Gebedsgids Mei 2025

Donderdag – 1 Mei – Werkersdag

Vandag vier ons Werkersdag en wil ons dankie sê vir almal wat kan werk en ook bid vir die werkloses. Ons bid vir nuwe werksgeleenthede.  

Vrydag   2 Mei- Gestremde persone   

Ons bid vir al die gestremde persone en dra hulle welsyn en gemoed op aan die Vader en vra dat die mense sal sensitief wees vir hulle behoeftes.

Saterdag – 3 Mei – Gemeente fees

Vader, ons vra vandag U seën op ons fees waar gemeentelede saam verkeer en ook geld insamel vir ons kerk se behoeftes.

Sondag – 4 Mei – Arbeid Sondag

Ons dra vandag die werkerskorps wat werksgeleenthede skep aan die Here op en vra dat die Here hul besighede sal seën.

Maandag   5 Mei – Omgee bediening

Ons dra vandag ons gemeente se omgee bediening aan die Here op.  Ons bid vir Sy seën op al hulle werk en projekte.

Dinsdag   6 Mei – Jesus het opgestaan        

Here help ons dat ons nie sal skrik of twyfel as U in ons midde kom staan nie.  Dat ons nie vir bewyse sal soek of dit U is nie, maar sal glo.  Ons sê dankie in ons gebede dat Jesus ons nie verwerp het nie, maar steeds by ons is.

Woensdag  – 7 Mei  – Verstaan die Bybel

Ons bid dat Jesus ons verstand sal open om die Skrifte te verstaan en dit uit te leef om met ons leefstyl mense na Jesus te lei.  (Lukas 24:45

Donderdag – 8 Mei – Vergifnis van sondes

Ons dank die Here dat die bekering en vergifnis van sondes in Sy naam vir alle nasies en volkere is, dus ook vir ons.   (Lukas 24:47)

Vrydag – 9 Mei – Sondige bestaan 

Ons bid dat Jesus ons ook uit ons sondige bestaan sal opwek sodat ons Hom voortdurend sal loof vir die vergifnis van ons sondes.

Saterdag – 10 Mei – Ramot

Ons insameling is vir Ramot môre en bid ons dat mense mildelik sal gee vir die hulp van persone wat ekstra hulp benodig met hul verslawing en ook ten volle genesing sal ervaar.

Sondag – 11 Mei – Moedersdag  

Deur ons gebede vra ons dat die Here ons Moeders en instaan-Moeders sal seën en hulle die nodige insig sal gee om die kinders rondom hulle op te voed.

Maandag – 12 Mei – Mediese personeel

Ons bid vir al ons mediese personeel dra al hul werk aan die Here op en vra dat hul sensitief sal wees vir Sy leiding en ook met die nodige insig sal werk en met die nodige sagtheid met die siekes sal omgaan.

Dinsdag – 13 Mei -Vrede in onsekerheid

Ons vra vandag vir God se vrede om angstige harte te kalmeer en rus te bring in die middel van die lewe se onsekerhede.

Woensdag – 14 Mei – Mishandeling

In ons land is mishandeling op die voorgrond en bid ons vandag dat God met alle gesinne sal wees en vrede binne elke huis sal skep.

Donderdag – 15 Mei – Misdaad en Korrupsie  

Ons land word geteister deur misdaad, dwelms, korrupsie, verkragtings, moord en bendes.  Ons bid tot die Here en vra vir Sy drastiese ingryping en vir die staat om die nodige te doen om dit te bekamp.

Vrydag – 16 Mei –Dankbaarheid en vreugde

Kom ons dank God vandag vir sy daaglikse seëninge en ons bid dat vreugde sal oorloop selfs in die moeilike tye van ons lewe.

Saterdag – 17 Mei –Hoop vir die toekoms

Ons bid vandag dat God mense se harte sal vul met hoop en versekering van Sy goeie planne wat Hy vir die toekoms vir jou het. Glo dit en maak dit jou belofte.

Sondag – 18 Mei -Arbeidsbediening

Ons gee vandag vir die diens van die predikers wat by die besighede die woord van die Here bring en bid ons dat hul sal bydra vir hul werk maar ook dat hul vriendelik ontvang sal word waar hulle die boodskap moet bring.

Maandag – 19 Mei – Reën

Ons dank die Vader vir die oorvloedige reëns wat in ons land geval het, maar ons dra ook die bitter droë dele aan Hom op om dit met milde reën te seën.

Dinsdag – 20 Mei -Krag soos ‘n Arend     

“Here, ons bid vandag dat U die vermoeide en kragtelose sal oplig en met krag sal vul om soos ‘n arend te vlieg”.

Woensdag – 21 Mei – Polisiemag

Ons dra ons plaaslike polisie aan die Vader op en vra dat Hy sy beskermende hand oor hulle sal hou in hulle daaglikse gevaarlike werk.

Donderdag – 22 Mei – Genesing en vertroosting      

Ons dink vandag aan diegene wat siek is of treur en bid dat God se genesende aanraking ek diepe vertroosting voelbaar is hul lewe sal wees.

Vrydag – 23 Mei- Eenheid in ons gemeenskappe

“Vader, ons vra vandag dat U vir ons sal  help om liefde en aanvaarding in ons gemeenskap te wys en te bevorder sodat ons in ons woonbuurte, kerke en dorpe kan groei en liefde en vrede ervaar.

Saterdag  – 24 Mei – Leiding en Wysheid

Ons bid vir duidelikheid in ons besluitneming en die wysheid om elke dag in God se wil te wandel. 

Sondag  – 25 Mei – Buitelandse Sending  

Vandag dink ons aan ons buurlande, Zimbabwe, Mosambiek en Malawi en die sendelinge wat die boodskap daar bring. Bid dat die sendelinge genoegsame fondse ontvang om hul werk tot die beste van hul vermoë te kan doen.

Maandag – 26 Mei – Bybelstudiegroepe 

Bid vir al die Bybelstudiegroepe in ons gemeente en vir ‘n bewustheid van die teenwoordigheid van die Heilige Gees se leiding in die groepe.

Dinsdag – 27 Mei – Regering    

Ons bid vir die regering van die dag en vra die Vader om met elkeen wat in verantwoordelike posisies is, te wees en ‘n gees van eerlikheid en verantwoordelikheid te skep.

Woensdag – 28 Mei –Lig vir Jesus

Vra vandag dat ons Christene so sal leef dat Christus se lig deur ons sal skyn om moed te bring in ‘n donker wêreld en so mense na Jesus te lei.

Donderdag – 29 Mei – Hemelvaart

Hier waar ons vanoggend staan met die heerlike wete dat ons Heiland leef en dat Hy opgevaar het hemel toe, aanbid ons Hom, loof ons Hom, eer ons Hom deur ons gebede.

Vrydag- 30 Mei –   Vir nog ‘n maand

Vir nog ‘n maand wat verby is dank ons die Vader vir Sy liefde en genade wat Hy aan ons bewys het. Daar waar siekte is, vra ons genesing,  waar afsterwe was, vra ons vertroosting, waar eensaamheid is, vra ons Sy teenwoordigheid en waar vreugde is, dank ons Hom.

Saterdag – 31 Mei – Christelike klimaat

Ons dank Vader dat ons kinders nog in ‘n Christelike klimaat kan skoolgaan.  Ons bid dat die Vader dit so in stand sal hou en dat Hy elke kind, onderwyser en skoolhoof sal seën.

Kommentare is gesluit.