Lukas 9:23 – 24
“As iemand My wil navolg, moet hy homself verloën, en elke dag sy kruis opneem en My volg: want wie sy lewe wil red, sal dit verloor, maar wie sy lewe ter wille van My verloor, sal dit red”
1 Maart – Saterdag – Wat op aarde doen ek hier?
Vader, hoe wonderlik is dit om te weet dat U my lewe op aarde beplan het en dat dit geen fout was nie. Ek weet Vader dat ek nie hier op aarde geplaas is om onthou te word nie, maar om vir die Ewigheid voor te berei. U naam sal ek loof. Dankie dat U my gekies het.
2 Maart – Sondag – Aan tafel met Jesus
Joh 6:35 “Ek is die brood van die lewe. Wie na My toe kom, sal nooit honger kry nie en wie in My glo, sal nooit dors kry nie – Dankie Vader – U genade is genoeg vir my.
3 Maart – Maandag – Vreugdevolle takies
Vader, gee ons vandag weer ‘n kans om vreugde na elke gesprek te bring, om sleurwerkies vol energie af te handel en om U Woord vriendelik en entoesiasties met ander te deel.
4 Maart – Dinsdag – Gebed vir ons jeug
Here, ons bid vir ons jongmense wat elke dag nuwe uitdagings en avonture beleef . Mag hulle U beleef op ‘n vlak wat tot hulle spreek en so ook vir ander ‘n lig in die wêreld bied.
5 Maart – Woensdag – Wanneer jou wêreld meteens verander
Vader, ek bid vir ‘n stilhou plek en vra dat U my kan ontmoet wanneer ek deur ‘n krisis gaan, wanneer my wêreld en omstandighede teen my sin verander en wanneer ek moeg en uitgeput is. Ek weet by U is niks onmoontlik nie. Dankie dat U alreeds vir my intree.
6 Maart – Donderdag – Onnodige bagasie
Vader, soms worstel ons oor die onnodige bagasie wat ons dra. ‘n Tas vol skuldgevoelens, ‘n tas vol bitterheid of ‘n tas vol teleurstellings. Here, sal U my asseblief help om hierdie bagasie uit te sorteer, want ek het net plek om U te aanbid, te eer en lief te hê.
7 Maart – Vrydag – Biddende vrouens
Here, ons het ‘n behoefte om aan U voete te bly en wil soos Hanna wees, geduldig en gehoorsaam soos Rut. So deur die gejaag van die lewe wil ons tyd maak vir U soos Maria en Marta. Wie kan ‘n deugsame vrou vind? Haar waarde is baie meer as die van korale.
8 Maart – Saterdag – Wêreld biddag vir ons mans
Here, mag U ons mans se bene versterk en U die enigste fondasie wees waarop hulle staan. Mag hy die wedloop wat U vir hom beplan het, met oorgawe en deernis voltooi. Mag hy vinnig van ongeregtigheid vlug en in vrede, liefde en waarheid in U spore wandel.
9 Maart – Sondag – Gered deur Genade
Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, terwille van ons ongeregtigheid is Hy verbrysel, die straf wat vir ons vrede moes bring, was op Hom. Deur Sy wonde het daar vir ons genesing gekom. Vader, dankie vir elke dag wat U my gee om U te loof en te aanbid.
10 Maart – Maandag – U is die Begin en die Einde
Vader, my gemoed loop vandag oor van opregte dankbaarheid om te weet dat U is ons Liefde, Vrede en Genade. U is die Vreugde, die Weg en die Waarheid. U is die Lewe, die Lig en Krag. U is die Vertrooster, die Skepper, die Begin en die Einde. “My kind, jy is myne”.
11 Maart- Dinsdag – ‘n Lewe vol emosies
Vader, ons lewe is soms vol dissels en dorings en dan weer vol sonskyn en geluk. Dankie dat ek altyd by U kan stilstaan as ek moedeloos en moeg is en my laat jubel wanneer ek gelukkig is. Ek U dank vir elke oomblik om my emosies te wys en om naby U te wees.
12 Maart – Woensdag – Die Here ken jou by jou naam
Here, hoe wonderlik is dit om te weet dat U my ken en ook by my naam. Dankie vir U oneindige groot liefde en omgee. Omdat ek deur U geliefd en uitverkies is, kan ek vol vertroue en hoop wees. Ek hoef nie bang te wees nie – ek is in die palm van U hand.
13 Maart – Donderdag – My daaglikse stryd
Dankie Here dat U bewus is van alles waardeur ek elke dag gaan en alles wat ek in die gesig staar. Dankie dat ek nooit alleen of vergeet is nie, want U sien my raak wanneer ek swak, broos en moedeloos voel. U is met my in elke stryd, en U ontmoet my self daar.
14 Maart – Vrydag – Aalmoese – nee maar die Ewige Lewe
Vader, die verlamde man by die Mooipoort het verwagtinge van ‘n geringe aalmoes gehad, maar hy het die geskenk van ‘n nuwe lewe gekry. U gee die Ewige Lewe as geskenk aan elkeen wat dit wil hê en wat hulle oë op U vestig.
15 Maart – Saterdag – U bring lewe waar geen hoop was nie
Here, hoe wonderlik om te weet dat U al ons behoeftes raaksien. Wanneer daar droogte is laat u die strome water oor die dorsland vloei sodat die spruite welig kan groei. U bring lewe waar daar eens geen hoop was nie. Bring ook lewe in die dorre area van my lewe.
16 Maart – Sondag – Koning bo alle Konings
Here, dankie dat ons in hierdie week kan stil word en nadink oor die lydensweg van ons Verlosser. U het as Koning bo alle Konings vir ons kom wys wat ware liefde is. Here Jesus, U is die Pasga-lam wat vir my gesterf het. U is my Lig en my Redder.
17 Maart – Maandag – U alleen lei ons
Here ons erken dat U ons vreugde, ons hoop en redding is en dat U alleen ‘n wonderwerk in ons lewe kan verrig. Ons kies om na U op te kyk en om in U te verlustig. As my kragte afneem en my oë nie meer helder is nie, kan ek op U vertrou om my op die pad te lei.
18 Maart – Dinsdag – U blywende liefde
Ons juig in U onfeilbare liefde, want U het my benoudhede gesien, en U gee om oor die angs van my siel. Here, hoe wonderlik om te weet dat U alles van my weet en dat U vir my omgee. Ek kies om vreugde te vind in U blywende liefde en ek weet dat U oor my waak.
19 Maart – Woensdag – ‘n Diep begeerte
Psalm 104:31-34 “Mag daar aan die roem van die Here geen einde wees nie! Ek wil tot eer van die Here sing so lank ek lewe, ek wil die lof van my God besing so lank ek daar is. Mag hierdie bepeinsinge van my vir Hom aanneemlik wees!” – dit is my begeerte. Amen
20 Maart – Donderdag – Herstel in my lewe
Here, hoe wonderlik is dit om te weet dat U herstel in my lewe wil sien plaasvind. U is die God wat wil sien dat ek die vryheid geniet wat net U kan gee. U voorsien ook in al my behoeftes sodat ek nie in gebrek hoef te lewe nie. Ek bid dit vir elkeen wat U lief het.
21 Maart – Vrydag – Oorwinning in die uitdagings
Here, ek kies om U te volg terwyl U my vooruitgaan. U weet altyd wat in my beste belang is en U sal my help en vir my veg. U gee my die oorwinning in die uitdagings wat ek nie alleen kan trotseer nie. Vader, ek vrees en twyfel nie meer nie.
22 Maart – Saterdag – My lewe in U hande
Here, dankie vir U hand op my lewe. Mag my lewe vir U heerlikheid en eer bring terwyl ek doen wat U wil hê ek moet doen. Wanneer ek moeg is, gee U my nuwe krag en hoop wanneer ek mismoedig is. Dankie Vader dat U my vrede gee wanneer ek angstig is.
23 Maart – Sondag – Onuitputlike liefde
Dankie Vader vir U liefde wat nooit uitgeput raak nie. Seën elkeen wat ‘n behoefte het aan genesing. Vertroos die wat teleurstellings ervaar en omvou die wat alleen en eensaam is. Ons almal het U so nodig Vader, ons is so afhanklik van U Genade.
24 Maart – Maandag – Raak stil …. en ervaar
Die hemelruim verkondig die eer van God en die hemelkoepel maak die werk van Sy hande bekend. As ons wil sien en hoor wat die skepping oor God getuig, dan moet ons stil raak voor Hom sodat ons die grootheid van God en Sy skepping kan ervaar.
25 Maart – Dinsdag – Vader se Goedheid
Vader, ek kies om vandag my fokus en gedagtes op U te vestig. Ek kies hoop bo wanhoop, en geloof bo vrees. Ek kies om op U goedheid te fokus in plaas daarvan om op negatiwiteit en twyfel te fokus. God het vir jou en my meer voorberei as waarvoor ons kan bid.
26 Maart – Woensdag – My woorde skiet ver te kort
Vader, ek wil U loof met alles wat in my is, maar my woorde skiet ver te kort. Ek is verheug om te weet dat U goedheid en genade my elke dag van my lewe sal volg. Dit maak geen verskil wat ek moet deurgaan nie, U is met my en uiteindelik sal ek vir ewig by U wees.
27 Maart – Donderdag – U Liefde is baie werd
Here, leer my om U te dien dat ek sal gee sonder om die prys te bereken en sal liefhê sonder ‘n gedagte aan ‘n beloning. U barmhartighede het geen einde nie; hulle is elke dag nuut. U troue liefde is meer werd as die lewe en daarom sal ek U prys.
28 Maart – Vrydag – Ons kinders is kosbaar
Here, ons as ouers weet nie altyd wat ons kinders se behoeftes en begeertes is nie, maar ons weet dat U in beheer is. Gee hulle wysheid, insig en goeie oordeel. Ons is dankbaar vir elke kind se gesondheid, talente en gawes. Dankie dat kinders vir U so kosbaar is.
29 Maart – Saterdag – U is lieflik
Liefdevolle Vader, U liefde vir my is ongelooflik, hoe meer ek van U liefde leer, hoe meer het ek om uit te deel. Ek bid vir vrede en voorspoed, vir gesondheid en geluk en ek bid dat elkeen weer opnuut sy hart voor U kan buig.
30 Maart – Sondag – Jesus het nie omgedraai nie
Jesus se intog in Jerusalem op ‘n nederige donkie, oppad om die ergste lydingsbeker te drink vir ons. Wat sou van ons geword het as Jesus omgedraai het op die pad na Golgota? Geen hoop, geen genade, geen liefde. Maar omdat Hy ons so liefhet het Hy aanhou stap.
31 Maart – Maandag – Het my gebed krag?
Here, ons is so dankbaar om te weet dat ons enige tyd tot U kan roep. Daar is so baie hartseer, siekte, verliese en eensaamheid waarvoor ons nie antwoorde het nie. Dankie dat U ‘n oplossing het vir elke probleem en die Lig is wanneer dit om ons donker is.


