en U wil en dat hulle dit met  die regte insig sal oordra. 

3 Junie – Woensdag –  Siekes         

Ons bid vandag vir alle siek mense en allerhande soorte siektes van ons tyd  en bid dat hulle die nodige geduld sal hê om dit te hanteer en ook bid ons  vir U genesende hand oor elkeen.

4 Junie – Donderdag – Sosiale media                                                        

Ons bid vandag dat mense sosiale media nie sal misbruik nie of dalk heeldag  dit doen en heeltemal vergeet om tyd saam met Jesus deur te bring nie. 

5 Junie – Vrydag – Gaan uit en vertel!

Jesus self gee vir ons instruksies. Hy belowe dat Hy die Heilige Gees opdrag  sal gee om woorde in ons mond te lê as ons getuig. Luk. 21:12-15.

6 Junie – Saterdag – Innovation for the Blind

Ons dank u, Vader, dat ons kan sien. Môre is daar ‘n spesiale offer en vra  ons U dat U die bydraes van die gemeente sal seën vir hierdie verdienstelike  beweging. 

7 Junie – Sondag – Biddag vir die blindes

“Vader, ons kom dank U dat ons geseënd is om te kan sien. Ons bid vir  mense wat nie kan sien nie of moeilik kan sien en ons kom dra hulle nood  aan U op en vra dat U hulp sal stuur.” 

8 Junie – Maandag – Sendingwerk

Ons bid vir ons sendingwerkers wêreldwyd wat onverpoos die Here se   woord en liefde verkondig. Ons bid dat hulle die nodige geldelike  ondersteuning sal kry, maar ook geestelik nie afgemat sal word nie.                                  

9 Junie – Dinsdag – Finansies

“Here, Ons bring ons finansies na U. Help ons om dit aan te wend met die  nodige sorg en ons vra U seën op ons handewerk, sodat ons ons families  kan versorg, maar gee ons ook die moed om U werk met ons tiende te  seën.”

10 Junie – Woensdag  – God se liefde

Wie kan ons van die liefde van Christus skei? “Vader, U is daar vir ons en  het vir die Israeliete in die woestyn versorg en U beloof dat U ook nou na  ons sal omsien. Vader, ons dank U daarvoor.”  (Rom. 8:35).

11 Junie – Donderdag – Ongelowige vriende

Nie almal is ‘n gelowige nie en vra ons dat ons gebed sal wees vir vriende  wat nie glo nie en dat Jesus en die Gees ons sal lei om met ons optrede en  woorde hulle na Jesus sal lei. Ons vra ook dat ons Jesus se skild teen die  aanslae van die vyand sal gebruik. 

12 Junie – Vrydag – Offer vir Jeugwerk Sondag

Ons vra vandag dat U die gemeente se harte en hande sal oopmaak vir die  bydrae vir die jeug op Sondag en dat die fondse op die regte plekke  aangewend sal word. 

13 Junie – Saterdag – Biddag vir Jeug en Kategese 

Môre is dit biddag vir die jeug en vir kategese en vra ons, Here, dat u met  ons jeug sal wees en vra ons ook dat hulle getrou die kategese sal bywoon  en so meer van u kan leer en dat hulle getroue apostels van U sal raak. 

14 Junie  – Sondag –  Vadersdag

Ons kom sê vandag dankie vir pappas en instaan pappas en vir die leiding  wat hulle in hulle gesinne bied. Praat met hulle harte Here, en lei hulle om  ‘n voorbeeld en steunpilaar vir hulle families te kan wees.  

15 Junie – Maandag – Kinders

Vader, ons bid vir ons kinders in Suid-Afrika en ons vra dat waar hulle  vandag n ekstra afdag het, dat U die rus vir hulle sal seën en dat hulle  uitgerus weer met nuwe krag hul skooltake sal aanpak op Woensdag. 

16 Junie – Dinsdag – Jeugdag

Here, ons bid vandag vir ons Jeug en dat hulle by die regte mense sal uitkom wat in ‘n leiersposisie vir hulle die regte leiding sal gee om respekvolle  grootmense te wees. 

17 Junie – Woensdag – VADER      

Dankie Vader vir U groot genade dat ons U ons Vader mag noem. Ons wil u  Naam verheerlik oor die hele aarde en vertel van U groot mag en krag en U  wonderlike Liefde vir die mens.  

18 Junie – Donderdag – My vrese en drome

“Here, U ken my vrese en drome. Ek kom lê nou my vrese voor U voete neer  en vra ek dat U dit sal wegneem en my drome in lyn met U wil bring sodat  ander daardeur bemoedig sal word en nader aan U sal kom.” 

19 Junie – Vrydag – Is jy reg? 

Is daar genoeg olie in jou lampie vir die Bruidegom se koms? Ons bid Heer  dat U ons sondes sal vergewe en dat ons reg sal wees vir U koms. 

 20 Junie – Saterdag – Leiers

“Vader, daar is baie leiers om ons. Leiers in die skool, kerk, dorp, land en in  die wêreld. Hulle besluite raak ‘n klomp mense om hulle en Vader ons bid  dat hulle genoeg goeie oordeel aan die dag sal lê en dat hulle met insig en  kennis hul besluite sal neem en uitvoer.” 

21 Junie – Sondag – Jan Kriel-Instituut

Ons bid vir ons mense in die Jan Kriel-instituut wat baie afhanklik is van  donasies om die nodige sorg aan die inwoners te verleen. Ons bid dat U die  bydraes sal seën en dat dit tot groot seën vir die Instituut sal wees. 

22 Junie – Maandag – Afhanklikheid van middels

“Here, die lewe is deurmekaar en is baie mense soekend en kom by  verkeerde plekke en dinge uit. Ons bid, Vader, verlos die kettings van  middel-afhanklikheid van dié wat daaronder gebuk gaan en bevry hulle   sodat hulle in U sorg en Lig sal lewe.”  

23 Junie – Dinsdag   – Mense wat vervolg word

“Jesus, Ons vra dat U met ons mede-broers en -susters in die geloof in  vervolgde lande sal wees, waar hulle nie openlik kan bid of oor U kan gesels  en getuig van U hulp en liefde nie.” 

24 Junie – Woensdag – Mediese personeel

Baie dankie, Heer, vir dokters en ander mediese personeel wat na die siekes  omsien. Hulle moet heeldag op en wakker wees en wil ons vra dat U hulle  werk sal seën, maar dat hulle ook met die nodige empatie hul werk sal  verrig en dat die mens belangriker as geld sal wees. 

25 Junie – Donderdag –  Familiebande

Kom ons bid vandag vir ons families en familiebande wat maklik kan  versuur. Bid dat daar eenheid in die families en huise sal heers en dat  families ’n voorbeeld van U liefde sal najaag en uitleef. 

26 Junie – Vrydag – Skoolvakansie

“Vader, ons bid dat U die leerkragte sal seën met rus of ook hul sal seën  waar hulle op die paaie gaan om sport by te woon of te bestuur. Ons bid  ook, Vader, dat U ons kinders sal vashou in U Hand en hulle sal bystaan en  rus sal verleen.  

27 Junie – Saterdag – Gemeentebediening

Ons gemeente het baie nood en vra dat die getuienisbediening moet  uitreik en help met die nodige asook die Boodskap van hoop. Ons bid dat  daar altyd genoeg voorraad in die “kaste” van die kerk sal wees om die  hoop te versprei. 

28 Junie – Sondag –  Ondersteuningsbediening

“Here, soos hierbo ook genoem, help ons gemeente om die nood raak te  sien en mildelik te gee waar hulle sien nood bestaan. Laat hulle bydraes ook  by die regte persone uitkom om so ook tot opbou van die gemeente te  wees. 

29 Junie – Maandag – Radio Feba

Die Radio word gebruik om uitreike te doen. Ons bid ook dat die Goeie  Nuus Boodskap by almal sal uitkom en in ‘n goeie gees ontvang sal word en  dat hulle so tot bekering sal kom. 

30 Junie – Dinsdag – Besluite

Liewe Vader, ek wil nie net besluite neem en my kop stamp nie. Laat ek  volgens U wil bid en in U spoor loop sodat ek die regte optrede aan die dag  sal lê en so U Naam verheerlik.