GEBEDSGIDS – MEI 2026

1 Mei – Vrydag – God is jou Werkgewer 

Vader, dankie vir diegene wat nog werk en ons vra U vrede en wysheid in  die werksplek om uitnemendheid en integriteit te handhaaf. Lei ons gedagtes sodat ons ‘n lig vir U kan wees. 

2 Mei – Saterdag – Gemeentefees 

Here, dankie vir hierdie spesiale dag van feesvieringe. Seën almal wat  saamwerk en deelneem, en laat hierdie fees ‘n getuienis wees van U liefde  en genade en ‘n tyd van vreugde, vernuwing en versterking vir ons  geloofsgemeenskap.                        

3 Mei – Sondag –  Arbeidsbediening

Vader, ons dank U vir die arbeiders in U wingerd. Ons bid vir krag, wysheid  en vreugde vir elke vrywilliger. Mag hulle arbeid nie tevergeefs wees nie en  lei hulle pogings om vrugte te dra vir u koninkryk.

4 Mei – Maandag –  Op watter fondament is jou lewe gebou

Vader, ek vra dat U my lewe, my gedagtes en my hart stewig op U gevestig  sal  hou. Suiwer my, vul my met U Gees en gee my die krag om standvastig  in geloof en geregtigheid te bly. 

5 Mei – Dinsdag –  Word ‘n medewerker van God

Hemelse Vader, maak my diensbaar as  medewerker in U koninkryk. Vul my  met U Heilige Gees sodat ek met wysheid en liefde kan optree. Laat my  woorde en dade ‘n getuienis wees van die Evangelie van Jesus Christus. 

6 Mei – Woensdag – Ligdraers by Blokbyeenkomste

Mag ons ligdraers wees, mekaar se laste dra en U liefde weerspieël in ons  lewe. Ons bid vir veiligheid, genesing en dat U ons sal lei om ‘n bron van  hoop vir mekaar te wees.           

 7 Mei – Donderdag – Hardloop die wedloop tot Sy eer     

Hemelse Vader, dankie dat U my gekies het om hierdie wedren tot U eer te  hardloop. Gee my die krag om te kan volhard, en help my om die oog gevestig  te hou op Jesus. Ek sal  hardloop sodat U daardeur verheerlik word.                                    

8 Mei – Vrydag – Ek verkies om die Here te vertrou

Here, selfs wanneer ek nie my pad verstaan nie, kies ek om U te vertrou. Lei my  voetspore en help my om getrou te bly waar U my vandag geplaas het.    

9 Mei – Saterdag – Maak net staat op God se wonderbare krag

Vader, ons bid vir ons mediese- en ondersteuningspersoneel vir ekstra wysheid,  insig en krag in hul uitdagende werk. Beskerm hulle fisies en geestelik, en mag  hulle U liefdevolle hand in hul daaglikse sorg vir pasiënte ervaar. 

10 Mei – Sondag – Moedersdag – Jy oortref hulle almal

Alles aan jou spreek van ‘n edel persoon en ken geen kommer oor die toekoms  nie. As jy praat, is dit met wysheid; as jy leiding gee, is dit met liefde.  Jou kinders  prys jou, jou man bewonder jou. Daar is baie knap vrouens, maar jy, vriendin,   oortref hulle almal!

11 Mei – Maandag  –  Ons getroue Herders

Vader, ons bid vir ons Predikante en Leraars en is dankbaar vir hulle toewyding  om U Woord te verkondig. Here, vul hulle opnuut met U Heilige Gees. Gee hulle  krag, wysheid en insig om die Skrif met gesag en waarheid te bring.

12 Mei – Dinsdag – Bedieningsraad Vergadering

Here, ons dank U vir hierdie gemeente se leiers wat U geroep het om te dien.  Onderrig  hulle met wysheid en insig om goeie besluite te neem. Bind hulle saam  in liefde en eenheid sodat hulle saam kan werk tot die uitbreiding van U  koninkryk. 

13 Mei – Woensdag –  Saam met God is jy nooit alleen

Hemelse Vader, ons bid vir diegene wat alleen en eensaam is. Troos hulle en  herinner hulle aan U konstante teenwoordigheid en vul hul harte met U liefde.  Mag hulle U nabyheid ervaar en rustigheid kry met hul emosies.

14 Mei – Donderdag –  Verheerlikte Christus

Vader, dankie vir die Hemelvaart van u Seun, Jesus Christus. Ons vier sy  oorwinning. Vul ons met die Heilige Gees en bemagtig ons om U liefde in die  wêreld te versprei. Amen. 

15 Mei – Vrydag – U is ons Anker wat ons nooit los nie

Vader, ek bely elke dag dat U my Here en my God is en ek weet dat niks my kan  skei van U liefde nie. U neem seer weg, U vee trane af, U maak gebroke harte  weer heel. U was ons weer skoon en U gee ons ‘n fontein van lewende waters. 

16 Mei – Saterdag –  God keur geweld ten sterkste af

Here, ons bid U om genade te betoon en lewens te spaar in elke oorlog  geteisterde streek. Ons vra dat U die harte van leiers sal versag en hulle tot  geregtigheid sal bring.   

17 Mei – Sondag – Lei ons in die volle waarheid

O Heilige Gees, dankie dat U op Pinksterdag uitgestort is en vandag nog in ons  harte woon. Kom vul ons opnuut met U krag en lei ons in die volle waarheid.   Laat U lig in ons lewens skyn en maak van ons harte U woning.

18 Mei – Maandag – Vlekkeloos voor U

In hierdie Pinkstertyd bid ons dat U Gees opnuut deur ons sal waai. Kom reinig  ons harte en vernuwe ons denke. Skenk aan ons die gawes wat nodig is om U  koninkryk te bou en gee ons ‘n passie vir die evangelie, krag om te getuig, en  liefde vir mekaar. 

19 Mei – Dinsdag –  As ons in eenheid saamwerk 

Almagtige Vader, ons bid dat U Gees in ons sal werk sodat ons as gemeente  nader aan U getrek sal word.  Ons bid om met  nuwe ywer en  krag U getuies te  wees. 

20 Mei – Woensdag – Suiwer julle harte

Vader, mag U Heilige Gees wat met krag gekom het, vandag weer opnuut in ons   harte werk en bid dat die saad van U Woord in goeie grond sal val en vrug dra.

21 Mei – Donderdag –  Hou aan Sy vreugde vas

Vader, dankie dat U my voortdurende toegang tot U teenwoordigheid gee. Vul  my met U vreugde en vrede sodat ek deur die krag van die Heilige Gees kan leef. 

22 Mei – Vrydag – Leer my hoe om te dien

Here, ek wil nooit vergeet wat my doel op aarde is nie. Open my oë vir elke  geleentheid om te dien, en verwyder uit my hart enige selfsugtige begeerte vir  eie belang. 

23 Mei – Saterdag –  U is my weg 

Vader, wanneer ek nie die pad vorentoe sien nie, weet ek dat U my gids is. Ek  onderwerp my gedagtes, my planne en my vrese aan U. Voor U lig sal duisternis  vlug.

24 Mei – Sondag – Pinksterfees – U goedheid het geen perke nie

Vader, U voed my met ewigheidskos, U bied my die lewende water en in tye  van nood bring U redding. Dankie vir U hand wat reeds daar is wanneer ek  val.

25 Mei – Maandag – U is  ‘n God van beloftes

Laat my oë vandag U goedheid raaksien en my geloof sterker wees as my  twyfel.  Ek kies om nie in vrees te leef nie, maar om vas te hou aan U beloftes.

26 Mei – Dinsdag – Laat God toe om te snoei

Vader, ek wil U in die snoeitye van my lewe vertrou.  Dit wat nie meer lewe  gee nie moet ek laat gaan.  Ek wil in U bly sodat U my kan vorm sodat ek  beter vrug kan dra.

27 Mei – Woensdag – Ons wil net op U fokus

Ons dank U Vader dat ons as gemeentelede saam U Woord kan deel. Gee  ons wysheid en insig sodat alles wat ons bespreek tot eer van U naam sal  wees.

28 Mei – Donderdag – U genade is onfeilbaar

Hemelse Vader, kom seën elkeen wat ‘n behoefte het aan genesing en  herstel.  Vertroos die wat teleurstellings ervaar en diegene wat  geliefdes aan  die dood moes afstaan. 

29 Mei – Vrydag –  U is die lig van my lewe

Jesus, dankie dat ons U kan liefhê.  Ek wil naby U leef en nooit vergeet wie  ek in U is nie. Help my om deur my lewe U liefde uit te straal en ander die  weg na U te wys.

30 Mei – Saterdag – Draers van ‘n Goddelike Skat

Die lig van die evangelie is God se skat wat in ons gedra word. Ewige waarde  wat nie gekoop word nie, maar deur God self geskenk word. Dra jou Skat  met dankbaarheid, koester dit en leef dit waardig. 

31 Mei – Sondag – Dit het Hom diep gegrief

Vergewe ons Here dat ons as aardbewoners U skepping benadeel en  verwoes.  Dit is kommerwekkend om te sien hoeveel vlugtelinge  angstig talle  landsgrense oorsteek op soek na voedsel en water. Ons bid vir U genade.