“As jou broer teen jou sondig, moet jy hom teregwys waar julle twee alleen is. As hy na jou luister, het jy jou broer teruggewen.“
(Matt. 18: 1520)
Konflik?
Elkeen van ons het al met konflik te doen gekry. Dit kan enigiets, van ‘n klein verskilletjie tot iets wat op oorlog uitloop, wees. Ons gebruik dit as metode om ons eie wil op ander af te dwing. Ons wil altyd glo dat ons reg is in ons oordeel oor enige situasie.
As mens kan ons so dikwels ‘n netelige, nietige saak opblaas, tot iets wat skeuring in verhoudings, gemeenskappe of tussen lande veroorsaak. Dit is dikwels ons onvermoë om die ander kant van ‘n saak te begryp of raak te sien.
Teksverse:
“Daar is ses dinge waarin die Here ‘n weersin het, sewe is vir Hom afstootlik: hovaardige oë,’n bedrieglike tong, hande wat onskuldige bloed vergiet, ‘n hart wat bose planne smee, voete wat gou is om na die kwaad te hardloop, ‘n vals getuie wat leuens uitryg, en iemand wat tweedrag saai tussen broers.” (Spr. 6: 16-1920)
Hoe hanteer ons konflik?
Ons hanteer konflik so dikwels as ‘ek is reg, en ander is verkeerd!’ Deur hierdie houding in te slaan, maak ons dit bykans onmoontlik om ‘n saak op te los. Dit laat min ruimte vir kommunikasie, sodat die probleem net groter word.
Mense kan ook apaties staan teen konflik. Hulle wil nie betrokke raak nie, en reageer soos ‘n volstruis, wat nie die probleem wil sien nie. Hulle hoop dat die probleem net sal weggaan. Sommige mense sien ook vlug as enigste opsie in moeilike situasies.
Dan kry ons ook die wat dadelik wil aanval. Hulle glo dat aanval die beste verdediging bied. Of hulle saak reg is of nie! Ongeag die gevolge, weier hulle dikwels om na rede te luister. Ons moet egter onthou dat daar altyd meer as een kant aan ‘n konflik situasie is.
Teksverse:
“Weerhou jou tong van kwaad en jou lippe daarvan om bedrieglik te praat.“(Ps. 34: 1420)
“Kalmte van die tong is ‘n boom van lewe, maar verdorwenheid daarvan breek die gees.” (Spr. 15: 420)
Om as Christen konflik te hanteer
As gelowiges van die evangelie van Jesus Christus moet ons onthou dat ons die perfekte voorbeeld in Christus gekry het. Hoe ons moet optree in elke situasie is ‘n verwagting van God. Die wonderlike liefde en begrip word so dikwels gedemonsteer in die Woord.
Kan ons blindelings mense net veroordeel en afskryf? Is dit in ons vermoë om die regte woorde te vind om ‘n oënskynlike onmoontlike situasie te ontlont? Jakobus verduidelik baie goed dat ons in moeilike tye wysheid van God moet vra.
Ons kan in gebed met nederigheid vra vir ‘n wag voor ons mond, sodat ‘n reeds netelige situasie nie tot iets onherstelbaar ontaard nie. Die Heilige Gees sal ook woorde in ons mond lê, waar en wanneer dit nodig is. Dis dan wanneer dit moontlik is om konflik te ontlont, wanneer ons ook dit aan God toevertrou.
Teksverse:
“As enigiemand van julle wysheid kortkom, laat hy dit vra van God, wat aan almal gee, sonder voorbehoud en sonder verwyt, en dit sal aan hom gegee word. Maar hy moet in die geloof vra, sonder om enigsins te twyfel,* want wie twyfel, is soos ‘n golf van die see wat deur die wind rondgeruk en voortgesleep word.” (Jak. 1: 5-620)
“Moet oor niks bekommerd wees nie, maar maak in alles julle versoeke deur gebed en smeking met danksegging aan God bekend. En die vrede van God, wat alle begrip oortref, sal in Christus Jesus oor julle harte en gedagtes waak.” (Fil. 4: 6-720)
“Julle is immers hiertoe geroep, want Christus het ook ter wille van julle gely; Hy het vir julle ‘n voorbeeld nagelaat,sodat julle in sy voetspore kan volg. Hy wat “nie sonde gedoen het nie,en in wie se mond geen bedrog gevind is nie”; wat, toe Hy uitgeskel is, nie teruggeskel het nie; toe Hy gely het, nie gedreig het nie, maar Homself toevertrou het aan Hom wat regverdig oordeel; wat self ons sondes in sy liggaam aan die kruishout gedra het, sodat ons, noudat ons ons sondes afgesterf het, vir geregtigheid kan leef –…” (1 Pet. 2: 21-2420)


