Gebedsgids Februarie 2025

1 Februarie – Saterdag – Opregte Liefde

Here, gee my vandag ‘n rustige hart sodat ek op U kan fokus. Gee my ‘n ruim hart sodat ek vir ander kan bid en ‘n sagte hart sodat ek ander kan liefhê – soos ek vir U.

2 Februarie – Sondag – Heerlikheid is so verfrissend

Jesus, ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ‘n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly. Ons dank U vir u liefde en Genade.

3 Februarie – Maandag – Eensaamheid en teleurstellings

Dankie Vader dat u liefde nooit uitgeput raak nie. Troos asseblief die wat tans hartseer en eensaam is en vir die wat teleurstellings ervaar. Ons bid vir nuwe moed in elke situasie.

4 Februarie – Dinsdag – God se blywende seën

Seën asb ons bejaardes en verswaktes sodat hulle staande kan bly in die geloof. Versterk hulle wanneer hulle swak en moeg is en om elke dag se uitdagings te trotseer.

5 Februarie – Woensdag – Vergifnis

Wees goedgesind, nederig, sagmoedig en vedraagsaam teenoor mekaar en vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het. Dien mekaar in liefde.

6 Februarie – Donderdag – Beskerming en Wapenrusting

Trek die volle wapenrusting aan wat God julle gee sodat julle op julle pos kan bly ondanks die listige aanslae van die duiwel. Helm van Verlossing; Borsharnas van Geregtigheid; Waarheid as Gordel; Skild van Geloof; Swaard van die Gees; Evangelie van Vrede.

7 Februarie – Vrydag – Haweloos en moedeloos

Here, maak ons meer bewus van die haweloses wat nie eers ‘n kombers het om teen die storms en koue te skuil nie. Ons is nie altyd bewus van hulle angs en honger nie. Wees asseblief hulle skuiling Here en maak ons harte sag vir hulle omstandighede.

8 Februarie – Saterdag – Beloftes van God

“Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit al ontvang het en dit sal vir julle so wees”. “Ek sal altyd met jou wees; Ek sal jou oral beskerm; Ek sal vir jou sorg en vrede gee. Ek sal jou krag wees en jou gebede antwoord. Ek sal jou altyd liefhê”.

9 Februarie – Sondag – Opvoeding en Onderwys

Here, ons bid dat die kinders onderrig moet word met wysheid om gedagtes te vorm, met waarheid om harte te vorm, met visie vir hulle toekoms en liefde om die wêreld te vorm. Ons bid vir die onderwysers om hul roeping uit te leef met Jesus as hulle Meester.

10 Februarie – Maandag – My toekoms sonder vrees

Vader met U volmaakte liefde is ek nie meer bang vir die toekoms is nie. Op U kan ek vertrou en weet dat U altyd in beheer sal wees. U liefde is sonder einde. Ons bid vir werksgeleenthede en gesondheid wat hoop sal bring vir die wat angstig daarop wag.

11 Februarie – Dinsdag – Harmonie onder leiers

Ek bid vir alle leiers in ons kerk, gemeenskap en dat U hulle met insig en wysheid sal seën om gunstige besluite te maak. U is ons Herder op wie ons vertrou om die pad vir ons te verlig wat skeiding sal maak tussen lig en duisternis.

12 Februarie – WoensdagUitspansel

Hoe wonderlik is U skepping Vader en hoe wonderlik is die Volmaan vanaand. U het die uitspansel geskep wat ons donkerste nag verlig. Bring berusting en kalmte in ons lewe.

13 Februarie – Donderdag – Benat ons dorre aarde

Here Jesus, trek asseblief die sluise van die Hemel oop en stuur vir ons deurdringende reën sodat ons damme en rivier weer sal opvul. Ons land dors na water soos wat ons siel dors na U. Dankie vir die reën wat reeds neergestort het, U liefde en genade is oorvloedig.

14 Februarie – Vrydag – Jabes se gebed

Stort U seën oor ons uit Vader en vergroot ons grondgebied. Neem ons onder U beskerming en weerhou onheil van ons en ons gesinne sodat geen smart ons tref nie. Wat ons het is net genade. Wat wil U het moet ons vandag vir U doen?

15 Februarie – Saterdag – Beskerming vir elkeen

Dankie Vader vir die mense wat ons land se grense en ons omgewing beskerm. Dankie vir elkeen wat dag en nag die gemeenskap bedien en van mediese hulp te verleen. Dankie vir ons polisiemag en brandbeheer en vir elkeen wat ons bystaan in tyd van hartseer en nood.

16 Februarie – Sondag – Kerkgebou instandhouding

Here, vandag vra ek hoe kan ek bydra tot die instandhouding van ons kerkgebou en perseel. U het my al in oorvloed geseën – mag my hande nie gou moeg raak om uit te reik en te help nie – al is dit hoe gering.

17 Februarie – Maandag – Ons goue ouers

Here, die lewe van ons bejaardes is so mooi soos die herfs blare van U tuin. Gee hulle liefde waar hulle vinnig verswak en waar dit nou vinnig donker word. Help hulle om moedig te wees in hulle pyn en hou hulle vas teen die storms van die lewe.

18 Februarie – Dinsdag – Vertrou op Jesus met alles

Vader, vertroos diegene wat geliefdes en besittings verloor, in brande of met skeidings. Versterk hulle in geloof sodat hulle weer kan opbou wat tot niet gegaan het. Ons dra elkeen se gebrokenheid, elkeen se siekte en elkeen se afhanklikheid op aan U.

19 Februarie – Woensdag – Onderrig mekaar tydens Blokbyeenkomste

Kol 3:17 “Wat julle ook al sê of doen, doen dit alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom”. Ons bid dat God ons geestelike oë sal oopmaak sodat ons Hom sal eer en doen wat van ons verwag word.

20 Februarie – Donderdag – My doel

Vader, ek staan voor U met ‘n mandjie wat oorloop van ywerigheid om in U te dien. Stryk eers al my kreukels van selfbejammering en bitsigheid uit, was my silwerskoon van twyfels en sondes sodat ek bruikbaar kan wees. Dankie dat u my alreeds gebruik – net soos ek is.

21 Februarie – Vrydag – Slaaf of kind van God

Gal 4:7 “Jy is dus nie meer ‘n slaaf nie, jy is nou ‘n kind van God. Omdat jy sy kind is, het God jou ook Sy erfgenaam gemaak. Moenie toelaat dat enigiets of iemand jou van jou status as kind en erfgenaam van God beroof nie.

22 Februarie – Saterdag – Bepaal jou eie waarde

Om God die Vader te ken is om Sy wil te doen. Moenie toelaat dat jou waarde bepaal word deur die goedkeuring of aanvaarding van ander nie. Soek jy die guns van mense of van God? As ons die mens wil behaag, dan is ons nie meer ‘n dienskneg van Christus nie.

23 Februarie – Sondag – Hartenbos Versorgingsoord

Vader, ons bid vandag as gemeente vir elke bejaarde in die Hartenbos oord. Waar hulle alleen voel, wees asseblief teenwoordig. Ons ken nie elkeen se hart en omstandighede nie. Dankie dat U alomteenwoordig in hulle lewe is. Bedek hulle met U genade.

24 Februarie – Maandag – Ons kosbare Geskenk

Vader, dankie vir U kosbaarste geskenk aan ons en vir alles wat ons op ons lewensreis nodig het. Ons vra dat U ons in liefde sal toevou en met U vrede en sal lei na die bergtop van oorwinning. U sal ons nie vergeet nie – ons name is in U handpalms gegraveer. Amen!

25 Februarie – Dinsdag – Kerkraadsvergadering

Here, ons bring die leiers van ons gemeente voor U. Bedien hulle met U wysheid, insig en krag. Seën hulle in elke area van hulle lewe en in die bediening. Terwyl hulle opoffer vir die gemeente, bid ons vir hulle gesin by die huis vir kalmte en rustigheid.

26 Februarie – Woensdag – Waarvoor kan ek bid vandag?

Jesus, lei my vandag om te bid hoe om bose hindernisse te oorkom, hoe om krag te verkry om versoekinge te weerstaan en hoe om ander mense geestelik te kan versterk. Die leemte van gebed, dui aan op die leemte van geloof en vertroue op U Woord.

27 Februarie – Donderdag – Verhoudinge met alle mense

Rom 12:10 “Wees hartlik teenoor mekaar met broederlike liefde, die een moet die ander voorgaan in eerbetoning. Ons bid vir regverdigheid dat ons mekaar sal bemoedig, sal respekteer en elkeen se menswaardigheid sal raaksien. Jesus het vir elkeen gebid.

28 Februarie – Vrydag – Ek bid spesiaal vir jou

Met blymoedigheid bid ek vandag vir jou. Jy is baie spesiaal vir jou kinders, familie, vriende en vir die kerk. Berge kan padgee, heuwels kan wankel, maar Sy liefde vir jou sal vir ewig bly.