“As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis elke dag opneem en My volg.”
Lukas 9:23
GEBEDSGIDS – APRIL 2025
1 April – Dinsdag – Niks vir onsself nie
Vader, help ons om weer bewus te word van ons gawes om ‘n seën vir ‘n ander een te wees. Om ander met onvoorwaardelike liefde en deernis te aanvaar en te bemoedig. Niemand van ons leef tog vir onsself nie, ons doen dit tot eer van God.
2 April – Woensdag – Die pad na God se hart
Liewe Vader, ek wil nie meer op my eie insig staatmaak nie en ek wil U in al my weë ken. Ek het in nood na U geroep, en U het my gebed verhoor. Laat my net weer die blydskap ervaar van iemand wat verlos is.
3 April – Donderdag – God in my krisis
Here, ek dank U vir al die suksesse, welvaart en geluk wat ek in my lewe ervaar, maar ek dank U ook vir krisisse wat op my pad kom. Omdat U reeds die pad ken wat ek moet stap, bid ek dat U voor my sal stap en die struikelblokke in oorwinning sal omskep.
4 April – Vrydag – Al is ons die kleipotte
2 Kor 4: Ons wat hierdie skat in ons het, is maar kleipotte wat maklik breek, die krag wat alles oortref kom dus van God. Al word ons vervolg, sal God ons nie verlaat nie, al word ons op die grond neergegooi word, word ons nie vernietig nie. Alle eer aan God.
5 April – Saterdag – Ek kom niks kort nie
Here, leer my, vorm my en help my om so te leef dat my hele lewe U Naam verheerlik. U het my al so baie geseën met U liefde, beskerming en vertroosting. Ek kom niks kort nie, maar al wat ek nog vra Here, is ‘n dankbare hart.
6 April – Sondag – 6 de Lydensweek – Gekroon met eer en heerlikheid
Ons dank U Vader dat ons kan stil word en nadink oor die lydensweg van ons Verlosser. U het as Koning bo alle konings vir ons kom wys wat ware liefde is. Ons is op geleende tyd en ons opdrag is om mekaar onvoorwaardelik lief te hê en te vergewe. Ons loof U.
7 April – Maandag – Verander my ten goede
Hemelse Vader, dankie dat U behae in my het en dat U my by die naam geroep het. Skep vir my ‘n rein hart en vernuwe my gees. Maak my vasstaan in my geloof sodat ek sal doen wat U van my vra en hou my deurentyd nederig aan my voete.
8 April – Dinsdag – Krag lê in gebed
Vader, met opregtheid bid ons vandag vir alle instansies en huishoudings wat gebuk gaan onder ‘n finansiële las. U het nog altyd onvoorwaardelik voorsien en weet dat ons nie moedverlore moet raak en ophou bid nie. Dankie dat U in beheer is en voorsien.
9 April – Woensdag – Vergader om God se woord
Luk 11:28 Salig is hulle wat die woord van God hoor en dit bewaar. Vader ons bid vir U teenwoordigheid by elke blokbyeenkoms en bid ook dat U al die besluitnemers van die gemeente se harte sal verenig – in eenheid en in liefde.
10 April – Donderdag – Here, U ken my
Here, dankie dat U my so intiem ken en liefhet. Help my om U teenwoordigheid te erken in elke seisoen van my lewe en om volgens U wil te wandel. U het my met liefde en doel gemaak en dit gee my lewens waarde en betekenis. Mag ek u nooit van U afvallig word nie.
11 April – Vrydag – Spreek lewe
Vader, ek kniel aan U voete om opnuut my liefde aan U te verklaar. Ek bid nog steeds vir kinders, familie en vriende wat U nog nie ontmoet het nie. Ek bid dat hulle ‘n dors en verlange na U sal kry en dat U woord die wortels van ons almal se lewe sal wees.
12 April – Saterdag – Ouerskap is ‘n geskenk
Dit is ‘n voorreg om kinders van U te ontvang Here, ons huise is gevul met vreugde. Wys ons die weg hoe om ons kinders met wysheid en liefde te dissiplineer want alleen kan ons ouerskap nie dra nie. Dankie dat die gemeente saam bid en hulle aan U opdra.
13 April – Sondag – Ons Koning is nederig
Vader, U is regverdig en nederig. U het Jerusalem binne gery op ‘n donkie en U het geweet hoekom. U ken ons mensdom se gebrokenheid en dat slegs deur U bloed en lyding ons verlos kan word van die ewige dood. Mag ons ook gehoorsaam wees aan U woord.
14 April – Maandag – Vrymaking bring geestelike groei
Here, help my om my greep op wêreldse aanhangsels los te maak. Vul my hart met ‘n begeerte na geestelike groei en ‘n dieper verbintenis met U. God sorg vir plante en diere, en Hy belowe om dieselfde te doen vir ons wat sy Koninkryk eerste soek.
15 April – Dinsdag – Van ‘n verlate tot oorvloedige lewe
Vader, ons bid dat U verligting sal bring aan diegene wat siek is, verlate en gebroke is. U is die bron van oorvloed. Verander asseblief die lewe van hierdie mense na een wat oorloop van U seën en lei hulle ook na ‘n lewe van betekenis en vervulling.
16 April – Woensdag – Eensgesinde blydskap in Christus
Dankie Vader dat ons burgers is van U Koninkryk. U vra ons om liefdevol en vriendelik te wees teenoor alle mense en alles bedink wat eerbaar, regverdig, rein en lieflik is. Ons word geroep om die gesindheid van Christus te dra.
17 April – Donderdag – Die Kruis of niks
Dankie Hemelse Vader dat U die duurste losprys vir ons sondes betaal het. Help ons om nooit van U pad af te dwaal nie en herinner ons altyd wat U vir ons aan die kruis gedoen het. Dankie vir U oneindige liefde. Sonder U is ons niks.
18 April – Nagmaal – Jesus het Sy lewe vir ons afgelê
Van twaalfuur af het daar duisternis oor die hele land gekom en dit het tot drie-uur geduur toe Jesus hard uitgeroep het: “Eli, Eli, lemá sabagtani”? “My God, My God, waarom het U my verlaat”? Ons Hemelse Vader, die Goeie Herder het sy lewe vir sy skape afgelê.
19 April – Saterdag – Niks gaan ongesiens verby nie
Vader, ons bid vir voorspoed vir elke instansie wat diens lewer in ons gemeente. Ons bid vir hulle veiligheid en om te volhard met al die uitdagings elke dag. Versterk elkeen daagliks om met ‘n positiewe gesindheid en om met integriteit en ywer te werk.
20 April – Sondag – Sonopkomsbyeenkoms by Suiderkruis
So seker as wat ons is dat die son elke dag weer opkom, so weet ons ook dat Jesus leef. Hy het die dood oorwin – Hy het opgestaan. Hy het waarlik opgestaan. Jesus ons Koning!
21 April – Maandag – Gesinsdag
Here, ons buig nederig voor U en se dankie vir U genade so groot, so onverdiend. Verlig dit in my wat donker is en versterk dit in my wat swak is. Ek bid vir herstel in my liggaam wat gebreek en gekneus is. Vader maak my geloof wat wankelrig is, weer sterk.
22 April – Dinsdag – Gebroke en wanhopig
Here, ons is dankbaar vir FEBA radiostasie wat ons getrou inlig oor wêreldwye konflikte.
Ons bid vir Oekraïne waar daar nog baie verwoesting en onsekerheid heers. Die volk is gebroke en wanhopig en ons bid dat U hulle sal versterk, vertroos en ‘n uitkoms gee.
23 April – Woensdag – Ons land dors na U
Hemelse Vader, ons land is in ‘n woestyn seisoen en het dringend ‘n geestelike herlewing en vredemakers nodig. U is ons rigtingwyser en ons bid dat U Heilige Gees kragtig deur Suid-Afrika se inwoners sal beweeg en vrede na elke hart sal bring.
24 April – Donderdag – Mededeelsaamheid
Ons moenie versuim om goed te doen en mededeelsaam te wees nie. God het behae in sodanige offers. Hoe beter jy die Herder ken, hoe makliker is dit om Hom te vertrou.
25 April – Vrydag – Reukwerk voor God
Vader, gebruik my elke dag om ‘n aangename geur van Christus te wees. Leer en onderrig my sodat ek die aroma van Christus tot eer van God kan versprei.
26 April – Saterdag – Wanneer die twyfel oorneem
Ons moet nooit toelaat dat twyfel en ongeloof ons van ons vertroue in God beroof nie. Omhels jou tye van swaarkry, seer en pyn is nooit doelloos nie. God het altyd ‘n plan met beproewing in jou lewe. Hy is in beheer – die Hoogste mag sonder enige beperking.
27 April – Sondag – God se plan van altyd af
Om te kan word wat God sê ek kan wees, moet ek bereid wees om die gemak van waar ek is, te verruil vir die doel wat Hy vir my het. Vertrou Hom vir soveel meer. Moenie God se doel en plan misloop nie, net Hy kan die onvervulde leemtes in jou lewe vul.
28 April – Maandag – ‘n Brief vanuit die gevangenis
“Here, ek is rou en stukkend – hier in die gevangenes lê ek aan boeie en ysters, hygend na die lewe wat U my gegee het. Maak my lewe splinternuut soos dié van die Misdadiger aan die Kruis. Wees my genadig Here en maak my volledig U kind.”
29 April – Dinsdag – Jou tas weeg te swaar
Nie alles wat jy het, gaan nodig wees op jou pad nie. Al wat ons kan saamvat is ‘n hart vol dankbaarheid. Die tas wat jy dra weeg te swaar en Hy sal dit van jou skouers afhaal.
30 April – Woensdag – Meer van Hom en minder van my
Hoe meer ek fokus op Hom wat in my lewensbootjie is, hoe kleiner word die storms om my. Ek het minder om te vrees want Hy sal altyd by my wees.



Kommentare is gesluit.