1 Tess. 5: 17 Bid gedurig.
1 Augustus – Vrydag – Wedergeboorte
Dankie Here, dat ons die wedergeboorte kan ontvang en so gewek word tot ‘n nuwe lewe as U kinders en gee dat ons ook as U kinders sal leef.
2 Augustus – Saterdag – Getuies van Jesus
Here, dankie dat U aan ons die ewige lewe gegee het en maak ons ook getuies van U hier op aarde om almal na U te nooi en die ewige lewe te ontvang.
3 Augustus – Sondag – Omgeebediening
Here, ons dra vandag die Omgeebediening aan U op wat U hande in die gemeente is en vra u seën op hulle harde werk.
4 Augustus – Maandag – Skepping
Soos U die wêreld geskape het vir ons genot vra ons dat U ons sintuie sal verskerp sodat ons meer en meer die wonder van U skepping sal raaksien en waardeer.
5 Augustus – Dinsdag – Koue winter
Vader, dankie vir die koue en nat wintermaande waar ons en die natuur kan wag op die nuwe lewe en kan rus en rustigheid kan ervaar.
6 Augustus- Woensdag – Bybelstudiegroepies
Gedurende die week kom verskeie groepe bymekaar en bid ons U seën af op die groepies se gebede waar hul om U woord vergader.
7 Augustus – Donderdag – Mense in nood
Here, ons vra dat U ons sagte harte sal gee en dat ons in liefde ons helpende hande sal uitsteek na mense in nood.
8 Augustus – Vrydag – Bely Christus
Vader, mag U gee dat elke knie voor U buig en elke tong bely dat Christus die Here is.
9 Augustus – Saterdag – Nasionale Vrouedag
Wanneer ons vandag dink aan al ons vroue, wil ons vra, Here, dat U hul bystaan met insig, begrip en krag om die Moeder, dogter, vroue te wees wat U aan die begin van die skepping geskape het om te wees.
10 Augustus – Sondag – Nuwegeloofgemeenskap ontwikkeling
Vader, ons samel vandag geld in vir die NGGO en wil ons almal wat hierby betrokke is aan U opdra en bid genoeg befondsing om hierdie saak te ondersteun.
11 Augustus – Maandag – Volksleiers
Ons bid vandag vir ons volksleiers, dat hulle duidelik sal leiding neem, suiwer sal koers hou en in ootmoed voor U sal buig.
12 Augustus- Dinsdag – Verslawing
Hemelse Vader, ons bid dat U die bande van verslawing sal breek en omskep in bande van vryheid en dat ons so sal getuig van U liefde en omgee.
13 Augustus – Woensdag – Ruwe harte
Jesus, skrynwerker, verander ons ruwe harte met U heilige gereedskap in ‘n voorwerp tot U eer en verheerliking.
14 Augustus – Donderdag – Dagtake
Ons bid Heer, dat elkeen wat in ‘n beroep staan sy dagtaak met ‘n blymoedige hart sal verrig en dit tot eer en verheerliking van U sal doen en nie vir hulself en hul verryking nie.
15 Augustus – Vrydag – Geleenthede
Kom ons soek vandag ‘n geleentheid vir ‘n vriendelike woord, ‘n glimlag, ‘n warm handdruk, ‘n woord van vertroosting of bemoediging en ‘n liefdevolle gebaar.
16 Augustus – Saterdag – Hospitaalpersoneel
Hemelse Vader, ons dra vandag die personeel van die hospitale aan U op en vra dat U hul hande sal seën en hul die nodige empatie sal gee om siekes en siekes se familie by te staan en siekes gesond te maak.
17 Augustus – Sondag – Groenewaldfonds
Liewe Heer, ons wil die insameling van fondse vir hierdie beurs aan U opdra om die regte kandidate te befonds vir verdere studies.
18 Augustus – Maandag – Naam van God
Kom ons bid vandag dat die mense weer God se Naam sal eerbiedig en nie ydellik sal gebruik nie.
19 Augustus- Dinsdag – Kerkraadsvergadering
Vandag kom die kerkraad byeen en wil ons vra dat U bid vir insig en dat die kerkraad die regte besluite sal neem tot voordeel van ons gemeente en kerkgebou.
20 Augustus – Woensdag – Getuienisbediening
Ons bid vir die getuienisbediening se motivering met al ons sendelinge plaaslik en oorsee wat die woord van die Here uitdra.
21 Augustus – Donderdag – Bekommernis
Here, ek kom gee die bekommernis wat nou in my maal aan U oor. Help my om deur die vrees en onsekerheid te kyk. Skep in my die rus in my gemoed wat deur U gees in my aan my gegee word.
22 Augustus – Vrydag – Vertrou God vir deurbrake
Bid vir kinders so jonk as 14 jaar wat die pad so byster raak dat hulle in tronke beland. Baie van hulle ken eintlik net die tronk as veilige woning en beland ná vrylating meestal baie gou weer daar terug. As Jesus hulle nie totaal vry maak nie, wag ń tronklewe vir die res van hul lewe.
23 Augustus – Saterdag – Huis van die Here
Here, ons sien uit daarna om U môre in U huis te ontmoet en dank ons U dat ons kan kom na U net soos ons is en dat ons vrylik na U huis kan kom om te aanbid.
24 Augustus – Sondag – persone met gestremdhede
Jesus, deesdae word daar baie uitgekyk vir persone met gestremdhede maar vra ons U insig en die nodige empatie om sensitief te wees vir hulle behoeftes en genoegsame vir hulle daaglikse sorg.
25 Augustus – Maandag – Wees ‘n instrument
Ons liggame is die kerk van God en bid ons vandag dat mense so sal leef sodat almal sal sien dat hulle die Heilige Gees in hulle lewe het.
26 Augustus – Dinsdag – U Wil
Here, Maak asseblief my hart en oë oop sodat ek U wil kan sien en gee my die moed om ook U wil te doen.
27 Augustus – Woensdag – Geopende Deure
Meer as 380 miljoen Christene staar vervolging en diskriminasie in die gesig – dit is een uit elke sewe gelowiges wêreldwyd. Kom ons bid vandag vir Geopende Deure en die werk wat hulle in die vervolgingslande doen.
28 Augustus – Donderdag – Vriendskap
Hemelse Vader, vandag dra ek al my vriende aan U sorg en leiding op, want U ken hulle goed en weet waar is hulle twyfel, dankbaarheid of pyn.
29 Augustus – Vrydag – Kinders
Here, ek lê vanaand my kinders voor U neer, behoed en bewaar hulle. Ek pleit U bloed oor hulle en vra dat U engele hulle omring met U sorg en seën hulle oorvloedig en gee hulle ook dankbaarheid in hulle hart.
30 Augustus – Saterdag – Wees Nederig
Ons is nie hier op aarde om te sien hoe belangrik ons kan wees nie, maar watter verskil in ons ander se lewens kan maak. Ons bid om nederig te wees en ander bo onsself te stel.
31 Augustus – Sondag – Bybelverspreidingsfonds
Om die boodskap van God uit te dra en by almal uit te bring, is dit nodig om die Bybel te vertaal en dan ook te versprei sodat almal op aarde ‘n Bybel kan besit en ook van God kan leer. Ons bid vandag vir hierdie saak en vra dat U die mense sal lei om te gee sodat die Bybel versprei kan word.


